Friday, 9 October 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 7)


Skippie en Sussa sit reeds op die Kraaines se stoep toe ons voor voor die gebou stop. Toe die bakkie doodruk voor die kroeg, staan Sussa op om vir ons iets te drinke te gaan haal.
Ek en Duiker skuif langs mekaar op die witgeverfde houtbankie, wat aan die tafel vas is, in. Die hout slaan al plek-plek deur. Die plek kos regtig opknapping, dink ek so in die stilligheid.
Ek sluk stadige lang teue uit die bierglas. Kyk van Skippie na Sussa  wat oorkant ons sit.
            “Wil julle iets uit die kombuis hê?” wil Sussa weet terwyl sy aan haar lang sigaret trek.
“Ja dit sal lekker wees.” koor Skippie en Duiker feitlik in een stem tussen die rookwolke deur.
Sussa skuif uit tussen die bank en tafel.  Loop kombuis toe sonder om te praat. Klaarblyklik weet sy wat die manne eet.

Terwyl ons vir Sussa wag, sit ons drie in stilte en drink. Die stilte is ongemaklik. Die gedagte dat die man langs my moontlik my oom is, wil nog nie vrede in my kop maak nie. Ek sit en kyk na die see, nie vêr anderkant die pad nie. Die branders kook en bruis soos in ‘n groot kookpot.
Die wit skuimbranders slaan geweldadig teen die rots wat soos ‘n waterdruppel lyk wat op sy sy lê.
Dan vorm dit ‘n wit gordyn wat in stadige aksie terugval tot oor die rots net om weer terug te vloei in die massa water.

Ek het nie agtergekom dat Duiker my sit en dophou nie. Sy volgende woorde ruk my terug na die stoep.
            “Sussa noem dit sommer Splash Rock.” Sy stem skuur skurf in my ore.

            “Gepaste naam.” is al reaksie wat hy van my kry.

Sussa keer terug met ‘n kelner kort op haar hakke. Dié plaas ‘n groot bord in die middel van die tafel met goudgebraaide chips, calamari, prawns, mossels, krapstokkies en nog ander versnaperings daarop. Die witsous wat daarmee saamgaan, lyk ryk en romerig en ek kan die knoffel daarin ruik. Onwillikeurig begin my mond water.

Dis eers as almal met ‘n bord vol eetgoed en ‘n vars dop voor hulle sit, wat Sussa begin praat:
            “Jy moet nou goed luister Seuna. Ek weet nie of ons met ‘n riller of ‘n drama te doen het nie”

Skippie snork deur sy neus: “Waar Netta betrokke is, sal dit ‘n drama wees wat in ‘n riller ontaard.”
Hy eet verder met sy vingers. Lek hulle af as hy dit diep in sy mond in druk en met ‘n smak afsuig.

Ek kyk tussen die kou deur met ‘n frons na Skippie. Hy verstaan die boodskap om stil te bly en eet in stilte voort.

Sussa gaan aan asof sy nooit onderbreek was nie. Sy druk gereeld iets in haar mond en bêre die kousel in haar kies as sy haar storie hervat.

            “Netta het haar verlowing met Dirk verbreek en hom weggejaag. Wat sy nie geweet het nie, is dat jou ma, Babbels, vir ‘n geruime tyd al ‘n verhouding met Jannus du Plessis gehad het.
Toe Babbels agterkom sy is swanger, het sy dit vir Jannus vertel en hy wou met haar trou en verantwoordelikheid aanvaar en die kind as sy eie aanneem.”

Sussa onderbreek haar vertelling. Sy stoot die leë bord oor die tafel en wink vir die kelner om die tafel te kom skoonmaak.

Duiker en Skippie maak gebruik van die geleentheid om ‘n dop te bestel om die ete mee af te sluk.
Die drie van hulle maak hulle sigarette brand en ek sit terug om die laaste van my bier te sluk.

Ek roep agter die kelner aan. Onseker of sy my gehoor het; “Bring maar vir my ook ‘n hervul.”
En ter nagedagtenis; “Asseblief”

Nou wend ek my tot Sussa:
            “Sussa, ek is nie seker ek hoor wat ek hoor nie. Pa wou met haar, Babbels, my … ma trou. Hoekom het hulle nie? Het jy sover gevorder met die boek?”
Ongeduld slaan deur in my stem.

Sussa tik liggies op my hand: “Ek kom daarby” antwoord sy rustig.

Sy trek die wynglas nader. Draai haar kop skeef en druk haar ken in die lug terwyl sy lank aan haar sigaret trek. Haar donker oë kyk af na my. Die poniestert agter haar kop waaier weerskante van haar kop verby.
Sy blaas die rook in die lug op en kyk my dan vas in die oë.

            “Die naweek wat Jannus en Babbels wou ouers vra, het die toeval dit ook so gesorg dat dit die naweek was wat Netta die nuus wou kom breek van die verlowing wat verbreek is. Maar voor Jannus die groot vraag kon vra, het Netta vir Babbels beetgekry en haar met afpersing gedwing om vir Oupa te sê Dirk het haar ‘onteer’ soos dit in daardie tyd genoem is en dat sy nie die baba wil hê nie.
Verder moes Babbels vir Jannus afsê en dan sou Netta vir Jannus troos.”

            “Afpers, met wat?” vra ek en kyk Sussa skepties aan.

“Sy het gedreig om vir Oupa te vertel dat Babbels ‘n verhouding met met ‘n getroude man gehad het en dat sy vrou hom gelos het omdat Babbels sy kind verwag het.”
Sussa trek behaaglik aan haar sigaret en gaan voort:

            Dan wou sy wat Netta is, vir Oupa vertel het dat sy haar verhouding met Dirk verbreek het omdat hy getroud is en sy het ook uitgevind dat Dirk ‘n verhouding met Babbels het.
Babbels het natuurlik teëgekap en gesê sy sal alles net ontken. Maar Netta was slinks genoeg om ‘n brief te fabriseer wat lyk of dit van Dirk se vrou af kom waarin dié alles openbaar het en Babbels se naam beslis aan die sogenaamde ‘getroude’ Dirk gekoppel word.

Ons luister in stilte na hierdie storie wat in my ore weerklink as die grootste klomp bog wat ek nog gehoor het. Duiker verwoord my gedagtes op sy bar manier;

            “Man dis nou ‘n pot stront! Loopdop-Doep was g’n so slapgat nie.”

Sussa maak vir Duiker stil met haar volgende woorde:
            “Duiker sy het slinks te werk gegaan. Ek is jammer dis jou suster, maar ek dink die duiwel was versigtig vir haar. Volgens haar eie woorde in haar dagboek, was sy daarop uit om Babbels se kind en man te steel. Sy het vir Jannus verlei en vir hom vertel sy is swanger terwyl sy nie was nie.”
Skippie wat tot nou toe stil was, slaat op die tafel dat die glase hop. Trek verwoed aan sy dooie sigaret. Skiet dit verergd oor die stoepreëling en gooi sy woorde soos dolosse oor die tafel;
            “Die ou teef! En as ek net ‘n vingertjie wou inkry was ek sedeloos en sy is glad nie so sonder standaarde nie!
Hy staan driftig op en stap die kroeg in. Maar voordat Sussa die res van hierdie gru-verhaal kon voortsit is hy terug met ‘n skinkbord met ‘n dop vir elkeen van ons.
Sy sigaret hang on die hoek van sy mond.

Hy klink aanvallend as hy met Sussa praat;
            “En jy wil vir my sê ou Loopdop laat hom wragtig so vang? En het die kleintjie in die fokken lug in verdwyn? Ek is doof vir al hierdie kak wat ek nou hoor.”

Sussa soek hulp in die rooiwyn in haar glas wat gereeld deur die kelner volgehou word sonder sukkel.
Ek is bly my longe behoort nie aan een van hulle nie. Hulle is verseker kettingrokers. Alhoewel ek dankbaar is dat ons nie binne in die kroeg sit nie, voel dit vir my of ek in ‘n massiewe rookwolk sit en deur die newels probeer sin maak van al die onbekende goed wat ek van my veronderstelde ouers hoor.

            “Wel ek het nuus vir julle wat ek verklaar wil hê.” stuur ek die gesprek in ‘n nuwe rigting.
Ek het onmiddellik al drie se aandag. As antwoord sit ek die lêer met Pa se testament op die tafel.
            “Volgens hierdie testament moes julle twee …” ek beduie met my oë tussen Duiker en Skippie … “elkeen ‘n diamantboot erf.”
Ek laat die sin in die lug hang en hou hulle reaksie dop.
Dit lyk of Duiker ‘n asma aanval kry soos hy na lug sit en hap. Skippie vryf sy bles blink met die palm van sy hand met die sigaret tussen die vingers.

Duiker kry sy asem oor sy stembande. Skor dog hoorbaar.
            “Neeee, dis kak. Jou pa se testament het gelees langslewende erf alles.”
Ek skuif die lêer onder sy hande in. Sy hande is groot en bruin gebrand. Ten spyte daarvan dat sy hande sigbare eelte op het, lyk dit goedversorgd en sterk.

Sussa buk saam met hulle vooroor om die inligting op te slurp. Duiker se bril sit op die punt van sy neus. Dit lyk uit plek en ongemaklik.

Terwyl hulle die testament lees en bespreek hou ek die branders dop wat nog steeds poog om Splash Rock stukkend  te slaan.
Ek kan steeds nie glo dat my lewe binne ‘n week so deur mekaar gebrou kon word nie. Dit smaak vir my of ek in ‘n ander wêreld wakker geword het. Ek kry nie my skape in die regte kraal nie. En hoe meer ek sukkel hoe meer krap die noodlot my kole deurmekaar.

Dis Sussa wat wil weet; “Boeta het jy jou ma se pampiere ook hier? Laat ons kyk wat daarin staan?”

Ek gee vir haar die lêer sonder om iets te sê.
Sy lees in stilte die dokumente en sit ‘n ruk kop onderste bo voordat sy kopskuddend sê:
            “Boeta jy is so ryk jy kan hierdie hele dorp van ons koop en dan kan jy nog change ook kry om my pozzy te koop.” Sy beduie met haar duim oor haar skouer na die oop voordeur van die kroeg waaruit die gedruis van stemme stroom soos ‘n swerm bye. Elke nou en dan styg ‘n stem bo die ander uit en word dit afgewissel deur ‘n skril lag.

Ek staar Sussa aan asof sy van ‘n ander planeet is. Trek die papiere nader en lees die asembenemende bedrag van R225 miljoen.

No comments:

Post a Comment