Thursday, 15 October 2015

Loopdop Doep se nasaat --- (Hoofstuk 8)

Dit wat ek in die testament voor my lees, laat dit stil raak diep binne in my.

Ma was ‘n multi-miljoenêr en sy het altyd daarna verwys hoe pa ons op die rand van bankrotskap gelos het. Ons lewenswyse het egter die teendeel vertel.

Ek het nie geweet wat studieskuld was nie.

My blik dwaal na Duiker se groen bakkie en die onthou spring in my kop op van my bakkie wat Ma vir my gekoop het om klas toe mee te ry.

 

Dit was ook die Datsun 1200 soos Duiker s’n. Myne was net so kapoengeel met ‘n donkerbruin vinyl dak.

Ek glimlag stil in my binnekant aan die herinneringe wat met die einste bakkie gepaard gaan.

 

Ek kan egter nie die testament-ding net so in die lug laat hang nie.

Hier moet iemand op die dorp wees wat vir my klarigheid kan gee en ook verduidelik watter testament die geldige een is.

 

Sussa trek weer Ma se lêer nader. Die vraagteken op haar gesig en die hand wat bokant die lêer huiwer is duidelik. Sy vra toestemming om weer in die lêer te blaai.

Vir ‘n wonder is daar nie ‘n lang sigaret tussen haar vingers nie.

Met die een hand blaai sy deur die papiere en die ander hand soek-soek na die wynglas om ingedagte ‘n sluk te vat.

 

Terwyl sy blaai kan ek maar net sowel alles vra wat in my opkom.

 

          “Wie in hierdie dorp sal vir Ma en Pa hulle testamente opgestel het?”

 

Duiker sit sy elmboë op die tafel en steek ‘n vars sigaret aan. So tussen die rook deur sluk hy eers aan sy dop voor hy antwoord.

 

          “Vir Loopdop sou dit Giel Goosen gewees het. Wie Netta s’n gedoen het weet ek nie. Sy het seker maar uitgewyk stad toe. Want alles in hierdie dorp was mos fokken agterlik volgens haar.”

 

Sussa trek ons aandag;

          “Toe nie. Kyk na die briefhoof van die verskillende testamente. Almal is G Goosen en Vennote.”

 

Ons kyk afwagtend na haar toe terwyl sy verder blaai.

Heel agter in die lêer trek sy ‘n dokument uit. Ook met Goosen se briefhoof.

Sy hou die brief op soos ‘n skild.

          “Hier is Loopdop se testament wat sê, langslewende erf alles”

 

Sy plaas die drie dokumente langs mekaar op die tafel tussen die dopglase wat sy versigtig eenkant toe stoot.

Druk met haar vinger op elke datum.

 

Skippie steek vir haar ‘n sigaret aan en terwyl hy dit tussen haar vingers plaas sê sy ietwat afwesig.

 

          “Hierdie datums kom nie ooreen nie. Duiker volgens jou was Loopdop se testament hierdie een wat praat van die langslewende.”

 

Sy maak eers tyd om haar longe met rook te vul, ‘n sluk rooiwyn te vat en dan praat sy weer.

          “Loopdop is in April 1985 vermis geraak en later as dood aangegee.

Hierdie testament wat uit Netta se lêer kom is volgens die datum opgestel in November 1979.”

 

Sy laat haar woorde hang en Skippie maak van die geleentheid gebruik om sy verveling te kenne te gee:

 

          “As fok Sussa. Waar wil jy nou speuder speel?” Hy spreek die woord ‘speel’ ook uit met ‘n eu-klank – ‘speul’

 

Sussa vererg haar en druk die papiere onder sy neus in;

          “Skippie, ‘n blinde kan met ‘n stok aanvoel hier gaan nonsens aan. Kyk – kyk hier.”

Sy druk op die datum onder aan die testament wat uit Pa se lêer kom.

 

          “Hier is die datum op Loopdop se testament 18 Maart 1985.”

Sy praat nie verder nie en haar stilbly spel “wat sê jy nou ou kêrel?”

 

Skippie se “Tsaag!” gaan gepaard daarmee dat hy opstaan en vir hom sitplek in die kroeg gaan soek.  

 

Ons sit vir ‘n wyle in stilte. Elkeen hou homself besig met sy eie verversings en gedagtes.

 

My gedagtes draai by Babbels en Dirk Bruwer. En hoekom sal Pa die plaas verkoop aan die man wat die oorsaak is van al die ellende wat vir Ma, haar familie … en op ‘n sekere manier ook vir my … getref het?

 

         “Waar is hierdie plaas Driedraai wat ter sprake is in die testament?” uiter ek die vraag in my kop hardop.

 

Ek kan sien die dop doen sy werk as Duiker sy kop stadig na my toe draai. Sy vingers soek sy mond om aan die sigaret te kan trek.

 

Sussa blaas haar sigaret se rook oudergewoonte met die kop skeef gedraai die lug in.

 

Die seemeeus wat in die pad sit, fladder-hop nader met die hoop hulle word gevoer.

 

Alhoewel Duiker se tong swaar is, is sy spraak nog helder.

          “Wat wil jy maak as jy weet.”

 

          “Ek wil daarheen gaan natuurlik. Miskien is daar antwoorde wat ek nie hier in die testamente kry nie.”

 

Hy ruk sy breë skouers, wat al verkrom het met die ouderdom, so regop as moontlik;

          “Is jy nou bedonnerd. Vir wat wil jy syntoe gaan? Die man het nog die bliksemse vermetelheid om jou erfporsie onder jou pa uit te koop en jy wil met hom gaan heul!”

 

Ek vererg my vir hom. Hou my asem vir ‘n oomblik in om hom nie bars terug te antwoord nie.

Die vet weet hierdie mense het ‘n manier om ‘n ding te sê wat my stroop van al my nerwe.

Met ‘n beduiwelde frons tussen die oë antwoord ek hom so kalm as moontlik;

 

          “Die man het dalk die grond wettig gekoop en nie onder Pa uit nie. As ek die testamente so bekyk is niks onder Pa uitverkoop nie.”

 

Ek beduie vir die kelner wat by die deur staan om vir my nog ‘n bier te bring.

Hy doen dit sonder dat daar ‘n woord tussen ons gewissel word. Sussa hou hom met ‘n valkoog dop. Ek kan sien dat sy goed in beheer is van die Kraaines.

 

Nadat ek twee slukke van die bitter, yskoue bier geneem het, praat ek weer;

 

          “En dit is soos Sussa sê, hier is beslis met die testamente geknoei. Dit kan jy aan die datums sien. Hoe Ma dit egter reggekry het om dit te maak werk, is nou in die graf.”

 

My gedagtes raak vlugtig aan Ma se begrafnis. Behalwe vir die klompie mense van die Ouetehuis, was daar niemand anders nie.

Die woord wat spreek; ‘mens sterf soos wat jy geleef het’ is beslis in haar geval die waarheid.

 

Dit voel vir my Duiker en Sussa is klaar gepraat van die dag. Maar ek wil nog vrae vra en hoop maar ek gaan antwoorde kry.

 

          “Waar kan ek die prokureur opspoor wat hierdie testamente opgestel het?” poog ek halfhartig.

 

Sussa verbreek haar stilte met die antwoord.

 

          “Hy’s dood.” Kort, saaklik en duidelik.

 

          “Dood? My hel! Dis nou die toppunt.” bulder ek dit uit. So luid dat die mense in die kroeg uitkyk.

 

Tòg gee ek nie bes nie;

          “Daar moet seker iemand wees wat saam met hom gewerk het wat behoort te weet van die testamente!”

Hierdie keer praat ek sagter, maar dit is duidelik aan die mense in die kroeg se reaksie dat ek nie sag genoeg gepraat het nie.

 

Duiker hou ons woordeloos dop. Skreefoog deur die rookwolke.

 

Sussa trek strepe op die tafel met die water wat van die bierglas afloop terwyl sy my onwillig antwoord;

 

          “Ja, daar het.”

 

          “Ag dammit Sussa. Moet ek nou alles uit jou trek?” snerp ek.

 

Haar donker oë kyk diep in my eie blou oë. Sy soek sekerheid of ek nog ‘n skok kan hanteer, voel dit vir my.

Terwyl sy my vas in die oë kyk antwoord sy sonder omhaal;

 

          “Dirk Bruwer was sy vennoot.”

 

Haar woorde pers byna my longe plat. My antwoord is so sag dat ek dink sy het nie gehoor nie;

 

          “Dirk Bruwer? Die man duik ook oral op. Hoekom sou Ma ‘n testament by hom laat opstel?”

 

Sy neem ‘n rukkie voordat sy my antwoord;

 

          “Sy het nooit opgehou om lief te wees vir hom nie. Hy wou niks met haar te doen gehad het nie en dit is hoekom Giel die testamente hanteer het.

Wat jou pa se testament aanbetref. Nie een van ons was bewus van so testament nie. Moontlik sal Dirk weet wat aangaan.”

 

Sussa het my ook nou stil gepraat.

 

Asof Duiker my volgende gedagtes kan lees praat hy onverwags;

 

          “En dit help nie jy wil by hom gaan neuk vir ‘n antwoord nie. Hy het lankal die fokken pad gevat.”

 

Sussa help hom reg:

          “Ag komaan Duiker, dis maar nou drie maande wat hy uit die dorp is.”

 

Duiker gluur haar aan. En ek kan aanvoel hier is iets aan die gang wat sekerlik ook met onderstrominge gepaard gaan.

Sy volgende woorde bevestig dit.

 

          “Jy sal weet ja, want jy lê mos al jare agter sy donnerse lyf aan al is hy oud genoeg om jou pa te wees en al het hy ons soos die skuim van die aarde behandel met sy hoogmoedigheid.”

 

Sussa se stem klap en sy beduie met haar vinger feitlik in Duiker se gesig:

 

          “Bly stil jou verbitterde ouman. Jy kon lankal met jou familie vrede gemaak het. Maar jy het verkies om kwaad te bly vir die wêreld. Selfs toe Oupa met jou wou regmaak.

Jy het nie net Ouma se hart in die proses gebreek nie …”

 

Duiker val haar aggresief in die rede:

 

          “Nou bly jy stil jou klein snotkop. Onthou bietjie met wie jy praat.”

 

Sussa staan nie terug nie en haar antwoord neem die wind uit my seile;

 

         “Ja ek weet, net wanneer dit jou pas moet ek onthou dat jy my pa is. Jy moet net onthou ek …”

 

Sy bly onverwags stil en trek verwoed aan haar sigaret.

Sluk die glas leeg met een teug en hou dit uit na die kelner vir ‘n hervul.

 

My mond hang letterlik oop. Sussa, Duiker se dogter?! Waarheen gaan hierdie hele ding? Watter verrassings wag nòg vir my?

 

Ek het nog nie van my verdwasing herstel nie toe ek Duiker hoor uitroep;

 

          “Agge nee my fok! Praat van die satan …!

 

Ek volg die rigting waarin hy kyk en sien ‘n lang regop man oor die straat aangestap kom. Hy is netjies aangetrek. Glad geskeer met grys hare wat hy agteroor kam. Hy maak beslis indruk.

 

Die gevoel in my binnekant sê vir my; “Hier kom die onderwerp van die struweling – Dirk Bruwer.”


 

No comments:

Post a Comment