Skippie en
Sussa kom ook vinnig nader om die foto te beskou. Skippie se gebruiklike “Not a
fok!” klink hard in stil vertrek.
Met ‘n
ongemaklike laggie in haar stem sê Marda:
“Menere julle maak verseker ‘n fout. Dit
kan nie
hierdie, eh, eh, Loopdop wie ookal wees nie want dit is my pa Bertus Burger. En
dit is my ma Cora Burger gebore Bruwer wat langs hom staan.”
Duiker leun
nader en bekyk die foto aandagtig voor hy antwoord:
“Nee met hierdie man en vrou sal ek
nie ‘n fout maak nie. Dit is my jongste sustertjie Babbels en Loopdop Doep wat
uit hierdie portret vir my kyk.”
Die ete
waarheen ons genooi was, is vergete.
Ek en Sussa
staan tussen die pratendes. Dit lyk soos Pa in die foto. Maar ek het hom laas
gesien toe ek elf was. Hy is toe dood. Of dit is wat Ma my wysgemaak het. Dus
beaam ek nie Duiker se stelling nie.
Ek neem aan
Sussa ken nie een van die twee persone in die foto nie, want sy praat nie saam
nie.
Marda
verbleek en gaan sit op die naaste stoel:
“Jy klink so seker. Maar ek kan dit nie glo nie. Ek
ken darem my eie pa en ma se name en vanne.”
Duiker
antwoord ongeskik:
“Natuurlik is ek fokken seker.”
Hy gaan sit
en ek gaan sit langs hom reg oorkant Marda.
“Jy sê jou ma is die enigste kind. Het
jy jou oupa en ouma aan haar kant geken?”
Sy frons effens
voor sy my antwoord:
“Nee, hulle was al oorlede. Maar Mamma
het baie van hulle gepraat.”
Duiker tree toe
tot die gesprek:
“Weet jy wat hulle name was?”
Sy kyk van
Duiker na my en terug.
“Mamma het altyd net van Oupa
Grootgert gepraat. En omdat haar nooiensvan Bruwer is neem ek aan Oupa se van
moes ook Bruwer gewees het?”
“Het jou Pa enige familie waarvan jy
weet?” probeer ek weer.
Sy trek haar
lippe op ‘n tuit en skud haar kop ontkennend:
“Hy het af en toe verwys na sy
tweeling broer. Maar hy het nooit sy naam genoem nie en hy het nie veel oor hom
te sê gehad nie.”
Ek draai na
Duiker:
“Jy sal weet of Pa familie van enige
aard gehad het? Ek kan
geen familie onthou nie. Net Ma se suster Ant-Milly.”
Duiker
antwoord beslis:
“Nee, Loopdop het nooit van familie
gepraat nie. As hy gehad het, het hy nooit daaroor gepraat nie.
Ek staan op
en kyk na die ander portrette. Dis meestal maar van Marda se prestasie met
perde en skoolfoto’s. Ek voel weer hoe die magteloosheid my toekolk.
Marda staan
op:
“Kom ons gaan eet eers. Dan kan ons na ete bietjie
gaan rus en dan kan
ons hierdie saak verder probeer uitpluis. Ek dink Daan en Dawie wil seker ook
terugkom by hulle boerderye.”
Ons streep agter
haar aan tot in die eetvertrek. Die lang tafel in die middel van die vertrek is
keurig gedek.
Marda wys vir
ons waar ons moet sit en gaan sit self aan die punt van die tafel.
As almal
hulle plekke ingeneem het hou sy haar hande uit weerskante van haar met die
handpalms na bo vir die persoon om haar hande vas te hou.
Ons hou
mekaar se hande ongemaklik vas terwyl sy ‘n kort tafelgebed doen.
Nadat sy amen
gesê het, deel sy bietjie nuttelose inligting met ons.
“Pappa het altyd aan die kop van die
tafel gesit. Maar toe hy aftree en ek die boerdery oorneem het hy geskuif en
gesê dis die Baas van die plaas se plek. Dis hoekom ek nou hier sit.”
Niemand
antwoord haar nie en as die kos op die tafel geplaas word, kom ek agter aan die
geluide wat my ingewande maak dat ek honger is.
Ons eet in
stilte. My reisgenote val ook honger weg en niemand sien kans om die kos met ‘n pratery te bederf
nie.
Toe Duiker sy
bord terugstoot nadat hy alles verorber het wat hy vir die tweede keer ook
geskep het, vra hy:
“Waar is jou ouers?”
Marda vee
liggies met die servet oor haar mond:
“Hulle is weg Kaap toe vir die naweek.
Ek verwag hulle môremiddag terug.”
Ek en Duiker
kyk vir mekaar. Die boodskap wat oorgesein word is duidelik.
“Ons moet
hier probeer bly tot more.”
As die twee
jongmans opstaan en aandui dat hulle gaan vertrek, staan Duiker, Skippie en
Sussa ook op en stap saam met hulle uit.
“Ons gaan gou rook.” verduidelik Sussa
onnodig so in die uitstap en hulle los my alleen by Marda.
Ons sit in
stilte. Ek bly bewus van haar skoonheid. Donker hare en blousel blou oë. Haar
hoë wangbene het ‘n natuurlike blos op.
Ek kan aan niks dink om te
sê om die stilte te verbreek nie. Sy klaarblyklik ook nie, want sy vra:
“Gaan jy nie ook rook nie Jannus?”
“Nee, nee ek rook nie. Bierdrink is
lekkerder en vloek is goedkoper.” antwoord ek.
Sy lag
effense en sê met opgetrekte wenkbroue:
“Ja ek hoor julle spaar nie die
vloekwoorde nie. So verskoon my maar as ek jou reghelp as jy vloek.”
Ek antwoord
nie en die stilte omring ons weer.
Ek hoor die
twee bakkies wegtrek en daar verloop nog ‘n geruime tyd voor die ander drie
weer inkom.
Sussa val met
die deur in die huis:
“Boeta ons moet miskien maar begin
terug ry. Jy kan mos maar ‘n afspraak maak vir sodra die oom terug is, dan kom
ons weer.”
“Sal dit jou pas as ons dit eerder op
die manier doen?” vra ek beleefd
Sy beaam dit
en ons begin aanstaltes maak om te vertrek.
Met die
eerste draai van die aansitter vat die bakkie nie soos gewoonlik nie.
Ek probeer ‘n
tweede en ‘n derde keer, maar die voertuig karring sonder dat daar iets gebeur.
Dis toe ek
die enjinkap se skakel trek wat Duiker uitspring en vir ons ander drie
insittendes sê:
“Gaan julle maar eers weer in. Ek sal
kyk wat fout is. Ek ken mos darem hierdie enjins asof ek dit selwers aanmekaar
gesit het.”
My kop sê vir
my Duiker het met die enjin gepeuter. Hy het nie verniet die sleutel gevra om
kwansuis sy sigarette uit die bakkie te kry nie.
Ek stap na
Marda toe waar sy op die stoep staan en voel soos ‘n jongetjie wat vir die
eerste keer ‘n meisie wil uitvra toe ek vir haar sê:
“Dit lyk my
jy het ons vir nog ‘n rukkie langer as wat jy gereken het.”
Sy glimlag en
kyk na Duiker wat gebukkend oor die enjin staan.
“Weet die Oom darem wat hy doen? Ek kan gaan help. Ek weet
darem heelwat van enjins af.”
Sy stap ook
sommer oor na waar Duiker besig is. Hy ruk regop van skrik as sy skielik agter
hom praat:
“Kan ek help Oom? Ek we
…”
“Nee, nee,
nee … ehe … ek sal self regkom Juffertjie.” Hy kry haar ook sommer aan die skouers
beet en loop met haar tot by ons op die stoep.
“Die meisiekind wil my nou help met
die enjin. Maar dis nie ‘n donnerse vrou se werk nie. Vat haar dat sy vir julle
‘n dop gaan gooi of iets.”
Sussa stap
saam met Marda in en ek en Skippie loop saam met Duiker tot by die bakkie.
Terwyl ons oor die enjin leun en Duiker onbenullig hier en daar vroetel sê ek:
“Ek hoop jy kan regmaak wat jy onklaar gemaak het
Duiker.”
Hy kyk my
verleë aan en trek sy skouers so halfmas op as hy antwoord:
“Ja nee ou Jannus-man. Dis net hierdie
klein bliksem wat ek so bietjie los gewoel het. Maar ek sal dit môre eers kan regkry. Want ek wil
hier wees as Loopdop en my Sustertjie hier aan kom.”
Hy raak aan
‘n draad terwyl hy praat. In my hart is ek bly maar hoop terselfdertyd dat hy
weet wat hy doen. Ek sou ook graag hier wil wees as Marda se ouers op die plaas
aankom.
“Gaan julle ook maar eers in en sê ek
sê dis iets wat los geskud het van die grondpad en ek moet dit eers soek.”
Skippie hou
my terug as ek by die stoep wil oploop.
“Ou Jannus sy’s ‘n mooie, hierdie een.
Jy moet kyk hoe jy daar kan
regkom. Ek meen te sê. Jy is nou wel al amper oor die fokken muur en sy ‘n
jongbok. Maar give it a go”
“Ag Skippie jy is helemal laf man. As
haar pa, my pa is soos ons dink is sy my suster.”
Skippie laat
hom egter nie van stryk bring nie.
“Dis waar jy die fout maak, onthou,
daardie ou donner Dirk Bruwer is jou pa want ou kens Netta het mos Babbels se
kind gevat. En dit was jy.”
Ek los vir
Skippie buite as ek die stoep oploop en die huis binnegaan sonder om hom te
antwoord. Die sake is nou al vir my so deurmekaar, ek kan nie met sekerheid sê
dat ek weet wie ek is nie.
Ek kry vir
Sussa en Marda besig in die kombuis.
“Marda sê terwyl ons nou hier is vir
die aand, moet ons braai. Ek hoop jy weet hoe om te braai Boeta.”
Voor ek nog
kan antwoord dat ek ‘n baas-braaier is, lag Marda en sê:
“Nee ou Kleintjie kan sommer vir ons braai. Hy sal in die
gesig gevat voel as ‘n vreemde sy self opgelegde taak uit sy hande neem.”
Sy verduidelik
nie wie “Ou Kleintjie” is nie en ek neem aan dat dit een van die plaasarbeiders
moet wees.
Sy nooi my om
by hulle te sit. Ek gaan sit sommer by die kombuistafel.
“Sussa vertel vir my sy moet nog die
dagboek waarna jy vanmiddag verwys het verder lees. Miskien kan ons dit sommer almal lees terwyl ons wag
vir die vleis om gaar te raak.”
Dis Sussa wat
haar van haar entoesiasme ontneem:
“Nee ou Suster, jy kan dit maar vergeet. Ek en jy kan dit lees, maar
hierdie manne sien dit as te soetsappig. Want Netta skryf met die emosie van ‘n
vrou. En hulle is mos te macho om dit te hoor.” Sy knik in Marda se rigting en
glimlag vir my.
Marda probeer
weer ‘n geselsie aanknoop:
“Sussa sê vir my jou pa was ‘n
seeman.” Dit gaan deur my gedagtes dat ek dit vroeër ook vir haar gesê het. Sy
vang egter my aandag met die res van die sin.
“Dan kan jy verseker weet ons het nie dieselfde
pa nie want my pa is so bang vir die see soos jy dit nie sal glo nie. Hy kom
nie eens naby die strand nie.”
As ek haar
antwoord weet ek dat ek myself glo:
“Om jou die waarheid te sê, ek weet
nie meer of ek enigsins ouers gehad het van wie se bloed ek werklik is nie.
Want dit wat ek geglo het wel my ouers was wil nou voorkom asof alles vals is.
En ek wil die raaisel so gou moontlik oplos.”
Ek word
onderbreek deur Duiker en Skippie wat van buite af in kom.
“Nee o fok Ouboet. Ek kry nie die donnerse
fout nie. Ek sal môre …”
Ek val hom in
die rede:
“Duiker hou bietjie ingedagte dat hier
dames in die geselskap is en let op jou taal.” Ek is verwonderd oor my reaksie.
Want dit is nie asof hy nou vir die eerste keer voor die dames vloek nie.
Duiker kyk na
Marda en maak verskoning.
“Jammer Juffroutjie. Ek hoor mos nie
self wat ek sê nie. Maar dis goed dat die Klong my reghelp.
Ek sal môre
weer kyk as dit lig is, want nou is dit darem al te sterk skemer en myse twee
oge wil nie meer kyk nie.”
Hy spreek
Marda vinnig aan as hy onthou dat sy gesê het sy ken enjins.
“En jy hoef nie kom om te help nie.
Hoe gaan dit darem nou lyk as Duiker Kotzé toelaat dat ‘n meisiemens die werk
doen.
As al die
voorbereidings vir die braai afgehandel is en Marda vir Kleintjie roep om die
vleis te kom haal, staan Duiker nog groot en breed in die kombuis rond.
‘n
Kleingeboude geel mannetjie kom die kombuis binne. Hy het Khoi gelaatstrekke. Hy
hou sy hoed nederig teen sy bors vas.
As hy opkyk
en vir Duiker in die gesig kyk, vries hy in sy spore. Dan laat hy sy kop vinnig
sak en draai so dat hy met sy rug na Duiker toe staan.
Maar Duiker wat
hom herken gee een lang tree in sy rigting. Draai hom aan sy skouers om soos
wat hy vroeër met Marda gemaak het. Terwyl hy sy groot hande om die man se
boarms klamp praat hy hard, byna bulderend. Dit laat my dink aan die aand toe
hy my in die kroeg herken het.
“Klein? Jou ou donner! Jy leef! Jy
leef die fok weet regtig! Jy is nie dood nie!”
Hy vou die
man teen sy bors vas. Dié se bene swaai los en hulpeloos voor Duiker rond.
As ek verbaas
na Duiker kyk, sien ek hoe die trane onbeskaamd, stil oor die grootmens se
wange rol en ek weet hier steek vir die eerste keer ‘n sleutel in die slot van
die deur wat so dig toe bly.
No comments:
Post a Comment