Tuesday, 5 November 2013

Klein asempie van Genade



Wanneer mens worstel om van God bewus te raak, sluip Genade in baie gevalle by jou verby.
So het dit dan amper ook met my gebeur.
Die van julle wat my vorige skryfsel ”God is doof” gelees het, sal  weet dat ek my in ‘n dal van donker dieptes bevind het.

Ek het nie probeer om myself daaruit te worstel nie. Nee! Op daardie stadium was ek ‘n smartvraat wat alle geseling wat na my toe gekom het, in enige vorm, verwelkom het.

So sit ek dan ook nou ‘n week gelede hier in Zym se winkel. Dis weer een van daardie dae wat jy bang is dat as dit stiller raak in die dorp, ons ook soos Kolmanskop, naby Luderitz in Namibia, met die seesand gaan toe waai. En dis triestig koud.
Ek sit en staar uit voor my soos ‘n bobbejaan wat ver weerligte sien en verlang na dae uit my vorige lewe toe ander mense nog vir my gesorg het.

Uit die hoek van my regteroog gewaar ek ‘n baie ligte beweging.
Vir duidelikheid van my vrese en gedagtes, moet ek verduidelik dat my regteroog die beweging aan die verste kant van die winkel waargeneem het.
Daar waar die deur toe is en geen oop vensters is nie.

Heel eerste gaan my gedagtes in die rigting van: “Spoke loop nie helder oordag nie”

“Spoke?” vra jy natuurlik dadelik wantrouig

“Ja man spoke!” Die winkel is in ‘n gebou net so oud soos Lambertsbaai en niemand was vir 15 jaar naby die solder nie.

Die beweging is donker van kleur. En piepklein.
Ek dink nie die Heilige Gees is swart nie. Ek glo Hy kan in enige grotes voorkom. Maar nie swart nie. Dis mos nou nie regverdig dat as mens aan’t stoeie is om kontak met die Vader te maak, dat die Gees nog swart ook sal wees nie.


Maar EK is nie bang nie! Ek draai my kop om te kyk hoe die klein spokie lyk. En wragtig, hier sit ‘n klein baba kat. Swart soos die nag.

Kyk ek was nog nooit ‘n kat ou nie. En ek hou nie so baie van swart katte nie. Dink maar nou vir jouself watter kleur is die hekse se katte in die sprokies waarmee ons in ons kleintyd wreedaardig vermaak is. Rillers!!



En al is ek gemoedsbekakken en hou ek niks van katte nie, kan ek mos nou nie hierdie klein dierasie uitsmyt op straat nie.
Wat maak ek? Ek klap die winkel se deure toe, lank voor toemaaktyd en begin kat vang.
Die spreekwoord: “ ’n katjie wat jy nie sonder handskoene kan aanpak nie” raak waar vir my toe ek hierdie enetjie mos in ‘n hoek vaskeer.



Met ‘n geblaas, knor, byt en gekrap ontsnap sy uit my kloue! So klein as wat sy is, dompel sy hierdie winkel in chaos. Sy hol oor die rakke soos Ina van Rensburg nie hekkies kon hardloop nie.
Seil onder die rakke deur soos ‘n wafferse hindernisbaan rekruut.
En ek bly geduldig en veg moedig voort!


Dis toe sy haarself agter ‘n klomp opgestapelde rakke in die stoorkant van die winkel bevind, dat ek my kans sien.
Ek gryp een van die klein visnette in die winkel. Skuif die rakke so dat sy by my moet verby om uit te kom.
Dis moeilik om te sien waar sy is, maar so met die 3de haak vang ek vir haar vas soos mens ‘n baie skaars vlinder in ‘n net vang. Vinnig en versigtig.



Toe moet julle haar hoor knor. Jaaaa, katte kan ook knor. Gaan gooi jy sout op ‘n leeu se stert dan hoor jy hom knor.

Gewond, doodmoeg, met sweet wat oor my stroom asof dit reën, het ek haar uiteindelik gevang. Jy moet onthou hierdie ronde, dik lyfie van my is nie gewoond aan sulke uitmergelende oefening nie.

Ek glo ek het laas so beweeg toe ek ‘n PTI in die weermag was. En dis bykans honderd jaar gelede.



Maar nou ja – so het ek haar hier in my arms, fluister en sus en praat om haar net kalm te hou sodat ek weereens op Paul en Tertia se hulp kan gaan staat maak.

Die arme ding is so verbouereerd dat sy haar kake op mekaar klem en weier om self melk te drink.
Met Tersh se vaardige hulp, kry ons darem vir haar melk in met ‘n spuit.tussen haar geklemde kake ingespuit.

Maar sy is wild! Te wild vir die willetuin!!
En ek troos en paai en praat mooi en voer. En sy knor en krap en byt. Tot sy agterkom sy hoef nie te veg vir haar kos nie.



Wat is die geslag wil almal weet? Ek besluit om te maak soos baie verwagtende ouers. As dit ‘n meisiekind is, is haar naam Katjiepiering. Natuurlik as dit ‘n seunskind sal sy naam sterk moet wees. Katklong.

Een van die plaaslike anties kom tot my redding en verklaar ewe met opgetrekte wenkbroue: “Dis ‘n meisietjie” En sy laat my aan die outydse vroedvroue dink in die dae toe pa’s nog nie in die kraamkamer mog ingaan nie.
Sy dop die arme kat weer sonder seremonie om en sê vir my: “Kyk, hier is haar hollie en daar haar patrollie.”

Ek besluit om haar nie te hou nie. Veil haar op aan almal wat heel moontlik, miskien, dalk kans sien vir dertien plus jare se toewyding.
Ek sien tot kans om haar uit te voer Pretoria toe na ‘n vriendin wat gek is oor katte. 



Maar teen die derde dag kom die wete, toe sy weer verwoed vir my blaas maar my darem toelaat om haar op te tel – Katjiepiering is my stukkie lewende Genade.



Soos sy my al klaende toelaat om haar op te tel en rond te dra. Haar veilig te hou, so moet ek die Vader toelaat om my op te tel en veilig te hou.

Hoeveel makliker is dit nie vir Hom as vir my nie.

Ek begin nou al amper om haar kat-taal verstaan.
As sy saggies haar voet teen my druk sonder dat die naels uitkom en miaau, wil sy opgetel wees.
As daar naels sigbaar is wil sy speel.
En as daar geen voete betrokke is nie en sy kyk my diep in die oë en miaau sag en benoud, is dit sandbak tyd.

Is ek ‘n kat-mens? Ek is besig om een te raak

Dan bruis die woorde diep uit my uit:

Uit die donker van jou diepe siele dood
troos ‘n asem klein om aan jou hand te voed
vir jou om haar te leer ken sonder om
geliefdes in ‘n lewelose stuk papier te groet

 

Op ‘n koue lente oggend in Oktober 2013, het ek amper die klein stukkie Genade gemis wat in my lewe kom spook het met haar wilde teenwoordigheid, terwyl my gedagtes besig was met veraf beplanning van waar en hoe en wanneer.




Dankie Here vir Katjiepiering!


Friday, 1 November 2013

God is doof!





 Soos dit maar met baie drome in mens se oë gaan, het myne ook vervaag die oomblik toe ek myself midde in die werklikheid bevind.

Die spreekwoord, “Drome het vlerke,” is waar. My drome oor Lambertsbaai en die eiendomsmark het arendsvlerke gekry en die verre verskiet in gevlieg.

Ek is egter nie dankbaar soos Noag van ouds toe die duif nie teruggekeer het ark toe nie. Ek weet daar en dan verseker dat ek, met permissie gese, nou letterlik my gat gaan sien.

Ek betree die Weskus met die wonderlikste atmosfeer. Die vriendelike mense en die pragtige natuur wat my welkom heet. Maar ek en die eiendomme vind mekaar nie.

Die verhouding is van die begin af gedoem en ons besef dat ons nie ‘n langtermyn verbintenis met mekaar gaan hê nie.

Die leerproses is stadig, die geleenthede min en miskien tel my vooropgestelde idees teen my. Maar dit maak nie vir my sin nie. Ek is tog opleibaar. Of so het ek myself wysgemaak. En ek weet dat ek enige ding kan doen waarop ek my toespits.

En so loop die kruik leeg. Daar is later nie eens meer ‘n oortjie oor om vir kollekte in die kerk te gebruik nie.

Ek hoor die prediker oor die draadloos praat en ‘n paar sinne val my op: “Die Here is by jou in alles wat met jou gebeur. Dit wat goed is, maar ook in dit wat verkeerd loop” 




Zym se winkel – Iets van Als, wat as‘n ekstra inkoste moes dien, raak die hoofbron van finansies.
Nou kan ek nie anders as om sonder skroom te sê dat die geld wat in die winkel verdien word, kwalik genoeg is om nuwe voorraad aan te koop.

Wat nou gemaak? “Bid” skree almal! Die wat ‘n persoonlike verhouding met die Vader het. Ook daardie wat venynig wil voorgee dat hulle dit goed bedoel. En hulle laat dit klink of hulle deur harts-inligting weet dat ek nie bid nie.

En ek wil dit nie hoor nie. Want ek bid! Maar God bly doof en sommer nog stom ook!

ALLE planne wat ek maak boemerang. Alles lyk vreeslik belowend. Diep binne glo ek hier gebeur die verandering nou! Net om agter te kom dit verdwyn soos vals beloftes die niet in.

Die prediker se boodskap oor die draadloos gaan oor: “Die Here sal jou nie in iets neersit as Hy jou nie daardeur gaan vat nie”

Eers bid ek vir die finansiele vermoë om die verlies aan inkomste, (wat ek nooit verdien het nie) te vervang. Maar God bly doof.
En die winkel se inkomste bly konstant. Geen verhoogde verkope nie. Geen onverdiende aalmoese nie. Niemand wat dit kan bekostig om vir my die geld skenk, voor te skiet of te leen nie.

Seker ook maar goed, want my oorle Moeder het altyd gese: “Leen is an old maid’s name”

Ek wou ook maar net die geld bekom om Zym se winkel so uit te brei om die omset so te laat verhoog dat ek ten minste my finansiële verpligtinge maandeliks kan by bring. Maar God is doof.

Van al die vonkposse wat ek vir mense skryf, is daar slegs twee wat my antwoord. “Nee jammer. Ek kan dit self nie nou bekostig nie”. Die res vermy my asof ek besig is om ‘n volksmoord te beplan.



Die prediker oor die draadloos se stem gooi die woorde in my ore: “Die Here dwing jou soms tot stilstand sodat jy skoon van voor af kan begin”

Toe begin ek vir al die instansies vonkposse stuur om te verduidelik dat ek nie my verpligtinge kan na kom nie. ‘n Stilte daal neer in die kuberruim. En God bly doof.

Die versekeringsmakelaars is die enigstes wat reageer, Die res spreek nie eens hulle geweldige onsteltenis uit nie. Ek weet nie of hulle die kennisgewing onvang het nie.

Ek stuur ‘n opvolg vonkpos. En ‘n derde vonkpos. Ek bel en probeer met die betrokke persone te praat. Maar hulle is nie beskikbaar nie en sal terugbel. Maar dit gebeur ook nie.

Ek adverteer my dienste as fotograaf. Kry een kwotasie om te doen en toe die arme bruid my tarief hoor, skrik sy haarself uit die huwelik uit. Ek wil darem net sê ek is heelwat goedkoper as die begin pakkette van R12 000 wat ‘n ander plaaslike Weskus fotograaf vra.

Daarna bid ek vir werk. Ek stuur my CV die wêreld in. Die enigste mens wat vreeslik opgewonde is om van my te hoor is die administrateurs van ‘n “Oil rig” Ek werk vinnig uit hulle gaan my nêrens heen stuur nie, want hulle soek ‘n registrasiefooi van R975.00.

So se ek toe vir die Here: “Hier is ek. So kom ek dan ook nou aan die einde van my planne, moed en uithouvermoë”.
Dan hoor ek sag soos die fluister-wind in my ore, met geen herkenbare stem nie; “hoekom bekommer jy jou oor die einde van die maand as jy nog nie vandag ten volle geleef het nie? Vat elke dag oomblik vir oomblik.” Ek frons, want hoekom sal ek nou sulke stroperige goeters dink?

Ek ervaar die Psalm vers: “Na waters waar rus is lei Hy my heen.” En ek begin prentjies maak. Nee nie skilder nie, want dit kan ek nie. Ek maak prentjies. Elke dag leef ek net vir daardie dag.

 
En ek lewe soos Oupa Eli sal sê: “Hoop vir die beste, want die slegte kom vanself.”

Die dae kruip teen slakkepas verby.  Die Chery loop al minder en die einde van die maand spoed voort met die krag en die kleur van ‘n vulkaan wat aan’t uitbars is.

Ek maak my tweede prentjie.

Die prediker oor die draadloos is vol passie as hy vermaan: “Die Here stuur gereeld mense oor ons pad wat ‘n verskil kan maak. Hou net jou oë en ore oop.”

So stig ons ‘n aanlyn winkel met van die handgemaakte voorraad wat ek in Zym se winkel het, met die hoop iemand wil die goed koop. Maar nee!! almal “like” net die verdomde winkel. Niemand bestel die goed nie.

Praat oor Radio Namakwaland oor www.skryfnet.co.za met ‘n gestotter en ‘n gehakkel. Daar is darem dat een siel wat verstaan hy kan daar registreer om gedigte te plak. Maar die res bly stil.
….Ja – En God is doof.

Dan gebeur dit! Vroeg gisteroggend kry ek ‘n telefoonoproep van ‘n vrou waarvan ek nog net gehoor het hier in die dorp, maar ek ken haar nie. Kan sy my kom sien, wil sy weet.
Ek het niks om te verloor nie. Geen geld om iets te koop nie. Maar ek het darem twee ore om mee te luister. Dus, laat kom maar die dinge, dis deel van die dag wat ek sal kan hanteer.
En dit gaan so: Haar seun, wat die plaaslike dvd winkel besit, moet die perseel ontruim omdat dit verkoop is. Stel ek nie belang om dit te koop nie?

Ek glimlag in my brein, besluit daar en dan dat die Here ‘n wrang sin vir humor het. Hy weet dan hoeveel gebede ek al opgesê het. Hy weet dat ek geen geld het om enige iets te koop nie. Hy weet …. Hy weet ….. Hy weet!! Maar Hy is ook doof.



Ek skakel die draadloos af wanneer die prediker teem: “Die Here gee manna wanneer jy honger het. Hy sal jou nie van honger of dors laat omkom nie.”

Ek sê vir haar hy is welkom om die goed hier te kom neersit. En ek sal dit vir hom verhuur. Teen betaling natuurlik. Maar geld om die besigheid te koop? Nee, dit het ek nie. Sy onderneem om met haar seun te praat. Want die perseel moet gisteraand ontruim wees.

Daar wil, wil ‘n opgewondenheid deur my gaan. Maar hierdie keer praat ek sommer hardop met die Here. Miskien kan Hy my lippe lees.
“Here moet my nie nou opgewonde maak oor iets wat weer nie gaan realiseer nie. Laat dit net verby gaan. Kry dit net verby!”

Ek hol darem gou oor die pad na my pelle toe en so in die praat stel hulle voor: “Winsdeling as afbetaling vir die besigheid. As die bedrag bereik word, raak die besigheid en al die voorraad joune”.
Ek bel vir Moeder en stel dit voor.

So los ek dit dan as deel van die dag wat ek NIE kan hanteer nie. Maar toe ek weer my oë uitvee, staan ma en seun voor my.
Dis reg, hulle aanvaar my voorstel van die winsdeling en die afbetaling.
Die rakke en voorraad word afgelaai en die afspraak is gemaak om Zym se winkel te herorganiseer sodat alles kan inpas. Dis nou in die komende week.



Ek is nog besig om die stemme in my ore stil te maak wat my berispe: “Sien, die Here doen Sy ding op Sy tyd” toe kry ek die versoek vir spasie om ‘n kleremaakster / naaldwerkster te akkommodeer.
My kop werk in die hoogste versnelling. Ek het ‘n onbenutte deel vloerspasie. Dit is afgesonderd van die res van die winkel en sy kan help huur betaal.
So kom ek om – so kom ek om.

Ek ervaar weer die Psalm vers. En ek hoor weer die wind fluister. Maar hierdie keer sê die wind vir my: “Die Here is nie doof nie. Jy is.”

Dis eers toe Paul vir my se: “Jou geloof is baie sterker as myne. Ek weet nie hoe jy so rustig bly terwyl jou wêreld rondom jou uitmekaar moer nie,” wat ek weet, so seker as wat ek miskien nog my gat kan sien, so seker is dit dat ek die dowe een is. God is nie doof nie. Hy het my net in perfekte tydsberekening op die regte plek neergesit om met die regte mense pad te kruis……
….. My die pad laat vat wat tot voordeel van myself is.

Ek is besig met my derde prentjie. Dit sal ek vir julle wys as ek weer skryf.
Ek weet nog nie waaroor ek gaan skryf nie.

Vir nou wil ek net eers dit by julle los:

God is verseker nie doof nie!



 “En die eiendomme dan?” hoor ek iemand vra.

Nee daardie verhouding is besig om ‘n stille dood te sterf. Want ek praat eerder die mense UIT die huis uit as IN.

Tuesday, 10 September 2013

Die Weskus verwelkom my ...


 Ek lê gisteroggend nog in die bed. Het vroeër as gewoonlik my oë oopgemaak (it is natuurlik glad nie ‘n aanduiding dat ek wakker is nie).

Iets in die boom voor die venster trek my aandag. Eers dink ek dis die wind, maar die res van die boom beweeg nie. Dis toe ek die slaap uit my oë uit vee, dat ek  sien dis die aller kleinste voëltjie. Hy is besig om van takkie tot takkie te wip. Wat se voëltjie dit is weet ek nie. En teen die tyd wat ek wakker genoeg is om aan die kamera te dink, het hy reeds vertrek na iewers anders.

Met die koue, nat weer in gedagte, is die verrassing aangenaam toe ‘n opregte soel lentedag hom voor my voete ooprol. Die see is groen en die branders baljaar tot teen die rotse soos opgewonde kinders. Jakkalsvlei is vol en die rivier vul steeds die water aan. En soos dit hoort, trek dit die watervoëls.

By die kerk hoor ek die mense praat:

“…..die meeste reën in ‘n baie lang tyd…..”

“…..nog nooit so nat winter beleef vandat ons hier ingetrek het nie…..”

“…..is die blomme nie pragtig hierdie jaar nie?.....”

“…..as julle nou wragtig mooi blomme wil sien…..”

 



Grepies uit verskeie gesprekke vind hulle lêplek in my. Die ryk taal en ander Afrikaanse dialek met die aardse tongval word aangevul met beskrywende handgebare.

My oë dwaal oor die mense. Deur die blou-blou lug. Oor die groen gras. Die daisies op die sypaadjie. En die dankbaarheid wat in my kom lê met ‘n rustigheid wat my verstand te bowe gaan, vul my - maak my skatryk.

Dis eers toe ek later in my kar klim en sommer net die pad vat, wat ‘n wete in my nesskop. Ek dink die Weskus het my verwelkom. Of ek dit ooit weer so gaan sien in die seisoene wat kom, weet ek nie. Maar die beelde is vasgelê diep in my. Dit kleur my gedagtes in met nuwe kleure ... nuwe verf ... nuwe herinneringe.

 Die natuur van die Weskus het my waarlik verwelkom.

Thursday, 1 August 2013

Ek is dan 'n BLOUBUL !

Middag Liewe Vrinne.

So is dit dan nou ook dan op hierdie koue wintersdag van 21 Junie 2013 dat my kar se registrasie moet verander na 'n Weskaap se registrasie toe. "Hier is my kans" dink ek so in my stilligheid. "Ek gaan nou vir my Chery 'n grend persoonlike registrasie kies. Iets soos Skyhawk**WP" Ek dink dat die ratte rooi-warm raak. Maar die letters het nog nie eens in my kop posgevat nie dan weet ek dis nie die regte een nie. En skielik......... Weet ek. Bloubul sal dit wees.


 Ewe windgat skryf ek dit vir Antie Sally van die lisensie kantoor neer. Dis toe Antie Sally vir my beduie dit gaan by R3000 kos, dat ek die papier met my eie persoonlike nommer weer aandagtig beskou. BLOUBUL**WP. "Antie Sally, gee my maar die CAR nommer" laat ek dan ook so half kortaf hoor.


Nou wil ek vir julle se dis nie die R3000 wat vir my te erg was nie. Dit was daardie WP aan die einde van die nommer. Ek kan mos nou nie SO deur die lewe gaan nie. ... Ek is dan 'n BLOUBUL !





Groete

Monday, 29 July 2013

My "nuwe" kontrei - Lambertsbaai ...


More Liewe vrinne.

So is dit nou dan ook dat ek my tweede week in Lambertsbaai aan die Weskus deur gebring het. Wat 'n ryk ervaring. En natuurlik is ek die winter nie gespaar nie. Want dit reen en dit is koud (volgens die mense hier is dit koud). Maar ek het nog nie 'n baadjie nodig nie.

Ek het gisteraand sommer deel geraak van die toeriste vereniging. En my heel eerste taak daar is om 'n fietsrit te reel op die ou pad tussen Lambertsbaai en Clanwilliam. Dit is die pad wat die ou boere gebruik het en op die pad is daar tydens die Anglo Boere oorlog 'n linie blokhuise gebou. Nou reken ek die hele ding kan ek dan bemark as die "Lambertsbaai / Clanwilliam blokhuis dikwiel fietsfees".

Vanoggend gaan ek die pad vat en die dorp verken om te sien wat is te koop wat nie op ons boeke is nie.
Hou asb aan om vir my te bid. Ek geniet dit erg hier. Maar daar is twee dinge wat my nog onderkry. Die rustigheid en die mense se vriendelikheid.


Lambertsbaai is vanjaar 100 jaar oud. En ons beplan 'n groot fees vir die 13de Desember. Dit word vooraf gegaan met ander kleiner verrigtinge. So pak die kar en kom vier fees saam met Lambertsbaai.

Nou ja dis my kontrei nuus vir eers. Soos die dinge gebeur sal ek julle vertel

Groetnis