Monday, 19 October 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 9)



Ek hou die man dop en sien dat hy in die restaurant gaan sit. Ek maak al die papiere op die tafel bymekaar. Maar seker dat dit in die regte lêers is en verskoon myself terwyl ek vir Sussa sê:

          “Sussa jy moet asseblief maar die dagboek verder lees. Ek glo daar lê nog heelwat dinge wat vasgeknoop kan word.”

Dan stap ek na waar Dirk Bruwer sit. Hy is verdiep in die spyskaart voor hom en kyk gesteurd op toe ek praat:

          “Dag meneer Bruwer.” Sy blik verander na ‘n vraagteken. Hy het nie verwag dat ek hom op sy naam gaan aanspreek nie.

As hy nie terug groet nie praat ek saaklik maar reguit verder;

          “My naam is Jannus du Plessis. Doep en Netta du Plessis se seun.”

Hy kyk na my asof dit wat ek vir hom sê geen nuus is nie. Terwyl ek verder praat maak hy die spyskaart toe en plaas dit op die tafel.

          “My ma is oorlede.” Die onwerklikheid van die gedagte dat Ma dood is tref my eers as ek dit hardop sê.

Sy antwoord is ewe kort en saaklik:

          “Ek weet.” Sy stem is ferm en diep. Die effense donker wat tussen die grys hare deurskyn, verklap dat sy hare baie donker moes wees in vroeër jare.

Ek besef ek sal hier moet praat en klaar praat want hierdie man is nie iemand met wie mens speel nie.

          “Ek weet dit is nou ongeleë, maar ek wil graag ‘n afspraak met u maak.”

Ek gee hom nie kans om te vra wat die rede is nie en verskaf dit.

          “Ek vermoed alles is nie pluis met my ma se testament nie en ek wil dit graag uitklaar met iemand wat by die firma G Goosen en Vennote gewerk het.”

Hy leun terug in die stoel en kyk my vas in my oë. Hy laat my soos ‘n skoolseun voel wat met sy pak papiere voor die hoof staan.

Ek voel ongemaklik oor my lang baard wat ek nog glad nie geskeer het vandat ek hier aangekom het nie.
Mens kan die man voor my deur ‘n ring trek en ek voel soos ‘n bedelaar - onversorgd.

          “Jy is reg dit is uiters ongeleë. Maar ek is net vir vandag in die dorp. So jy moet nou maar vra wat jy wil.”

Hy beduie na die oop stoel oorkant hom en ek gaan sit. Sonder om verder tyd te mors, haal ek eers die testament van Pa uit wat lees die langslewende erf alles.
Oorhandig dit aan hom en vra terselfdertyd;

          “Het my pa sy testament by julle laat opstel?”

Hy kyk vlugtig na die dokument en wat hy daarna sê skok my tot in my wese.

          “Omdat ek en jou ma betrokke was bymekaar, het Giel self jou pa se testament hanteer. Maar ek kan vir jou sê hierdie is ‘n uiters swak vervalsing. Want dit is nie naastenby Giel se handtekening wat op daardie dokument is nie.”

‘n Warboel gedagtes en vrae vermeng in my brein en nie een maak sin om ‘n sinvolle vraag te formuleer nie.
Maar ek wil hê hy moet sy opmerking verklaar. Nie die feit dat die testament vervals is nie, maar dat hy en Ma “betrokke” was!

Hier speel ‘n verhaal af waar ek kennis het van die mense, maar hulle word by die dag vir my meer vreemd soos die storie ontvou.

Ek is seker hy sien die ontsteltenis op my gesig want hy hou my fyn dop.

          “Wat bedoel jy, jy en Ma was betrokke?” Kry ek die vraag uiteindelik uit.

Hy is heel gemaklik in sy klere en antwoord in geen onduidelike woorde:

          “Kort na jou geboorte het ek weer met jou ma kontak gemaak en daar het ‘n verhouding tussen ons ontstaan. Ek kan ook vir jou sê dat dit gehou het tot met haar dood.”

“En … en … my Pa?” stotter ek onbeholpe. “Het hy geweet?” wil ek duidelik ontsteld weet.

Voor hy antwoord wink hy die kelner nader en bestel vir ons elkeen ‘n dubbel whiskey op ys.

          “Ja ek glo hy het geweet. Maar hy was nie bereid om van jou ma te skei nie.” Sy volgende woorde gee my ‘n koue rilling.

          “En aangesien hy sy pad gekies het, het ons besluit om dit vir ons so maklik moontlik te maak en vir hom so moeilik moontlik.”

Woorde wat ek nie hardop kan uitspreek nie kruis my gedagtes. Ek hou die stoel se sitplek vas om myself so te dwing om stil te sit en nie die man te lyf te gaan nie.
Hy gaan voort so asof hy genot daaruit put om my te skok.

          “So jy sien, jou ma was nie so heilig as wat haar familie haar gemaak het nie en jou pa was maar ‘n sucker vir punishment.”

Die kelner bring ons drankies maar ek raak nie daaraan nie.
Hy teug behaaglik aan syne en vra of daar nog iets is wat ek wil weet.

Sonder woorde gee ek vir hom pa se testament wat ek uit sy lêer gekry het.

Hy blaai vinnig daar deur en lyk verveeld as hy dit terug gee.

          “Dit is wel Giel se handtekening. Maar ek verstaan nie waarom jy nou ‘n bohaai wil maak oor hierdie twee testamente as jy jou ma se enigste erfgenaam is en nou meer geld het as wat jy moontlik kan hanteer nie.”

          “Volgens my pa se testament is daar die plaas Driedraai wat klaarblyklik deur jou gekoop is. En ek wil weet of dit waar is.”
Die kilheid in my stem slaan deur.

Hy lag kort en hard.

          “Nee. Ek het nie die plaas gekoop nie. Wie ookal vir jou daardie inligting gegee het, praat twak.”

Hy tel sy glas op gooi die laaste van die vog in sy keel af en praat met ‘n sarkastiese toon in sy stem:

          “Hoekom spoor jy nie vir Cora op en laat sy alles vir jou verklaar nie?
Jou pa was maar te dankbaar dat ek en Netta betrokke was, want toe kon hy sy lê gaan lê by Cora.” As hy die verwarring in my oë lees, gaan hy sinies voort:
          “O ja, ek het vergeet, jy het seker teen hierdie tyd gehoor haar agtertangse familie roep haar Babbels. Die vader weet Netta is ook die enigste een in daardie familie wat nie agterlik was nie.”

Ek staan op, maak my dokumente bymekaar en draai om, om te loop. Die ongevraagde drankie staan onaangeraak op die tafel.

As ek wegstap roep hy agter my aan:

          “Miskien moet jy van daardie onverdiende geld vat en vir jou skeermeslemme koop.”

Ek maak of ek dit nie hoor nie. Stap uit en gaan sit verslae op die stoep waar Duiker en Sussa steeds sit. Skippie het ook intussen weer by hulle aangesluit.

 Ek beduie vir die kelner om vir my ‘n bier te bring. Sit en staar vêr die see in. Die golwe slaan met die geweld wat ek innerlik ervaar teen Splash Rock vas.

Dis eers as Sussa sag aan my hand raak, dat ek bewus raak van die bier wat seker ‘n geruime tyd al voor my staan.

Die driemanskap is vir ‘n slag stil en vra nie onnodige vrae nie.

Ek sit die glas voor my mond en sluk en sluk en hou aan sluk tot die gas in die bier my mond binne seermaak.

So tussen die slukke vra ek die vraag wat ek seker heel eerste moes vra maar ek het nooit daaraan gedink nie.

          “Wat het van Babbels geword? Vertel my meer van Babbels”

Dis Duiker wat antwoord;

          “Sy is die jongste. En toe ou Grootgert my die plaas verbied het, het ons gereeld kontak gehad. Maar na jou pa se dood het sy alle kontak verbreek en verdwyn.”

Dis vreemd om die rasperstem so gelate te hoor sonder om te vloek. Ek maak geen opmerking daaroor nie want dit kan dalk net as aansporing dien om weer te begin.

Die asbak op die tafel is tot boordens toe vol sigaretstompies. Sussa sien hoe ek na die asbak kyk en sy roep die kelner wat verby loop met ‘n bestelling vir mense wat ook op die stoep sit;

          “Kom maak skoon my liefie. Julle weet mos die asbakke moet nooit so vol raak nie.”

Ek besluit dat môre nog ‘n dag is en drink die res van my bier in stilte.

Maar ek moes verwag dat hulle nie die afwagting sou kon uitstaan nie.

Dis Duiker wat eerste grom:

          “Wat het die ou fokker vir homself te sê?”

Ek ignoreer die vraag en vra my eie vraag:

          “Waar is hierdie plaas, Driedraai?”

Aldrie kyk my vraend aan. Ek het al agtergekom dat hulle kan toeklap soos ‘n oester. Dan moet ek maar verder praat:

          “Ek wil daarheen ry. Ek wil gaan kyk aan wie die grond behoort. Wie nou daar bly.”

Skippie reageer eerste:

          “Wanneer ry ons, ek sal vir jou die pad beduie.”

Voor ek kan antwoord, verklaar Duiker en Sussa onomwonde dat hulle ook saamgaan.

Ten spyte van die onstuimigheid in my kry ek so ligweg binnepret en ‘n ligte glimlag raak-raak aan my mondhoeke.
Hulle mag vir my soos vreemdelinge voel, maar ek is deur hulle ingeneem as ‘n eie-mens. En ek gaan verseker nie al hierdie antwoorde alleen soek en hulle kan uitsluit nie.

Vir die eerste keer in my volwasse lewe voel ek geborge. Voel ek, ek behoort aan ‘n familie wat my deur dik en dun sal bystaan.

Hierdie mense wat ru voorkom, maar wel die sout van die aarde is, het hulle oor my ontferm.

         “Vanaand kan julle verder op my rekening eet en drink.” kondig ek joviaal aan.


“Sussa reël daar dat jy môre ‘n aflos het. Ek kom julle vroe-môre oplaai. Môre! kraak ons hierdie neut.”

No comments:

Post a Comment