Sunday 27 September 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 6)



          “Liewe blik ... “ Ek knip die kragwoord kort. Ek is nog nie twee dae in hierdie hardebaarde se teenwoordigheid nie of ek neig ook al om soos ‘n matroos te vloek.

Ek kyk beskuldigend na Duiker; “Moet my nou nie weer stil maak nie. Maar dit lyk my hierdie Babbels-vrou wat klaarblyklik my ma is, was nie net ‘n flerrie nie, sy was … sy was …”
Die woord wat ek wil uiter steek in my keel vas.
Dan moet ek maar ‘n eufemisme inwerk om nie so bar soos hierdie twee seemanne te klink nie:
          “… losbandig, om die minste daarvan te sê” gooi ek dit in Duiker se skoot.

As ek sien sy mond gaan oop om iets te sê, lig ek my wysvinger op en maak hom stil.
          “Jy kan nie stry nie Duiker! Daar staan dit geskrywe,  swart op wit!”

Duiker hou sy glas voor sy mond sonder om ‘n sluk te neem. Dan beduie hy in my rigting met die glas.
          “Man, gisteraand het jy my ge-oom, nou raak jy fokken astrant.”

Daarop kap ek dadelik terug omdat ek in hierdie kort tyd agtergekom het dat hy die oorhand oor jou kry as jy hom ‘n halwe kans gee.
          “Gisteraand het ek aan skok gely. Hier is nog nêrens bewys dat jy enigsins, op enige manier aan my verwant is nie.”

Ek kan sien my woorde tref waar hy dit nie wil hê nie. En as ‘n bok gekwes is, moet jy hom die doodskoot gee.

          “En jy maak vir Ma so sleg. Maar kyk wat vang jou …” die klank in my stem grens aan sarkasme; “… dierbare, jongste sustertjie, Babbels aan.”

Skippie en Sussa is stil. Hulle volg die gesprek tussen ons soos ‘n tenniswedstryd. Heen en weer draai hulle koppe in die rigting van die spreker.

Duiker kyk van my na Sussa. Hy soek ook antwoorde. Dit kan ek sien. Maar hy gaan ook nie toelaat dat enige mens die beeld wat hy al die jare van Babbels ronddra, vernietig of beskadig nie.

Hy steek sy sigaret aan en beduie met die sigaret tussen sy wys- en middelvinger na die boek.
          “Lees Sussa! Lees daardie ou mal koei se boek dat hierdie klein kont sy woorde kan sluk.”

Ek lig my hand op en skud my kop:
          “Nee Sussa asseblief nie. Ek het genoeg drama vir een dag gehad. As jy nie omgee nie, los ek die boek by jou en dan lees jy dit. As daar iets noemenswaardig gebeur het, dan kan jy dit sommer vir my vertel.”
Sy kyk vraend na Duiker en Skippie asof sy ook hulle toestemming nodig het.
Skippie kom tot antwoord vir haar;
          “Ja Sus, ek dink dis ‘n goeie voorstel van die klong. Want ek sien ook nie kans om te hoor hoe ou Suurgat Netta my hart en lewer in die stofpad fyn getrap het nie.”

Vir ‘n tweede keer sak my mond oop vanoggend. Ek is diep in my wese verras. En ek verstaan skielik hoekom Skippie so dwars is oor Ma.
Skippie was of IS dalk nog verlief op Ma en sy het sy hart gebreek.

Ek kyk meer aandagtig na Skippie. Hy is verniel van al die jare op die oopsee.
Hy is bles en groot sproete is op sy bles ingebrand. Die hare wat tussen die bles en grys deur sigbaar is verklap dat hy ‘n rooikop was op sy dag.

          “Skippie …” Ek wag dat hy my antwoord

Hy frons diep en vat eers ‘n moedskep sluk uit die glas voordat hy antwoord;
          “Wat? Wil jy nou met my beginne kak soek?” Sy deurmekaar linker wenkbrou word hoog opgetrek as hy my aangluur.

          “Is jy ook sogenaamd familie van my?” ek vra dit vermakerig. Want soos ek darem die afgelope dag en ‘n bietjie familie bygekry het, is verstommend.

Ek draai na Sussa toe; “En jy Sussa, waar pas jy in die familieverband in?”

Dis egter Duiker wat praat en sy stem is koud:
          “Mens kan sien Netta het jou in jou moer in grootgemaak. Want jy het geen respekte vir grootmense nie. Lyk Skip en Sussa vir jou na jou maat?”

Ek swyg en hy gaan teregwysend voort: “Jy het seker ook jou kinders geleer dis okay om so fokken ongemanierd te wees. En jy like dit seker as ‘n ander man so donners lelik praat met jou vrou.”

Sussa wat tot nou toe net ‘n woord hier en daar geuiter het sit haar hand sag
oor Duiker s’n as sy met my praat;
          “Het jy kinders Jannus?” My naam klink vreemd uit haar mond.

Ek is spyt dat ek so sarkasties was met haar maar wys dit nie reguit nie.

          “Nee Sussa. Of altans nie waarvan ek weet nie. Ek is ook nie getroud nie.”

Die twee manne is nou stil en luister na my en Sussa se gesprek;
          “Was jy nog nooit getroud nie, of …?
Sy laat die ‘of’ in die lug hang. So asof sy nie kan besluit of sy “geskei” of “wewenaar” moet invul nie.

Daar is bietjie meer warmte in my stem as ek sê:
          “Ek was nog nooit getroud nie. Ek was bang ek dra Ma se liefdelose houding na my vrou en kinders toe oor.”

Sy tuit haar lippe en klik haar tong drie kortes na mekaar terwyl sy haar kop skud.
          “Shame jou arme ding! Netta het jou verseker opgebogger. Hoe oud is jy nou Jannus?”

Ek sou reken aangesien hulle so alles van my weet, hulle dit seker ook sou weet en moet myself inhou om dit nie vir haar so te sê nie.

          “Ek is een en veertig.” Ek antwoord vinnig sonder om uit te brei.

Sy glimlag warm met meegevoel; “Toemaar kind, jy sal nog regkom.”

Ek besluit daar en dan om vir Sussa te vra om my met ma se kamer te gaan help.
          “… net vir die vroue goeters wat daar is. Ek sal nie daarvan hou om aan Ma se klein-klere te vat nie.”

Toe sy instem staan ek op.

          “Ek sal jou moreoggend hier kom oplaai Sussa. Hoe laat is reg vir jou?”

Ons maak die tyd op 10:00 vas en ek stap deur toe. Sussa stap saam om die deur weer agter my toe te sluit.

Net voor ek by die deur uitgaan draai ek skielik om en vra vir niemand in die besonder nie;
          “Hoe is Pa oorlede?”

Duiker se rug bly om my gekeer as hy binnensmond antwoord:
          “Hy het vermis geraak op see.”

Ek druk die deur toe en stap weer na die kroeg toonbank toe.
          “Maar jy het gisteraand gesê ma het julle by die begrafnis weggejaag.”

Dis meer ‘n stelling al ‘n vraag.

Hy antwoord byna traak-my-nie-agtig;
          Julle noem dit deesdae ‘n roudiens. Dan is die man ter sprake ook mos nie teenwoordig nie.”

Sonder om iets verder te sê of te groet, verlaat ek die kroeg en ry so vinnig moontlik huistoe.
My kop draai van al die inligting en ek kry die voorgevoel dat ek die helfte nog nie weet nie.
Miskien moet ek die dagboek by Sussa gaan haal en dit self verder lees. Sonder ‘n gehoor.

Die blote gedagte daaraan maak my tot sterwens toe moeg en ek besluit om die saak more weer in heroorweging te neem.

Die personeel by die Tehuis ontvang vir my en Sussa hartlik. Dit is net teetyd en ons word genooi om eers saam met hulle tee te drink.
Sussa wys dit van die hand; “Ons wil maar so gou moontlik klaarmaak.”

Ek trek die laaikas in die een hoek van die vertrek, se linkerkantste boonste laai oop. Dit is netjies en daar is nie ‘n ding uit sy plek nie.

Daar is vier lêers saam met nog ‘n paar pakke dokumente in met toue vasgebind.

Ek haal die lêers uit en lees hardop wat voor opgeskryf is.

          “Huis / Motor Versekering en Medies, Testament van JML du Plessis, Testament van JA du Plessis en op die laaste lêer, Babbels Oosthuizen.”

Sussa ruk tot stilstand waar sy besig is om ma se klere uit die kas te haal. Dit lyk of sy versteen het.

          “Is alles reg met jou Sussa?” wil ek besorgd weet.

Sy draai stokkerig om, kyk nie na my nie, maar na die lêers wat ek vashou.
Sy is ook ietwat kortasem as sy praat:
          “Ek dink nie jy moet daardie lêers te diep bêre nie. Dit kan dalk dokumente bevat wat jy gaan nodig kry vir die begrafnis.”

Ek sit dit eenkant en gaan aan met die inpakkery.

Toe ek weer vir Sussa by die Kraaines gaan aflaai bied sy aan om die lêers vir my veilig te bewaar. Ek wys dit van die hand en herinner haar aan die dagboek wat sy moet lees.

Terug by die huis maak ek vir my koffie en gaan sit voor op die stoep met die pak dokumente.

Omdat ek eerder meer van Pa te wete wil kom maak ek die lêer oop wat aandui dat dit sy testament is.

Die eerste bladsy bevat, soos gewoonlik al die regsaspekte en dinge van minder belang.

Ek blaai om en my oë gly oor die bladsye.

          “Laaste wil en testament … Jannus Adriaan du Plessis … bemaak soos volg … JML du Plessis … slegs vruggebruik van die eiendom te Voortrekkerstraat … moet op my seun Jannus Adriaan … se naam geregistreer word sodra hy 25 is.
… kontantbedrag van R4’250’000.00 aan vrou … moet geld gebruik om haarself en seun te versorg en studies te betaal …

… drie diamant bote … as volg … Perseus …aan my swaer en vriend Andries  (Duiker) Kotzé.
… Pegasus … vriend Sarel (Skippie) Fryer…
… Aquarius … seun …”

Ek frons toe ek die volgende sin lees.
“Die Aquarius moet deur Andries Kotzé namens my seun bedryf word. Geen gelde of inkomste wat met die Aquarius verdien word mag aan my vrou JML du Plessis oorbetaal word of deur haar hanteer word nie.
Alle inkomste moet in die Trustfonds gestig vir hierdie doel oorbetaal word en op ouderdom 30 aan my seun …
… “kontantbedrag van R2’725’000.00 ook in Trustfonds …

… plaas Driedraai aan … Babbels Kotzé…”

Ek hou op lees en kyk op. Waar gaan al hierdie goed heen? Waar is die plaas Driedraai waarvan ek nie bewus is nie?
Bly Babbels nou op die plaas?
Wat het van die diamant bote geword?
Is die huis op my naam geregistreer?
Hoekom is Pa so adamant dat Ma nie die trustgeld mag hanteer nie?

Die vrae maal soos ‘n kolk deur my kop. Miskien kan Duiker-hulle meer lig werp.

Die onderwerp in my gedagtes hou met ‘n vaart voor die huis stil. Duiker se groot lyf vou dubbel as hy homself uit die klein Datsun bakkie wurm.
Hy kom haastig op my afgestap. Die groet en praat is alles in een:
          “Mirrag Boeta kom kroeg toe, Sussa het groot nuus raakgelees.”


Ek kan sy dringendheid aanvoel en mors nie tyd nie. Sluit die deur en met Pa se testament lêer onder die arm, klim ek saam met Duiker in sy springkaan-groen bakkie.

No comments:

Post a Comment