Wednesday 28 October 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 12)



Wanneer Duiker uiteindelik vir Kleintjie neersit, hou hy hom aan die skouers vas, kyk af in die klein bruin oë omring deur plooie en voue en sê duidelik aangedaan:

          “Klein, ek wil alles hoor. Hoe julle vermis geraak het, hoe jy oorleef het, waar Loopdop is!”

Marda kom ook nader;

          “Julle ken mekaar? Hoe, van waar af?” Sy klink verras, verslae.

Kleintjie is half sku om te antwoord. Maar as ons almal hom vraend aanstaar het hy nie veel van ‘n keuse nie.

          “Ja Miss Marda. Ek ken vi Menee Dyke van lank se tyd af terug.”

Hy en Duiker staan soos twee samesweerders langs mekaar, maar praat nie verder nie.

Ek tree vorentoe en stel voor:

          Wat sê julle ons gaan maak vuur. Dan sit ons buite en laat hierdie man sy verhaal vertel.”

Duiker is dadelik daarvoor te vinde en ek kan die verligting op Kleintjie se gesig sien.
Hy reken seker hoe langer hy die verduideliking kan uitstel, hoe veiliger is hy.

Ek help vir Kleintjie met die vuur se pak. Maar ek word net toegelaat om vir hom die hout aan te dra. En natuurlik op sy instruksies.

          “Nie Klei-menee, ons vebrykie daai pramfien pille nie. Dit lyk net lattie vleis stink. Menee moet ees die fyn stokkies-goete bring lat onsie vie met daai kan beginne.”

Sussa en Marda kom met ‘n skinkbord drinkgoed en peuseldinge uit. Marda beduie dat hulle net sorg vir die eerste rondte en dat ons manne maar moet beurte maak om aan te vul.

Die vuur knetter warm en ons teug aan die bier uit die bottels. Die rokers het aangesteek. Ek sorg dat ek wind-op van hulle sit sodat ek nie nodig het om onwillig saam met hulle te rook nie.

Daar hang ‘n stilte tussen ons. As Duiker vir Kleintjie ken, reken ek Skippie moet hom ook ken.

          “Nou Skippie, ken jy en Kleintjie mekaar ook?”
Skippie en Kleintjie vang mekaar so skuinsweg met die oog en Skippie antwoord:

          “Ja ons ken mekaar. Maar ons kom nie ooreen nie. Of ons het nie toe die ou bliksem nog gelewe het. Ek sal ook graag wil hoor hoe hy dit gemaak het om uit die dood uit op te staan.”

Duiker sluit vinnig by Skippie aan:

          “Ja toe Klein. Nou wil ons hoor. Wat het jy te sê. Jy moes dan mos nou ook gedood het saam met Loopdop toe die skuit met julle ondergegaan het.
En hoe is dit dat jy lewe en nie teruggekom het dorp toe om te kom vertel wat posgevat het nie?

Klein maak sy hande warm by die vuur teen die denkbeeldige koue. Hy skraap sy keel:

          “Nie Menee Dyke sien’ie ding staat soe. Daai tyt toe my Menee Loepdop met daai anner man ytgegaan het met’ie skyt, het ek gesien hie kom kak. Menee sien ek het’ie daai man se oge getrust’ie.”

Hy kyk vir Marda en vra onderdanig:

          “Miss Marda kan ‘n man wat dan nou soe grote saak moet aanpraat nie ok maar ‘n keel dingetjie kry nie?”

Marda gee vir hom ‘n groot glas vol van ‘n liggeel vloeistof. Hy vat ‘n groot sluk en klap sy lippe.

          “Soe sierigheikie sal nou die tong lekkede lat praat.”

Ek begin ongeduldig raak. Die man hou die sleutel tot my verhaal en hy sit en mors tyd. Ek gee dit dan ook so te kenne as ek hom aanjaag.

          “Ja toe nou maar. Vertel jou storie en kry klaar.”

Hy laat hom egter nie aanjaag nie.

          “Klei-menee, mens loepie vinnig met lank voor gister se stories’ie.”

Hy vat weer ‘n sluk en sit dan sy temerige vertelling voort:

          “Oorlat ek’ie lekke gevoel het’ie oor daaise een se oge nie het ek ma vir Menee Loepdop te kenne gegie lat alles’ie pluis is oo myse maag’ie. Dis toe lat hy vi my vrygespriek het van daai môre se vis-sake.”

Dis Skippie wat reageer:

          “Jy weet jy maak my nog steeds sò de bliksem in. Nou weet ek dat ek jou fokken nog steeds nie like nie. Want jy trust nie die man wat saam met die skuit uitgaan nie, maar omdat jy te skytbang is, los jy die hand wat jou gevoed het in gevaar en kruip weg vir jare.”

Die vrouens was tot nou toe stil. Marda tree vir Kleintjie in die bresse:

          “Kleintjie was vir al die jare ‘n getroue werknemer en ek vertrou hom steeds om net ons beste belang op sy hart te dra. Gee hom nou maar eers kans om sy verhaal te vertel.”

As Skippie se mond oopgaan om terug te kap, lig Sussa haar vinger vermanend.
Dit gee vir Kleintjie die geleentheid om aan te gaan waar hy opgehou het.

          “Ek het’ie dag by ou Floors Flenters gaan lê en ons’et papsak gevat. Toe’t die manne laataand gekom ve’tel van’ie skyt wat gaan lê het. Toe bly ek somme da by Floors tot ons sekerigheit kan gekry het van wa’rie waheid dan sou staan.
Menee sien my Maaima het ok’ie gewiet ek het’ie skyt geklim’ie. En hoe sou ek nou ve hom gat sê het wa kom ek vedaan?”

Hy vou albei sy hande om die glas en hou dit uit na Marda toe. As sy die glas by hom vat, staan ek op om vir ons ander ook nog ‘n dop te gaan haal.
Ek wys vir hom vinger en sê:

          “Jy praat nie ‘n woord voordat ek nie terug is nie.”

As ek weer uitkom, sien ek dat daar vars hout op die vuur is. Hierdie vleisbraaiery gaan laat eers begin. Maar eerder so as wat iets nou weer die ou Khoi se aandag aftrek.

Ek beduie vir hom met my kop om aan te gaan.

          “Toe’t ek’ie kans gesien om ok ma vir my Maaima te dôd want ek was hoeka moeg van ha.
Soe’t ek toe net gewag tot die dôdstyding gekom het en van die skyt se lyk wat gekry is, toe loep ek ma in hier’ie rigting sam’ie wind.”

Duiker praat nou vir die eerste keer:

          “Hoekom sou jy dit doen? En wil jy vir my sê daardie man in die portret wat in die voorhuis hang, is nie Loopdop nie?”

Die ou het egter daarvoor ook ‘n antwoord reg:

          “Daai’sie Menee Loepdop’ie. En Menee die bangte het ve my gevat. Menee wiet self hoe Miss Netta kon gerak’et van kwaaigeit. Sy sou’ie lewe yt my gemoe het as ek by’ie hys aangekom’et en lewe oorlat ek’ie op’ie skyt was’ie en sy nou sonne man gewies’et.”

Hy kyk half beskuldigend na Duiker wat diep sug, sy sigaret brandmaak en die bierbottel voor sy mond sit en aanhou sluk tot die bottel leeg is.

Ek kan nie glo wat ek hoor nie. Elke keer net as ek dink dat die hele saak nou opgelos is, is daar weer ‘n kinkel in die spreekwoordelike kabel. Dit maak my moedeloos, om die minste te sê.

My oë dwaal na Marda. Dié kyk my aan met ‘n blik in haar oë wat sê: “Toe, ek het julle mos gesê my pa is nie Loopdop Doep nie. Maar julle wou my mos nie glo nie.”

Sy spreek egter vir Kleintjie hardop aan toe sy vir hom sê om maar die vleis gaar te kry dat ons kan eet.

Met die teleurstelling duidelik sigbaar tussen Duiker, Skippie en myself, sit ons en gesels maar oor alles en nog wat.

Net toe Kleintjie die vleis van die rooster afhaal en in die vleisbak skep wat Marda hom gegee het, gewaar ons ‘n kar se ligte deur die bosse en bome aankom.

          “Dis vreemd …“ merk Marda op … “Ek verwag nie vanaand mense nie.”

Sy staan op en wag tot die kar voor die huis stilhou voordat sy nader stap. Ons drie manne stap saam met haar.

As die motordeur oopgaan roep Marda uit:

          “Pappa! Mamma! Julle sou dan eers môre terugkom.”

Die dakliggie verlig die man se gesig en Duiker prewel:

          “Loopdop-fokken-Doep.”

Die man ouer as die een in die foto se gelaatstrekke lyk vir my bekend.

Duiker staan stadig nader en as Marda haar ouers klaar gegroet het, draai haar pa na ons toe. Hy steek sy hand uit na Duiker en vra:

          “Wie sal ons gaste wees Mardatjie, kom stel ons so bietjie bekend my kind.”

Duiker klap die hand voor hom weg. Sy blou oë spuug vuur as hy bars sê:

          “Loopdop Doep! En moenie maak of dit fokken nie jy is nie. Ek sal jou uitken tussen ‘n duidend ander donners.”

Die man voor Duiker laat sak sy kop vir ‘n oomblik. As hy weer opkyk, kyk hy vir Duiker reguit in die oë terwyl hy antwoord:


          “Ja jy is reg Duiker. Maar dis ‘n lang storie …”  

No comments:

Post a Comment