Wednesday 28 October 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 12)



Wanneer Duiker uiteindelik vir Kleintjie neersit, hou hy hom aan die skouers vas, kyk af in die klein bruin oë omring deur plooie en voue en sê duidelik aangedaan:

          “Klein, ek wil alles hoor. Hoe julle vermis geraak het, hoe jy oorleef het, waar Loopdop is!”

Marda kom ook nader;

          “Julle ken mekaar? Hoe, van waar af?” Sy klink verras, verslae.

Kleintjie is half sku om te antwoord. Maar as ons almal hom vraend aanstaar het hy nie veel van ‘n keuse nie.

          “Ja Miss Marda. Ek ken vi Menee Dyke van lank se tyd af terug.”

Hy en Duiker staan soos twee samesweerders langs mekaar, maar praat nie verder nie.

Ek tree vorentoe en stel voor:

          Wat sê julle ons gaan maak vuur. Dan sit ons buite en laat hierdie man sy verhaal vertel.”

Duiker is dadelik daarvoor te vinde en ek kan die verligting op Kleintjie se gesig sien.
Hy reken seker hoe langer hy die verduideliking kan uitstel, hoe veiliger is hy.

Ek help vir Kleintjie met die vuur se pak. Maar ek word net toegelaat om vir hom die hout aan te dra. En natuurlik op sy instruksies.

          “Nie Klei-menee, ons vebrykie daai pramfien pille nie. Dit lyk net lattie vleis stink. Menee moet ees die fyn stokkies-goete bring lat onsie vie met daai kan beginne.”

Sussa en Marda kom met ‘n skinkbord drinkgoed en peuseldinge uit. Marda beduie dat hulle net sorg vir die eerste rondte en dat ons manne maar moet beurte maak om aan te vul.

Die vuur knetter warm en ons teug aan die bier uit die bottels. Die rokers het aangesteek. Ek sorg dat ek wind-op van hulle sit sodat ek nie nodig het om onwillig saam met hulle te rook nie.

Daar hang ‘n stilte tussen ons. As Duiker vir Kleintjie ken, reken ek Skippie moet hom ook ken.

          “Nou Skippie, ken jy en Kleintjie mekaar ook?”
Skippie en Kleintjie vang mekaar so skuinsweg met die oog en Skippie antwoord:

          “Ja ons ken mekaar. Maar ons kom nie ooreen nie. Of ons het nie toe die ou bliksem nog gelewe het. Ek sal ook graag wil hoor hoe hy dit gemaak het om uit die dood uit op te staan.”

Duiker sluit vinnig by Skippie aan:

          “Ja toe Klein. Nou wil ons hoor. Wat het jy te sê. Jy moes dan mos nou ook gedood het saam met Loopdop toe die skuit met julle ondergegaan het.
En hoe is dit dat jy lewe en nie teruggekom het dorp toe om te kom vertel wat posgevat het nie?

Klein maak sy hande warm by die vuur teen die denkbeeldige koue. Hy skraap sy keel:

          “Nie Menee Dyke sien’ie ding staat soe. Daai tyt toe my Menee Loepdop met daai anner man ytgegaan het met’ie skyt, het ek gesien hie kom kak. Menee sien ek het’ie daai man se oge getrust’ie.”

Hy kyk vir Marda en vra onderdanig:

          “Miss Marda kan ‘n man wat dan nou soe grote saak moet aanpraat nie ok maar ‘n keel dingetjie kry nie?”

Marda gee vir hom ‘n groot glas vol van ‘n liggeel vloeistof. Hy vat ‘n groot sluk en klap sy lippe.

          “Soe sierigheikie sal nou die tong lekkede lat praat.”

Ek begin ongeduldig raak. Die man hou die sleutel tot my verhaal en hy sit en mors tyd. Ek gee dit dan ook so te kenne as ek hom aanjaag.

          “Ja toe nou maar. Vertel jou storie en kry klaar.”

Hy laat hom egter nie aanjaag nie.

          “Klei-menee, mens loepie vinnig met lank voor gister se stories’ie.”

Hy vat weer ‘n sluk en sit dan sy temerige vertelling voort:

          “Oorlat ek’ie lekke gevoel het’ie oor daaise een se oge nie het ek ma vir Menee Loepdop te kenne gegie lat alles’ie pluis is oo myse maag’ie. Dis toe lat hy vi my vrygespriek het van daai môre se vis-sake.”

Dis Skippie wat reageer:

          “Jy weet jy maak my nog steeds sò de bliksem in. Nou weet ek dat ek jou fokken nog steeds nie like nie. Want jy trust nie die man wat saam met die skuit uitgaan nie, maar omdat jy te skytbang is, los jy die hand wat jou gevoed het in gevaar en kruip weg vir jare.”

Die vrouens was tot nou toe stil. Marda tree vir Kleintjie in die bresse:

          “Kleintjie was vir al die jare ‘n getroue werknemer en ek vertrou hom steeds om net ons beste belang op sy hart te dra. Gee hom nou maar eers kans om sy verhaal te vertel.”

As Skippie se mond oopgaan om terug te kap, lig Sussa haar vinger vermanend.
Dit gee vir Kleintjie die geleentheid om aan te gaan waar hy opgehou het.

          “Ek het’ie dag by ou Floors Flenters gaan lê en ons’et papsak gevat. Toe’t die manne laataand gekom ve’tel van’ie skyt wat gaan lê het. Toe bly ek somme da by Floors tot ons sekerigheit kan gekry het van wa’rie waheid dan sou staan.
Menee sien my Maaima het ok’ie gewiet ek het’ie skyt geklim’ie. En hoe sou ek nou ve hom gat sê het wa kom ek vedaan?”

Hy vou albei sy hande om die glas en hou dit uit na Marda toe. As sy die glas by hom vat, staan ek op om vir ons ander ook nog ‘n dop te gaan haal.
Ek wys vir hom vinger en sê:

          “Jy praat nie ‘n woord voordat ek nie terug is nie.”

As ek weer uitkom, sien ek dat daar vars hout op die vuur is. Hierdie vleisbraaiery gaan laat eers begin. Maar eerder so as wat iets nou weer die ou Khoi se aandag aftrek.

Ek beduie vir hom met my kop om aan te gaan.

          “Toe’t ek’ie kans gesien om ok ma vir my Maaima te dôd want ek was hoeka moeg van ha.
Soe’t ek toe net gewag tot die dôdstyding gekom het en van die skyt se lyk wat gekry is, toe loep ek ma in hier’ie rigting sam’ie wind.”

Duiker praat nou vir die eerste keer:

          “Hoekom sou jy dit doen? En wil jy vir my sê daardie man in die portret wat in die voorhuis hang, is nie Loopdop nie?”

Die ou het egter daarvoor ook ‘n antwoord reg:

          “Daai’sie Menee Loepdop’ie. En Menee die bangte het ve my gevat. Menee wiet self hoe Miss Netta kon gerak’et van kwaaigeit. Sy sou’ie lewe yt my gemoe het as ek by’ie hys aangekom’et en lewe oorlat ek’ie op’ie skyt was’ie en sy nou sonne man gewies’et.”

Hy kyk half beskuldigend na Duiker wat diep sug, sy sigaret brandmaak en die bierbottel voor sy mond sit en aanhou sluk tot die bottel leeg is.

Ek kan nie glo wat ek hoor nie. Elke keer net as ek dink dat die hele saak nou opgelos is, is daar weer ‘n kinkel in die spreekwoordelike kabel. Dit maak my moedeloos, om die minste te sê.

My oë dwaal na Marda. Dié kyk my aan met ‘n blik in haar oë wat sê: “Toe, ek het julle mos gesê my pa is nie Loopdop Doep nie. Maar julle wou my mos nie glo nie.”

Sy spreek egter vir Kleintjie hardop aan toe sy vir hom sê om maar die vleis gaar te kry dat ons kan eet.

Met die teleurstelling duidelik sigbaar tussen Duiker, Skippie en myself, sit ons en gesels maar oor alles en nog wat.

Net toe Kleintjie die vleis van die rooster afhaal en in die vleisbak skep wat Marda hom gegee het, gewaar ons ‘n kar se ligte deur die bosse en bome aankom.

          “Dis vreemd …“ merk Marda op … “Ek verwag nie vanaand mense nie.”

Sy staan op en wag tot die kar voor die huis stilhou voordat sy nader stap. Ons drie manne stap saam met haar.

As die motordeur oopgaan roep Marda uit:

          “Pappa! Mamma! Julle sou dan eers môre terugkom.”

Die dakliggie verlig die man se gesig en Duiker prewel:

          “Loopdop-fokken-Doep.”

Die man ouer as die een in die foto se gelaatstrekke lyk vir my bekend.

Duiker staan stadig nader en as Marda haar ouers klaar gegroet het, draai haar pa na ons toe. Hy steek sy hand uit na Duiker en vra:

          “Wie sal ons gaste wees Mardatjie, kom stel ons so bietjie bekend my kind.”

Duiker klap die hand voor hom weg. Sy blou oë spuug vuur as hy bars sê:

          “Loopdop Doep! En moenie maak of dit fokken nie jy is nie. Ek sal jou uitken tussen ‘n duidend ander donners.”

Die man voor Duiker laat sak sy kop vir ‘n oomblik. As hy weer opkyk, kyk hy vir Duiker reguit in die oë terwyl hy antwoord:


          “Ja jy is reg Duiker. Maar dis ‘n lang storie …”  

Sunday 25 October 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 11)


Skippie en Sussa kom ook vinnig nader om die foto te beskou. Skippie se gebruiklike “Not a fok!” klink hard in stil vertrek.

Met ‘n ongemaklike laggie in haar stem sê Marda:

          “Menere julle maak verseker ‘n fout. Dit kan nie hierdie, eh, eh, Loopdop wie ookal wees nie want dit is my pa Bertus Burger. En dit is my ma Cora Burger gebore Bruwer wat langs hom staan.”

Duiker leun nader en bekyk die foto aandagtig voor hy antwoord:

          “Nee met hierdie man en vrou sal ek nie ‘n fout maak nie. Dit is my jongste sustertjie Babbels en Loopdop Doep wat uit hierdie portret vir my kyk.”

Die ete waarheen ons genooi was, is vergete.
Ek en Sussa staan tussen die pratendes. Dit lyk soos Pa in die foto. Maar ek het hom laas gesien toe ek elf was. Hy is toe dood. Of dit is wat Ma my wysgemaak het. Dus beaam ek nie Duiker se stelling nie.
Ek neem aan Sussa ken nie een van die twee persone in die foto nie, want sy praat nie saam nie.

Marda verbleek en gaan sit op die naaste stoel:

          “Jy klink so seker. Maar ek kan dit nie glo nie. Ek ken darem my eie pa en ma se name en vanne.”

Duiker antwoord ongeskik:

          “Natuurlik is ek fokken seker.”

Hy gaan sit en ek gaan sit langs hom reg oorkant Marda.

          “Jy sê jou ma is die enigste kind. Het jy jou oupa en ouma aan haar kant geken?”

Sy frons effens voor sy my antwoord:

          “Nee, hulle was al oorlede. Maar Mamma het baie van hulle gepraat.”

Duiker tree toe tot die gesprek:

          “Weet jy wat hulle name was?”

Sy kyk van Duiker na my en terug.

          “Mamma het altyd net van Oupa Grootgert gepraat. En omdat haar nooiensvan Bruwer is neem ek aan Oupa se van moes ook Bruwer gewees het?”
          “Het jou Pa enige familie waarvan jy weet?” probeer ek weer.

Sy trek haar lippe op ‘n tuit en skud haar kop ontkennend:

          “Hy het af en toe verwys na sy tweeling broer. Maar hy het nooit sy naam genoem nie en hy het nie veel oor hom te sê gehad nie.”

Ek draai na Duiker:

          “Jy sal weet of Pa familie van enige aard gehad het? Ek kan geen familie onthou nie. Net Ma se suster Ant-Milly.”

Duiker antwoord beslis:

          “Nee, Loopdop het nooit van familie gepraat nie. As hy gehad het, het hy nooit daaroor gepraat nie.

Ek staan op en kyk na die ander portrette. Dis meestal maar van Marda se prestasie met perde en skoolfoto’s. Ek voel weer hoe die magteloosheid my toekolk.

Marda staan op:

          “Kom ons gaan eet eers. Dan kan ons na ete bietjie gaan rus en dan kan ons hierdie saak verder probeer uitpluis. Ek dink Daan en Dawie wil seker ook terugkom by hulle boerderye.”

Ons streep agter haar aan tot in die eetvertrek. Die lang tafel in die middel van die vertrek is keurig gedek.
Marda wys vir ons waar ons moet sit en gaan sit self aan die punt van die tafel.
As almal hulle plekke ingeneem het hou sy haar hande uit weerskante van haar met die handpalms na bo vir die persoon om haar hande vas te hou.

Ons hou mekaar se hande ongemaklik vas terwyl sy ‘n kort tafelgebed doen.
Nadat sy amen gesê het, deel sy bietjie nuttelose inligting met ons.

          “Pappa het altyd aan die kop van die tafel gesit. Maar toe hy aftree en ek die boerdery oorneem het hy geskuif en gesê dis die Baas van die plaas se plek. Dis hoekom ek nou hier sit.”

Niemand antwoord haar nie en as die kos op die tafel geplaas word, kom ek agter aan die geluide wat my ingewande maak dat ek honger is.

Ons eet in stilte. My reisgenote val ook honger weg en niemand sien kans om die kos met ‘n pratery te bederf nie.

Toe Duiker sy bord terugstoot nadat hy alles verorber het wat hy vir die tweede keer ook geskep het, vra hy:

          “Waar is jou ouers?”
Marda vee liggies met die servet oor haar mond:

          “Hulle is weg Kaap toe vir die naweek. Ek verwag hulle môremiddag terug.”

Ek en Duiker kyk vir mekaar. Die boodskap wat oorgesein word is duidelik.
“Ons moet hier probeer bly tot more.”

As die twee jongmans opstaan en aandui dat hulle gaan vertrek, staan Duiker, Skippie en Sussa ook op en stap saam met hulle uit.

          “Ons gaan gou rook.” verduidelik Sussa onnodig so in die uitstap en hulle los my alleen by Marda.

Ons sit in stilte. Ek bly bewus van haar skoonheid. Donker hare en blousel blou oë. Haar hoë wangbene het ‘n natuurlike blos op.

Ek kan aan niks dink om te sê om die stilte te verbreek nie. Sy klaarblyklik ook nie, want sy vra:

          “Gaan jy nie ook rook nie Jannus?”

          “Nee, nee ek rook nie. Bierdrink is lekkerder en vloek is goedkoper.” antwoord ek.

Sy lag effense en sê met opgetrekte wenkbroue:

          “Ja ek hoor julle spaar nie die vloekwoorde nie. So verskoon my maar as ek jou reghelp as jy vloek.”

Ek antwoord nie en die stilte omring ons weer.

Ek hoor die twee bakkies wegtrek en daar verloop nog ‘n geruime tyd voor die ander drie weer inkom.

Sussa val met die deur in die huis:

          “Boeta ons moet miskien maar begin terug ry. Jy kan mos maar ‘n afspraak maak vir sodra die oom terug is, dan kom ons weer.”

          “Sal dit jou pas as ons dit eerder op die manier doen?” vra ek beleefd

Sy beaam dit en ons begin aanstaltes maak om te vertrek.

Met die eerste draai van die aansitter vat die bakkie nie soos gewoonlik nie.
Ek probeer ‘n tweede en ‘n derde keer, maar die voertuig karring sonder dat daar iets gebeur.

Dis toe ek die enjinkap se skakel trek wat Duiker uitspring en vir ons ander drie insittendes sê:
          “Gaan julle maar eers weer in. Ek sal kyk wat fout is. Ek ken mos darem hierdie enjins asof ek dit selwers aanmekaar gesit het.”

My kop sê vir my Duiker het met die enjin gepeuter. Hy het nie verniet die sleutel gevra om kwansuis sy sigarette uit die bakkie te kry nie.

Ek stap na Marda toe waar sy op die stoep staan en voel soos ‘n jongetjie wat vir die eerste keer ‘n meisie wil uitvra toe ek vir haar sê:

“Dit lyk my jy het ons vir nog ‘n rukkie langer as wat jy gereken het.”

Sy glimlag en kyk na Duiker wat gebukkend oor die enjin staan.

          “Weet die Oom darem wat hy doen? Ek kan gaan help. Ek weet darem heelwat van enjins af.”

Sy stap ook sommer oor na waar Duiker besig is. Hy ruk regop van skrik as sy skielik agter hom praat:

Kan ek help Oom? Ek we …”

“Nee, nee, nee … ehe … ek sal self regkom Juffertjie.” Hy kry haar ook sommer aan die skouers beet en loop met haar tot by ons op die stoep.

          “Die meisiekind wil my nou help met die enjin. Maar dis nie ‘n donnerse vrou se werk nie. Vat haar dat sy vir julle ‘n dop gaan gooi of iets.”

Sussa stap saam met Marda in en ek en Skippie loop saam met Duiker tot by die bakkie. Terwyl ons oor die enjin leun en Duiker onbenullig hier en daar vroetel sê ek:

          “Ek hoop jy kan regmaak wat jy onklaar gemaak het Duiker.”

Hy kyk my verleë aan en trek sy skouers so halfmas op as hy antwoord:

          “Ja nee ou Jannus-man. Dis net hierdie klein bliksem wat ek so bietjie los gewoel het. Maar ek sal dit môre eers kan regkry. Want ek wil hier wees as Loopdop en my Sustertjie hier aan kom.”

Hy raak aan ‘n draad terwyl hy praat. In my hart is ek bly maar hoop terselfdertyd dat hy weet wat hy doen. Ek sou ook graag hier wil wees as Marda se ouers op die plaas aankom.

          “Gaan julle ook maar eers in en sê ek sê dis iets wat los geskud het van die grondpad en ek moet dit eers soek.”

Skippie hou my terug as ek by die stoep wil oploop.

          “Ou Jannus sy’s ‘n mooie, hierdie een. Jy moet kyk hoe jy daar kan regkom. Ek meen te sê. Jy is nou wel al amper oor die fokken muur en sy ‘n jongbok. Maar give it a go”

          “Ag Skippie jy is helemal laf man. As haar pa, my pa is soos ons dink is sy my suster.”

Skippie laat hom egter nie van stryk bring nie.

          “Dis waar jy die fout maak, onthou, daardie ou donner Dirk Bruwer is jou pa want ou kens Netta het mos Babbels se kind gevat. En dit was jy.”

Ek los vir Skippie buite as ek die stoep oploop en die huis binnegaan sonder om hom te antwoord. Die sake is nou al vir my so deurmekaar, ek kan nie met sekerheid sê dat ek weet wie ek is nie.

Ek kry vir Sussa en Marda besig in die kombuis.

          “Marda sê terwyl ons nou hier is vir die aand, moet ons braai. Ek hoop jy weet hoe om te braai Boeta.”

Voor ek nog kan antwoord dat ek ‘n baas-braaier is, lag Marda en sê:

          “Nee ou Kleintjie kan sommer vir ons braai. Hy sal in die gesig gevat voel as ‘n vreemde sy self opgelegde taak uit sy hande neem.”

Sy verduidelik nie wie “Ou Kleintjie” is nie en ek neem aan dat dit een van die plaasarbeiders moet wees.

Sy nooi my om by hulle te sit. Ek gaan sit sommer by die kombuistafel.

          “Sussa vertel vir my sy moet nog die dagboek waarna jy vanmiddag verwys het verder lees. Miskien kan ons dit sommer almal lees terwyl ons wag vir die vleis om gaar te raak.”

Dis Sussa wat haar van haar entoesiasme ontneem:

          “Nee ou Suster, jy kan dit maar vergeet. Ek en jy kan dit lees, maar hierdie manne sien dit as te soetsappig. Want Netta skryf met die emosie van ‘n vrou. En hulle is mos te macho om dit te hoor.” Sy knik in Marda se rigting en glimlag vir my.

Marda probeer weer ‘n geselsie aanknoop:

          “Sussa sê vir my jou pa was ‘n seeman.” Dit gaan deur my gedagtes dat ek dit vroeër ook vir haar gesê het. Sy vang egter my aandag met die res van die sin.

          “Dan kan jy verseker weet ons het nie dieselfde pa nie want my pa is so bang vir die see soos jy dit nie sal glo nie. Hy kom nie eens naby die strand nie.”

As ek haar antwoord weet ek dat ek myself glo:

          “Om jou die waarheid te sê, ek weet nie meer of ek enigsins ouers gehad het van wie se bloed ek werklik is nie. Want dit wat ek geglo het wel my ouers was wil nou voorkom asof alles vals is. En ek wil die raaisel so gou moontlik oplos.”

Ek word onderbreek deur Duiker en Skippie wat van buite af in kom.

          “Nee o fok Ouboet. Ek kry nie die donnerse fout nie. Ek sal môre …”

Ek val hom in die rede:

          “Duiker hou bietjie ingedagte dat hier dames in die geselskap is en let op jou taal.” Ek is verwonderd oor my reaksie. Want dit is nie asof hy nou vir die eerste keer voor die dames vloek nie.

Duiker kyk na Marda en maak verskoning.

          “Jammer Juffroutjie. Ek hoor mos nie self wat ek sê nie. Maar dis goed dat die Klong my reghelp.
Ek sal môre weer kyk as dit lig is, want nou is dit darem al te sterk skemer en myse twee oge wil nie meer kyk nie.”

Hy spreek Marda vinnig aan as hy onthou dat sy gesê het sy ken enjins.

          “En jy hoef nie kom om te help nie. Hoe gaan dit darem nou lyk as Duiker Kotzé toelaat dat ‘n meisiemens die werk doen.

As al die voorbereidings vir die braai afgehandel is en Marda vir Kleintjie roep om die vleis te kom haal, staan Duiker nog groot en breed in die kombuis rond.
‘n Kleingeboude geel mannetjie kom die kombuis binne. Hy het Khoi gelaatstrekke. Hy hou sy hoed nederig teen sy bors vas.

As hy opkyk en vir Duiker in die gesig kyk, vries hy in sy spore. Dan laat hy sy kop vinnig sak en draai so dat hy met sy rug na Duiker toe staan.

Maar Duiker wat hom herken gee een lang tree in sy rigting. Draai hom aan sy skouers om soos wat hy vroeër met Marda gemaak het. Terwyl hy sy groot hande om die man se boarms klamp praat hy hard, byna bulderend. Dit laat my dink aan die aand toe hy my in die kroeg herken het.

          “Klein? Jou ou donner! Jy leef! Jy leef die fok weet regtig! Jy is nie dood nie!”

Hy vou die man teen sy bors vas. Dié se bene swaai los en hulpeloos voor Duiker rond.
As ek verbaas na Duiker kyk, sien ek hoe die trane onbeskaamd, stil oor die grootmens se wange rol en ek weet hier steek vir die eerste keer ‘n sleutel in die slot van die deur wat so dig toe bly.


Wednesday 21 October 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 10)



Toe ek vroeg voor die Kraaines stilhou om my passasiers op te laai, het die son nog nie eens ‘n gedagte om sy gesig vir die dag te wys nie.

Sussa is gewapen met die dagboek en ek dink aan my eie vrag lêers agter in die bakkie. So asof ons daaroor gepraat het, het ons elkeen afsonderlik besluit om die papierwerk saam te neem. Net so vir ingeval …

Ek waarsku al drie van hulle dat hulle nie in die bakkie mag rook nie.

          “Julle moet maar sê as die uithou te groot raak, dan kan ek stilhou. Maar weet ook net dat ek nie tyd wil mors nie. Volgens Skippie is dit ‘n vêr pad.”

Duiker wat voor langs my sit, snork deur sy neus:

          “Ag ou Skippie se kop is lekker bedonnerd, dis g’n só vêr nie. En jy kan ook nie die mense se gatte uit die kooi gaan ja as jy voor brêkfis daar aankom nie.”

Ek glo nie Skippie wat agter in die dubbelkajuit sit het hom gehoor nie, anders sou hy nie so stil gebly het nie.

Die bakkie se neus staan Suid-oos die Sandveld in. Ons ry nog teerpad, maar ek onthou Skippie was baie pertinent oor die slegte grondpad wat ons nog gaan ry.

Ons was skaars ‘n uur in die pad toe Duiker begin rondskuif. Ek weet hy wil rook, maar hou hardgebak my aandag voor in die pad en maak of ek nie sy ongemak raaksien nie.

Sussa kom tot sy redding;

          “Boeta as jy nie wil hê ou Duiker moet die sitplek ‘n gat in kners nie, moet jy stilhou dat ons kan rook. Dan drink ons sommer koffie ook wat ek in die mandjie het.”

Nadat Sussa vir ons elkeen ‘n stomende beker koffie gegee het en elkeen van hulle aangesteek het, verwys sy vir die eerste keer weer na die dagboek.

          “Ek het gisteraand weer bietjie verder gelees. Ou Netta het baie geraamtes in die kas. Ek trek nou daar waar sy vir jou pa gesê het sy het ‘n miskraam gehad.”

Toe ek haar vraend aankyk sê sy met klein bietjie ongeduld in haar stem.

          “Jou ma het vir Loopdop gesê sy is swanger toe trou hy haar en dit terwyl sy nie verwag het nie.?”

Die vraagteken aan die einde van haar sin kom as ‘n beskuldiging dat ek nie luister as sy my vertel wat sy in die dagboek lees nie.

          “Ewenwel voor Loopdop te opgewonde kon raak oor die kleintjie, toe gee Netta ‘n miskraam voor en sy sorg dat sy nie swanger raak die kere wat sy nie jou pa se attensies kon ontwyk nie.”

Skippie luister nou ook grootoor. Het hy dan nie die opmerking gemaak dat die kleintjie die in lug verdamp het nie?

Hy trap sy sigaretstompies in die sand dood en skop los grond daaroor terwyl hy sy inset lewer:

          “Ja-nee, dit kan mens van die ou koei verwag. Sy sou haar nie laat voorpraat hoe om dinge te doen nie.”

Dis ook hy wat vir Duiker en Sussa begin aanjaag dat ons nou weer bietjie tot ry moet kom.

Sussa skuif so dat sy tussen die voorstel sitplekke deur kan praat.

          “En luister bietjie hier, sy het al die jare ‘n verhouding gehad met niemand anders as Dirk Bruwer nie!”

Sy laat die nuus in die lug hang en ek beleef weer die man se arrogansie toe hy dit vir my gesê het. Ek gee glad nie te kenne dat ek dit weet nie.

Duiker en Skippie daarinteen het hulle gewone gekruide reaksie:

Skippie soos die aand toe Duiker vir hom gesê het ek is Loopdop Doep se kind;

          “Not a fok!”

Duiker se reaksie is meer intens. Ek skryf dit toe aan skok. Dit bly sy suster.

          “Terwyl sy rondfok en haar man en kind wat sy fokken nie kon verdra nie afskeep, maak die bliksem ons wys dat sy niks met hom te doen wil hê nie.”

Ek voel verlig dat ek dit geweet het voor Sussa se mededeling. Ek is egter meer dankbaar dat ek nie nodig gehad het om dit vir hulle te sê nie.

Voor Sussa verder kan vertel, beduie Skippie waar ek moet afdraai op die grondpad.

“Hoe lank nog Skippie?” vra ek as die bakkie se wiele die stofstreep agter die bakkie opskop.

          “Nog so uur.” antwoord hy en haal sy sigarette ingedagte uit sy sak. Sussa vat dit uit sy hand en druk dit terug in sy hempsak. Terwyl sy net haar kop skud.

Ek vang sy gesigsuitdrukking in die truspieël en ek kry hom amper jammer. Hy lyk soos ‘n hond wat op die snoet geslaan is omdat hy vleis gesteel het.

Ek besluit om deur te druk en nie die rokers weer kans te gee om te rook nie.

Dit is stil in die bakkie want almal sit met afwagting en wag vir ons om die plaas te bereik. Sussa hang nog steeds tussen die voorste sitplekke, gestut op haar elmboë.
Toe ek voor die toe plaashek stilhou, spring Duiker en Skippie gelyktydig uit om dit oop te maak. Ek is seker as Sussa net nader aan die deur gesit het, sy ook sou gepoog het.

So in die sukkel om die hek oop te kry, word daar ook sigarette brandgemaak en dit vat ekstra lank om die hek weer toe te kry.

Die nou sandspoorpad wat ons na die huis toe vat. kronkel tussen gras en bosse deur.
Die lowergroen gras rondom die groot huis is ‘n salwing vir mens se oë na die vaal van die pad.

As ons onder die bloekombome stilhou kom ‘n jong vrou by die voordeur uit.
Sy het lang donker hare en sy is mooi. Haar oë is treffend blou. Dit laat my aan Ma en Duiker se oë dink.

Sy trek haar klere reg. Duiker en Skippie bly sit in die bakkie terwyl ek en Sussa uitklim.

          “Môre – “ groet sy onseker.

Sussa steek haar hand op ‘n distansie uit;

          “Môre, ek is Sussa en hierdie is Jannus du Plessis.”

Daar is geen reaksie by die vrou nie. Dus ken sy nie die naam Jannus du Plessis nie.

Sy versit haar gewig en kyk by my en Sussa verby na die twee manne in die bakkie.

Terwyl ek haar hand skud is dit Sussa wat praat.

          “Verskoon hulle tog maar. Seker maar styf gesit.”

Die vrou met die sagte stem praat as Sussa bakkie toe stap en die deure ooppluk as aanduiding vir die twee om uit te klim.

          “Aangename kennis. Ek is Marda Burger. Waaraan het ons hierdie besoek te danke?”

Ek trap ongemaklik rond

          “Dis ‘n lang storie. As jy tyd het kan ons vertel?”

Sy nooi ons nie by die huis in nie, laat ons by die ronde tafel in die tuin sit.  Sy verskoon haarself en gaan terug die huis in.

Sonder om te dink vra ek die vraag hardop vir geeneen in besonder nie:

          “Waar de joos begin mens nou met hierdie deurmekaar spul?”

Marda antwoord agter my. Ek het haar nooit hoor uitkom nie.

          “Begin maar, soos almal altyd sê, by die begin”

Sy gaan sit en ek besluit om by Ma se dood te begin. Dit is volgens my die begin van hierdie deurmekaar nuwe lewe van my.

Terwyl ek vertel van Ma wat dood is kom dit by my op om nie alles te vertel nie. Ek vat dus kortpad na Pa se testament wat sê ek erf hierdie plaas.

Sy frons en draai haar kop skeef.

          “Dit klink vir my jou pa het nie sy testament op datum gehou nie. Want ek is op hierdie plaas gebore.”

Sy neem die wind vir ‘n wyle uit my seile. Maar ek ruk myself vinnig reg.

          “As jy hier gebore is, neem ek aan die plaas behoort aan jou pa?”

          “Nee die plaas behoort aan my. Pappa het die plaas op my naam geregistreer toe hy afgetree het. Nou boer ek hier.”

Ek voel sotlik dat ek sommer ‘n aanname gemaak het. Ek raak ongeduldig want ek voel dat die antwoord hier op hierdie plaas lê. Maar hoe kry ek dit uit haar? Hoe stuur ek haar in die rigting van die antwoorde sonder om te voorop te klink.

Dan moet ek haar nou maar inspan met die hele ou morsige verhaal. Miskien is daar iewers raakpunte wat ons aanmekaar kan knoop.

          “As jy dan nie omgee nie – Marda – sal ek jou die verhaal moet vertel sodat jy weet hoekom ek hier is.”

Sy is ‘n vrou van min woorde, maar haar oë spreek boekdele.

My verhaal het nog nie gevorder sover as Ma wat vir Dirk en Babbels agter die duin betrap het nie, toe daar nog twee bakkies op die werf aangejaag kom en met stofstrepe stilhou.

Twee groot manne breed van skouer en lank spring uit die bakkies uit. Boere van die distrik, neem ek aan maar hulle kom aggresief voor en staan met gevoude, bultende arms en gluur ons aan.
Die grootste een van die twee wil weet;

          “Alles reg by jou Marda?”

Skielik maak dit vir my sin. Marda het haarself verskoon en versterkings laat kom vir ingeval ons skurke is en haar op haar plaas wil oorrompel.
Ek bars uit van die lag en dit klink bietjie kranksinnig. As ek sien hoe die ander vir my kyk, sluk ek my lag.

Nadat sy hulle verseker het dat alles reg is gaan hulle ook sit. Haar afwagtende blik spoor my aan om verder te vertel.

Ek besef nie hoe die tyd verby gaan terwyl ek die verhaal vertel nie. Sussa vul hier en daar aan. Skippie en Duiker sit stil soos muise.

As ek die verhaal wat so onwerklik soos fiksie klink afsluit, is daar ‘n oomblik van stilte.

          “Gee jy om as ek vir jou ‘n paar vrae vra oor jou ouers?” probeer ek.

          “My pa is Bertus Burger en Mamma is Cora Burger.”

Ek voel hoe dit in my ruk. Cora is mos ook die naam wat Dirk Bruwer genoem het.

          “Wat was jou ma se nooiensvan?” Dit voel of sy taai is om die inligting te gee en of ek nog baie trekwerk gaan moet doen.

          “Mamma se nooiensvan was Bruwer.” verskaf sy die inligting sonder moeite.

Ek glo sy kan die ongeloof in my stem hoor as ek skerp vra:

          “Bruwer?!! En jy is seker sy is nie familie van Dirk Bruwer nie?”

Sy skud haar kop ontkennend terwyl sy antwoord.

          “Nee, Mamma is die enigste kind.”

Dit tref my dat sy praat van ‘is’. Dit beteken haar ouers leef nog.

Dan staan sy op;

          “Kom ons gaan eet iets. Dit is al middag-tyd. Kom Daan, Dawie, kom eet saam met ons”

Ek wil opspring en vir haar skree dat ek nie wil eet nie. Dat ek antwoorde op my vra wil hê. Dat ek teleurgestel is dat alles wat ek hier verwag het maar net weer ‘n doodloopstraat is.

Ons stap agter haar aan die huis binne. In die voorhuis hang familie-portrette teen die muur. My oog vang die man in die een portret en ek skok in my spore vas.

          “Wie is hierdie man en vrou in hierdie foto?” vra ek dringend terwyl ek na die foto wys.

Marda kom langs my staan;

          “O dis Pappa en Mamma.” Sy kyk na my asof sy van my verwag om te reageer. Dit is ook presies wat ek doen.

          “Daar is nie ‘n manier dat die man in hierdie foto jou pa Bertus Burger kan wees nie. Want die man in hierdie portret is my pa Jannus du Plessis.”

Ek kyk hulpsoekend oor my skouer na Duiker wat ook vinnig nader staan.
Daar kom net twee fluister woorde oor sy lippe;


          “Loopdop Doep!”

Monday 19 October 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 9)



Ek hou die man dop en sien dat hy in die restaurant gaan sit. Ek maak al die papiere op die tafel bymekaar. Maar seker dat dit in die regte lêers is en verskoon myself terwyl ek vir Sussa sê:

          “Sussa jy moet asseblief maar die dagboek verder lees. Ek glo daar lê nog heelwat dinge wat vasgeknoop kan word.”

Dan stap ek na waar Dirk Bruwer sit. Hy is verdiep in die spyskaart voor hom en kyk gesteurd op toe ek praat:

          “Dag meneer Bruwer.” Sy blik verander na ‘n vraagteken. Hy het nie verwag dat ek hom op sy naam gaan aanspreek nie.

As hy nie terug groet nie praat ek saaklik maar reguit verder;

          “My naam is Jannus du Plessis. Doep en Netta du Plessis se seun.”

Hy kyk na my asof dit wat ek vir hom sê geen nuus is nie. Terwyl ek verder praat maak hy die spyskaart toe en plaas dit op die tafel.

          “My ma is oorlede.” Die onwerklikheid van die gedagte dat Ma dood is tref my eers as ek dit hardop sê.

Sy antwoord is ewe kort en saaklik:

          “Ek weet.” Sy stem is ferm en diep. Die effense donker wat tussen die grys hare deurskyn, verklap dat sy hare baie donker moes wees in vroeër jare.

Ek besef ek sal hier moet praat en klaar praat want hierdie man is nie iemand met wie mens speel nie.

          “Ek weet dit is nou ongeleë, maar ek wil graag ‘n afspraak met u maak.”

Ek gee hom nie kans om te vra wat die rede is nie en verskaf dit.

          “Ek vermoed alles is nie pluis met my ma se testament nie en ek wil dit graag uitklaar met iemand wat by die firma G Goosen en Vennote gewerk het.”

Hy leun terug in die stoel en kyk my vas in my oë. Hy laat my soos ‘n skoolseun voel wat met sy pak papiere voor die hoof staan.

Ek voel ongemaklik oor my lang baard wat ek nog glad nie geskeer het vandat ek hier aangekom het nie.
Mens kan die man voor my deur ‘n ring trek en ek voel soos ‘n bedelaar - onversorgd.

          “Jy is reg dit is uiters ongeleë. Maar ek is net vir vandag in die dorp. So jy moet nou maar vra wat jy wil.”

Hy beduie na die oop stoel oorkant hom en ek gaan sit. Sonder om verder tyd te mors, haal ek eers die testament van Pa uit wat lees die langslewende erf alles.
Oorhandig dit aan hom en vra terselfdertyd;

          “Het my pa sy testament by julle laat opstel?”

Hy kyk vlugtig na die dokument en wat hy daarna sê skok my tot in my wese.

          “Omdat ek en jou ma betrokke was bymekaar, het Giel self jou pa se testament hanteer. Maar ek kan vir jou sê hierdie is ‘n uiters swak vervalsing. Want dit is nie naastenby Giel se handtekening wat op daardie dokument is nie.”

‘n Warboel gedagtes en vrae vermeng in my brein en nie een maak sin om ‘n sinvolle vraag te formuleer nie.
Maar ek wil hê hy moet sy opmerking verklaar. Nie die feit dat die testament vervals is nie, maar dat hy en Ma “betrokke” was!

Hier speel ‘n verhaal af waar ek kennis het van die mense, maar hulle word by die dag vir my meer vreemd soos die storie ontvou.

Ek is seker hy sien die ontsteltenis op my gesig want hy hou my fyn dop.

          “Wat bedoel jy, jy en Ma was betrokke?” Kry ek die vraag uiteindelik uit.

Hy is heel gemaklik in sy klere en antwoord in geen onduidelike woorde:

          “Kort na jou geboorte het ek weer met jou ma kontak gemaak en daar het ‘n verhouding tussen ons ontstaan. Ek kan ook vir jou sê dat dit gehou het tot met haar dood.”

“En … en … my Pa?” stotter ek onbeholpe. “Het hy geweet?” wil ek duidelik ontsteld weet.

Voor hy antwoord wink hy die kelner nader en bestel vir ons elkeen ‘n dubbel whiskey op ys.

          “Ja ek glo hy het geweet. Maar hy was nie bereid om van jou ma te skei nie.” Sy volgende woorde gee my ‘n koue rilling.

          “En aangesien hy sy pad gekies het, het ons besluit om dit vir ons so maklik moontlik te maak en vir hom so moeilik moontlik.”

Woorde wat ek nie hardop kan uitspreek nie kruis my gedagtes. Ek hou die stoel se sitplek vas om myself so te dwing om stil te sit en nie die man te lyf te gaan nie.
Hy gaan voort so asof hy genot daaruit put om my te skok.

          “So jy sien, jou ma was nie so heilig as wat haar familie haar gemaak het nie en jou pa was maar ‘n sucker vir punishment.”

Die kelner bring ons drankies maar ek raak nie daaraan nie.
Hy teug behaaglik aan syne en vra of daar nog iets is wat ek wil weet.

Sonder woorde gee ek vir hom pa se testament wat ek uit sy lêer gekry het.

Hy blaai vinnig daar deur en lyk verveeld as hy dit terug gee.

          “Dit is wel Giel se handtekening. Maar ek verstaan nie waarom jy nou ‘n bohaai wil maak oor hierdie twee testamente as jy jou ma se enigste erfgenaam is en nou meer geld het as wat jy moontlik kan hanteer nie.”

          “Volgens my pa se testament is daar die plaas Driedraai wat klaarblyklik deur jou gekoop is. En ek wil weet of dit waar is.”
Die kilheid in my stem slaan deur.

Hy lag kort en hard.

          “Nee. Ek het nie die plaas gekoop nie. Wie ookal vir jou daardie inligting gegee het, praat twak.”

Hy tel sy glas op gooi die laaste van die vog in sy keel af en praat met ‘n sarkastiese toon in sy stem:

          “Hoekom spoor jy nie vir Cora op en laat sy alles vir jou verklaar nie?
Jou pa was maar te dankbaar dat ek en Netta betrokke was, want toe kon hy sy lê gaan lê by Cora.” As hy die verwarring in my oë lees, gaan hy sinies voort:
          “O ja, ek het vergeet, jy het seker teen hierdie tyd gehoor haar agtertangse familie roep haar Babbels. Die vader weet Netta is ook die enigste een in daardie familie wat nie agterlik was nie.”

Ek staan op, maak my dokumente bymekaar en draai om, om te loop. Die ongevraagde drankie staan onaangeraak op die tafel.

As ek wegstap roep hy agter my aan:

          “Miskien moet jy van daardie onverdiende geld vat en vir jou skeermeslemme koop.”

Ek maak of ek dit nie hoor nie. Stap uit en gaan sit verslae op die stoep waar Duiker en Sussa steeds sit. Skippie het ook intussen weer by hulle aangesluit.

 Ek beduie vir die kelner om vir my ‘n bier te bring. Sit en staar vêr die see in. Die golwe slaan met die geweld wat ek innerlik ervaar teen Splash Rock vas.

Dis eers as Sussa sag aan my hand raak, dat ek bewus raak van die bier wat seker ‘n geruime tyd al voor my staan.

Die driemanskap is vir ‘n slag stil en vra nie onnodige vrae nie.

Ek sit die glas voor my mond en sluk en sluk en hou aan sluk tot die gas in die bier my mond binne seermaak.

So tussen die slukke vra ek die vraag wat ek seker heel eerste moes vra maar ek het nooit daaraan gedink nie.

          “Wat het van Babbels geword? Vertel my meer van Babbels”

Dis Duiker wat antwoord;

          “Sy is die jongste. En toe ou Grootgert my die plaas verbied het, het ons gereeld kontak gehad. Maar na jou pa se dood het sy alle kontak verbreek en verdwyn.”

Dis vreemd om die rasperstem so gelate te hoor sonder om te vloek. Ek maak geen opmerking daaroor nie want dit kan dalk net as aansporing dien om weer te begin.

Die asbak op die tafel is tot boordens toe vol sigaretstompies. Sussa sien hoe ek na die asbak kyk en sy roep die kelner wat verby loop met ‘n bestelling vir mense wat ook op die stoep sit;

          “Kom maak skoon my liefie. Julle weet mos die asbakke moet nooit so vol raak nie.”

Ek besluit dat môre nog ‘n dag is en drink die res van my bier in stilte.

Maar ek moes verwag dat hulle nie die afwagting sou kon uitstaan nie.

Dis Duiker wat eerste grom:

          “Wat het die ou fokker vir homself te sê?”

Ek ignoreer die vraag en vra my eie vraag:

          “Waar is hierdie plaas, Driedraai?”

Aldrie kyk my vraend aan. Ek het al agtergekom dat hulle kan toeklap soos ‘n oester. Dan moet ek maar verder praat:

          “Ek wil daarheen ry. Ek wil gaan kyk aan wie die grond behoort. Wie nou daar bly.”

Skippie reageer eerste:

          “Wanneer ry ons, ek sal vir jou die pad beduie.”

Voor ek kan antwoord, verklaar Duiker en Sussa onomwonde dat hulle ook saamgaan.

Ten spyte van die onstuimigheid in my kry ek so ligweg binnepret en ‘n ligte glimlag raak-raak aan my mondhoeke.
Hulle mag vir my soos vreemdelinge voel, maar ek is deur hulle ingeneem as ‘n eie-mens. En ek gaan verseker nie al hierdie antwoorde alleen soek en hulle kan uitsluit nie.

Vir die eerste keer in my volwasse lewe voel ek geborge. Voel ek, ek behoort aan ‘n familie wat my deur dik en dun sal bystaan.

Hierdie mense wat ru voorkom, maar wel die sout van die aarde is, het hulle oor my ontferm.

         “Vanaand kan julle verder op my rekening eet en drink.” kondig ek joviaal aan.


“Sussa reël daar dat jy môre ‘n aflos het. Ek kom julle vroe-môre oplaai. Môre! kraak ons hierdie neut.”