Wednesday 30 December 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 16 - SLOT)


Wanneer Babbels ons kom roep vir ontbyt voel my mond soos kurk en ek is lus om die ete van die hand te wys.
Toe ons egter aansit en ek die kos ruik, weet ek dat honger is.

My gedagtes loop die draaie wat my sterwensbesoek aan Netta alles meegebring het.
My werk as Entomoloog het my nie ryk gemaak nie. Maar ek leef goed in my drieslaapkamerhuis in die ooste van Pretoria.
Ek kon die ander twee slaapkamers inrig as kantoor en laboratorium sonder moeite en my daar uitleef.
Aangesien ek geglo het ek is ‘n alleenkind sonder noemenswaardige familie het ek met niemand probeer kontak hou nie. In retrospek glo ek dat ek bang was die kontak met familie my te veel sou herinner aan my liefdelose kinderlewe saam met Netta na Pa se dood.

Ek word eers weer van my omgewing bewus as die ander mense rondom die tafel begin opstaan. Ek besef ek het geëet sonder om werklik te proe waarna die kos smaak.

Duiker, Sussa en Skippie maak verskoning om te gaan rook en stap uit.
Ek kyk na die drie huisbewoners sonder om te praat, draai om en loop agter Duiker hulle aan.
Ek vind hulle onder die groot Peperboom. Duiker is besig om vir Skippie en Sussa op hoogte te bring van die gesprek vanoggend.
Skippie se gekruide reaksie vertel duidelik wat hy dink.

          “Not a fok! En hier kry ek myself al hierdie donnerse jare jammer omdat die ou teef my nie wou hê nie. Sy het in die tronk gehoort. Sy het my hart uit my borskas geruk en vir die fokken meeus gevoer, newwer maaind gebreek.”
Hy spreek die ‘never mind’ plat uit.

Asof afgespreek kyk al drie gelyk na my kant toe. Duiker is die een wat die vrae begin vra:

          “Wat gaan jy nou met al daardie miljoene maak wat ou skelm Netta jou nagelaat het?

          “Ek gaan dit vir Pa teruggee.” kom dit sonder aarseling.

Stilte, al geluid wat hoorbaar is, die trek aan die sigarette en die harde uitblaas van die rook.

Voor een van hulle kan reageer kom Pa, Babbels en Marda uit en gaan sit op die stoep.
My maag gee ‘n draai as ek na Marda kyk. Sy is beeldskoon in my oë. Ek moet myself egter hard aanspreek.

          “Jy is simpel Jannus du Plessis. Sy is jou stiefsuster. Bloed van jou bloed.”
Dis nog ‘n gedagte waaraan ek sal moet gewoond raak. Maar tot dan sal ek my verlustig in haar skoonheid.

Ons almal gaan sit op die stoep in afwagting dat Pa en Babbels die verhaal verder vat.
Ek voel ‘n ligte hoofpyn in my slape klop. Ek is verbaas dat dit al is wat pyn.

Duiker se ongeduld slaan deur in sy stem:
          “Nou Loopdop, laat ek hoor, hoekom lewe jy nog?”
Hy laat dit klink of Pa nie die reg het om te lewe nie.

Voordat Pa antwoord kyk hy eers die verte in.
          “Netta het my gevra om ‘n inlander te vat om te gaan diepsee visvang. Ons het voordag uitgegaan. Kleintjie sou saamgaan maar het die een of ander skeet gehad. Toe is ek en die vister alleen uit. Ons het skaars lyne nagemaak toe probeer die man my mos van agter af oorboord druk. Maar kyk, ek wis mos van vasstaan op ‘n skuit. Toe ek hom op die dek vaspen en dreig om sy keel met die vismes af te sny, kom hy met die hele sak patats vorendag. Netta en Dirk het hom gehuur om my te laat wegraak. Vermis op see”

Ek hoor hoe Marda en Sussa hulle asems skerp intrek. Babbels sit oënskynlik rustig. Sy ken duidelik al die feite.

“Ek het hom die keuse gegee. Hy laat my gaan en ek kla hom nie aan vir poging tot moord nie of hy gaan oorboord. Ek het geweet as ek ‘n veiligheidsbaadjie en die reddingsboei het, sal ek by die land uitkom. Of hy geweet het hoe om weer terug te kom in die hawe was sy saak.”

My lewensverhaal is besig om te ontaard in ‘n riller. Ek haal swaar asem, voel hoe die inligting my longe saampers.
Ek kyk onverwags op en sien Marda se blik op my. Ek is ongemaklik. Dit voel of sy kan lees wat in my binnekant aangaan.

Duiker blyk die man te wees wat al die vrae vra:

          “Nou hoekom defok toe jy uitkom gaan jy nie huis toe en konfronteer die bitch nie?”

Pa se stem is sag as hy antwoord.
          “Ek het geweet ek het in my testament goed voorsiening vir my klong gemaak. Hy sou nie swaarkry nie. En noem my lafhartig maar ek het dit as ‘n uitkoms gesien. Teen daardie tyd was Dirk al vir jare weer in Netta se lewe. Hulle het gedink ek weet dit nie. Sou ek ‘n saak gaan maak, so was my gedagtes, ontneem ek my klong van sy ma.”

Duiker val hom skerp in die rede:

          “Toe verkies jy om fokken dood te gaan en jy los die klong vir wie jy kwansuis so bliksems lief was by ‘n liefdelose vrou.”

Pa kyk verskonend na my toe hy antwoord;
          “Toe het ek dit nie geweet nie. Ek het geglo dis die beste vir hom en my.”

          “Kan ons asseblief net klaarkry met dit alles.” Ek voel aggresie in my opbou.
          “Ek ken myself nie meer nie. Julle vee die verlede wat ek ken uit en vul dit met ‘n grustorie en julle kry nie klaar nie.”

Marda se oë rus sag op my en die opwelling in my borskas spreek my medelye met haar uit, want sy is maar in dieselfde ellende as ek

Asof hy nooit onderbreek is nie gaan Pa aan:
          “Ek het terug gegaan daarheen waar ek die gelukkigste tyd van my lewe gehad het, saam met Babbels. Daar sou ek vir my ‘n nuwe lewe bou met die neseier wat ek deur die jare vir myself gespaar het sonder dat Netta daarvan bewus was.”

Babbels vul haar man se storie aan:
          “Ek het op daardie stadium by die bank gewerk. En dit is waar ons mekaar weer raakgeloop het. Ons het kennis met mekaar uitgeruil en toe besluit om vir jou pa ook ‘n nuwe identiteit te kry.”

Marda spring met so vaart van haar stoel af op dat dit omval.

          “Ek … Ek … Pappa … Mamma, julle is dus nooit wettig getroud nie! Nou kan ek ook vra ‘Hoekom?’ Hoekom het julle net aan julle self gedink?”

Voordat een van hulle kan antwoord, hardloop sy om die huis die veld in.  As ek mik om agter haar aan te gaan sê Pa:

          “Los haar, sy het baie om te verwerk en jy sal haar nie nou meer inhaal nie. Sy is stalle toe. Vandag ontgeld daardie swart hings dit weer.”

Toe daar ‘n ongemaklike stilte rondom ons draal, verbreek Sussa dit:
          “Ek sal vanaand verder in die dagboek lees of Netta iets daarvan sê dat sy jou verdwyning beplan het.”

Niemand antwoord nie. Duisende gedagtes maal deur my kop, maar ek kry dit nie in vrae geformuleer nie.

Dis weer Sussa wat tot my redding kom:
          “Oom Loopdop, wat was die laaste testament wat jy opgestel het?”

Pa frons effens;
          “Ek het in my lewe nog net een testament opgestel. En daarin het ek uiteengesit dat my klong die grootste gedeelte van alles erf. Daar moes ‘n Trustfonds gewees het wat aan hom sou uitbetaal toe hy vyf-en-twintig geraak het. Hoekom vra jy?”
Dis ek wat hom antwoord as Sussa en Duiker sprakeloos vir mekaar kyk.

          “Ek het tussen … haar papiere twee testamente gekry. Volgens die datums op die onderskeie dokumente was die laaste geldige testament die een wat sê die langslewende erf alles.”

Pa laat sak sy kop. Skud dit stadig heen en weer. Hy kyk vinnig van Skippie na Duiker na my:
          “En Duiker jy en Skip-hier het nie geweet ek het vir julle elkeen een van die diamantbote gelos nie?”

          “Nee, natuurlik nie. Hoe de donner kon ons as ou skelm Netta fokken alles gesteel het deur ‘n vervalste testament?” Dis Skippie wat skielik so heftig reageer. Tot sy bles is rooi van die driftigheid.

Ek voel dit is nou die regte tyd om die geld in Netta se testament te noem.

          “Ek was Netta se enigste erfgenaam. Maar ek wil die geld nie hê nie. Pa kan dit alles terug kry. Ek het goed genoeg vir myself gesorg.”

Pa kry ‘n ligte glimlag om sy mond. Sy oë kreukel en ek sien hom weer soos in my kinderdae wanneer hy vir my van die sewe susters vertel het.

          “Nee my kind, ek wil nie daardie geld hê nie. Ek het goed vir myself gesorg en is vandag ‘n ryk man. As jy nie die geld wil hê nie gee dit weg vir liefdadigheid. Of mors dit op luukshede uit. Gee dit weg vir jou vriende of vergeet dit in ‘n tas op die stasie.”

Hy vat Babbels se hand. Kyk teer en diep in haar oë;
          Hier het ek die grootste rykdom wat enige man kan begeer. My vrou.
Ons het die plaas op haar kamstig eertydse getroude van gekoop. Later het ons dit verander en dit op Marda se naam gesit. Sy weet dit nog nie.”

          “O, nou verstaan ek hoekom die roemer geloop het dat daai fokken verkragter die plaas gekoop het. Hy’t seker weer gelieg om sy aansien op te druk.” reageer Duiker.

Pa help hom reg.
          “Nee hy het nie geweet nie. Ek weet Netta het geweet dat dit ‘n Bruwer is wat die plaas gekoop het. Sy het seker maar die gerug versprei.”

Na ‘n tyd wat vir my soos ‘n ewigheid voel, sien ek vir Marda in die voetpaadjie aankom. Haar gesig is rooi. Ek weet nie of dit die son of ontsteltenis is nie.
Ek moet maak dat ek terug kom in Pretoria. Ek het niks van hierdie hele deurmekaar spul verwag nie. Maar die minste van alles het ek verwag om te kom staan en verlief raak. En DIT op my eie bloedsuster.

My kop moet skoon kom en hier gaan dit nie gebeur nie.

Met die opstaanslag spreek ek vir Pa-hulle aan.

          “Pa ek dink ons moet nou ry. Ek het baie inligting om deur te werk. As Sussa die dagboek verder lees en daar duik nog vrae op kan ons maar weer kom. Maar ek moet nou eers terug na my eie werk toe.”

Marda se nors: “Wag vir my ek wil saam met julle ry” en Ma se verslae “Marda-kindjie…” laat my weer sit.
Ek wil dan reeds wegkom van hierdie mooie meisiekind af en nou gaan sy my treiter deur saam te wil ry.

Pa staan op streel oor Ma se hare:

          “Ek sal met haar gaan praat Liefde.”

Vir my sê hy: “Terwyl ek daar binne besig is dink ek julle moet ry want hier is nog ‘n magdom goed wat tussen ons en ons dogter gesê moet word.

Hy draai om loop die huis binne en ek beleef vir die soveelste keer in my lewe verwerping.

Sonder om iets te sê stap ek bakkie toe. Dan onthou ek dat die bakkie kwansuis ‘n meganiese probleem het. Ek het egter nie nou tyd vir bog nie en blaf oor my skouer vir Skippie en Duiker om dit kom herstel terwyl ek met my duim in die rigting van die bakkie beduie.
Hulle is vlug van begrip. Spring op en begin voor onder die enjinkap werskaf.

Ek klim agter die stuurwiel in maar maak nie die deur toe nie. Sussa staan buite om ‘n laaste sigaret te rook want sy weet daar gaan nie gestop word voordat ek hulle by die Kraaines aflaai nie.

Dis eers as Ma sag aan my elmboog raak wat ek van haar bewus raak. Sy staan dig by my. Tóg voel ek nie ongemaklik met haar in my persoonlike spasie nie.

          “Jannus my kind, moet hom nie te hard oordeel nie. Hy het gedoen wat hy gedink het beste vir jou sal wees. En hy het dit nie maklik gehad nie. Ek pleit vandag by jou, as jy iemand wil kwalik neem omdat hy gedoen het wat hy gedoen, het moet jy my kwalik neem. Ek het hom omgepraat om ‘n nuwe identiteit aan te neem.”

Sy praat nog maar haar stem verdof in my ore. Ek voel hoe die harde kors rondom my hart kraak. ‘n Skrefie oopmaak om haar diep in my wese toe te laat. ‘n Vreemde gevoel neem pos in my. ‘n Gevoel wat ek laas gevoel het met die wete dat Pa aan my gedink het as hy nie by die huis was nie.
Die warm gevoel wat my omring het wanneer hy vir my van die sewe susters vertel het.

Ek sit my hande op haar skouers en druk haar weg van my af, net vir die oomblik wat dit my neem om uit die bakkie te klim. Dan trek ek haar teen my bors vas. Vou my arms om die vrou wie se gene deur my vloei.
Ewe onbewus van die drie pare oë voor die bakkie wat ons aanstaar, is ek van die twee figure wat op die stoep tot stilstand kom.

Asof dit tweede natuur is, soen ek haar sag in haar hare op haar kroontjie. Dan sê ek sag by haar oor.

          “Dis alles reg … Ma … Dis alles reg.”

Pa en Marda kom nader. Kom staan dig by ons. Pa sit sy een arm om Ma. Die ander arm het hy om Marda maar hy strek sy hand om my aan die skouer te vat.
Dit is vir my ‘n heilige oomblik. Emosies waarvan ek nog nooit bewus was nie speel in my op en af. Vul my met ‘n gevoel van volheid … tevredenheid.

Toe ek opkyk wanneer Pa praat, sien ek die trane wat onbeskaamd oor sy wange loop.

          “Kom ons gaan terug huistoe. Daar is nog baie dinge wat ons van mekaar moet leer. Kom my seun.”

Die sewe van ons gaan weer op die stoep sit en dit laat my onwillikeurig aan die verhaal van die sewe susters dink. Pa se verhaal het sewe susters in. My verhaal het sewe mense in wat in ‘n kort tyd my lewensverhaal geword het.

 Pa is aan die woord:
          “Met jou geboorte het die derderangse vroedvrou wat Netta en Dirk by jou ma gelos het soveel skade veroorsaak dat die dokter later vir ons gesê sy sal nie weer kan swanger raak nie. Na vele behandelings en dinge het ons vir klein Marda ryker geword.”

Ma neem sy storie vir die soveelste keer oor. Maar dit pla nie. Dit laat hulle eerder meer na ‘n eenheid voel. ‘n Verenigde front wat al baie aanslae moes trotseer en deurleef.

          “Toe ek haar as klein bondeltjie in my arms hou was ons vreugde en ons hartseer ewe groot. Vreugde dat ons die kans gegun is om hierdie lieflike dogtertjie groot te maak. Maar hartseer omdat ons, ons eersgeborene moes afstaan aan swendelaars en …”

As Pa se hand ferm oor Ma s’n sluit raak sy stil. Hy maak die opmerking met ‘n kraak in sy stem:
          “Nou het ons hulle albei weer onder ons dak my Liefde.”

Vir die eerste keer vandat Pa en Marda by ons aangesluit het praat sy;
          “Gelukkig het Pappa en Mamma my met die grootste liefde denkbaar liefgehad. Al hierdie nuwe dinge wat ek nou moes hoor kan egter nie daardie liefde vernietig nie. Om te dink ek het ‘n broer wat ook eintlik nie ‘n broer is nie want hy is so oud soos ‘n oom.”

Daar speel duiwels in haar oë as sy na my kyk. Pa en Ma glimlag in mekaar se oë. Hulle liefde vir mekaar is tasbaar.

Vir ‘n korte oomblik was ek oortuig ek is verlief op hierdie lieflike meisiekind voor my. Nou weet ek dis dieselfde toegeneë beskerming wat ek voel oopmaak het met Ma.

Skielik is selfs die vloekende Duiker en Skippie my mense. En Sussa wat haar hande vol het met die twee ruwe diamante. En ek weet iewers gaan ek die vrou wat my ook in liefde sal laat glo, raakloop. 

Die gedagte om my kantoor en huis in Pretoria op te gee en Weskus toe te trek, speel impulsief deur my.

Ek glimlag vir die eerste keer in baie jare spontaan as ek vir Pa, Duiker en Skippie waarneem. Hulle het groot planne. Sien sommer weer kans vir die see op hulle ouderdom.
Die drie is so tuis in mekaar se geselskap soos ‘n vlooi op ‘n straatbrak.

Dis Ma wat wil weet wat my planne nou is.

          “Wanneer beplan jy om terug te gaan my kind?”

Ek kyk met ‘n stil glimlag van die een na die ander:

          “Ek dink aangesien my hele familie nou hier aan die Westekant van die land vasgeskop het moet ek maar my lappe loop pak en ook aankom die kant toe Ma.”

Ek kan sien sy is erg in haar noppies met die aanspreekvorm

          “Dan kom koop ek ‘n lekker groot boot en vat die ouens wat diepseevis wil gaan vang, uit.”

Ek wys na die drie manne wat soos stout seuns lyk; “Ek het mos darem nou drie manne wat soutwater in hulle are het wat vir my die ding kan bedryf.”

Sussa gee my ‘n klap op die rug:

          “En dan koop jy my pozzie, dan kan ek eerder die toergroep aan die gang kry waaroor ek al so lankal droom.”

Die voorstelle begin aanklank vind in my. Ek sal mos nou nie met die wete dat ek by die huis gekom het, hier kan weggaan nie.

My rustelose siel gaan lê in kalm water terwyl ek gelukkig na my mense se drome en praatjies luister en ek weet dit sal die regte ding wees om my sake hier te kom vestig.



© Zymrly 12 Desember 2015

Thursday 26 November 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 15)


Dis Marda wat die oomblik van stilte verbreek.

          “Dink julle nie dit is tyd om te gaan slaap nie? Ek is seker ‘n storie wat al my hele lewe lank ‘n geheim was, gaan nie oornag verander of wegraak nie!”

Ek bespeur ‘n tikkie sarkasme in haar stem.
Meteens besef ek dat dit ook vir haar ‘n ontsettende groot skok moet wees om agter te kom sy en haar ouers lewe al die jare ‘n leuen.

‘Liewe genade. Wat het hierdie mense besiel?’ Die gedagte spring vlietend deur my brein en jaag ewe vinnig oor my lippe:

          “Wat het julle besiel? Julle het ons almal belieg en bedrieg! My lewe is verongeluk deur my verlede en nou word dit deel van my hede en dit bly een groot lieg! Net soos wat julle vir julle dogter gelieg het haar hele lewe deur.”

Ek besef nie dat ek baie hard praat nie. My stem weerklink hard in die nag stilte.

Babbels staan op. Slaan haar arm om die skraal skouers van Marda.

          “Ons besef dit maar te goed en ons het berou oor ons aandeel aan die hele gemors. En noudat ons oud is, weet ons dat ons baie verkeerd besluite en keuses gemaak het.”

Sy kyk met deernis en liefde na Marda.

          “Maar Marda het reg. Kom ons gaan slaap. Ons kan môre hierdie ondervraging voortsit wanneer ons almal ‘n nagrus gekry het.”

Die hele geselskap staan op. Ek en Duiker staan by Kleintjie toe hy die vergete vuur blus om sodoende ‘n brand te voorkom.

Ek kan aan Kleintjie se liggaamshouding sien dat hy die ergste verwag. Om die minste te sê, verwag ek ook dat Duiker hom nou met geweld gaan bykom omdat hy blatant vir ons gelieg het.

Wanneer Duiker uiteindelik begin praat, dop Kleintjie se oë agteroor soos ‘n hoender wat stuipe kry.

          “Nou ja, so lieg jy toe! Maar van die donnerse gemors wat ek vanaand hier aanskou het kan ek jou seker ook nie fokken kwalik neem nie. Want Loopdop en jy lieg ewe veel.” Hy praat soos gewoonlik bulderend hard.

Kleintjie kry sy hartklop en asem terug. Sy stem breek plek-plek en dan slaan daar net stilte deur terwyl sy lippe beweeg:

          “Askies menee, grôt askies menee Dyke. Wat menee’ie wie’tie is’ie myse plek om te moet loep vetel’ie menee.”

Duiker is ongeduldig. Seker ook maar moeg soos ek. Want dit was ‘n lang en moeilike dag. Ek wonder nou net of daar iemand is wat vannag ‘n oog opmekaar gaan sit. Ek wag nie dat Duiker vir Kleintjie klaar roskam nie.

          “Ek gaan slaap Duiker.” kondig ek aan en stap ook sonder om te wag.

As ek omkyk is Duiker se groot lyf kort op my hakke. Die ou het ook maar besluit om vir eers bes te gee. Môre wag daar weer ‘n nuwe dag. Maar wat dit vir ons gaan inhou, laat ‘n rilling teen my rugstring afloop.

Soos ek verwag het, het ek maar bitter min geslaap. Die kere wat ek wel weggeraak het was gevul met deurmekaar drome.
Toe die dagbreek lig deur die venster in skyn, is ek dankbaar dat die nag verby is.

Ek staan op en loop sag uit om nie die ander slapendes in die huis te steur nie, met die gedagte om op die stoep te gaan sit.
My maag maak ‘n knop as ek vir Pa en Babbels op die stoep kry, besig om koffie te drink.

Hulle gewaar my egter voor ek terug kan draai.
Pa wys na ‘n oop stoel by hulle:

          “Kom my kind, kom sit. Dan gooi jou ma vir jou ook ‘n kom koffie.”

Die verwysings na Babbels as my ma val vreemd op die oor. Ek brom bot as ek môre sê.
Toe ek gaan sit, kom staan sy langs my. Sit haar een hand op my skouer terwyl sy behendig koffie in die groot blikbeker skink met die ander hand.

Dis eers as sy tussen my en Pa gaan sit wat sy sag begin praat:

          “Ek het hierdie oomblik gevrees. Maar nou is ek vreemd verlig dat dit uiteindelik aangebreek het.”

Anders as gisteraand, vermy ons nie mekaar se oë nie.
My stem is meer ‘n fluistering as iets anders as die enkele woord uitkom:

          “Hoekom?”

Pa antwoord:

          “Terwyl ek vir Dirk ‘n les met die vuiste geleer het, het ek sommer ook van die geleentheid gebruik gemaak om vir hom te vertel wat ek van die hele petalje dink. Ek moes laat val het dat ek en jou ma in ‘n verhouding is en dat sy swanger is.
Hy het dit vir Netta gaan vertel en sy het die regte somme gemaak en geweet hy is nie die pa nie.”
Babbels vat die storie oor.

          “Sy het met haar slinksheid vir Oupa Grootgert oortuig dat ek ‘n verhouding met ‘n getroude man het en dat ek sy kind verwag. Dit was doodsonde in jou Oupa se oë en hy het my weggejaag en afgeskryf as sy kind.”

Nou is dit weer Pa se beurt om die storie verder te vat. Ek is bly ons is alleen. Vir een keer is hulle aandag by my alleen en nie by die gehoor rondom my nie.
Ek weet hulle het almal op een of ander manier met die hele gedoente te doen. Maar dit voel vir my ek het alleenreg daarop.

          “Ek weet jy wil weet hoekom ek met Netta getroud is eerder as met jou ma. Dis baie eenvoudig. Sy en Dirk het my een aand verdoof, net om die volgende oggend sonder ‘n draad klere in Netta se bed wakker te word.
Netta het vertel dat ek te veel gedrink het en by haar gaan lê het.
‘n Paar weke later het sy vir my vertel sy is swanger en dat ek die pa is.”

Babbels … ek moet seker gewoond begin raak aan ‘Ma’ … sit haar hand sag op Pa se been. Sy kyk eers vir hom en toe vir my voor sy sê:

          “Wat jou pa nie geweet het nie, is dat Netta my kom dreig en afpers het. Sy het egter vir my gesê dat hulle vir Jannus met ‘n slapriem gevang het. Maar ek kon hom nie waarsku nie. Dirk het gedreig om my weer … as ek iets sou sê.
Verder het hulle my gedwing om ‘n verklaring te teken dat ek my kind sal afgee omdat ek nie in staat is om vir hom te sorg nie.
Toe het hulle reëlings getref dat ek na die kind se geboorte Engeland toe gestuur sou word.”

Ek praat nie. Vra geen vrae nie. Ek laat hulle praat om so veel as moontlik inligting uit hulle te kry voordat die ander wakker word.

          “Hulle het my ook gedwing om vir Jannus ‘n brief te skryf waarin ek sê dat ek met Dirk gaan trou. Dat ek gelieg het oor die verkragting en dat Dirk die kind as sy eie gaan grootmaak.
Daarna het hulle my van by binnelandse sake laat verander na Bruwer toe sodat dit lyk of ek en Dirk getroud is.
Hulle het my al die tyd gevange gehou. Toegesluit in ‘n kamer in een of ander huis wat hulle gehuur het.
Toe dit tyd was dat jy gebore moes word, het hulle ‘n vroedvrou gekry om my te help. Teen daardie tyd was Netta en jou pa ook al getroud.”

Die frons op my voorkop is ‘n vraag opsigself en Pa kom dit agter.

          “Ja ek weet jy wonder hoe sy my gekry het om te trou. Toe Babbels my sogenaamd afgesê het om met Dirk te trou en Netta kwansuis swanger sou wees, het ek besluit om die eerbare ding te doen en so gou moontlik met haar te trou.
Sy het ‘n skyn swangerskap voorgehou en toe jy gebore is het sy voorgegee dat sy vroeg in kraam gegaan het.
Op daardie stadium het ek nog vir Skippie se pa gewerk en ons was uit op see Ons het onder by Houtbaai gelê. Dit het natuurlik vir haar en Dirk soos ‘n handskoen gepas. Toe steel hulle jou en stuur jou ma oorsee voordat ek terug is.”
Ek trek my longe styfvol lug en blaas dit stadig en hard uit.

Dis eers as Duiker by die deur praat dat ek agterkom hy het alles gehoor wat tussen Pa en … Ma vertel is.

          “Dit is darem nou behoorlik ‘n fokkop. Wat ek graag wil weet Loopdop-Doep, is hoekom de donner jy springlewendig is as jy veronderstel is om fokken dood te wees?”

Ma staan op. Maak die koffie-goed bymekaar terwyl sy vir Duiker antwoord.

          “Ouboet, kom ek gaan haal eers vir jou koffie en kyk dat die ontbyt aan die gang kom, voor ons verder praat. Dit gee my Ouman ook so ruskans. Want hierdie is jare se sweersel wat nou alles met een slag moet uitkom.”

Sy soen Pa sag op die wang.

          “Koeitjies en kalfies my Man. Julle praat geen gewigtige sake nie. En Duiker as jy en my seun nie weet hoe om dit te doen nie, dan sit julle in stilte. Maar julle gaan hom nie druk om te praat nie.”

Sy praat byna gebiedend voor sy die huis in loop. Daar daal ‘n stilte tussen die drie van ons op die stoep neer. Elkeen van ons besig met ons eie gedagtes.

Duiker loop van die stoep af en gaan staan ‘n ent weg om vir hom ‘n sigaret brand te maak. Hy trek die rook diep in sy longe en blaas dit driftig uit voordat hy weer aan die sigaret trek.

Pa sit en krap denkbeeldige vuilgoed onder sy nael uit. Hier sit ons. Almal geestelik baie ryker as gister omdat ons mekaar gevind het.

Maar as dit dan die waarheid is, hoekom voel ek dan so ontsettend verward en leeg? Hoekom kom lê daar vir een keer in my lewe nie vrede in my nie?

Tuesday 10 November 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 14)



Dis die stilte wat my terugbring na die hede. Ek kan my ore nie glo nie. Ek maak onmiddellik ‘n gruwelike afleiding. Ek is dus ‘n verkragtingsproduk.
Ek is nie in liefde verwek nie. Met die grootmaakproses wat van my elfde jaar af liefdeloos was toe Pa sogenaamd dood is, het ek lankal vrede mee gemaak. Maar hierdie nuwe feit kom sit nie so lekker in my klere nie.

Dis Duiker wat die stilte verbreek toe hy sy keel skraap en skor vra:

          “Wat jy nou sê is dat daardie fokken vark vir Babbels gerape het! Ek hy leef al die jare tussen ons en ons wis van niks?”

Alhoewel Pa se stem sterk is, kan ek die sagtheid daarin bespeur waarmee hy destyds vir my die storie van die Sewe Susters vertel het. ‘n Ongedurigheid neem pos in my en ek staan driftig op. Kyk na Pa en vra moedswillig:

          “Ek kan mos nie net aanneem dat jy my pa is nie. Die pa wat ek geken het, het my liefgehad en sou my nie los in die liefdelose sorg van ‘n vrou wat nie my bloedma was nie. Maar dis seker te verstane. Noudat ek ook weet dat ek ‘n verkragtingsproduk is eerder as in liefde gemaak.”

Ek hoor hoe Babbels haar asem vinnig intrek. Haar vingers sluit bleek in die vuurlig om Pa se voorarm.
Hy vryf gerusstellend oor Babbels se vingers, kyk sag na haar voordat hy my antwoord.

          “Hierdie verhaal van ons lewens het soveel wrang kinkels in dat dit, behalwe bloedtoetse, ‘n ewigheid sal vat om jou te probeer oortuig dat ek wel jou pa is. Daar is een manier hoe ek dit vir jou kan bewys.”

Hy staan op, vat stewig om my arm net bokant die elmboog. Dan trek hy my na die oop kol tussen die bome waar ek die sterre kan sien.
Terwyl hy my so aan die arm hou wys hy met sy wysvinger na die klossie sterre wat dig by mekaar sit.

          “Sien jy daardie sterre is die Sewe Susters. Kyk of jy sewe kan kry.”

Ek sien die sewende ster wat dof agter die ander wegkruip, maar kan nie anders as om soos in my kindertyd vir hom te sê:

          “Ek tel net ses.”

Ek hoor die hartseer in sy stem:

          “Kyk mooi. Sien jy die groot een wat die blinkste is? Dit is die oudste suster. Nou moet jy mooi kyk, die jongste sustertjie is die skaam ene. Sy kruip agter die ander weg.”

Ek laat sak my kop teen my bors. Voel hoe hy my aan my arm trek en omdraai sodat ek na Babbels kan kyk.

          “Daar sit die jongste Susterjie. Die skaam ene wat altyd agter die ander ses gestel is.”

Die besef dat ek en Pa vir die eerste keer in my volwasse lewe langs mekaar staan, slaan my tussen die oë en ek kners hard op my tande om te keer dat my emosies nie met my weghardloop nie.

Met sy hand steeds om my arm, stap ons terug en gaan sit.

Hy kyk ons een vir een aan terwyl hy sê:

          “Dit was nie die einde van die verhaal nie. Natuurlik het Netta ‘n hewige ding gemaak van die feit dat Babbels vir Dirk verlei het, soos sy dit gesien het.
Sy het nie die roede gespaar nie. En ruggraatlose Dirk het die agterdog teen Babbels aangeblaas. Dat sy hom verlei het.”

Babbels neem die vertelling oor. Sy haal eers diep asem voor sy ons neem tot by die oomblik toe Netta op hulle afgekom het.

**********

As Netta histeries gil terwyl sy op hulle afstorm, spring Dirk vervaard regop. Kry homself betaamlik maar laat vir Babbels weerloos en naak op die kombers lê. Sy trek die kombers oor haar om haar naaktheid te bedek.

Hy hou sy hand op en sê gemaak verskonend:

          “Ek is jammer dat ek ingegee het my Skat. Maar sy was so opdringerig en het nie nee vir ‘n antwoord gevat nie. Ek het vir haar gesê ek wag vir jou sodat ons kan piekniek maak.”

Netta is boosaardig kwaad as sy vir Babbels toetakel:

          “Jou gemene klein slet! Kastig die skaam een, maar hier gebruik jou kans om my verloofde te verlei. O ek verfoei jou! Mag jou lewe vol smart en lyding wees tot met jou dood!”

Babbels snik terwyl sy by Netta pleit:

          “Dis nie waar nie Ousus. Hy het my … hy het my … hy …”

Netta raak buite haarself as sy Babbels aan die skouers beet kry en skud terwyl sy gil:

          “Dit lieg jy! Jy lieg jou verradderlike gemors. Hy sou dit nooit doen nie.”

Sy swaai om na Dirk wat nog steeds gemaak verskonend rond staan:

          “En jy! Ek wil jou nooit weer sien nie! Hoe kon jy? Jy kon haar verleiding teengestaan het! As ek terugkom by die huis, moet jy weg wees. As ek jou daar kry, sal ek vir Pappa vertel dat jy vir my gelieg het, dat jy al die tyd getroud was.”

Dirk hou sy hande uit na Netta:

          Nettatjie! Asseblief? Jy weet dat ek vir jou alleen liefhet … “

Dit klink meer asof sy soos ‘n slang sis as sy vir hom sê:

          “Loop! Loop uit my lewe uit jou bedrieër!”

As Dirk omdraai en loop, hardloop Netta in die teenoorgestelde rigting.

Sy steek skielik vas, draai om en gluur vir Babbels aan wat haar geskeurde klere bymekaar maak en haar met die kombers toedraai.

          “Jy kan maar jou tasse ook gaan pak. Hierdie plaas verlaat en nooit weer terugkom nie. En as jy dit waag, sal ek … “

Sy hou vir ‘n oomblik op praat. Kyk Babbels minagtend aan voor sy haarself korrigeer:

          “Of nee, jy kan terugkom nadat jy gaan boete doen het oor jou sondes, want anders breek jy Pappa se hart. Jy is mos sy oogappel. Maar ek sweer ek sal alles van jou wegvat wat vir jou lief en dierbaar is.”

**********

Dis Sussa wat ons herinner dat Netta dit ook so in haar dagboek beskryf het.

          “Sy het net die gedeelte uitgelos waar Babbels vir haar gesê het dat Dirk haar onteer het.”

Nou neem Pa weer oor. Ons almal luister in stilte. Ek luister aandagtig want my lewe is besig om te ontvou. En dit is ‘n bizarre vreemde verhaal. Dit voel of ek buite alles staan en inkyk na ‘n toneelstuk.

Pa sit sy arm om Babbels se skouers. Ek kan sien hy is lief vir haar. En as ek aan die verhaal van die Sewe Susters dink, weet ek eintlik nou dat hy nog altyd vir haar lief was, al was hy met Ma getroud.

          “Babbels het na my toe gekom in haar nood. Ons was saam op skool en het mettertyd mekaar liefgekry. Maar ek het nooit haar mense ontmoet nie.
Jou oupa Grootgert het geglo soos Laban van die Bybel. Die jonger suster kan nie trou voor die oudste nie getroud was nie. Dus het ons ons liefde en verhouding geheim gehou.”

**********

Die sagte klop wat op die dringende gelui van die deurklokkie volg, laat vir Jannus frons. Hy weet Babbels is op die plaas en hy verwag geen ander mense nie.
Hy maak die deur oop en sien dadelik dat die Babbels wat voor hom staan erg getraumatiseerd is.
Die traanmerke op haar wange laat hom versigtig optree as hy haar in sy omhelsing intrek:

          “Wat het jou so geweldig ontsteld Babbels?” Sy stem sag.

As sy haar kop teen sy skouer vasdruk en aan hom vasklou, snik sy sonder ophou. Hy lei haar die huis in en gaan sit met haar in sy arms op die bank. Hulle sit so sonder om te praat en hy laat haar begaan.

As sy uiteindelik effens kalmeer, vertel sy vir hom tussen die trane deur met rukke en stote wat plaasgevind het.

Jannus voel hoe die woede in hom opwel. Maar besef sy eerste prioriteit is nou Babbels.

Sy sluit haar vertelling af:

          “Sy … sy wou nie eens hê ek moes bad nie …”

Jannus val haar in die rede;

          “Ons moet jou dadelik by die dokter kry. Dan moet ons ‘n saak gaan maak by die polisie.”

Sy klou hom weer vas en soebat:

          “Nee, nee asseblief nie Jannus. Ek sien nie kans om dokter toe te gaan nie. En ook nie die polisie nie. Dirk sal net vir hulle vertel wat hy vir Ousus vertel het.”

Jannus bly geduldig:

          “Dan gaan ons net eers dokter toe. Ek sal die heeltyd by jou bly, jou hand vashou.”

Dit neem egter tyd om haar oorreed te kry voordat hulle na die hospitaal se ongevalle afdeling vertrek.

Nadat Jannus vir die personeel vertel het waaroor hulle daar is, behandel hulle vir Babbels met deernis en sorg.
Toe hulle voorstel dat Jannus in die wagkamer gaan wag sodat hulle met die ondersoek kan voortgaan, keer Babbels angstig:

          “Nee! Laat hy by my bly asseblief. Ek wil nie alleen wees nie.”

Die Suster stel haar gerus en laat vir Jannus saam deurgaan na die ondersoekkamer.

Terwyl hulle vir die dokter wag, vryf hy teer oor haar hare. Hou haar hand rustig vas in teenstelling met die woede wat in hom woed.

Die Suster kom met ‘n ander vrou in die ondersoekkamer. Sy stel hulle bekend aan Anna van Staden, ‘n traumaberader.

          “Sy gaan solank met jou gesels Cora. Terwyl ons vir die dokter wag. Hy word net opgehou in die teater.”

Babbels se regte naam klink vreemd in Jannus se ore. Hy dink met ‘n stil glimlag in sy binnekant hoe hy vir haar die naam Babbels gegee het omdat sy so baie praat. Hulle was toe nog op hoërskool. Nou noem almal haar so.

Hy besef weereens dat hy lief is vir hierdie gebroke stukkie mens wat so verwese hier lê en haar laat lei deur sy teenwoordigheid.

Die suster moes vir die berader genoem het dat Babbels vir Jannus by haar wil hê, want sy verwys nie daarna dat hy buite kan gaan wag nie.

Die manier waarop die vrou met Babbels werk is rustig en kalmerend. Sy is professioneel maar menslik.

Teen die tyd wat die middeljarige dokter opdaag, lê Babbels rustig terug. Hy hanteer Babbels asof sy van porselein gemaak is. Berei haar op die ondersoek voor voordat hy haar met instrumente benader om die ondersoek te voltooi.
Hy stel haar voortdurend gerus terwyl hy besig is.  

Jannus voel hoe Babbels sy hand vasklou terwyl die dokter besig is met die ondersoek.
Die trane wat by die hoeke van haar oë uitloop, vee hy lomp af terwyl hy haar saggies troos.

Wanneer die dokter klaar is, stroop hy die handskoene af. Hy kom sit op die kant van die bed en kyk vaderlik na Babbels en Jannus.

          “Ek sal in my verslag kan skryf dat jy wel verkrag is Juffrou. Maar daar is iets anders…”

Hy bly ‘n oomblik stil.

          “Is julle seksueel aktief?”

Sy reguit vraag laat vir Jannus en Babbels bloedrooi bloos. Hulle antwoord nie hardop nie en kyk stil na mekaar.

Jannus knik skaam:

          “Dit was net een keer dokter.”

          “Een keer is genoeg om ‘n meisie swanger te maak Jongman.”

Hy kyk weer na Babbels:

“En ek vra want ek vermoed dat jy swanger is. Ek kon dit tydens die ondersoek aan jou baarmoedermond sien. Ek sal graag wil bloed trek om te bevestig.”

As Babbels steeds broos en skaam toestemming gee, begin die dokter voorbereidings tref om die bloed te trek.

**********

Die besef van wat Pa vertel, skud my. Dus is ek wel in liefde verwek. Ek is Pa en Babbels se kind.
Maar hoekom sou almal dan dink dat ek Dirk se kind is.

Voor ek kan vra, praat Duiker:

          “En? Wat het jy met daardie donnerse verkragter gemaak?”

Pa kyk van hom na Babbels:

          “Babbels is die aand in die hospitaal opgeneem vir observasie. Toe het ek hom gaan opsoek. Al wat ek nou vir jou kan en wil sê Duiker, is dat hy na my besoek nie uit sy oë kon sien nie en hy sou nooit kinders kon verwek nie.”

Duiker lag saggies:

“Hie, hie, hie, sò wil ek dit hê swaer, sò wil ek dit hê.

Die nag het al vêr gevorder. Maar almal sit vasgenael om die volgende deel van die verhaal aan te hoor.

          “Hoe het dit gekom dat Pa met M … Netta getroud is?” wil ek weet.

Ek kry die woord ‘Ma’ nie uitgespreek nie. Die flarde van my lewe begin stelselmatig bymekaar kom, verweef as iets wat seker een of ander tyd vir my ook sal sin maak.


Ek wag geduldig dat Pa die storie gaan haal waar dit vir soveel jare geberg was. Ek kan sien dat dit vir hom moeilik is. Maar dan onthou ek, so was my hele lewe moeilik en hy was nie daar om dit makliker te maak nie.