Tuesday 10 September 2013

Die Weskus verwelkom my ...


 Ek lê gisteroggend nog in die bed. Het vroeër as gewoonlik my oë oopgemaak (it is natuurlik glad nie ‘n aanduiding dat ek wakker is nie).

Iets in die boom voor die venster trek my aandag. Eers dink ek dis die wind, maar die res van die boom beweeg nie. Dis toe ek die slaap uit my oë uit vee, dat ek  sien dis die aller kleinste voëltjie. Hy is besig om van takkie tot takkie te wip. Wat se voëltjie dit is weet ek nie. En teen die tyd wat ek wakker genoeg is om aan die kamera te dink, het hy reeds vertrek na iewers anders.

Met die koue, nat weer in gedagte, is die verrassing aangenaam toe ‘n opregte soel lentedag hom voor my voete ooprol. Die see is groen en die branders baljaar tot teen die rotse soos opgewonde kinders. Jakkalsvlei is vol en die rivier vul steeds die water aan. En soos dit hoort, trek dit die watervoëls.

By die kerk hoor ek die mense praat:

“…..die meeste reën in ‘n baie lang tyd…..”

“…..nog nooit so nat winter beleef vandat ons hier ingetrek het nie…..”

“…..is die blomme nie pragtig hierdie jaar nie?.....”

“…..as julle nou wragtig mooi blomme wil sien…..”

 



Grepies uit verskeie gesprekke vind hulle lêplek in my. Die ryk taal en ander Afrikaanse dialek met die aardse tongval word aangevul met beskrywende handgebare.

My oë dwaal oor die mense. Deur die blou-blou lug. Oor die groen gras. Die daisies op die sypaadjie. En die dankbaarheid wat in my kom lê met ‘n rustigheid wat my verstand te bowe gaan, vul my - maak my skatryk.

Dis eers toe ek later in my kar klim en sommer net die pad vat, wat ‘n wete in my nesskop. Ek dink die Weskus het my verwelkom. Of ek dit ooit weer so gaan sien in die seisoene wat kom, weet ek nie. Maar die beelde is vasgelê diep in my. Dit kleur my gedagtes in met nuwe kleure ... nuwe verf ... nuwe herinneringe.

 Die natuur van die Weskus het my waarlik verwelkom.