Wednesday 4 November 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 13)



Ek kyk van Duiker na die man wat voor hom staan en terug. Die man wat my pa moet wees.
Verskillende emosies maal deur my. Die woorde vind egter nie hulle pad oor my lippe nie.

Duiker is bleek en daar is ‘n duidelike wit kring om sy mond. Ek kan sien dat hy moeite het om sy woede te beteuel.
Vir ‘n oomblik dink ek hy gaan vir Pa met die vuis bydam.

Hy praat afgemete:

          “Jou bliksem! As ons nou nog in doerie voor-jare was het ek jou fokken kakebeen nou, hier, op hierdie donnerse plek af ge-fokken-donner.”

Ek hoor hoe Marda se Ma haar asem skerp intrek. Sy is duidelik nie sulke taalgebruik gewoond nie.

Tòg stap sy teen Duiker vas en slaan haar arms styf om sy lyf. Sy kom egter nie verder nie as … : “Ouboet! … “ toe druk Duiker haar ferm van hom af weg met sy aggressie gerig op haar:

          “En jy Babbels! Jy wat jou mense wat vir jou lief en dierbaar is, net so in hulle moer in stuur en net fokken spoorloos verdwyn!”

Hy gluur hulle albei dan aan. Sy woorde is hard en kras:

          “Wa … wat dink julle van julle fokken self?” Hy wys na my.

          “Daar los jy jou klong net so in ou nydige donnerse Netta se sorg om hom skrik op die lyf te jaag vir die res van sy bliksemse lewe! Ja, kyk mooi Loopdop Doep. Hier staan jou klong! Hy wat sonder die liefde van ‘n vader en moeder moes grootgeraak het.”

Marda gaan staan tussen haar pa en ma. Sy lyk geskok en verward.

          “Pappa, Mamma, wat gaan aan? Praat hierdie man die waarheid? Waar pas alles dan inmekaar?”

Dit gee vir Pa die geleentheid om voor te stel dat ons gaan sit dan kan hulle, hulle storie vertel.

Ons gaan terug vuur toe. Die gaar vleis vergete. Kleintjie staan beteuterd, met hangskouers langs die vuur.
Hy praat met Pa, maar hou vir Duiker in die oog. Ek is seker hy het Duiker se tirade gehoor en is bang hy kry die pak slae van sy lewe omdat hy gelieg het.

          Ek het gepoebee Menee Loepdop. Soes ons geprêktis hat. Ek het gesê dis’ie Menee Loepdop wat in’ie pitret is’ie.”
Pa lig sy hand en stel vir Kleintjie gerus.  

Tot nou toe het Pa my glad nie aangespreek nie. Skaars in my rigting gekyk. Ek het wel agtergekom dat Babbels my onderlangs dophou.

Dit voel soos ‘n ewigheid voordat Pa begin praat:

          “Ek moet julle terug vat na die tyd toe Netta vir Dirk en Babbels agter die duin aangetref het. Let wel ek sê aangetref en nie betrap nie.”

Terwyl Pa praat, dwaal my gedagtes terug die verlede in en die tonele, soos wat Pa dit beskryf, speel voor my in my geestesoog af.

“Babbels was ‘n jong lewenslustige meisiekind. Skaars al vrou toe Dirk vir die eerste keer saam met Netta plaas toe gegaan het.
Hy toon dadelik meer as platoniese belangstelling in Babbels. Alhoewel sy gevly is, maak dit haar tòg ook ongemaklik.
Dié betrokke naweek was Netta besig om vir Ma-Let te help koekbak en sy kon nie saam met Dirk gaan piekniek hou nie. Toe lok hy vir Babbels saam.”


**********

Dirk kry vir Babbels waar sy buite besig is om die hanslammers melk te gee.
Hy staan ‘n oomblik stil en beskou haar wellustig van bo tot onder.

Wanneer sy opkyk en hom gewaar, glimlag sy spontaan breed.

          “Die lammers hou jou besig my Meisie.” sê hy niksseggend.

Sy antwoord hom vriendelik en glimlag steeds.

          “Ag nee wat, ek is darem nou klaar. Nog net die laaste slukkies en dan bottels was.”

          “Kan ek jou help?” vra hy terwyl hy, terwyl hy sy hande dieper in sy broeksakke indruk.

Sy lag guitig:

          “Nee dankie Dirk. Jou wit handjies is te sag vir hierdie wilde kinders. En die bottels is vinnig om te was.”

Sy is te naïef om op te merk dat Dirk hom bloedig vererg oor die verwysing na sy hande. Hy steek egter sy woede weg agter sy glibberige glimlag as hy haar suggestief antwoord:

          “Ek sal jou nog leer wat hierdie wit, sagte handjies goed en lekker kan doen my Meisie.”
Sy lag sy woorde af en gaan aan om die melkbottels te was.

As hy haar nooi om saam met hom te gaan stap, klink dit heel onskuldig:

          “Wil jy nie saam met my gaan stap nie? Dan wys jy bietjie hierdie plaas vir my. Vertel my waar die naam Grootdrink vandaan kom. Jy lyk vir my soos ‘n natuurkind wat hierdie dinge sal weet.”

Uit die aard van haar sonnige geaardheid sien sy niks daarmee verkeerd nie en stem in.

Dirk sê hy gaan net gou ‘n kortbroek aantrek en dan kan hulle stap.

As hy by die huis uitkom met die piekniekmandjie en kombers. vra sy verbaas:

          “En dié nou? Sou jy en Netta nie gaan piekniek maak het nie?”

Hy kyk vinnig oor sy skouer na die huis en antwoord sag:

          “Netta is nou eers besig om vir Ta-Let te help. Toe sê sy jy moet sommer saam met my gaan.”

Hulle stap en Babbels praat aanmekaar. Vertel vir hom alles van die plaas wat sy in haar wese liefhet.

Hy maak net af en toe die regte geluid om voor te gee dat hy haar vertelling interessant vind. Hy stuur haar agter die sandduin in. Hier is hulle buite sig van enige nuuskierige oë. Hy weet Netta sal hom nie kom soek nie, want sy het gesê dat hulle te laat gaan klaarmaak.

Hy gooi vir hulle die kombers oop, vat haar hande en help haar om te gaan sit.

          “So ja. Nou kan ons die lekker koel wyn geniet saam met die mandjie wat Netta vir ons gepak het.”

Dirk kyk haar nie in die oë nie en skud die leuen wat hy vertel, ongeërg van hom af en kom sit styf langs haar.

Hy trek patroontjies op haar hand met ‘n grashalm. En terwyl hy sag met haar praat, laat hy sy kop in haar rigting sak:

          “Jy weet my Meisie, ek en Netta is nou wel verloof, maar my hart behoort aan jou. Vandat ek die eerste keer my oë op jou gelê het, het ek geweet dis vir jou wat ek wil hê.”

Dit maak vir Babbels ongemaklik en sy skuif haar hand buite bereik van die grashalm.

Sy kyk vir Dirk met groot helder blou oë terwyl sy vir hom sê:

          “O my jinne Dirk. Dit kan nie wees nie. Ek hou van jou, maar nie op daardie manier nie. En so by so kan ek mos nie my suster se hart so breek nie.”

Hy gee egter nie so maklik op nie. Hy is die jagter en sy die prooi wat hy in sy visier het.

Hy strek sy arm en streel sag oor haar arm terwyl hy weer nader aan haar skuif. Voordat sy kan keer druk hy sy mond gulsig oor hare en soen haar ru.

Babbels wil opspring terwyl sy geskok uitroep:

          “Nee Dirk! Hoe durf jy!”

Dirk kry haar egter aan haar arms beet en druk haar met geweld plat op die kombers. Terwyl hy haar arms en lyf vaspen met sy lyf laat hy sy lippe oor haar gesig en lippe dwing.

          “Kom nou my Meisie. Moenie maak asof jy dit nie ook wil hê nie. Ek het mos gesien hoe jy na my kyk.”

Sy stoei om los te kom. Maar hy is te sterk vir haar. Terwyl hy haar rok opdruk en met sy een hand haar onderklere met geweld afskeur, sê hy met sy tong nat in haar oor:

          “Nou sal ek jou leer wat hierdie sagte wit handjies aan jou kan doen my Meisie.”

Babbels begin pleit:

          “Nee asseblief Dirk. Jy wil dit nie regtig doen nie. Ek smeek jou laat my gaan, ek sal vir niemand vertel nie.”

Sy begin huil en spartel tevergeefs teen die sterker Dirk wat doelgerig voortgaan.

In die kombuis vee Netta die laaste meel van die deegtafel af. Ma-Let vee haar hande aan haar voorskoot af en sê vir Netta.

          “Ai dankie my Kindjie. Met jou flukse hulp het ons nou gouer klaargekry as wat ek voorsien het. Nou kan jy gou julle mandjie pak en dan gaan verras jy vir Dirkman.”

Netta soen haar ma teen die voorkop:

          “Dankie Mamma. Hy sal daarvan hou.”

Sy stap uit om die mandjie te gaan pak.

Ma-Let is nog besig om die laaste baksels weg te pak in die spens toe Netta inkom:

          “Dis snaaks, die mandjie en die piekniek-kombers is weg.” sy sê dit asof sy met haarself praat.

Ma-Let antwoord so tussen die werk deur:

          “Dirkman het dit seker saam geneem met die hoop jy kry vroeër klaar en dat jy by hom sal gaan aansluit my Kind.”

Netta soen haar ma en stap in die rigting van die duin. Haar en Dirk se gunsteling piekniekplek. Soos Dirk altyd sê:

          “Dan is ons so bietjie weggesteek van nuuskierige oë. Netnou word klein Babbels slim as sy ons sien.”


‘n Ligte glimlag speel gelukkig om haar mond.

No comments:

Post a Comment