Monday 14 July 2014

Vir vanaand sal ek net jou hand vashou ...

Foto: Magical Photo Memories



Toe ek jou vanaand op die koue,
winderige strand raakloop,
sonder skoene en met net 'n dun rok
aan jou lyf, het ek die koue trotseer
en my jas om jou skouers gehang,
sodat jy darem so bietjie van
my liggaamshitte kon vang.

Ek het jou uit die wind na die
kaggelvuur gelei, jy het jou
op die mat voor die vuur neergevly
en die jas van jou skouers afgedruk.

Die sjerrie in die glas wat ek jou
aanbied glinster amber soos jou oë -
en dit weerspieël die glo van onskuld
in die vertroue gevind in die soel somerwind.

Later toe ek terugkom uit die kombuis,
met jou koffie vol suiker gestrooi, lê
jy met die blos op jou wange-mooi vas
aan die slaap - en ek weet jy is iewers
in niemandsland, daar waar die monsters
van die verlede jou in vrede kan laat
omdat jy weet dat ek by die nanag-vuur
by jou waak.

Dan gooi ek weer my jas oor jou
om die koue van jou weg te hou.
Ek laat die laaste stomp uitbrand.
 
Vir vanaand sal ek slegs jou hand vashou...


© Christo du Plessis

No comments:

Post a Comment