Foto: Magical Photo Memories |
Floors Flenters
Floors
Flenters was 'n krom, maer man, wat vir ure op sy huis se rooi stoep kon sit en
staar. As ek hom van oorkant die pad dopgehou het, het ek vele kere al gewonder
na wat hy staar? Ek het die rigting van sy blik probeer natrek met 'n denkbeeldige
lyn en elke keer het ek afgekom op niks.
Ek
kon my horlosie stel op sy daaglikse roetine. 06:00 - skuifel hy sukkel, sukkel
na die klein, harde, houtbankie toe met 'n stomende beker koffie. Dis 'n
afgesplinterde, donkerblou, erde beker. Dié wat net groter was as 'n koppie.
In die winter kon mens die stoom beter sien
spiraal uit die beker uit. In die somer het ek na aanleiding van sy luide
geslurp, aangeneem dat die koffie warm moet wees. En altyd was albei sy
verweerde smal hande met lang vingers om die beker gevou. So asof dit die hitte
wou binne hou. Nou dat ek daaroor dink was dit seker net die eerste paar slukke
wat warm was. Want Floors het so aan die beker sit en suie tot 08:00.
08:00
- Dit was die tyd wat Floors die beker versigtig, soos kosbare porselein, op
die stoepmuur neergesit het. Sy oormekaar-gevoude bene moeisaam ontknoop het en
voor hom uitgestrek het, tot in die sonkol wat lek, lek aan die stoep.
Van
iewers af het hy 'n kromsteel pyp uitgediep. En soos met die koffie was dit net
die eerste drie trekke wat aktief was. Dan het die pyp ook stil tussen die
vingers gelê. En Floors het gestaar na iets. Of was dit dalk na iemand? Iemand
waarvan net hy bewus was. Wat niemand anders kon sien nie. Sou hy ook die
persoon hoor? Of was sien genoeg?
Ek
was nog nooit by die een of ander vorm van 'n wasmuseum nie. Maar ek dink ek
weet hoe die wasbeelde voorkom. Roerloos, sonder uitdrukking soos Floors
Flenters gesit het tussen 08:00 en 11:00. Teen hierdie tyd was daar feitlik
volson op die stoep. As Floors homself rankerig van die bankie af opgehys het,
was ek seker kon jy bene en ledemate wat in plek skuif, hoor kraak. Nou word
die pyp lêgemaak langs die blou beker. En
dis asof die son bietjie meer lewe in hom ingebak het. Want hy beweeg makliker
as hy weer die huis instap.
Hy
het nie lank in die huis gebly nie. As hy uitgekom het. het hy in sy een hand
'n klein erde potjie gedra. In die ander hand het hy die bottel met die
bruinerige vloeistof ingedra.
Vroeër
toe hy nog af en toe gepraat het was sy enigste opmerking as hy die bottel in
my rigting waai: "Dop vir die skop. en wyn vir die pyn." Later het hy
nog net die bottel in my rigting gelig en 'n ruk daarna het hy iemand in sy eie
wêreld met die bottel begroet.
Ek
het altyd gewonder wanneer hy dit wat in die pot was gaar gemaak het?
Af
en toe kon mens sien hoe hy sy "skop" in die bloubeker uitgooi. Dan
het hy albei hande in dieselfde ritueel om die beker gevou en met suinigheid
geslurp-suig.
Dis
eers as die aandlig hom verander het in niks meer as 'n donkerkol nie, dat hy
houvas, houvas weer die binnekant van sy huis opgesoek het. Daar waar mure hom
van die buite wêreld verskans. Waar sy doen en late wegraak vir ander se oë om
sy bewegings dop te hou.
Tot
eergister. Hy was al op die stoep toe ek uitkom. Maar die vingers was nie om
die beker gevou nie. Sy bene was lank voor hom uitgestrek. Sy arms oop asof hy
iemand wou omhels. En aan sy een voorvinger het die beker slap gehang.
Hy
het na bo gestaar. Ek het weer my denkbeeldige lyn getrek om sy blik te volg.
En daar aan die einde van my streep, het ek 'n Engelwolk gesien, wat kompleet
gelyk het of sy vir Floors Flenters nader wink.
©
Christo du Plessis
No comments:
Post a Comment