Tuesday 29 July 2014

Die see is kwaad vanaand ...

Foto: Christo du Plessis             
Ek gaan sit vroegaand op die rotse. Dit is hoogwater.

Ek begin lief word vir die see. Ek hou nog nie van die sand nie. Trek selfs nie eens my sokkies en skoene uit as ek op die strand gaan loop nie.

Onwillekeurig dink ek aan my Moeder wat altyd vertel het hoe sy gehuil het toe hulle in 1953 in Tsumeb aangekom het uit die myndorp Blyvooruitzicht (ek hoop ek spel dit reg), in die destydse Duitswes Afrika.

Ek kon wel nie openlik huil toe ek hier aankom nie, want dit was uit eie keuse wat ek die pad Weskus toe aangedurf het.

My oorle Moeder het egter in dieselfde asem vertel dat sy nooit weer uit Duitswes wil trek nie.

Toe ek hier aankom het iemand vir my gesê: "Jy is of baie braaf of vreeslik stupid om hierdie stap te neem."  Ek glo steeds ek is eerder braaf as stupid.

Die see klap kwaad teen 'n rots vas en my gedagtes keer terug na waar ek op die rots sit.

Wit skuim borrel kompeterend die lug in om te kyk wie die hoogste kan reik.

Dit was seker die sewende brander.  Die bewering is mos dat elke sewende brander 'n groot een is.
Maar die een daarna is ewe groot en storm vreesaanjaend op die rots af.  Dit lyk op Neptunes die branders bloots ry.  In plaas daarvan dat hy hulle probeer tem, jaag hy hulle wild en dwing hulle een na die ander teen die rotse vas.

My gedagtes loop wye draaie.  En ek hoor Znip se stem in my ore: "As die see die branders so teen die rotse kan verpletter, dink net wat hy met 'n mens kan doen."

So trek die stelling en die brute krag van die see my gedagtes in tot by Ingrid Jonker.  Stilweg wonder ek oor haar besluit. 
Het die koue water haar nie net vir een vlietende oomblik laat dink om van besluit te verander nie?
Was haar geliefdes voortdurend in haar gedagtes of het sy alle emosies en gedagtes verban sodat haar verstand en hart leeg, haar lyf meedoënloos teen die water ingebeur het?
Was die sand en skulpe grof en snydend skerp, of het dit soos satyn onder haar voete gevoel?
Was die rotse hard en het haar liggaam ongenaakbaar teen hulle wande gestamp?  Of het dit vir haar soos donsveer kussings gevoel?
Was die water asemsnak koud? Of het dit haar snoesig toegevou soos 'n warm kombers?

Die sproeireën van die soveelste sewende brander bring my plotseling terug van my donker gedagtes.  Dit begin koel raak en ek het Oosweer klere aan.

Ek maak my gedagtes en lyf bymekaar.  Kyk verwonderend na nog 'n brander wat sy kantgordyn hoog die lug in laat wapper.

Ek begin lief raak vir die see.  Maar nog op 'n distansie.

Ja die see is kwaad vanaand.

No comments:

Post a Comment