Vandat ek my voete in Lambertsbaai, letterlik
en figuurlik aan wal gesit het, het ‘n volle jaar al verloop.
|
Foto: Magical Photo Memories |
Ja, ja ... ek weet die “half leë” profete
gaan nou sê die tyd gaan maar vir almal so vinnig verby en wat maak mý nou so
spesiaal?
Dit, my liewe vriende, is reeds waar die
knoop vir my ook lê.
Wat maak mý nou só spesiaal?
Die antwoord is ‘n eenvoudige “niks”.
Ek het die afgelope jaar my bipolêre jaar
gedoop.
En nee, ek is beslis nie ‘n bipolêre lyer
nie.
Eerder ‘n doodgewone depressie lyer.
Maar my jaar het gemoedskommelinge
beleef. Van eufories hoog tot swaar,
donker, neerdrukkend.
Die afgelope tyd het die winter nie net
yskoud posgevat aan die Weskus nie, maar ook in my hart van harte.
Ek hou nie van die winter nie. Al weet ek dat die yskoue winter nodig is om
die volmaakte mooi lente te kan beleef.
Wat weer vir die baldadige, sonnige somer moet sorg. Waaruit die ryk herfs voortvloei net om die
sirkel te voltooi en weer die winter in my skoot te kom gooi.
|
Foto: Christo du Plessis |
My absurde verlange gaan so:
Vanaand verlang ek na bekende strate
en boererate ongevraagd wat tussen
plooie kom lê sonder om iets
van natuurlike genesing te sê
Vanaand verlang ek na lepellê
in die nag koel met net ‘n liggaam
soel om my droogte te breek
Vanaand verlang ek ...
Vanaand verlang ek na bekende strate
en komberse vol gate wat ‘n honger lyf
probeer bedek waar hy bewend in ‘n hoek
lê en kreun omdat die wolke van ongenade
storms kwetsende woorde oor hom laat uitreën
Vanaand verlang ek na die bekende strate
vol met uitgevrete vrate wat geil die
vettigheid
oor mondhoeke laat drup as seerkry honger
die vrede gulsig probeer opslurp
Vanaand verlang ek ...
Vanaand is bekende strate ver en die naglint
word geknip sonder om die bekendheid
saam te bind – stil het bekende strate
net verlate in die vreemde in my hart kom lê
En vanaand verlang ek ...
Sommer so sonder rede
|
Foto: Christo du Plessis |