Aangesien hierdie storie vir langasems is, gaan ek dit in hoofstukke oor die verloop van ‘n paar dae plaas.
Ek het so paar maande gelede
besluit ek wil vir Somerkoelte Tehuis vir Bejaarde Persone in Lambertsbaai help
om fondse in te samel om hulle eetkamer op te knap.
Maar in mens se kop kan jy mos
die hoogste berge oor, die diepste seë oorwin en is jy so sterk dat jy vir
Herkules in ‘n Ysterman-kompetisie ore kan aansit.
Ek wou egter glad nie iets so
groot en buitengewoon doen nie. Ek wou eenvoudig die afstand tussen Clanwilliam
en Lambertsbaai (63 km) te voet aflê.
Nou kyk, dis nie die eerste
keer wat ek sou stap nie. Nee! Ek het darem die Kaap-mars (in die dae toe die
Weermag dit nog aangebied het) ‘n keer of twee-drie gestap. Of was dit nou
nader aan 7?
Dan het ek seker 40-plus
voetslaan roetes, van verskillende moeilikheids grade, op my kerfstok.
Maar nou moet julle ook
onthou, al hierdie stappery het ongeveer 20 jaar gelede gebeur.
Toe ek die gedagte uitspreek
en Somerkoelte se Beheerraad keur die fondsinsameling goed, toe weet ek die vet
is in die vuur. Nou is daar nie omdraai kans
nie.
Ek het borge per km begin vra
en wonderlike reaksie gekry. Maar later meer daaroor.
Alles was gereël en reg. Die
ondersteunings voertuie. Die verversings vir energie en krag. Die medisyne vir
seer spiere en stukkende plekke.
Maar natuurlik was daar die
doemprofete ook, wat vir my lyste so lank soos my voorarm gegee het van wat
alles kan
verkeerd gaan.
En dan die ouens wat my nie
regtig ken nie, wat summier die uitspraak gemaak het dat ek dit nie gaan maak nie.
Ek dink as hulle weddenskappe
gevat het op my vermoë om die roete te voltooi, het die hoogste bieër my seker
met veiligheid 15 km gelyk gegee.
Die ergste van alles is dat
die manne nie gedink het die stories bereik my ore nie. Ek het dit maar in
stilte aangehoor. Want ek ken mos my eie vermoë.
En ek weet mos dat die Here
saam met my stap en daar waar ek met seer voete en ander dinge sou sukkel, sal
Hy dit vir my draaglik maak om te voltooi wat ek aangepak het.
Omdat die mense nie my
geskiedenis van stap geken het nie, wou almal raadgee. Van wat ek moet aantrek
tot hoe ek moet asemhaal. En natuurlik alles tussen-in.
So breek D-dag toe aan op 30
Mei 2015.
... word vervolg ...
No comments:
Post a Comment