Tuesday, 25 November 2014

Trofee van vrees ...



"Hulle" sê mens moet jou vrese trotseer om dit te bowe te kom.
Maar wat "hulle" nie altyd sê nie, is of dit tel as jou vrees ongevraagd op jou afkom.
Ek kan baie goeters trotseer. En ek moet by sê ek is nie bang vir krokodille nie. (Het al blad geskud met een.)
Vir kameelperde het ek geen vrees nie. Ek het 'n wilde een probeer aanjaag sodat hy voor 'n skare toesighouers kon verby paradeer.
Skerpioene? Nee wat. Het met hulle gespeel as kind. En slange het ek aangehou as troeteldiere.

Maar ek moet bieg! Ek het een heilige vrees vir..... ja sowaar. Ek is skuitbang vir muise en rotte.
En nou praat ek nie van rotte so groot soos katte in die kwartiermeester se stoor nie.
Neeeeee!! Ek praat van gewone witrot en muis troeteldiere en veldmuise. Overgesetseinde slangkos.


Tydens my troetelslang se lewensduur was ek dikwels blootgestel aan my vrees. Want ek moes vir Koos voer.


So gebeur dit dan die een slag dat die rot my voor aan die hemp vasgeklou het in sy ontsnap poging.
Ek het met 'n klein rondekop hamer in my hand gestaan. En in my poging om die rot van my hemp af te kry, het ek myself geslat dat dit lyk of ek in 'n tennisbal haelstorm geloop het.

Maar toe Koos die tydelike met die ewige verwissel besluit ek, ek sal nou maar my eie troeteldier wees.
Dus hat ek toe geen probleme met die voerproses nie.

En toe kom my klein Asempie van Genade so jaar gelede in my lewe.
Sy is nou al yslik groot en verwag haar tweede werpsel.



Haar dankbaarheid dat ek haar lewe gered het strek nou sover dat sy vir my lewende geskenke aandra.
En sy dink dit goed om hulle vir my op die bed te los.

So kom ek Sondag namiddag net voor die son aan die Weskus sak, by die huis.
Moeg gekuier en ek sien uit om rustig op die bed te ontspan, vang my oog vir Kat voor die laaikas agter die kamerdeur.
Sy kan natuurlik nie onder die kas in nie. Maar ek sien dat sy dit ernstig oorweeg om die kas haarself op te tel om wat ookal onder die kas is uit te kry.

Kort, kort kom spring sy op die bed pernaaiu en koer hier om my totdat ek my vererg en opstaan om saam met haar onder die kas in te kyk wat sy dan nou so graag wil uit hê.
Ek kyk my oë moeg en sien niks.
"Ek sal nou die verdomde kas skuif dan kan jy sien hier is NIKS onder die kas nie" brom ek kaalvoet. En staan van die vloer af op.

Manne!! Dis toe ek daardie kas beweeg wat daar 'n veldmuis so groot soos 'n otter onder daardie kas uitvlieg.

Hy pyl reg op my kaalvoete af. En soos 'n jong  gimnas druk ek met my een hand op die laaikas en stuur hierdie 100 kg massa ligvoets die lug in. So by so dat ek so rukkie in die lug hang net om te kyk wat die muis se planne is.

Genadiglik volg Kat die muis blitsvinnig en druk hom aan die oorkant van die kamer teen die vloerlys vas.
Ek prys haar dat sy so vinnig intree om my lewe te red. Maar dit was geheel en al onverdiend.
Want sy ruik hom van die punt van sy stert tot op sy snoet en terug, spring op die bed en was haar gesig asof my lewe glad nie bedreig word nie.

Met die afkomslag probeer ek die bed raak trap maar misreken my en ek beland foutloos op die vloer. Voete netjies langs mekaar. Arms gestrek vir balans.
Uit daardie posisie vlieg ek by die voordeur verby tot in die kombuis om die besem te kry.
Bangwees is een ding! Maar om darem te wil moor is totaal ongevraagd. Dalk wag daar 'n hele kroos angstig vir die arme ding om huis toe te kom.
Ek maak die voordeur maksimum grote oop, kry die muis onder die besem in en vee.
Maar nou moet julle onthou hierdie muis het die lyf van 'n jong speenvark.
Dus laat hy hom nie sommer in 'n rigting vee nie.
Hy kies om sitkamer in te vlug. En daar raak meneer toe weg.

Ek keer die plek om! Soek onder die bank. Dis bitter moeilik om 'n rusbank te skuif as jy op hom staan.
Agter die tafel sover as wat die besem dit kan beweeg.

Toe doen ek die dapper ding. Ek dink dis die oomblik toe ek besluit om my vrees te trotseer en klim versigtig van die bank af om my soektog agter die gordyne voort te sit.
En daar sit hy. Gereed om aan te val! Maar ek is mos nou braaf. Druk hom weer vas met die besem en VEE!!
Die kalant was reg vir my en hy storm op my weerlose kaalvoete af. Ek druk op die besem en lyk soos Ockert Britz, die paalspriner van weleer.
Draai teen die plafon dat my spore daar verewig.
Ek kom af grond toe en trap fyntjies die muis se oor onder my groottoon op die vloer vas.
Die fluweel pels wat onder my toon rol laat my die tweede poging vir die paalspring oorwinning uitvoer.
Die aggresiewe muis kruip in 'n leë cd rak in, hergroepeer en maak gereed vir die volgende aanval.

Ek fnuik hom, gryp die rak en Superman by die voordeur uit. Skud hom in die blomme onder die stoep uit!
Hol met die spoed van witlig terug in die huis en klap die deur toe.

Van pure verligting skink ek vir my 'n konka rooies en sak weer op die bed neer.
Ek vat een groot sluk. Rol dit rustig in my mond rond en wou net sluk toe Kat deur die venster sweef. Met! die muis in haar bek.
Sy plak hom tussen my enkels neer en land op my bors met haar oorwinnings spin dat sy weer vir my 'n trofee gebring het.


Met die opspring van die bed af stamp ek my kop teen die plafon. Ek maak 'n tuimelrol tot by die kombers wat aan die voetenend van die bed lê.
Sonder om grond te raak, vou ek die muis in die kombers toe en land binne in die agter erf by die buurman se muur.

Ek skud die muis in sy erf uit. Nie omdat ek nou nog bang is vir die muis nie! Nee my vrese is nou getrotseer en oorwin.
Ek verhoed net dat Kat hom weer vir my kom offer.

Die buurman se kat het darem ook lewende geskenke nodig.

No comments:

Post a Comment