So breek D-dag toe aan 30 Mei
2015.
Hy het die een ondersteuningsvoertuig
beman.
By Somerkoelte het Willem en
Rita Pieterse, van die ander ondersteuningsvoertuig, ons gekry en so het ons
saam Clanwilliam toe vertrek.
Ek het my gedagtes doelbewus
in ander rigtings gestuur om nie ag te slaan op die pad nie. Gelukkig was dit
ook nog nagdonker en het dit gereën.
Toe hulle my aflaai op die
hoek van die inkomende hoofpad en die hoofstraat, het my kop gespin. Dis of die
werklikheid ver verwyderd was.
Ek het gedagtes soos duisende,
verskietende sterre in my kop gehad. In retrospek kan ek nie onthou wat ek gedink het nie. Ek
weet nie eens of my hart behoorlik geklop het nie.
Enige een wat die pad tussen
Clanwilliam en Lambertsbaai ken, weet dat Bak-se-rug nie ‘n man se maat is nie.
Dit is ‘n lang en aanhoudende
klim vir byna 10 km. Daarna is die afdraande net daar om jou bly te maak, dan
begin jy weer klim.
Genadiglik was dit donker, so
ek kon nie die pad ver vooruit sien nie. En dit het gereën, dus was my sig so
bietjie aangetas.
Ek het probeer om met ‘n
reënjas te loop, maar nie 100 jaar nie toe sweet ek meer as wat ek natreën.
Nodeloos om te sê ek het verkies om nat te reën eerder as om nat te sweet.
Ek het besluit om die voertuie
op die pad te tel wat by my verby ry terwyl ek stap. Dit het gehelp om my
gedagtes te okkupeer sodat ek nie die roete vooruit kon dink nie.
So elke nou en dan as dit neig
om te gebeur, hoor ek my Geliefde se stem wat vir my sê: “Jy hou van stap. Jy kan dit doen en jy gaan
klaar stap. Dink daaraan dat jy iewers heen stap om foto’s te gaan neem.”
Met die gevolg ek het vir my
‘n gemaklike spoed gekies om te stap. En ek kon dit volhou sonder om myself te
moor.
Daar is altyd negatiewe
aspekte aan alles. Op die donker-nat-pad was dit die voertuie van vooraf wat my
genoop het om van die teer af te klim en op die gruis te stap.
Ten spyte van Willem en Rita
wat ‘n ent voor my uitgery het met waarskuwings ligte aan, het veral die manne
in die groot lorries hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle het nie eens probeer
om net hulle voete van die brandstofpedaal af te lig nie.
Eerstens ruk die wind van die
lorrie my dan van balans af en tweedens gooi hulle die water, wat opskiet van
die pad af, oor my. Ek het maar gaan stilstaan as ek gewaar dat daar ‘n lorrie
aankom.
In sulke gevalle het ek maar
op my betroubare kierie geleun. Ek moet darem noem dat my kierie sekerlik
gesout is in stap-ondervinding. Die kierie het aan Tannie Ann Loubscher (nou
91) se skoonpa behoort. Sy het dit goedgunstiglik aan my geskenk.
Maar ek het besluit om die
beste van die pad te maak en my ritme en spoed goed gehou ten spyte van
onlekker goeters.
No comments:
Post a Comment