So los ons toe vir Graafwater,
die halfpadmerk, kwart-voor-elf agter nadat ek my verversings en versterkings
van my span ontvang het en ek dit met so ‘n vinnige ruskans verorber het.
Ek het gereken ons trek al by
halfdrie. Dit was die heeltyd toegetrek en natuurlik het dit ook nog gereën tot
kort voor Graafwater. Ek was dus hopeloos met die skat van die tyd. Ek het ook
nie gedink dat ek so vinnig geloop het nie.
Toe ek vir Rita sê ek wil nie
meer Magnesium gebruik nie want dit lol met my konstitusie, maak sy seker ek
kry gesoute aartappels in my lyf. Want sy gaan my nie oorgee aan krampe en seer spiere
nie.
Dis wanneer mens met ‘n
moeilike fisiese aktiwiteit besig is en jy sien hier uit die kar wat voor jou
kom stilhou, klim Jack en Dalene Mellet met ‘n breë glimlag en ‘n tjoklit uit,
dat jy besef mens het mense nodig wat omgee.
Dankie Jack en Dalene. Daardie
tjoklit het gesorg vir ekstra energie.
Die landskap begin vir my soos
huis voel. Want die plase waar ek verbyloop het ‘n ryk geskiedenis. En die
wonderlike daarvan is dat die stories oorvertel kan word, want van die inwoners
van Somerkoelte het in hierdie geweste grootgeraak.
Maar daar is ook dié mense wat
my langs die pad herken het. Wat toeter gedruk en gewaai het, al het hulle meer
as eenkeer by my verbygery. Dit het die pad huis toe help gelyk vee.
My volgende baken was die
afdraai Leipoldtville toe. Dan is ek nog so ongeveer 22 km van die huis af. Dit
wat voor wag was korter as dit wat reeds agter lê.
Wat ek tog ook moet noem is
dat my Span my elke tien kilometer laat rus het om spiere te strek en te eet.
By die 15 km merk Lambertsbaai
toe het ek vir hulle gesê ek wil nou vir elke 5 km rus. En ek gaan dit nou
stadiger vat. So bietjie rem aandraai.
Ag maar as ek my weer kom kry
hol ek soos ‘n lorrie sonder remme. Toe het ek besluit dis tyd om klaar te kry.
Die seer-oog van Lambertsbaai
is die vullishoop wat net buite die dorp lê. So asof dit ons eerste toeriste
aantreklikheid is.
Ek weet nie wat kuiergaste
dink as dit die eerste besienswaardigheid is wat hulle sien nie. Maar wat ek
gedink het toe ek dit Saterdag 30 Mei 2015, laatmiddag sien…
Ek was nog nooit SO bly om
daardie vuilgoedgat te sien nie.
No comments:
Post a Comment