Monday, 24 November 2014

Die Oom (Hoofstuk 3) - Slot ... Die Volmaakte Moord

Dis donker in die skaduwee van die Wildevyeboom waar Klein Gert Venter staan. Hy wag om te kyk of iemand agtergekom het dat hy nie in sy bed is nie. Maar die huis bly donker en stil.
Hy sluip gebukkend tot by die draad. Daar seil hy behendig deur die gat in die heining.
Sy plan is fyn uitgewerk: Hy sal tot by sy Ma se huis gaan; daar sal hy agter die groentetuin in die ou watertenk gaan bly.
Eintlik is hy bang om huis toe te gaan. Hy is bang vir die slang wat die Oom gekry het. 'n Baie groot slang. Die Oom het vir hom gesê as hy dit waag om sy pote weer by die huis te sit, sal hy hom in die slanghok gooi. 

Hy het gehoor die Man wat die slang kom aflewer het, het gesê dis 'n baie gevaarlike slang. Die Man het dit iets soos 'n "annakonslang, 'n moordmasjien" genoem. Hy het vir die Oom gesê hy mag vir niemand van die slang vertel nie, want dis onwettig. Die Oom het gevra wat die slang eet. Die Man het gesê: "Enigiets wat beweeg. Honde, katte, en as jy nie meer die kind of vrou wil hê nie, gooi jy hulle sommer ook in die hok." 

Hy hou nie van die plek waar hy nou moet bly nie. Maar sy Ma en die Tannie van die welsyn het vir hom verduidelik dat dit vir sy eie veiligheid is. Hy verlang na sy Ma en sal eerder onveilig wees, as om so baie na haar te verlang.
Hulle noem die plek Kinderhuis. As sy Pa nog gelewe het kon hy vir hom gevra het wat Kinderhuis is. 

Sy gedagtes gaan terug na die laaste ete by sy Ma se huis.
Die Oom het kwaai geklink toe hy vir hom gesê het: "Toe eet, Mannetjie! Jy kan maar weet, dit is die laaste ete wat jy in hierdie huis in 'n donnerse lang tyd gaan eet."
Sy Ma sê dat hy wat Klein Gert is, nie daardie woord mag gebruik nie. Dis vloek. En geen ordentlike mens gebruik vloektaal nie. So in sy enigheid wonder hy hoekom sy dan toelaat dat die Oom so praat.
Een aand het hy die Oom met die graaf geslaan, omdat hy gedink het die Oom stoei met sy Ma in haar kamer. Van daardie tyd af het sy Ma en die Oom baie baklei.
Hy het gewonder waaroor hulle baklei en het hande-viervoet agter die groot stoel, naaste aan die deur, ingekruip. Daar het hy doodstil gesit – skaars asemgehaal.
Die Oom het geskree: "As jy die Klein Sleg nie Kinderhuis toe stuur nie, maak ek 'n saak van poging tot moord teen hom en dan kan jy kyk waar hy beland!"
Sy Ma het nog probeer om sy kant te vat, maar die Oom het geskree en sy vinger in sy Ma se gesig gedruk. Sy het later, so tussen die houe deur, net die trane van haar wange probeer afvee. 



Hy wens hy was groot. Dan kon hy die Oom ook so ruk en slaan. Hy het al probeer, toe slaan die Oom hom met die vuis teen die bors. Hy het vir lank swaar asemgehaal en daar was 'n groot, swart-perskol op sy bors.
Hy was skaam om sy hemp by die skool uit te trek vir liggaamsoefening. Hy het maar gemaak of hy siek is.

So met al die gedagtes wat deur sy kop maal, is hy amper verras toe hy voor die bekende tuinhek staan. Hy is dadelik op sy hoede. Hy skuifel, sluip onder die sitkamervenster verby. Hy hoor hoe die Oom op sy Ma skree.
Hy krimp ineen as hy sy Ma hoor huil.
Miskien moet hy haar ook wegvat Kinderhuis toe. Dis mos vir haar veiligheid ook.
Dan kan die Oom haar nooit weer slaan nie. En sy sal nie so maer en vol bloukolle wees nie.
Hy is moeg van die ver loop. Hy sal nou in die ou tenk gaan lê en slaap. Môre as hy uitgerus is sal hy 'n plan maak om sy Ma veilig te kry.

Net toe Klein Gert voor die agterdeur verby wil glip, bars die deur oop. Hy duik terug die donker skaduwee in en is net betyds om te sien hoe die Oom sy Ma by die agterdeur uitstamp.
"Lê in die donker, jou slet! Ek sal vanaand daaroor besluit of jy môre slangkos gaan word of nie," volg die bars stem die vrou agterna wat by die deur uit struikel-val. Sy bly opgekrul lê.

Klein Gert voel hoe die knop op sy maag groter en harder word. Hy weet hy moet vanaand nog sy Ma by die Kinderhuis kry.
As alles stil is kruip hy tot by haar, gaan lê styf teen haar en sit sy arm om die maer, uitgeteerde lyf. Hy voel hoe sy ruk.

Nadat Gert sy Ma tot by die ou tenk gehelp het, loop hy in die rigting van die huis. Hy steek vas as hy die Man by die buitekamer sien waar hy die slang aanhou.
Die Oom maak die deur op 'n skreef oop. Dit lyk vir Gert of die Oom ook bang is vir die slang.
Hy word koud as hy die Man hoor sê: "Môre proe jy mensvleis. Bietjie te maer, maar jy behoort haar baas te raak."



As daar 'n dier iewers in 'n agtjarige skuil, word hy nou in Gert wakker. Sonder om daaroor te dink hardloop hy op die Man af, stamp hom met bomenslike krag by die buitekamer se deur in en klap die deur toe.
Hy staan met sy rug teen die deur, haal hortend asem en knyp sy oë styf toe.
Hy skrik as sy Ma haar hand op sy skouer sit en sê: "Hardloop, Seun. Hardloop terug Kinderhuis toe. Ek sal sê hy wou die slang voer. Hardloop soos die wind, my Kind."

Die sweet brand sy oë as hy weer deur die gat in die heining glip. Die deur swaai geruisloos oop. Hy kruip tussen die koel lakens in. Niemand het hom gemis nie.


Net voor hy in 'n droomlose slaap wegraak, is hy bly dat sy Ma ook vanaand veilig is.
As sy Pa nog gelewe het, kon hy hom gevra het hoe die slang eet as hy honger is. 


No comments:

Post a Comment