Daar is 'n spreekwoord wat sê geskiedenis herhaal homself.
Of dit nou met oorloë of geboortes, negatiewe gebeure of positiewe insette is, is seker nie belangrik nie.
Tóg glo ek as jy jou laaste voetspore by die een plek los en 'n nuwe ry spore by die volgende plek begin trap, vat jy altyd iets saam wat moes agter bly.
Daar is mos die kostelike verhaal van die mense wat getrek het omdat dit in die huis gespook het.
Toe die buurman kom groet staan die manne by die wa.
Buurman maak die opmerking: "......so buurman jy trek...."
Voordat die trekkende buurman nog kon antwoord steek die spook sy kop onder die seil uit en sê: "....en ek trek saam..."
So het ek ook gedink ek los die binneland binne en klaar.
Om julle nou net mooi in die prentjie te bring, moet ek nou ongelukkig eers weer terug gaan binneland toe.
Meeste van julle weet ek was 'n kranige biker en het byeenkomste bygewoon soos "The Toy run", "The blanket run", "The Bible run" en so kan ek hulle opnoem.
Die gedagte was dan dat jy 'n item saamneem op die bike om te gaan ingee by die eindpunt wat dan nou in die titel beskryf word.
So woon ek erg opgewonde my eerste “Toy run” by. Gestewel en gespoor en my arme bike lyk soos die spreekwoordelike pakesel soos die persente om my gepak word.
By die eindpunt gee jy dan jou geskenk in en skryf jou naam en vonkpos adres in 'n boek.
Erg ingedruk en in my skik gaan ek daardie namiddag huis toe. My goeie daad vir die oomblik is gedoen.
'n Paar weke later begin die pos instroom. Die hierdie en daardie klub van Soweto bedank u vir u bydrae.
Die dit en dat se organisasie in Mamelodi bedank u vir u bedrae. Jy het 'n kinderhart verbly.
Die huffel en suffel klub van Thembisa bedank jou vir die bydrae. Jy het gesorg dat 'n arme kind ook 'n kersgeskenk gaan kry.
Nêrens lees ek van die een of ander organisasie van die arm wit woonbuurtes wat enige iets ontvang het nie.
Die bloed in my are word warm en my bloeddruk styg. Maar ek gee hulle - dis nou die organiseerders van die “Toy run” - die voordeel van die twyfel.
Maar toe ek soort gelyke briewe van die organiseerders van die “Blanket run” kry oor ek dan nou sou bygedra het om enige iemand koulik, (behalwe 'n wit kind) warm te hou, neem ek my voor dat ek nie weer sulke byeenkomste gaan bywoon nie.
Ek sal my bepaal tot die “Bible run”.
Tot my teleurstelling!! Want die predikant wat die diens lewer weet te vertel ons is in die weermag geleer om na alles wat swart is te skiet. Selfs al was dit 'n verdagte swartsak.
Hoe absurd kan dit wees?!!.
Daarmee gee hy te kenne dat alle sogenaamde terroriste swart was.
Ekskuus mens mag mos nou nie meer van terroriste praat nie. Dit is nou vryheidsvegters.
Ja en die wit ouens wat deel was van hierdie lot is deesdae vryheids aktiviste.
En hierdie prediker preek alles behalwe die woord van God. Hy preek regime en vryheidsvegters. En almal wat deel was of nie van die oorlog en nie swart was nie, is sondig en verkeerd. Verkondig hy met sy lelieblank vel.
Toe is dit ook maar die einde van die “Bible run” vir my.
Laat ek terugkom tot die hede en my spook wat saamgetrek het Weskus toe.
O ja en die geskiedenis wat homself herhaal.
So gaan woon ek toe onlangs Shoprite Checkers se Pretty Things for Little Things by.
Die atmosfeer is feestelik. Die kunstenaar is pittig en gevat.
Die kunstenaars van die speelgoed, klere, komberse, alles en nog wat, is blink gepoets en feestelik aangetrek en glimlag oor die wye spektrum van die hele nuwe Suid Afrikaanse bevolking.
Dan word die skyfie vertoning gewys van waarheen die vorige jaar se bydraes gegaan het.
En die gesiggies blink van vreugde. Maar glad nie oor die wye spektrum van die nuwe Suid Afrikaanse bevolking nie. Want die wit gesiggies wat van vreugde straal, ontbreek.
Dit maak my deels kwaad en hartseer. Want wat weet kinders van 1 tot 7 wat in dieselfde jaar gebore is, oor die hele bevolking van die nuwe Suid Afrika, van die geskiedenis wat besig is om homself te herhaal.
Ek glo nie ek sal weer Pretty Things for Little Things bywoon nie.
No comments:
Post a Comment