Thursday 20 November 2014

Die Oom (hoofstuk 2) ... Is onsedelikheid ook rooi?

Gert Venter sit aan die tafel en kyk hoe sy ma die bakke kos voorsit. Terwyl sy so 'n laaste roer in elke bak gee, draai sy maag saam. So 'n lekker honger draai.

"Ek is darem nou baie honger!" laat hy dan ook summier hoor. "Dis seker van al die harde werk wat ek vandag gedoen het!"
Sy ma kyk stil op en glimlag vir hom, sonder om iets te sê. Die Oom, aan die anderkant van die tafel, lyk nors. Dié sê ook niks.
Gert kyk effens benoud na sy kant toe as hy verder praat. "Ek het die garage uitgevee, die bossies uit die roosbedding getrek, die voorste gras gesny . . . "
Hy wil nog voortgaan, maar Die Oom val hom bars in die rede: "As jy nog kan opnoem wat jy gedoen het, het jy nie veel gedoen nie. Het jy die groente natgelei?"
Daar is vir 'n wyle stilte voordat Gert antwoord: "Nee Oom, ek het vergeet."
Die vel span styf oor Die Oom se voorkop en sy stem laat Gert aan ysblokkies dink toe hy sê: "Nou, loop doen dit nou en dan gaan jy kamer toe. Jy moenie dink jy gaan kos kry as jy nie vir die groente kos gee nie." Gert sien sy ma se hande stil word. Hy wens sy wil sê hy kan maar bly, want hy hét darem gesê hy is baie honger. Maar sy ma praat nie; laat net haar ken teen haar bors sak. Hy staan op voordat Die Oom weer kan praat en gaan in die donker by die agterdeur uit om die groente nat te lei.


In die donker kamer laat die seun sy gedagtes dwaal. Hy weet hy moenie aan kos dink nie, want dan gaan sy honger net groter word. Hy weet ook hy sal nie kos in die kombuis kry nie, want Die Oom laat sy ma nie toe om kos te bêre nie.  Dan moet hy maar aan ander dinge dink. Hy wens sy pa het nog gelewe. Dan kon hy vir sy pa gevra het wat onsedelikheid is. Die Juffrou by die skool, wat vir hulle leer van die Bybel, het vanoggend gesê mens mag nie onsedelik leef nie. Toe hy sy hand opsteek en vir haar vra wat onsedelikheid is, het Snip Snyman agter haar hand gegiggel en vermakerig gesê: "Dis soos jou ma en Die Oom, silly!"
Die res van die kinders het ook gelag. Hy het nie lekker gevoel daaroor nie. Hy wou nog vanaand vir Ma vertel wat Snip gesê het. Met dié dat hy nou van die verdekselse groente vergeet het, kon hy dit nie vertel nie.

Sy gedagtes dwaal na die groentetuin toe. Hy het die tuinslang versigtig in die blikkie gesit en die kraan oopgedraai. Met die graaf het hy walletjies gemaak sodat die water nie moet wegloop nie. Dis soos sy pa hom gewys het. Die blikkie keer dat die grond rondom die groente nie wegspoel nie. As hy hard dink kan hy die nat grond ruik. Sy pa het altyd gesê dis die reuk van seën. Sy pa was baie slim. Hy wonder wat sy pa sou gesê het van Onsedelikheid. Hy wonder of hy Onsedelikheid se kop met die graaf kan afsteek, net soos hy nou die dag gemaak het met die slang wat hy by die groente gekry het.
Sy gedagtes dwaal verder na die geluide wat feitlik elke aand uit sy ma se kamer kom. Hy wonder of dit Onsedelikheid is. As hy dink aan die klank van sy ma se stem, weet hy nie so mooi of sy van Onsedelikheid hou nie. Miskien moet hy vanaand, as die geluide weer kom, die graaf gaan haal en sy ma red van Onsedelikheid. Hy dink sy ma sal baie bly wees as hy haar red. Hy weet nou nie van Die Oom nie. Die Oom hou nie van hom nie. Dit het hy agtergekom toe hy eendag vir sy ma van sy pa gevra het. Die Oom was baie kwaad toe hy gesê het hulle moet die dooies hulle eie dooies laat begrawe en dit met rus laat. 

Gert Venter wens hulle was ryk. Dan kon hulle vir Die Oom gesê het hulle het nie meer die losiesgeld nodig nie. Hy en sy ma kon dan weer alleen in die huis bly. Hy sal al sy pa se foto's weer teen die muur in die sitkamer hang. Die Oom het dit afgehaal en in die asblik gegooi. Hy, wat Gert Venter is, het dit gaan uithaal en dit onder in sy kas gebêre. Elke aand as hy die geluide uit sy ma se kamer hoor, sit hy die lig aan en kyk na die foto's. As die geluide ophou, sit hy dit vinnig terug in die kas, sit die lig af en klim in die bed. Dan maak hy maar of hy slaap. Maar partykeer vat die slaap lank om te kom.

Gert se oë begin swaar word toe hy weer, soos baie keer vantevore, sy ma hoor roep. Hy hoor ook Die Oom steun. Hy klim uit die bed en gaan by die agterdeur uit. Die sementstoep is koud onder sy kaal voete. As hy die graaf optel, voel dit swaarder as gewoonlik. Al wat in sy kop vassteek is dat hy gou moet maak. Hy moet sy ma gaan red van Onsedelikheid. Hy sal maar maak of Onsedelikheid die slang is. 

Hy draai die knop van die kamerdeur versigtig oop. Sy oë is al aan die donker gewoond. Sy ma klou aan Die Oom vas en dit lyk of sy hom wil wegdruk. Hy sal eers sy ma red van Die Oom, wat haar vasdruk en met haar stoei. Die geluide is harder en hy word bang. Maar Die Oom sê altyd hy moet 'n man wees en nie 'n muis nie. Hy vat die graaf vas en met al sy krag lig hy dit hoog op en laat die kant van die graaf, met 'n kragtige hou, op die Oom se agterkop neerplof. 


Dis baie stil in sy ma se kamer. Die Oom lê, sonder om te beweeg, nog steeds bo-op sy ma. Dan sien Gert Venter die dun straaltjie bloed wat agter die man se kop uitloop, stadig oorloop en opdam by sy ma se arm.
En Klein Gert Venter wonder of Onsedelikheid ook rooi is.

No comments:

Post a Comment