Thursday, 26 November 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 15)


Dis Marda wat die oomblik van stilte verbreek.

          “Dink julle nie dit is tyd om te gaan slaap nie? Ek is seker ‘n storie wat al my hele lewe lank ‘n geheim was, gaan nie oornag verander of wegraak nie!”

Ek bespeur ‘n tikkie sarkasme in haar stem.
Meteens besef ek dat dit ook vir haar ‘n ontsettende groot skok moet wees om agter te kom sy en haar ouers lewe al die jare ‘n leuen.

‘Liewe genade. Wat het hierdie mense besiel?’ Die gedagte spring vlietend deur my brein en jaag ewe vinnig oor my lippe:

          “Wat het julle besiel? Julle het ons almal belieg en bedrieg! My lewe is verongeluk deur my verlede en nou word dit deel van my hede en dit bly een groot lieg! Net soos wat julle vir julle dogter gelieg het haar hele lewe deur.”

Ek besef nie dat ek baie hard praat nie. My stem weerklink hard in die nag stilte.

Babbels staan op. Slaan haar arm om die skraal skouers van Marda.

          “Ons besef dit maar te goed en ons het berou oor ons aandeel aan die hele gemors. En noudat ons oud is, weet ons dat ons baie verkeerd besluite en keuses gemaak het.”

Sy kyk met deernis en liefde na Marda.

          “Maar Marda het reg. Kom ons gaan slaap. Ons kan môre hierdie ondervraging voortsit wanneer ons almal ‘n nagrus gekry het.”

Die hele geselskap staan op. Ek en Duiker staan by Kleintjie toe hy die vergete vuur blus om sodoende ‘n brand te voorkom.

Ek kan aan Kleintjie se liggaamshouding sien dat hy die ergste verwag. Om die minste te sê, verwag ek ook dat Duiker hom nou met geweld gaan bykom omdat hy blatant vir ons gelieg het.

Wanneer Duiker uiteindelik begin praat, dop Kleintjie se oë agteroor soos ‘n hoender wat stuipe kry.

          “Nou ja, so lieg jy toe! Maar van die donnerse gemors wat ek vanaand hier aanskou het kan ek jou seker ook nie fokken kwalik neem nie. Want Loopdop en jy lieg ewe veel.” Hy praat soos gewoonlik bulderend hard.

Kleintjie kry sy hartklop en asem terug. Sy stem breek plek-plek en dan slaan daar net stilte deur terwyl sy lippe beweeg:

          “Askies menee, grôt askies menee Dyke. Wat menee’ie wie’tie is’ie myse plek om te moet loep vetel’ie menee.”

Duiker is ongeduldig. Seker ook maar moeg soos ek. Want dit was ‘n lang en moeilike dag. Ek wonder nou net of daar iemand is wat vannag ‘n oog opmekaar gaan sit. Ek wag nie dat Duiker vir Kleintjie klaar roskam nie.

          “Ek gaan slaap Duiker.” kondig ek aan en stap ook sonder om te wag.

As ek omkyk is Duiker se groot lyf kort op my hakke. Die ou het ook maar besluit om vir eers bes te gee. Môre wag daar weer ‘n nuwe dag. Maar wat dit vir ons gaan inhou, laat ‘n rilling teen my rugstring afloop.

Soos ek verwag het, het ek maar bitter min geslaap. Die kere wat ek wel weggeraak het was gevul met deurmekaar drome.
Toe die dagbreek lig deur die venster in skyn, is ek dankbaar dat die nag verby is.

Ek staan op en loop sag uit om nie die ander slapendes in die huis te steur nie, met die gedagte om op die stoep te gaan sit.
My maag maak ‘n knop as ek vir Pa en Babbels op die stoep kry, besig om koffie te drink.

Hulle gewaar my egter voor ek terug kan draai.
Pa wys na ‘n oop stoel by hulle:

          “Kom my kind, kom sit. Dan gooi jou ma vir jou ook ‘n kom koffie.”

Die verwysings na Babbels as my ma val vreemd op die oor. Ek brom bot as ek môre sê.
Toe ek gaan sit, kom staan sy langs my. Sit haar een hand op my skouer terwyl sy behendig koffie in die groot blikbeker skink met die ander hand.

Dis eers as sy tussen my en Pa gaan sit wat sy sag begin praat:

          “Ek het hierdie oomblik gevrees. Maar nou is ek vreemd verlig dat dit uiteindelik aangebreek het.”

Anders as gisteraand, vermy ons nie mekaar se oë nie.
My stem is meer ‘n fluistering as iets anders as die enkele woord uitkom:

          “Hoekom?”

Pa antwoord:

          “Terwyl ek vir Dirk ‘n les met die vuiste geleer het, het ek sommer ook van die geleentheid gebruik gemaak om vir hom te vertel wat ek van die hele petalje dink. Ek moes laat val het dat ek en jou ma in ‘n verhouding is en dat sy swanger is.
Hy het dit vir Netta gaan vertel en sy het die regte somme gemaak en geweet hy is nie die pa nie.”
Babbels vat die storie oor.

          “Sy het met haar slinksheid vir Oupa Grootgert oortuig dat ek ‘n verhouding met ‘n getroude man het en dat ek sy kind verwag. Dit was doodsonde in jou Oupa se oë en hy het my weggejaag en afgeskryf as sy kind.”

Nou is dit weer Pa se beurt om die storie verder te vat. Ek is bly ons is alleen. Vir een keer is hulle aandag by my alleen en nie by die gehoor rondom my nie.
Ek weet hulle het almal op een of ander manier met die hele gedoente te doen. Maar dit voel vir my ek het alleenreg daarop.

          “Ek weet jy wil weet hoekom ek met Netta getroud is eerder as met jou ma. Dis baie eenvoudig. Sy en Dirk het my een aand verdoof, net om die volgende oggend sonder ‘n draad klere in Netta se bed wakker te word.
Netta het vertel dat ek te veel gedrink het en by haar gaan lê het.
‘n Paar weke later het sy vir my vertel sy is swanger en dat ek die pa is.”

Babbels … ek moet seker gewoond begin raak aan ‘Ma’ … sit haar hand sag op Pa se been. Sy kyk eers vir hom en toe vir my voor sy sê:

          “Wat jou pa nie geweet het nie, is dat Netta my kom dreig en afpers het. Sy het egter vir my gesê dat hulle vir Jannus met ‘n slapriem gevang het. Maar ek kon hom nie waarsku nie. Dirk het gedreig om my weer … as ek iets sou sê.
Verder het hulle my gedwing om ‘n verklaring te teken dat ek my kind sal afgee omdat ek nie in staat is om vir hom te sorg nie.
Toe het hulle reëlings getref dat ek na die kind se geboorte Engeland toe gestuur sou word.”

Ek praat nie. Vra geen vrae nie. Ek laat hulle praat om so veel as moontlik inligting uit hulle te kry voordat die ander wakker word.

          “Hulle het my ook gedwing om vir Jannus ‘n brief te skryf waarin ek sê dat ek met Dirk gaan trou. Dat ek gelieg het oor die verkragting en dat Dirk die kind as sy eie gaan grootmaak.
Daarna het hulle my van by binnelandse sake laat verander na Bruwer toe sodat dit lyk of ek en Dirk getroud is.
Hulle het my al die tyd gevange gehou. Toegesluit in ‘n kamer in een of ander huis wat hulle gehuur het.
Toe dit tyd was dat jy gebore moes word, het hulle ‘n vroedvrou gekry om my te help. Teen daardie tyd was Netta en jou pa ook al getroud.”

Die frons op my voorkop is ‘n vraag opsigself en Pa kom dit agter.

          “Ja ek weet jy wonder hoe sy my gekry het om te trou. Toe Babbels my sogenaamd afgesê het om met Dirk te trou en Netta kwansuis swanger sou wees, het ek besluit om die eerbare ding te doen en so gou moontlik met haar te trou.
Sy het ‘n skyn swangerskap voorgehou en toe jy gebore is het sy voorgegee dat sy vroeg in kraam gegaan het.
Op daardie stadium het ek nog vir Skippie se pa gewerk en ons was uit op see Ons het onder by Houtbaai gelê. Dit het natuurlik vir haar en Dirk soos ‘n handskoen gepas. Toe steel hulle jou en stuur jou ma oorsee voordat ek terug is.”
Ek trek my longe styfvol lug en blaas dit stadig en hard uit.

Dis eers as Duiker by die deur praat dat ek agterkom hy het alles gehoor wat tussen Pa en … Ma vertel is.

          “Dit is darem nou behoorlik ‘n fokkop. Wat ek graag wil weet Loopdop-Doep, is hoekom de donner jy springlewendig is as jy veronderstel is om fokken dood te wees?”

Ma staan op. Maak die koffie-goed bymekaar terwyl sy vir Duiker antwoord.

          “Ouboet, kom ek gaan haal eers vir jou koffie en kyk dat die ontbyt aan die gang kom, voor ons verder praat. Dit gee my Ouman ook so ruskans. Want hierdie is jare se sweersel wat nou alles met een slag moet uitkom.”

Sy soen Pa sag op die wang.

          “Koeitjies en kalfies my Man. Julle praat geen gewigtige sake nie. En Duiker as jy en my seun nie weet hoe om dit te doen nie, dan sit julle in stilte. Maar julle gaan hom nie druk om te praat nie.”

Sy praat byna gebiedend voor sy die huis in loop. Daar daal ‘n stilte tussen die drie van ons op die stoep neer. Elkeen van ons besig met ons eie gedagtes.

Duiker loop van die stoep af en gaan staan ‘n ent weg om vir hom ‘n sigaret brand te maak. Hy trek die rook diep in sy longe en blaas dit driftig uit voordat hy weer aan die sigaret trek.

Pa sit en krap denkbeeldige vuilgoed onder sy nael uit. Hier sit ons. Almal geestelik baie ryker as gister omdat ons mekaar gevind het.

Maar as dit dan die waarheid is, hoekom voel ek dan so ontsettend verward en leeg? Hoekom kom lê daar vir een keer in my lewe nie vrede in my nie?

No comments:

Post a Comment