Tuesday, 10 November 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 14)



Dis die stilte wat my terugbring na die hede. Ek kan my ore nie glo nie. Ek maak onmiddellik ‘n gruwelike afleiding. Ek is dus ‘n verkragtingsproduk.
Ek is nie in liefde verwek nie. Met die grootmaakproses wat van my elfde jaar af liefdeloos was toe Pa sogenaamd dood is, het ek lankal vrede mee gemaak. Maar hierdie nuwe feit kom sit nie so lekker in my klere nie.

Dis Duiker wat die stilte verbreek toe hy sy keel skraap en skor vra:

          “Wat jy nou sê is dat daardie fokken vark vir Babbels gerape het! Ek hy leef al die jare tussen ons en ons wis van niks?”

Alhoewel Pa se stem sterk is, kan ek die sagtheid daarin bespeur waarmee hy destyds vir my die storie van die Sewe Susters vertel het. ‘n Ongedurigheid neem pos in my en ek staan driftig op. Kyk na Pa en vra moedswillig:

          “Ek kan mos nie net aanneem dat jy my pa is nie. Die pa wat ek geken het, het my liefgehad en sou my nie los in die liefdelose sorg van ‘n vrou wat nie my bloedma was nie. Maar dis seker te verstane. Noudat ek ook weet dat ek ‘n verkragtingsproduk is eerder as in liefde gemaak.”

Ek hoor hoe Babbels haar asem vinnig intrek. Haar vingers sluit bleek in die vuurlig om Pa se voorarm.
Hy vryf gerusstellend oor Babbels se vingers, kyk sag na haar voordat hy my antwoord.

          “Hierdie verhaal van ons lewens het soveel wrang kinkels in dat dit, behalwe bloedtoetse, ‘n ewigheid sal vat om jou te probeer oortuig dat ek wel jou pa is. Daar is een manier hoe ek dit vir jou kan bewys.”

Hy staan op, vat stewig om my arm net bokant die elmboog. Dan trek hy my na die oop kol tussen die bome waar ek die sterre kan sien.
Terwyl hy my so aan die arm hou wys hy met sy wysvinger na die klossie sterre wat dig by mekaar sit.

          “Sien jy daardie sterre is die Sewe Susters. Kyk of jy sewe kan kry.”

Ek sien die sewende ster wat dof agter die ander wegkruip, maar kan nie anders as om soos in my kindertyd vir hom te sê:

          “Ek tel net ses.”

Ek hoor die hartseer in sy stem:

          “Kyk mooi. Sien jy die groot een wat die blinkste is? Dit is die oudste suster. Nou moet jy mooi kyk, die jongste sustertjie is die skaam ene. Sy kruip agter die ander weg.”

Ek laat sak my kop teen my bors. Voel hoe hy my aan my arm trek en omdraai sodat ek na Babbels kan kyk.

          “Daar sit die jongste Susterjie. Die skaam ene wat altyd agter die ander ses gestel is.”

Die besef dat ek en Pa vir die eerste keer in my volwasse lewe langs mekaar staan, slaan my tussen die oë en ek kners hard op my tande om te keer dat my emosies nie met my weghardloop nie.

Met sy hand steeds om my arm, stap ons terug en gaan sit.

Hy kyk ons een vir een aan terwyl hy sê:

          “Dit was nie die einde van die verhaal nie. Natuurlik het Netta ‘n hewige ding gemaak van die feit dat Babbels vir Dirk verlei het, soos sy dit gesien het.
Sy het nie die roede gespaar nie. En ruggraatlose Dirk het die agterdog teen Babbels aangeblaas. Dat sy hom verlei het.”

Babbels neem die vertelling oor. Sy haal eers diep asem voor sy ons neem tot by die oomblik toe Netta op hulle afgekom het.

**********

As Netta histeries gil terwyl sy op hulle afstorm, spring Dirk vervaard regop. Kry homself betaamlik maar laat vir Babbels weerloos en naak op die kombers lê. Sy trek die kombers oor haar om haar naaktheid te bedek.

Hy hou sy hand op en sê gemaak verskonend:

          “Ek is jammer dat ek ingegee het my Skat. Maar sy was so opdringerig en het nie nee vir ‘n antwoord gevat nie. Ek het vir haar gesê ek wag vir jou sodat ons kan piekniek maak.”

Netta is boosaardig kwaad as sy vir Babbels toetakel:

          “Jou gemene klein slet! Kastig die skaam een, maar hier gebruik jou kans om my verloofde te verlei. O ek verfoei jou! Mag jou lewe vol smart en lyding wees tot met jou dood!”

Babbels snik terwyl sy by Netta pleit:

          “Dis nie waar nie Ousus. Hy het my … hy het my … hy …”

Netta raak buite haarself as sy Babbels aan die skouers beet kry en skud terwyl sy gil:

          “Dit lieg jy! Jy lieg jou verradderlike gemors. Hy sou dit nooit doen nie.”

Sy swaai om na Dirk wat nog steeds gemaak verskonend rond staan:

          “En jy! Ek wil jou nooit weer sien nie! Hoe kon jy? Jy kon haar verleiding teengestaan het! As ek terugkom by die huis, moet jy weg wees. As ek jou daar kry, sal ek vir Pappa vertel dat jy vir my gelieg het, dat jy al die tyd getroud was.”

Dirk hou sy hande uit na Netta:

          Nettatjie! Asseblief? Jy weet dat ek vir jou alleen liefhet … “

Dit klink meer asof sy soos ‘n slang sis as sy vir hom sê:

          “Loop! Loop uit my lewe uit jou bedrieër!”

As Dirk omdraai en loop, hardloop Netta in die teenoorgestelde rigting.

Sy steek skielik vas, draai om en gluur vir Babbels aan wat haar geskeurde klere bymekaar maak en haar met die kombers toedraai.

          “Jy kan maar jou tasse ook gaan pak. Hierdie plaas verlaat en nooit weer terugkom nie. En as jy dit waag, sal ek … “

Sy hou vir ‘n oomblik op praat. Kyk Babbels minagtend aan voor sy haarself korrigeer:

          “Of nee, jy kan terugkom nadat jy gaan boete doen het oor jou sondes, want anders breek jy Pappa se hart. Jy is mos sy oogappel. Maar ek sweer ek sal alles van jou wegvat wat vir jou lief en dierbaar is.”

**********

Dis Sussa wat ons herinner dat Netta dit ook so in haar dagboek beskryf het.

          “Sy het net die gedeelte uitgelos waar Babbels vir haar gesê het dat Dirk haar onteer het.”

Nou neem Pa weer oor. Ons almal luister in stilte. Ek luister aandagtig want my lewe is besig om te ontvou. En dit is ‘n bizarre vreemde verhaal. Dit voel of ek buite alles staan en inkyk na ‘n toneelstuk.

Pa sit sy arm om Babbels se skouers. Ek kan sien hy is lief vir haar. En as ek aan die verhaal van die Sewe Susters dink, weet ek eintlik nou dat hy nog altyd vir haar lief was, al was hy met Ma getroud.

          “Babbels het na my toe gekom in haar nood. Ons was saam op skool en het mettertyd mekaar liefgekry. Maar ek het nooit haar mense ontmoet nie.
Jou oupa Grootgert het geglo soos Laban van die Bybel. Die jonger suster kan nie trou voor die oudste nie getroud was nie. Dus het ons ons liefde en verhouding geheim gehou.”

**********

Die sagte klop wat op die dringende gelui van die deurklokkie volg, laat vir Jannus frons. Hy weet Babbels is op die plaas en hy verwag geen ander mense nie.
Hy maak die deur oop en sien dadelik dat die Babbels wat voor hom staan erg getraumatiseerd is.
Die traanmerke op haar wange laat hom versigtig optree as hy haar in sy omhelsing intrek:

          “Wat het jou so geweldig ontsteld Babbels?” Sy stem sag.

As sy haar kop teen sy skouer vasdruk en aan hom vasklou, snik sy sonder ophou. Hy lei haar die huis in en gaan sit met haar in sy arms op die bank. Hulle sit so sonder om te praat en hy laat haar begaan.

As sy uiteindelik effens kalmeer, vertel sy vir hom tussen die trane deur met rukke en stote wat plaasgevind het.

Jannus voel hoe die woede in hom opwel. Maar besef sy eerste prioriteit is nou Babbels.

Sy sluit haar vertelling af:

          “Sy … sy wou nie eens hê ek moes bad nie …”

Jannus val haar in die rede;

          “Ons moet jou dadelik by die dokter kry. Dan moet ons ‘n saak gaan maak by die polisie.”

Sy klou hom weer vas en soebat:

          “Nee, nee asseblief nie Jannus. Ek sien nie kans om dokter toe te gaan nie. En ook nie die polisie nie. Dirk sal net vir hulle vertel wat hy vir Ousus vertel het.”

Jannus bly geduldig:

          “Dan gaan ons net eers dokter toe. Ek sal die heeltyd by jou bly, jou hand vashou.”

Dit neem egter tyd om haar oorreed te kry voordat hulle na die hospitaal se ongevalle afdeling vertrek.

Nadat Jannus vir die personeel vertel het waaroor hulle daar is, behandel hulle vir Babbels met deernis en sorg.
Toe hulle voorstel dat Jannus in die wagkamer gaan wag sodat hulle met die ondersoek kan voortgaan, keer Babbels angstig:

          “Nee! Laat hy by my bly asseblief. Ek wil nie alleen wees nie.”

Die Suster stel haar gerus en laat vir Jannus saam deurgaan na die ondersoekkamer.

Terwyl hulle vir die dokter wag, vryf hy teer oor haar hare. Hou haar hand rustig vas in teenstelling met die woede wat in hom woed.

Die Suster kom met ‘n ander vrou in die ondersoekkamer. Sy stel hulle bekend aan Anna van Staden, ‘n traumaberader.

          “Sy gaan solank met jou gesels Cora. Terwyl ons vir die dokter wag. Hy word net opgehou in die teater.”

Babbels se regte naam klink vreemd in Jannus se ore. Hy dink met ‘n stil glimlag in sy binnekant hoe hy vir haar die naam Babbels gegee het omdat sy so baie praat. Hulle was toe nog op hoërskool. Nou noem almal haar so.

Hy besef weereens dat hy lief is vir hierdie gebroke stukkie mens wat so verwese hier lê en haar laat lei deur sy teenwoordigheid.

Die suster moes vir die berader genoem het dat Babbels vir Jannus by haar wil hê, want sy verwys nie daarna dat hy buite kan gaan wag nie.

Die manier waarop die vrou met Babbels werk is rustig en kalmerend. Sy is professioneel maar menslik.

Teen die tyd wat die middeljarige dokter opdaag, lê Babbels rustig terug. Hy hanteer Babbels asof sy van porselein gemaak is. Berei haar op die ondersoek voor voordat hy haar met instrumente benader om die ondersoek te voltooi.
Hy stel haar voortdurend gerus terwyl hy besig is.  

Jannus voel hoe Babbels sy hand vasklou terwyl die dokter besig is met die ondersoek.
Die trane wat by die hoeke van haar oë uitloop, vee hy lomp af terwyl hy haar saggies troos.

Wanneer die dokter klaar is, stroop hy die handskoene af. Hy kom sit op die kant van die bed en kyk vaderlik na Babbels en Jannus.

          “Ek sal in my verslag kan skryf dat jy wel verkrag is Juffrou. Maar daar is iets anders…”

Hy bly ‘n oomblik stil.

          “Is julle seksueel aktief?”

Sy reguit vraag laat vir Jannus en Babbels bloedrooi bloos. Hulle antwoord nie hardop nie en kyk stil na mekaar.

Jannus knik skaam:

          “Dit was net een keer dokter.”

          “Een keer is genoeg om ‘n meisie swanger te maak Jongman.”

Hy kyk weer na Babbels:

“En ek vra want ek vermoed dat jy swanger is. Ek kon dit tydens die ondersoek aan jou baarmoedermond sien. Ek sal graag wil bloed trek om te bevestig.”

As Babbels steeds broos en skaam toestemming gee, begin die dokter voorbereidings tref om die bloed te trek.

**********

Die besef van wat Pa vertel, skud my. Dus is ek wel in liefde verwek. Ek is Pa en Babbels se kind.
Maar hoekom sou almal dan dink dat ek Dirk se kind is.

Voor ek kan vra, praat Duiker:

          “En? Wat het jy met daardie donnerse verkragter gemaak?”

Pa kyk van hom na Babbels:

          “Babbels is die aand in die hospitaal opgeneem vir observasie. Toe het ek hom gaan opsoek. Al wat ek nou vir jou kan en wil sê Duiker, is dat hy na my besoek nie uit sy oë kon sien nie en hy sou nooit kinders kon verwek nie.”

Duiker lag saggies:

“Hie, hie, hie, sò wil ek dit hê swaer, sò wil ek dit hê.

Die nag het al vêr gevorder. Maar almal sit vasgenael om die volgende deel van die verhaal aan te hoor.

          “Hoe het dit gekom dat Pa met M … Netta getroud is?” wil ek weet.

Ek kry die woord ‘Ma’ nie uitgespreek nie. Die flarde van my lewe begin stelselmatig bymekaar kom, verweef as iets wat seker een of ander tyd vir my ook sal sin maak.


Ek wag geduldig dat Pa die storie gaan haal waar dit vir soveel jare geberg was. Ek kan sien dat dit vir hom moeilik is. Maar dan onthou ek, so was my hele lewe moeilik en hy was nie daar om dit makliker te maak nie.

No comments:

Post a Comment