Thursday, 31 July 2014

Passie van Himeros ...

 
Foto: Christo du Plessis


Hy voer haar met dadels en heuning
en balsem haar son-bruin lyf
met reukolie en nektar

Lê haar neer op die altaar van sy liefde
en laat haar lang donker hare soos
'n sluier oor die klippers van sy hart hang

Hy bedruip haar met die heilige water
uit die stroom van liefde wat hy diep
in die reënwoud gaan skep het


Hy plaas sy hande in seën
oor haar deinende heuwels
laat die soel herfsbries
in haar oor fluister van liefde
en maanligrose en hande
wat haar sal dra, wat haar sal beskerm
en 'n hart wat haar veilig sal hou

Dan salf hy haar met die passie
van Himeros in oorgawe as hulle
die paradys van hulle
eie vergetelheid betree

Hy sing vir haar liefdes-odes
sonder woorde of musiek
en sy hoor die fyn suiwer klanke 
van sy liefdesverklaring as haar
brose lyf saamsmelt met syne

 

Tuesday, 29 July 2014

Die see is kwaad vanaand ...

Foto: Christo du Plessis             
Ek gaan sit vroegaand op die rotse. Dit is hoogwater.

Ek begin lief word vir die see. Ek hou nog nie van die sand nie. Trek selfs nie eens my sokkies en skoene uit as ek op die strand gaan loop nie.

Onwillekeurig dink ek aan my Moeder wat altyd vertel het hoe sy gehuil het toe hulle in 1953 in Tsumeb aangekom het uit die myndorp Blyvooruitzicht (ek hoop ek spel dit reg), in die destydse Duitswes Afrika.

Ek kon wel nie openlik huil toe ek hier aankom nie, want dit was uit eie keuse wat ek die pad Weskus toe aangedurf het.

My oorle Moeder het egter in dieselfde asem vertel dat sy nooit weer uit Duitswes wil trek nie.

Toe ek hier aankom het iemand vir my gesê: "Jy is of baie braaf of vreeslik stupid om hierdie stap te neem."  Ek glo steeds ek is eerder braaf as stupid.

Die see klap kwaad teen 'n rots vas en my gedagtes keer terug na waar ek op die rots sit.

Wit skuim borrel kompeterend die lug in om te kyk wie die hoogste kan reik.

Dit was seker die sewende brander.  Die bewering is mos dat elke sewende brander 'n groot een is.
Maar die een daarna is ewe groot en storm vreesaanjaend op die rots af.  Dit lyk op Neptunes die branders bloots ry.  In plaas daarvan dat hy hulle probeer tem, jaag hy hulle wild en dwing hulle een na die ander teen die rotse vas.

My gedagtes loop wye draaie.  En ek hoor Znip se stem in my ore: "As die see die branders so teen die rotse kan verpletter, dink net wat hy met 'n mens kan doen."

So trek die stelling en die brute krag van die see my gedagtes in tot by Ingrid Jonker.  Stilweg wonder ek oor haar besluit. 
Het die koue water haar nie net vir een vlietende oomblik laat dink om van besluit te verander nie?
Was haar geliefdes voortdurend in haar gedagtes of het sy alle emosies en gedagtes verban sodat haar verstand en hart leeg, haar lyf meedoënloos teen die water ingebeur het?
Was die sand en skulpe grof en snydend skerp, of het dit soos satyn onder haar voete gevoel?
Was die rotse hard en het haar liggaam ongenaakbaar teen hulle wande gestamp?  Of het dit vir haar soos donsveer kussings gevoel?
Was die water asemsnak koud? Of het dit haar snoesig toegevou soos 'n warm kombers?

Die sproeireën van die soveelste sewende brander bring my plotseling terug van my donker gedagtes.  Dit begin koel raak en ek het Oosweer klere aan.

Ek maak my gedagtes en lyf bymekaar.  Kyk verwonderend na nog 'n brander wat sy kantgordyn hoog die lug in laat wapper.

Ek begin lief raak vir die see.  Maar nog op 'n distansie.

Ja die see is kwaad vanaand.

Saturday, 19 July 2014

Floors Flenters ...

Foto: Magical Photo Memories



Floors Flenters

Floors Flenters was 'n krom, maer man, wat vir ure op sy huis se rooi stoep kon sit en staar. As ek hom van oorkant die pad dopgehou het, het ek vele kere al gewonder na wat hy staar? Ek het die rigting van sy blik probeer natrek met 'n denkbeeldige lyn en elke keer het ek afgekom op niks.

Ek kon my horlosie stel op sy daaglikse roetine. 06:00 - skuifel hy sukkel, sukkel na die klein, harde, houtbankie toe met 'n stomende beker koffie. Dis 'n afgesplinterde, donkerblou, erde beker. Dié wat net groter was as 'n koppie.

 In die winter kon mens die stoom beter sien spiraal uit die beker uit. In die somer het ek na aanleiding van sy luide geslurp, aangeneem dat die koffie warm moet wees. En altyd was albei sy verweerde smal hande met lang vingers om die beker gevou. So asof dit die hitte wou binne hou. Nou dat ek daaroor dink was dit seker net die eerste paar slukke wat warm was. Want Floors het so aan die beker sit en suie tot 08:00.

08:00 - Dit was die tyd wat Floors die beker versigtig, soos kosbare porselein, op die stoepmuur neergesit het. Sy oormekaar-gevoude bene moeisaam ontknoop het en voor hom uitgestrek het, tot in die sonkol wat lek, lek aan die stoep.

Van iewers af het hy 'n kromsteel pyp uitgediep. En soos met die koffie was dit net die eerste drie trekke wat aktief was. Dan het die pyp ook stil tussen die vingers gelê. En Floors het gestaar na iets. Of was dit dalk na iemand? Iemand waarvan net hy bewus was. Wat niemand anders kon sien nie. Sou hy ook die persoon hoor? Of was sien genoeg?

Ek was nog nooit by die een of ander vorm van 'n wasmuseum nie. Maar ek dink ek weet hoe die wasbeelde voorkom. Roerloos, sonder uitdrukking soos Floors Flenters gesit het tussen 08:00 en 11:00. Teen hierdie tyd was daar feitlik volson op die stoep. As Floors homself rankerig van die bankie af opgehys het, was ek seker kon jy bene en ledemate wat in plek skuif, hoor kraak. Nou word die pyp lêgemaak langs die blou beker.  En dis asof die son bietjie meer lewe in hom ingebak het. Want hy beweeg makliker as hy weer die huis instap.

Hy het nie lank in die huis gebly nie. As hy uitgekom het. het hy in sy een hand 'n klein erde potjie gedra. In die ander hand het hy die bottel met die bruinerige vloeistof ingedra.

Vroeër toe hy nog af en toe gepraat het was sy enigste opmerking as hy die bottel in my rigting waai: "Dop vir die skop. en wyn vir die pyn." Later het hy nog net die bottel in my rigting gelig en 'n ruk daarna het hy iemand in sy eie wêreld met die bottel begroet.

Ek het altyd gewonder wanneer hy dit wat in die pot was gaar gemaak het?

Af en toe kon mens sien hoe hy sy "skop" in die bloubeker uitgooi. Dan het hy albei hande in dieselfde ritueel om die beker gevou en met suinigheid geslurp-suig.

Dis eers as die aandlig hom verander het in niks meer as 'n donkerkol nie, dat hy houvas, houvas weer die binnekant van sy huis opgesoek het. Daar waar mure hom van die buite wêreld verskans. Waar sy doen en late wegraak vir ander se oë om sy bewegings dop te hou.

Tot eergister. Hy was al op die stoep toe ek uitkom. Maar die vingers was nie om die beker gevou nie. Sy bene was lank voor hom uitgestrek. Sy arms oop asof hy iemand wou omhels. En aan sy een voorvinger het die beker slap gehang.

Hy het na bo gestaar. Ek het weer my denkbeeldige lyn getrek om sy blik te volg. En daar aan die einde van my streep, het ek 'n Engelwolk gesien, wat kompleet gelyk het of sy vir Floors Flenters nader wink.

© Christo du Plessis