Tuesday, 10 November 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 14)



Dis die stilte wat my terugbring na die hede. Ek kan my ore nie glo nie. Ek maak onmiddellik ‘n gruwelike afleiding. Ek is dus ‘n verkragtingsproduk.
Ek is nie in liefde verwek nie. Met die grootmaakproses wat van my elfde jaar af liefdeloos was toe Pa sogenaamd dood is, het ek lankal vrede mee gemaak. Maar hierdie nuwe feit kom sit nie so lekker in my klere nie.

Dis Duiker wat die stilte verbreek toe hy sy keel skraap en skor vra:

          “Wat jy nou sê is dat daardie fokken vark vir Babbels gerape het! Ek hy leef al die jare tussen ons en ons wis van niks?”

Alhoewel Pa se stem sterk is, kan ek die sagtheid daarin bespeur waarmee hy destyds vir my die storie van die Sewe Susters vertel het. ‘n Ongedurigheid neem pos in my en ek staan driftig op. Kyk na Pa en vra moedswillig:

          “Ek kan mos nie net aanneem dat jy my pa is nie. Die pa wat ek geken het, het my liefgehad en sou my nie los in die liefdelose sorg van ‘n vrou wat nie my bloedma was nie. Maar dis seker te verstane. Noudat ek ook weet dat ek ‘n verkragtingsproduk is eerder as in liefde gemaak.”

Ek hoor hoe Babbels haar asem vinnig intrek. Haar vingers sluit bleek in die vuurlig om Pa se voorarm.
Hy vryf gerusstellend oor Babbels se vingers, kyk sag na haar voordat hy my antwoord.

          “Hierdie verhaal van ons lewens het soveel wrang kinkels in dat dit, behalwe bloedtoetse, ‘n ewigheid sal vat om jou te probeer oortuig dat ek wel jou pa is. Daar is een manier hoe ek dit vir jou kan bewys.”

Hy staan op, vat stewig om my arm net bokant die elmboog. Dan trek hy my na die oop kol tussen die bome waar ek die sterre kan sien.
Terwyl hy my so aan die arm hou wys hy met sy wysvinger na die klossie sterre wat dig by mekaar sit.

          “Sien jy daardie sterre is die Sewe Susters. Kyk of jy sewe kan kry.”

Ek sien die sewende ster wat dof agter die ander wegkruip, maar kan nie anders as om soos in my kindertyd vir hom te sê:

          “Ek tel net ses.”

Ek hoor die hartseer in sy stem:

          “Kyk mooi. Sien jy die groot een wat die blinkste is? Dit is die oudste suster. Nou moet jy mooi kyk, die jongste sustertjie is die skaam ene. Sy kruip agter die ander weg.”

Ek laat sak my kop teen my bors. Voel hoe hy my aan my arm trek en omdraai sodat ek na Babbels kan kyk.

          “Daar sit die jongste Susterjie. Die skaam ene wat altyd agter die ander ses gestel is.”

Die besef dat ek en Pa vir die eerste keer in my volwasse lewe langs mekaar staan, slaan my tussen die oë en ek kners hard op my tande om te keer dat my emosies nie met my weghardloop nie.

Met sy hand steeds om my arm, stap ons terug en gaan sit.

Hy kyk ons een vir een aan terwyl hy sê:

          “Dit was nie die einde van die verhaal nie. Natuurlik het Netta ‘n hewige ding gemaak van die feit dat Babbels vir Dirk verlei het, soos sy dit gesien het.
Sy het nie die roede gespaar nie. En ruggraatlose Dirk het die agterdog teen Babbels aangeblaas. Dat sy hom verlei het.”

Babbels neem die vertelling oor. Sy haal eers diep asem voor sy ons neem tot by die oomblik toe Netta op hulle afgekom het.

**********

As Netta histeries gil terwyl sy op hulle afstorm, spring Dirk vervaard regop. Kry homself betaamlik maar laat vir Babbels weerloos en naak op die kombers lê. Sy trek die kombers oor haar om haar naaktheid te bedek.

Hy hou sy hand op en sê gemaak verskonend:

          “Ek is jammer dat ek ingegee het my Skat. Maar sy was so opdringerig en het nie nee vir ‘n antwoord gevat nie. Ek het vir haar gesê ek wag vir jou sodat ons kan piekniek maak.”

Netta is boosaardig kwaad as sy vir Babbels toetakel:

          “Jou gemene klein slet! Kastig die skaam een, maar hier gebruik jou kans om my verloofde te verlei. O ek verfoei jou! Mag jou lewe vol smart en lyding wees tot met jou dood!”

Babbels snik terwyl sy by Netta pleit:

          “Dis nie waar nie Ousus. Hy het my … hy het my … hy …”

Netta raak buite haarself as sy Babbels aan die skouers beet kry en skud terwyl sy gil:

          “Dit lieg jy! Jy lieg jou verradderlike gemors. Hy sou dit nooit doen nie.”

Sy swaai om na Dirk wat nog steeds gemaak verskonend rond staan:

          “En jy! Ek wil jou nooit weer sien nie! Hoe kon jy? Jy kon haar verleiding teengestaan het! As ek terugkom by die huis, moet jy weg wees. As ek jou daar kry, sal ek vir Pappa vertel dat jy vir my gelieg het, dat jy al die tyd getroud was.”

Dirk hou sy hande uit na Netta:

          Nettatjie! Asseblief? Jy weet dat ek vir jou alleen liefhet … “

Dit klink meer asof sy soos ‘n slang sis as sy vir hom sê:

          “Loop! Loop uit my lewe uit jou bedrieër!”

As Dirk omdraai en loop, hardloop Netta in die teenoorgestelde rigting.

Sy steek skielik vas, draai om en gluur vir Babbels aan wat haar geskeurde klere bymekaar maak en haar met die kombers toedraai.

          “Jy kan maar jou tasse ook gaan pak. Hierdie plaas verlaat en nooit weer terugkom nie. En as jy dit waag, sal ek … “

Sy hou vir ‘n oomblik op praat. Kyk Babbels minagtend aan voor sy haarself korrigeer:

          “Of nee, jy kan terugkom nadat jy gaan boete doen het oor jou sondes, want anders breek jy Pappa se hart. Jy is mos sy oogappel. Maar ek sweer ek sal alles van jou wegvat wat vir jou lief en dierbaar is.”

**********

Dis Sussa wat ons herinner dat Netta dit ook so in haar dagboek beskryf het.

          “Sy het net die gedeelte uitgelos waar Babbels vir haar gesê het dat Dirk haar onteer het.”

Nou neem Pa weer oor. Ons almal luister in stilte. Ek luister aandagtig want my lewe is besig om te ontvou. En dit is ‘n bizarre vreemde verhaal. Dit voel of ek buite alles staan en inkyk na ‘n toneelstuk.

Pa sit sy arm om Babbels se skouers. Ek kan sien hy is lief vir haar. En as ek aan die verhaal van die Sewe Susters dink, weet ek eintlik nou dat hy nog altyd vir haar lief was, al was hy met Ma getroud.

          “Babbels het na my toe gekom in haar nood. Ons was saam op skool en het mettertyd mekaar liefgekry. Maar ek het nooit haar mense ontmoet nie.
Jou oupa Grootgert het geglo soos Laban van die Bybel. Die jonger suster kan nie trou voor die oudste nie getroud was nie. Dus het ons ons liefde en verhouding geheim gehou.”

**********

Die sagte klop wat op die dringende gelui van die deurklokkie volg, laat vir Jannus frons. Hy weet Babbels is op die plaas en hy verwag geen ander mense nie.
Hy maak die deur oop en sien dadelik dat die Babbels wat voor hom staan erg getraumatiseerd is.
Die traanmerke op haar wange laat hom versigtig optree as hy haar in sy omhelsing intrek:

          “Wat het jou so geweldig ontsteld Babbels?” Sy stem sag.

As sy haar kop teen sy skouer vasdruk en aan hom vasklou, snik sy sonder ophou. Hy lei haar die huis in en gaan sit met haar in sy arms op die bank. Hulle sit so sonder om te praat en hy laat haar begaan.

As sy uiteindelik effens kalmeer, vertel sy vir hom tussen die trane deur met rukke en stote wat plaasgevind het.

Jannus voel hoe die woede in hom opwel. Maar besef sy eerste prioriteit is nou Babbels.

Sy sluit haar vertelling af:

          “Sy … sy wou nie eens hê ek moes bad nie …”

Jannus val haar in die rede;

          “Ons moet jou dadelik by die dokter kry. Dan moet ons ‘n saak gaan maak by die polisie.”

Sy klou hom weer vas en soebat:

          “Nee, nee asseblief nie Jannus. Ek sien nie kans om dokter toe te gaan nie. En ook nie die polisie nie. Dirk sal net vir hulle vertel wat hy vir Ousus vertel het.”

Jannus bly geduldig:

          “Dan gaan ons net eers dokter toe. Ek sal die heeltyd by jou bly, jou hand vashou.”

Dit neem egter tyd om haar oorreed te kry voordat hulle na die hospitaal se ongevalle afdeling vertrek.

Nadat Jannus vir die personeel vertel het waaroor hulle daar is, behandel hulle vir Babbels met deernis en sorg.
Toe hulle voorstel dat Jannus in die wagkamer gaan wag sodat hulle met die ondersoek kan voortgaan, keer Babbels angstig:

          “Nee! Laat hy by my bly asseblief. Ek wil nie alleen wees nie.”

Die Suster stel haar gerus en laat vir Jannus saam deurgaan na die ondersoekkamer.

Terwyl hulle vir die dokter wag, vryf hy teer oor haar hare. Hou haar hand rustig vas in teenstelling met die woede wat in hom woed.

Die Suster kom met ‘n ander vrou in die ondersoekkamer. Sy stel hulle bekend aan Anna van Staden, ‘n traumaberader.

          “Sy gaan solank met jou gesels Cora. Terwyl ons vir die dokter wag. Hy word net opgehou in die teater.”

Babbels se regte naam klink vreemd in Jannus se ore. Hy dink met ‘n stil glimlag in sy binnekant hoe hy vir haar die naam Babbels gegee het omdat sy so baie praat. Hulle was toe nog op hoërskool. Nou noem almal haar so.

Hy besef weereens dat hy lief is vir hierdie gebroke stukkie mens wat so verwese hier lê en haar laat lei deur sy teenwoordigheid.

Die suster moes vir die berader genoem het dat Babbels vir Jannus by haar wil hê, want sy verwys nie daarna dat hy buite kan gaan wag nie.

Die manier waarop die vrou met Babbels werk is rustig en kalmerend. Sy is professioneel maar menslik.

Teen die tyd wat die middeljarige dokter opdaag, lê Babbels rustig terug. Hy hanteer Babbels asof sy van porselein gemaak is. Berei haar op die ondersoek voor voordat hy haar met instrumente benader om die ondersoek te voltooi.
Hy stel haar voortdurend gerus terwyl hy besig is.  

Jannus voel hoe Babbels sy hand vasklou terwyl die dokter besig is met die ondersoek.
Die trane wat by die hoeke van haar oë uitloop, vee hy lomp af terwyl hy haar saggies troos.

Wanneer die dokter klaar is, stroop hy die handskoene af. Hy kom sit op die kant van die bed en kyk vaderlik na Babbels en Jannus.

          “Ek sal in my verslag kan skryf dat jy wel verkrag is Juffrou. Maar daar is iets anders…”

Hy bly ‘n oomblik stil.

          “Is julle seksueel aktief?”

Sy reguit vraag laat vir Jannus en Babbels bloedrooi bloos. Hulle antwoord nie hardop nie en kyk stil na mekaar.

Jannus knik skaam:

          “Dit was net een keer dokter.”

          “Een keer is genoeg om ‘n meisie swanger te maak Jongman.”

Hy kyk weer na Babbels:

“En ek vra want ek vermoed dat jy swanger is. Ek kon dit tydens die ondersoek aan jou baarmoedermond sien. Ek sal graag wil bloed trek om te bevestig.”

As Babbels steeds broos en skaam toestemming gee, begin die dokter voorbereidings tref om die bloed te trek.

**********

Die besef van wat Pa vertel, skud my. Dus is ek wel in liefde verwek. Ek is Pa en Babbels se kind.
Maar hoekom sou almal dan dink dat ek Dirk se kind is.

Voor ek kan vra, praat Duiker:

          “En? Wat het jy met daardie donnerse verkragter gemaak?”

Pa kyk van hom na Babbels:

          “Babbels is die aand in die hospitaal opgeneem vir observasie. Toe het ek hom gaan opsoek. Al wat ek nou vir jou kan en wil sê Duiker, is dat hy na my besoek nie uit sy oë kon sien nie en hy sou nooit kinders kon verwek nie.”

Duiker lag saggies:

“Hie, hie, hie, sò wil ek dit hê swaer, sò wil ek dit hê.

Die nag het al vêr gevorder. Maar almal sit vasgenael om die volgende deel van die verhaal aan te hoor.

          “Hoe het dit gekom dat Pa met M … Netta getroud is?” wil ek weet.

Ek kry die woord ‘Ma’ nie uitgespreek nie. Die flarde van my lewe begin stelselmatig bymekaar kom, verweef as iets wat seker een of ander tyd vir my ook sal sin maak.


Ek wag geduldig dat Pa die storie gaan haal waar dit vir soveel jare geberg was. Ek kan sien dat dit vir hom moeilik is. Maar dan onthou ek, so was my hele lewe moeilik en hy was nie daar om dit makliker te maak nie.

Wednesday, 4 November 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 13)



Ek kyk van Duiker na die man wat voor hom staan en terug. Die man wat my pa moet wees.
Verskillende emosies maal deur my. Die woorde vind egter nie hulle pad oor my lippe nie.

Duiker is bleek en daar is ‘n duidelike wit kring om sy mond. Ek kan sien dat hy moeite het om sy woede te beteuel.
Vir ‘n oomblik dink ek hy gaan vir Pa met die vuis bydam.

Hy praat afgemete:

          “Jou bliksem! As ons nou nog in doerie voor-jare was het ek jou fokken kakebeen nou, hier, op hierdie donnerse plek af ge-fokken-donner.”

Ek hoor hoe Marda se Ma haar asem skerp intrek. Sy is duidelik nie sulke taalgebruik gewoond nie.

Tòg stap sy teen Duiker vas en slaan haar arms styf om sy lyf. Sy kom egter nie verder nie as … : “Ouboet! … “ toe druk Duiker haar ferm van hom af weg met sy aggressie gerig op haar:

          “En jy Babbels! Jy wat jou mense wat vir jou lief en dierbaar is, net so in hulle moer in stuur en net fokken spoorloos verdwyn!”

Hy gluur hulle albei dan aan. Sy woorde is hard en kras:

          “Wa … wat dink julle van julle fokken self?” Hy wys na my.

          “Daar los jy jou klong net so in ou nydige donnerse Netta se sorg om hom skrik op die lyf te jaag vir die res van sy bliksemse lewe! Ja, kyk mooi Loopdop Doep. Hier staan jou klong! Hy wat sonder die liefde van ‘n vader en moeder moes grootgeraak het.”

Marda gaan staan tussen haar pa en ma. Sy lyk geskok en verward.

          “Pappa, Mamma, wat gaan aan? Praat hierdie man die waarheid? Waar pas alles dan inmekaar?”

Dit gee vir Pa die geleentheid om voor te stel dat ons gaan sit dan kan hulle, hulle storie vertel.

Ons gaan terug vuur toe. Die gaar vleis vergete. Kleintjie staan beteuterd, met hangskouers langs die vuur.
Hy praat met Pa, maar hou vir Duiker in die oog. Ek is seker hy het Duiker se tirade gehoor en is bang hy kry die pak slae van sy lewe omdat hy gelieg het.

          Ek het gepoebee Menee Loepdop. Soes ons geprêktis hat. Ek het gesê dis’ie Menee Loepdop wat in’ie pitret is’ie.”
Pa lig sy hand en stel vir Kleintjie gerus.  

Tot nou toe het Pa my glad nie aangespreek nie. Skaars in my rigting gekyk. Ek het wel agtergekom dat Babbels my onderlangs dophou.

Dit voel soos ‘n ewigheid voordat Pa begin praat:

          “Ek moet julle terug vat na die tyd toe Netta vir Dirk en Babbels agter die duin aangetref het. Let wel ek sê aangetref en nie betrap nie.”

Terwyl Pa praat, dwaal my gedagtes terug die verlede in en die tonele, soos wat Pa dit beskryf, speel voor my in my geestesoog af.

“Babbels was ‘n jong lewenslustige meisiekind. Skaars al vrou toe Dirk vir die eerste keer saam met Netta plaas toe gegaan het.
Hy toon dadelik meer as platoniese belangstelling in Babbels. Alhoewel sy gevly is, maak dit haar tòg ook ongemaklik.
Dié betrokke naweek was Netta besig om vir Ma-Let te help koekbak en sy kon nie saam met Dirk gaan piekniek hou nie. Toe lok hy vir Babbels saam.”


**********

Dirk kry vir Babbels waar sy buite besig is om die hanslammers melk te gee.
Hy staan ‘n oomblik stil en beskou haar wellustig van bo tot onder.

Wanneer sy opkyk en hom gewaar, glimlag sy spontaan breed.

          “Die lammers hou jou besig my Meisie.” sê hy niksseggend.

Sy antwoord hom vriendelik en glimlag steeds.

          “Ag nee wat, ek is darem nou klaar. Nog net die laaste slukkies en dan bottels was.”

          “Kan ek jou help?” vra hy terwyl hy, terwyl hy sy hande dieper in sy broeksakke indruk.

Sy lag guitig:

          “Nee dankie Dirk. Jou wit handjies is te sag vir hierdie wilde kinders. En die bottels is vinnig om te was.”

Sy is te naïef om op te merk dat Dirk hom bloedig vererg oor die verwysing na sy hande. Hy steek egter sy woede weg agter sy glibberige glimlag as hy haar suggestief antwoord:

          “Ek sal jou nog leer wat hierdie wit, sagte handjies goed en lekker kan doen my Meisie.”
Sy lag sy woorde af en gaan aan om die melkbottels te was.

As hy haar nooi om saam met hom te gaan stap, klink dit heel onskuldig:

          “Wil jy nie saam met my gaan stap nie? Dan wys jy bietjie hierdie plaas vir my. Vertel my waar die naam Grootdrink vandaan kom. Jy lyk vir my soos ‘n natuurkind wat hierdie dinge sal weet.”

Uit die aard van haar sonnige geaardheid sien sy niks daarmee verkeerd nie en stem in.

Dirk sê hy gaan net gou ‘n kortbroek aantrek en dan kan hulle stap.

As hy by die huis uitkom met die piekniekmandjie en kombers. vra sy verbaas:

          “En dié nou? Sou jy en Netta nie gaan piekniek maak het nie?”

Hy kyk vinnig oor sy skouer na die huis en antwoord sag:

          “Netta is nou eers besig om vir Ta-Let te help. Toe sê sy jy moet sommer saam met my gaan.”

Hulle stap en Babbels praat aanmekaar. Vertel vir hom alles van die plaas wat sy in haar wese liefhet.

Hy maak net af en toe die regte geluid om voor te gee dat hy haar vertelling interessant vind. Hy stuur haar agter die sandduin in. Hier is hulle buite sig van enige nuuskierige oë. Hy weet Netta sal hom nie kom soek nie, want sy het gesê dat hulle te laat gaan klaarmaak.

Hy gooi vir hulle die kombers oop, vat haar hande en help haar om te gaan sit.

          “So ja. Nou kan ons die lekker koel wyn geniet saam met die mandjie wat Netta vir ons gepak het.”

Dirk kyk haar nie in die oë nie en skud die leuen wat hy vertel, ongeërg van hom af en kom sit styf langs haar.

Hy trek patroontjies op haar hand met ‘n grashalm. En terwyl hy sag met haar praat, laat hy sy kop in haar rigting sak:

          “Jy weet my Meisie, ek en Netta is nou wel verloof, maar my hart behoort aan jou. Vandat ek die eerste keer my oë op jou gelê het, het ek geweet dis vir jou wat ek wil hê.”

Dit maak vir Babbels ongemaklik en sy skuif haar hand buite bereik van die grashalm.

Sy kyk vir Dirk met groot helder blou oë terwyl sy vir hom sê:

          “O my jinne Dirk. Dit kan nie wees nie. Ek hou van jou, maar nie op daardie manier nie. En so by so kan ek mos nie my suster se hart so breek nie.”

Hy gee egter nie so maklik op nie. Hy is die jagter en sy die prooi wat hy in sy visier het.

Hy strek sy arm en streel sag oor haar arm terwyl hy weer nader aan haar skuif. Voordat sy kan keer druk hy sy mond gulsig oor hare en soen haar ru.

Babbels wil opspring terwyl sy geskok uitroep:

          “Nee Dirk! Hoe durf jy!”

Dirk kry haar egter aan haar arms beet en druk haar met geweld plat op die kombers. Terwyl hy haar arms en lyf vaspen met sy lyf laat hy sy lippe oor haar gesig en lippe dwing.

          “Kom nou my Meisie. Moenie maak asof jy dit nie ook wil hê nie. Ek het mos gesien hoe jy na my kyk.”

Sy stoei om los te kom. Maar hy is te sterk vir haar. Terwyl hy haar rok opdruk en met sy een hand haar onderklere met geweld afskeur, sê hy met sy tong nat in haar oor:

          “Nou sal ek jou leer wat hierdie sagte wit handjies aan jou kan doen my Meisie.”

Babbels begin pleit:

          “Nee asseblief Dirk. Jy wil dit nie regtig doen nie. Ek smeek jou laat my gaan, ek sal vir niemand vertel nie.”

Sy begin huil en spartel tevergeefs teen die sterker Dirk wat doelgerig voortgaan.

In die kombuis vee Netta die laaste meel van die deegtafel af. Ma-Let vee haar hande aan haar voorskoot af en sê vir Netta.

          “Ai dankie my Kindjie. Met jou flukse hulp het ons nou gouer klaargekry as wat ek voorsien het. Nou kan jy gou julle mandjie pak en dan gaan verras jy vir Dirkman.”

Netta soen haar ma teen die voorkop:

          “Dankie Mamma. Hy sal daarvan hou.”

Sy stap uit om die mandjie te gaan pak.

Ma-Let is nog besig om die laaste baksels weg te pak in die spens toe Netta inkom:

          “Dis snaaks, die mandjie en die piekniek-kombers is weg.” sy sê dit asof sy met haarself praat.

Ma-Let antwoord so tussen die werk deur:

          “Dirkman het dit seker saam geneem met die hoop jy kry vroeër klaar en dat jy by hom sal gaan aansluit my Kind.”

Netta soen haar ma en stap in die rigting van die duin. Haar en Dirk se gunsteling piekniekplek. Soos Dirk altyd sê:

          “Dan is ons so bietjie weggesteek van nuuskierige oë. Netnou word klein Babbels slim as sy ons sien.”


‘n Ligte glimlag speel gelukkig om haar mond.

Wednesday, 28 October 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 12)



Wanneer Duiker uiteindelik vir Kleintjie neersit, hou hy hom aan die skouers vas, kyk af in die klein bruin oë omring deur plooie en voue en sê duidelik aangedaan:

          “Klein, ek wil alles hoor. Hoe julle vermis geraak het, hoe jy oorleef het, waar Loopdop is!”

Marda kom ook nader;

          “Julle ken mekaar? Hoe, van waar af?” Sy klink verras, verslae.

Kleintjie is half sku om te antwoord. Maar as ons almal hom vraend aanstaar het hy nie veel van ‘n keuse nie.

          “Ja Miss Marda. Ek ken vi Menee Dyke van lank se tyd af terug.”

Hy en Duiker staan soos twee samesweerders langs mekaar, maar praat nie verder nie.

Ek tree vorentoe en stel voor:

          Wat sê julle ons gaan maak vuur. Dan sit ons buite en laat hierdie man sy verhaal vertel.”

Duiker is dadelik daarvoor te vinde en ek kan die verligting op Kleintjie se gesig sien.
Hy reken seker hoe langer hy die verduideliking kan uitstel, hoe veiliger is hy.

Ek help vir Kleintjie met die vuur se pak. Maar ek word net toegelaat om vir hom die hout aan te dra. En natuurlik op sy instruksies.

          “Nie Klei-menee, ons vebrykie daai pramfien pille nie. Dit lyk net lattie vleis stink. Menee moet ees die fyn stokkies-goete bring lat onsie vie met daai kan beginne.”

Sussa en Marda kom met ‘n skinkbord drinkgoed en peuseldinge uit. Marda beduie dat hulle net sorg vir die eerste rondte en dat ons manne maar moet beurte maak om aan te vul.

Die vuur knetter warm en ons teug aan die bier uit die bottels. Die rokers het aangesteek. Ek sorg dat ek wind-op van hulle sit sodat ek nie nodig het om onwillig saam met hulle te rook nie.

Daar hang ‘n stilte tussen ons. As Duiker vir Kleintjie ken, reken ek Skippie moet hom ook ken.

          “Nou Skippie, ken jy en Kleintjie mekaar ook?”
Skippie en Kleintjie vang mekaar so skuinsweg met die oog en Skippie antwoord:

          “Ja ons ken mekaar. Maar ons kom nie ooreen nie. Of ons het nie toe die ou bliksem nog gelewe het. Ek sal ook graag wil hoor hoe hy dit gemaak het om uit die dood uit op te staan.”

Duiker sluit vinnig by Skippie aan:

          “Ja toe Klein. Nou wil ons hoor. Wat het jy te sê. Jy moes dan mos nou ook gedood het saam met Loopdop toe die skuit met julle ondergegaan het.
En hoe is dit dat jy lewe en nie teruggekom het dorp toe om te kom vertel wat posgevat het nie?

Klein maak sy hande warm by die vuur teen die denkbeeldige koue. Hy skraap sy keel:

          “Nie Menee Dyke sien’ie ding staat soe. Daai tyt toe my Menee Loepdop met daai anner man ytgegaan het met’ie skyt, het ek gesien hie kom kak. Menee sien ek het’ie daai man se oge getrust’ie.”

Hy kyk vir Marda en vra onderdanig:

          “Miss Marda kan ‘n man wat dan nou soe grote saak moet aanpraat nie ok maar ‘n keel dingetjie kry nie?”

Marda gee vir hom ‘n groot glas vol van ‘n liggeel vloeistof. Hy vat ‘n groot sluk en klap sy lippe.

          “Soe sierigheikie sal nou die tong lekkede lat praat.”

Ek begin ongeduldig raak. Die man hou die sleutel tot my verhaal en hy sit en mors tyd. Ek gee dit dan ook so te kenne as ek hom aanjaag.

          “Ja toe nou maar. Vertel jou storie en kry klaar.”

Hy laat hom egter nie aanjaag nie.

          “Klei-menee, mens loepie vinnig met lank voor gister se stories’ie.”

Hy vat weer ‘n sluk en sit dan sy temerige vertelling voort:

          “Oorlat ek’ie lekke gevoel het’ie oor daaise een se oge nie het ek ma vir Menee Loepdop te kenne gegie lat alles’ie pluis is oo myse maag’ie. Dis toe lat hy vi my vrygespriek het van daai môre se vis-sake.”

Dis Skippie wat reageer:

          “Jy weet jy maak my nog steeds sò de bliksem in. Nou weet ek dat ek jou fokken nog steeds nie like nie. Want jy trust nie die man wat saam met die skuit uitgaan nie, maar omdat jy te skytbang is, los jy die hand wat jou gevoed het in gevaar en kruip weg vir jare.”

Die vrouens was tot nou toe stil. Marda tree vir Kleintjie in die bresse:

          “Kleintjie was vir al die jare ‘n getroue werknemer en ek vertrou hom steeds om net ons beste belang op sy hart te dra. Gee hom nou maar eers kans om sy verhaal te vertel.”

As Skippie se mond oopgaan om terug te kap, lig Sussa haar vinger vermanend.
Dit gee vir Kleintjie die geleentheid om aan te gaan waar hy opgehou het.

          “Ek het’ie dag by ou Floors Flenters gaan lê en ons’et papsak gevat. Toe’t die manne laataand gekom ve’tel van’ie skyt wat gaan lê het. Toe bly ek somme da by Floors tot ons sekerigheit kan gekry het van wa’rie waheid dan sou staan.
Menee sien my Maaima het ok’ie gewiet ek het’ie skyt geklim’ie. En hoe sou ek nou ve hom gat sê het wa kom ek vedaan?”

Hy vou albei sy hande om die glas en hou dit uit na Marda toe. As sy die glas by hom vat, staan ek op om vir ons ander ook nog ‘n dop te gaan haal.
Ek wys vir hom vinger en sê:

          “Jy praat nie ‘n woord voordat ek nie terug is nie.”

As ek weer uitkom, sien ek dat daar vars hout op die vuur is. Hierdie vleisbraaiery gaan laat eers begin. Maar eerder so as wat iets nou weer die ou Khoi se aandag aftrek.

Ek beduie vir hom met my kop om aan te gaan.

          “Toe’t ek’ie kans gesien om ok ma vir my Maaima te dôd want ek was hoeka moeg van ha.
Soe’t ek toe net gewag tot die dôdstyding gekom het en van die skyt se lyk wat gekry is, toe loep ek ma in hier’ie rigting sam’ie wind.”

Duiker praat nou vir die eerste keer:

          “Hoekom sou jy dit doen? En wil jy vir my sê daardie man in die portret wat in die voorhuis hang, is nie Loopdop nie?”

Die ou het egter daarvoor ook ‘n antwoord reg:

          “Daai’sie Menee Loepdop’ie. En Menee die bangte het ve my gevat. Menee wiet self hoe Miss Netta kon gerak’et van kwaaigeit. Sy sou’ie lewe yt my gemoe het as ek by’ie hys aangekom’et en lewe oorlat ek’ie op’ie skyt was’ie en sy nou sonne man gewies’et.”

Hy kyk half beskuldigend na Duiker wat diep sug, sy sigaret brandmaak en die bierbottel voor sy mond sit en aanhou sluk tot die bottel leeg is.

Ek kan nie glo wat ek hoor nie. Elke keer net as ek dink dat die hele saak nou opgelos is, is daar weer ‘n kinkel in die spreekwoordelike kabel. Dit maak my moedeloos, om die minste te sê.

My oë dwaal na Marda. Dié kyk my aan met ‘n blik in haar oë wat sê: “Toe, ek het julle mos gesê my pa is nie Loopdop Doep nie. Maar julle wou my mos nie glo nie.”

Sy spreek egter vir Kleintjie hardop aan toe sy vir hom sê om maar die vleis gaar te kry dat ons kan eet.

Met die teleurstelling duidelik sigbaar tussen Duiker, Skippie en myself, sit ons en gesels maar oor alles en nog wat.

Net toe Kleintjie die vleis van die rooster afhaal en in die vleisbak skep wat Marda hom gegee het, gewaar ons ‘n kar se ligte deur die bosse en bome aankom.

          “Dis vreemd …“ merk Marda op … “Ek verwag nie vanaand mense nie.”

Sy staan op en wag tot die kar voor die huis stilhou voordat sy nader stap. Ons drie manne stap saam met haar.

As die motordeur oopgaan roep Marda uit:

          “Pappa! Mamma! Julle sou dan eers môre terugkom.”

Die dakliggie verlig die man se gesig en Duiker prewel:

          “Loopdop-fokken-Doep.”

Die man ouer as die een in die foto se gelaatstrekke lyk vir my bekend.

Duiker staan stadig nader en as Marda haar ouers klaar gegroet het, draai haar pa na ons toe. Hy steek sy hand uit na Duiker en vra:

          “Wie sal ons gaste wees Mardatjie, kom stel ons so bietjie bekend my kind.”

Duiker klap die hand voor hom weg. Sy blou oë spuug vuur as hy bars sê:

          “Loopdop Doep! En moenie maak of dit fokken nie jy is nie. Ek sal jou uitken tussen ‘n duidend ander donners.”

Die man voor Duiker laat sak sy kop vir ‘n oomblik. As hy weer opkyk, kyk hy vir Duiker reguit in die oë terwyl hy antwoord:


          “Ja jy is reg Duiker. Maar dis ‘n lang storie …”