Thursday, 4 June 2015

Staptog: Clanwilliam na Lambertsbaai (hoofstuk 3)

Toe ons Graafwater bereik, was ek verras om te verneem my spoed was in die omgewing van 7 km per uur.
Daar besluit ek toe om bietjie die leisels in te trek en stadiger te stap.

Dis snaaks wat mens alles doen om jouself te motiveer om verder te loop.

Ek het opgehou om karre te tel. Maar ek het aan ‘n verskeidenheid onderwerpe begin dink.

Ek het onder andere gedink aan my stapdae. Dit was lekker en ek was fiks. Daar was nie ‘n pad waarvoor die span waarvan ek deel was, nie kans gesien het nie.

Dan het ek ek vir myself lofprysingsliedjies gesing. Nee, ek kan nie vir julle noem wat ek gesing het nie, want dis woorde en wysies wat ek vir myself in my kop opgemaak het.

Toe die pad moeiliker begin raak, het ek dit sterk oorweeg om op my hande te loop omdat dit vir my gevoel het of my voete ge-amputeer was.
Nou moet julle onthou al hierdie liedjies en rympies en dinge word op ritme van my voetval en asemhaling gedoen.

So onthou ek toe die Afrikaanse fliek “Dirkie”. Die fliek is gemaak toe ek seker so twee stene en ‘n tiekie hoog was.
In die fliek gaan kuier die klong saam met sy oom iewers. Hulle vlieg met ‘n ligte vliegtuig na hierdie Iewers toe.  Oppad kry die Oom ‘n hartaanval of ‘n ding en die vliegtuig val. Met Oom dood moes Dirkie, wat self nie veel groter as ek (toe) was nie, self in die woestyn oorleef.
Nou in die proses loop hy is sirkels en sê ritmies met elke tree, oor en oor: “My pa het my lief en hy sal my kry – My pa het my lief en hy sal my kry…”

So neem ek toe die rympie oor en sê vir myself – ritmies met elke tree oor en oor – net soos Dirkie van desjare: “My Vrou het my lief en sy glo in my – My Vrou het my lief en sy glo in my.”

So gee my vrou my onwetend nuwe moed om my nie te steur aan my seer voete nie. En natuurlik om eerder nie op my hande te loop nie. Maar ek weet ook verseker die Inwoners van Somerkoelte waardeer wat ek vir hulle doen.

My ondersteuning span verdien spesiale vermelding. Behalwe dat hulle my veilig gehou het, het hulle gesorg dat ek genoeg brandstof inneem vir energie en krampe en sommer vir morele ondersteuning ook.
Hulle het my gevoer van piesangs en neute tot aartappels en grondboontjiebotter. Magnesium en sout, water en Coke, solank my kragte hou moes ek versterk word.
  

Dankie Willem en Rita Pieterse  – Woorde om julle lof te besing skiet te kort. Weet net ek waardeer elke tree wat julle by my was.
Willem en Rita het gesorg dat ek genoeg vastigheid en vog inkry. En as ek die slag gerus het, het hulle my toegegooi met ‘n kombers. Dit het my so laat dink aan die perderuiters wat hulle perde toegooi. Dit het my krag gegee om weer te begin.

Dan was daar Johnnie du Preez – Terwyl hy die agterhoede gedek het, het hy ook die tyd gebruik om blikkies en dinge langs die pad op te tel wat ander ouens net neergegooi het.
Hy het ook my telefone beman om verslag te doen aan almal wat navrae gehad het.



Dankie Johnnie vir al die boodskappe wat jy oorgedra het. Dit het my voete ligter gemaak. Jy en jou bystand word ook opreg waardeer. 

Wednesday, 3 June 2015

Staptog: Clanwilliam na Lambertsbaai (hoofstuk 2) ...

So breek D-dag toe aan 30 Mei 2015.

Om 04:00 gaan kry ek vir Johnnie du Preez by sy huis. (Nee, ek het nie sy naam verkeerd gespel nie. Hy sê hy is mos nie Engels nie.)
Hy het die een ondersteuningsvoertuig beman.
By Somerkoelte het Willem en Rita Pieterse, van die ander ondersteuningsvoertuig, ons gekry en so het ons saam Clanwilliam toe vertrek.

Ek het my gedagtes doelbewus in ander rigtings gestuur om nie ag te slaan op die pad nie. Gelukkig was dit ook nog nagdonker en het dit gereën.

Toe hulle my aflaai op die hoek van die inkomende hoofpad en die hoofstraat, het my kop gespin. Dis of die werklikheid ver verwyderd was.

Ek het gedagtes soos duisende, verskietende sterre in my kop gehad. In retrospek kan ek nie onthou wat ek gedink het nie. Ek weet nie eens of my hart behoorlik geklop het nie.

Enige een wat die pad tussen Clanwilliam en Lambertsbaai ken, weet dat Bak-se-rug nie ‘n man se maat is nie.
Dit is ‘n lang en aanhoudende klim vir byna 10 km. Daarna is die afdraande net daar om jou bly te maak, dan begin jy weer klim.
Genadiglik was dit donker, so ek kon nie die pad ver vooruit sien nie. En dit het gereën, dus was my sig so bietjie aangetas.

Ek het probeer om met ‘n reënjas te loop, maar nie 100 jaar nie toe sweet ek meer as wat ek natreën. Nodeloos om te sê ek het verkies om nat te reën eerder as om nat te sweet.

Ek het besluit om die voertuie op die pad te tel wat by my verby ry terwyl ek stap. Dit het gehelp om my gedagtes te okkupeer sodat ek nie die roete vooruit kon dink nie.
So elke nou en dan as dit neig om te gebeur, hoor ek my Geliefde se stem wat vir my sê: “Jy hou van stap. Jy kan dit doen en jy gaan klaar stap. Dink daaraan dat jy iewers heen stap om foto’s te gaan neem.”
Met die gevolg ek het vir my ‘n gemaklike spoed gekies om te stap. En ek kon dit volhou sonder om myself te moor.

Daar is altyd negatiewe aspekte aan alles. Op die donker-nat-pad was dit die voertuie van vooraf wat my genoop het om van die teer af te klim en op die gruis te stap.
Ten spyte van Willem en Rita wat ‘n ent voor my uitgery het met waarskuwings ligte aan, het veral die manne in die groot lorries hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle het nie eens probeer om net hulle voete van die brandstofpedaal af te lig nie.
Eerstens ruk die wind van die lorrie my dan van balans af en tweedens gooi hulle die water, wat opskiet van die pad af, oor my. Ek het maar gaan stilstaan as ek gewaar dat daar ‘n lorrie aankom.
In sulke gevalle het ek maar op my betroubare kierie geleun. Ek moet darem noem dat my kierie sekerlik gesout is in stap-ondervinding. Die kierie het aan Tannie Ann Loubscher (nou 91) se skoonpa behoort. Sy het dit goedgunstiglik aan my geskenk.
 
Tannie Ann

Maar ek het besluit om die beste van die pad te maak en my ritme en spoed goed gehou ten spyte van onlekker goeters.

Tuesday, 2 June 2015

Staptog: Clanwilliam na Lambertsbaai (hoofstuk 1) ...

Aangesien hierdie storie vir langasems is, gaan ek dit in hoofstukke oor die verloop van ‘n paar dae plaas.

Ek het so paar maande gelede besluit ek wil vir Somerkoelte Tehuis vir Bejaarde Persone in Lambertsbaai help om fondse in te samel om hulle eetkamer op te knap.


 Maar in mens se kop kan jy mos die hoogste berge oor, die diepste seë oorwin en is jy so sterk dat jy vir Herkules in ‘n Ysterman-kompetisie ore kan aansit.

Ek wou egter glad nie iets so groot en buitengewoon doen nie. Ek wou eenvoudig die afstand tussen Clanwilliam en Lambertsbaai (63 km) te voet aflê.




 Nou kyk, dis nie die eerste keer wat ek sou stap nie. Nee! Ek het darem die Kaap-mars (in die dae toe die Weermag dit nog aangebied het) ‘n keer of twee-drie gestap. Of was dit nou nader aan 7?
Dan het ek seker 40-plus voetslaan roetes, van verskillende moeilikheids grade, op my kerfstok.
Maar nou moet julle ook onthou, al hierdie stappery het ongeveer 20 jaar gelede gebeur.

Toe ek die gedagte uitspreek en Somerkoelte se Beheerraad keur die fondsinsameling goed, toe weet ek die vet is in die vuur. Nou is daar nie omdraai kans nie.

Ek het borge per km begin vra en wonderlike reaksie gekry. Maar later meer daaroor.

Alles was gereël en reg. Die ondersteunings voertuie. Die verversings vir energie en krag. Die medisyne vir seer spiere en stukkende plekke.

Maar natuurlik was daar die doemprofete ook, wat vir my lyste so lank soos my voorarm gegee het van wat alles kan verkeerd gaan.

En dan die ouens wat my nie regtig ken nie, wat summier die uitspraak gemaak het dat ek dit nie gaan maak nie.
Ek dink as hulle weddenskappe gevat het op my vermoë om die roete te voltooi, het die hoogste bieër my seker met veiligheid 15 km gelyk gegee.

Die ergste van alles is dat die manne nie gedink het die stories bereik my ore nie. Ek het dit maar in stilte aangehoor. Want ek ken mos my eie vermoë.
En ek weet mos dat die Here saam met my stap en daar waar ek met seer voete en ander dinge sou sukkel, sal Hy dit vir my draaglik maak om te voltooi wat ek aangepak het.
Omdat die mense nie my geskiedenis van stap geken het nie, wou almal raadgee. Van wat ek moet aantrek tot hoe ek moet asemhaal. En natuurlik alles tussen-in.


So breek D-dag toe aan op 30 Mei 2015.

                                                                ... word vervolg ...