Tuesday, 2 June 2015

Staptog: Clanwilliam na Lambertsbaai (hoofstuk 1) ...

Aangesien hierdie storie vir langasems is, gaan ek dit in hoofstukke oor die verloop van ‘n paar dae plaas.

Ek het so paar maande gelede besluit ek wil vir Somerkoelte Tehuis vir Bejaarde Persone in Lambertsbaai help om fondse in te samel om hulle eetkamer op te knap.


 Maar in mens se kop kan jy mos die hoogste berge oor, die diepste seë oorwin en is jy so sterk dat jy vir Herkules in ‘n Ysterman-kompetisie ore kan aansit.

Ek wou egter glad nie iets so groot en buitengewoon doen nie. Ek wou eenvoudig die afstand tussen Clanwilliam en Lambertsbaai (63 km) te voet aflê.




 Nou kyk, dis nie die eerste keer wat ek sou stap nie. Nee! Ek het darem die Kaap-mars (in die dae toe die Weermag dit nog aangebied het) ‘n keer of twee-drie gestap. Of was dit nou nader aan 7?
Dan het ek seker 40-plus voetslaan roetes, van verskillende moeilikheids grade, op my kerfstok.
Maar nou moet julle ook onthou, al hierdie stappery het ongeveer 20 jaar gelede gebeur.

Toe ek die gedagte uitspreek en Somerkoelte se Beheerraad keur die fondsinsameling goed, toe weet ek die vet is in die vuur. Nou is daar nie omdraai kans nie.

Ek het borge per km begin vra en wonderlike reaksie gekry. Maar later meer daaroor.

Alles was gereël en reg. Die ondersteunings voertuie. Die verversings vir energie en krag. Die medisyne vir seer spiere en stukkende plekke.

Maar natuurlik was daar die doemprofete ook, wat vir my lyste so lank soos my voorarm gegee het van wat alles kan verkeerd gaan.

En dan die ouens wat my nie regtig ken nie, wat summier die uitspraak gemaak het dat ek dit nie gaan maak nie.
Ek dink as hulle weddenskappe gevat het op my vermoë om die roete te voltooi, het die hoogste bieër my seker met veiligheid 15 km gelyk gegee.

Die ergste van alles is dat die manne nie gedink het die stories bereik my ore nie. Ek het dit maar in stilte aangehoor. Want ek ken mos my eie vermoë.
En ek weet mos dat die Here saam met my stap en daar waar ek met seer voete en ander dinge sou sukkel, sal Hy dit vir my draaglik maak om te voltooi wat ek aangepak het.
Omdat die mense nie my geskiedenis van stap geken het nie, wou almal raadgee. Van wat ek moet aantrek tot hoe ek moet asemhaal. En natuurlik alles tussen-in.


So breek D-dag toe aan op 30 Mei 2015.

                                                                ... word vervolg ...

Tuesday, 25 November 2014

Trofee van vrees ...



"Hulle" sê mens moet jou vrese trotseer om dit te bowe te kom.
Maar wat "hulle" nie altyd sê nie, is of dit tel as jou vrees ongevraagd op jou afkom.
Ek kan baie goeters trotseer. En ek moet by sê ek is nie bang vir krokodille nie. (Het al blad geskud met een.)
Vir kameelperde het ek geen vrees nie. Ek het 'n wilde een probeer aanjaag sodat hy voor 'n skare toesighouers kon verby paradeer.
Skerpioene? Nee wat. Het met hulle gespeel as kind. En slange het ek aangehou as troeteldiere.

Maar ek moet bieg! Ek het een heilige vrees vir..... ja sowaar. Ek is skuitbang vir muise en rotte.
En nou praat ek nie van rotte so groot soos katte in die kwartiermeester se stoor nie.
Neeeeee!! Ek praat van gewone witrot en muis troeteldiere en veldmuise. Overgesetseinde slangkos.


Tydens my troetelslang se lewensduur was ek dikwels blootgestel aan my vrees. Want ek moes vir Koos voer.


So gebeur dit dan die een slag dat die rot my voor aan die hemp vasgeklou het in sy ontsnap poging.
Ek het met 'n klein rondekop hamer in my hand gestaan. En in my poging om die rot van my hemp af te kry, het ek myself geslat dat dit lyk of ek in 'n tennisbal haelstorm geloop het.

Maar toe Koos die tydelike met die ewige verwissel besluit ek, ek sal nou maar my eie troeteldier wees.
Dus hat ek toe geen probleme met die voerproses nie.

En toe kom my klein Asempie van Genade so jaar gelede in my lewe.
Sy is nou al yslik groot en verwag haar tweede werpsel.



Haar dankbaarheid dat ek haar lewe gered het strek nou sover dat sy vir my lewende geskenke aandra.
En sy dink dit goed om hulle vir my op die bed te los.

So kom ek Sondag namiddag net voor die son aan die Weskus sak, by die huis.
Moeg gekuier en ek sien uit om rustig op die bed te ontspan, vang my oog vir Kat voor die laaikas agter die kamerdeur.
Sy kan natuurlik nie onder die kas in nie. Maar ek sien dat sy dit ernstig oorweeg om die kas haarself op te tel om wat ookal onder die kas is uit te kry.

Kort, kort kom spring sy op die bed pernaaiu en koer hier om my totdat ek my vererg en opstaan om saam met haar onder die kas in te kyk wat sy dan nou so graag wil uit hê.
Ek kyk my oë moeg en sien niks.
"Ek sal nou die verdomde kas skuif dan kan jy sien hier is NIKS onder die kas nie" brom ek kaalvoet. En staan van die vloer af op.

Manne!! Dis toe ek daardie kas beweeg wat daar 'n veldmuis so groot soos 'n otter onder daardie kas uitvlieg.

Hy pyl reg op my kaalvoete af. En soos 'n jong  gimnas druk ek met my een hand op die laaikas en stuur hierdie 100 kg massa ligvoets die lug in. So by so dat ek so rukkie in die lug hang net om te kyk wat die muis se planne is.

Genadiglik volg Kat die muis blitsvinnig en druk hom aan die oorkant van die kamer teen die vloerlys vas.
Ek prys haar dat sy so vinnig intree om my lewe te red. Maar dit was geheel en al onverdiend.
Want sy ruik hom van die punt van sy stert tot op sy snoet en terug, spring op die bed en was haar gesig asof my lewe glad nie bedreig word nie.

Met die afkomslag probeer ek die bed raak trap maar misreken my en ek beland foutloos op die vloer. Voete netjies langs mekaar. Arms gestrek vir balans.
Uit daardie posisie vlieg ek by die voordeur verby tot in die kombuis om die besem te kry.
Bangwees is een ding! Maar om darem te wil moor is totaal ongevraagd. Dalk wag daar 'n hele kroos angstig vir die arme ding om huis toe te kom.
Ek maak die voordeur maksimum grote oop, kry die muis onder die besem in en vee.
Maar nou moet julle onthou hierdie muis het die lyf van 'n jong speenvark.
Dus laat hy hom nie sommer in 'n rigting vee nie.
Hy kies om sitkamer in te vlug. En daar raak meneer toe weg.

Ek keer die plek om! Soek onder die bank. Dis bitter moeilik om 'n rusbank te skuif as jy op hom staan.
Agter die tafel sover as wat die besem dit kan beweeg.

Toe doen ek die dapper ding. Ek dink dis die oomblik toe ek besluit om my vrees te trotseer en klim versigtig van die bank af om my soektog agter die gordyne voort te sit.
En daar sit hy. Gereed om aan te val! Maar ek is mos nou braaf. Druk hom weer vas met die besem en VEE!!
Die kalant was reg vir my en hy storm op my weerlose kaalvoete af. Ek druk op die besem en lyk soos Ockert Britz, die paalspriner van weleer.
Draai teen die plafon dat my spore daar verewig.
Ek kom af grond toe en trap fyntjies die muis se oor onder my groottoon op die vloer vas.
Die fluweel pels wat onder my toon rol laat my die tweede poging vir die paalspring oorwinning uitvoer.
Die aggresiewe muis kruip in 'n leë cd rak in, hergroepeer en maak gereed vir die volgende aanval.

Ek fnuik hom, gryp die rak en Superman by die voordeur uit. Skud hom in die blomme onder die stoep uit!
Hol met die spoed van witlig terug in die huis en klap die deur toe.

Van pure verligting skink ek vir my 'n konka rooies en sak weer op die bed neer.
Ek vat een groot sluk. Rol dit rustig in my mond rond en wou net sluk toe Kat deur die venster sweef. Met! die muis in haar bek.
Sy plak hom tussen my enkels neer en land op my bors met haar oorwinnings spin dat sy weer vir my 'n trofee gebring het.


Met die opspring van die bed af stamp ek my kop teen die plafon. Ek maak 'n tuimelrol tot by die kombers wat aan die voetenend van die bed lê.
Sonder om grond te raak, vou ek die muis in die kombers toe en land binne in die agter erf by die buurman se muur.

Ek skud die muis in sy erf uit. Nie omdat ek nou nog bang is vir die muis nie! Nee my vrese is nou getrotseer en oorwin.
Ek verhoed net dat Kat hom weer vir my kom offer.

Die buurman se kat het darem ook lewende geskenke nodig.

Monday, 24 November 2014

Die Oom (Hoofstuk 3) - Slot ... Die Volmaakte Moord

Dis donker in die skaduwee van die Wildevyeboom waar Klein Gert Venter staan. Hy wag om te kyk of iemand agtergekom het dat hy nie in sy bed is nie. Maar die huis bly donker en stil.
Hy sluip gebukkend tot by die draad. Daar seil hy behendig deur die gat in die heining.
Sy plan is fyn uitgewerk: Hy sal tot by sy Ma se huis gaan; daar sal hy agter die groentetuin in die ou watertenk gaan bly.
Eintlik is hy bang om huis toe te gaan. Hy is bang vir die slang wat die Oom gekry het. 'n Baie groot slang. Die Oom het vir hom gesê as hy dit waag om sy pote weer by die huis te sit, sal hy hom in die slanghok gooi. 

Hy het gehoor die Man wat die slang kom aflewer het, het gesê dis 'n baie gevaarlike slang. Die Man het dit iets soos 'n "annakonslang, 'n moordmasjien" genoem. Hy het vir die Oom gesê hy mag vir niemand van die slang vertel nie, want dis onwettig. Die Oom het gevra wat die slang eet. Die Man het gesê: "Enigiets wat beweeg. Honde, katte, en as jy nie meer die kind of vrou wil hê nie, gooi jy hulle sommer ook in die hok." 

Hy hou nie van die plek waar hy nou moet bly nie. Maar sy Ma en die Tannie van die welsyn het vir hom verduidelik dat dit vir sy eie veiligheid is. Hy verlang na sy Ma en sal eerder onveilig wees, as om so baie na haar te verlang.
Hulle noem die plek Kinderhuis. As sy Pa nog gelewe het kon hy vir hom gevra het wat Kinderhuis is. 

Sy gedagtes gaan terug na die laaste ete by sy Ma se huis.
Die Oom het kwaai geklink toe hy vir hom gesê het: "Toe eet, Mannetjie! Jy kan maar weet, dit is die laaste ete wat jy in hierdie huis in 'n donnerse lang tyd gaan eet."
Sy Ma sê dat hy wat Klein Gert is, nie daardie woord mag gebruik nie. Dis vloek. En geen ordentlike mens gebruik vloektaal nie. So in sy enigheid wonder hy hoekom sy dan toelaat dat die Oom so praat.
Een aand het hy die Oom met die graaf geslaan, omdat hy gedink het die Oom stoei met sy Ma in haar kamer. Van daardie tyd af het sy Ma en die Oom baie baklei.
Hy het gewonder waaroor hulle baklei en het hande-viervoet agter die groot stoel, naaste aan die deur, ingekruip. Daar het hy doodstil gesit – skaars asemgehaal.
Die Oom het geskree: "As jy die Klein Sleg nie Kinderhuis toe stuur nie, maak ek 'n saak van poging tot moord teen hom en dan kan jy kyk waar hy beland!"
Sy Ma het nog probeer om sy kant te vat, maar die Oom het geskree en sy vinger in sy Ma se gesig gedruk. Sy het later, so tussen die houe deur, net die trane van haar wange probeer afvee. 



Hy wens hy was groot. Dan kon hy die Oom ook so ruk en slaan. Hy het al probeer, toe slaan die Oom hom met die vuis teen die bors. Hy het vir lank swaar asemgehaal en daar was 'n groot, swart-perskol op sy bors.
Hy was skaam om sy hemp by die skool uit te trek vir liggaamsoefening. Hy het maar gemaak of hy siek is.

So met al die gedagtes wat deur sy kop maal, is hy amper verras toe hy voor die bekende tuinhek staan. Hy is dadelik op sy hoede. Hy skuifel, sluip onder die sitkamervenster verby. Hy hoor hoe die Oom op sy Ma skree.
Hy krimp ineen as hy sy Ma hoor huil.
Miskien moet hy haar ook wegvat Kinderhuis toe. Dis mos vir haar veiligheid ook.
Dan kan die Oom haar nooit weer slaan nie. En sy sal nie so maer en vol bloukolle wees nie.
Hy is moeg van die ver loop. Hy sal nou in die ou tenk gaan lê en slaap. Môre as hy uitgerus is sal hy 'n plan maak om sy Ma veilig te kry.

Net toe Klein Gert voor die agterdeur verby wil glip, bars die deur oop. Hy duik terug die donker skaduwee in en is net betyds om te sien hoe die Oom sy Ma by die agterdeur uitstamp.
"Lê in die donker, jou slet! Ek sal vanaand daaroor besluit of jy môre slangkos gaan word of nie," volg die bars stem die vrou agterna wat by die deur uit struikel-val. Sy bly opgekrul lê.

Klein Gert voel hoe die knop op sy maag groter en harder word. Hy weet hy moet vanaand nog sy Ma by die Kinderhuis kry.
As alles stil is kruip hy tot by haar, gaan lê styf teen haar en sit sy arm om die maer, uitgeteerde lyf. Hy voel hoe sy ruk.

Nadat Gert sy Ma tot by die ou tenk gehelp het, loop hy in die rigting van die huis. Hy steek vas as hy die Man by die buitekamer sien waar hy die slang aanhou.
Die Oom maak die deur op 'n skreef oop. Dit lyk vir Gert of die Oom ook bang is vir die slang.
Hy word koud as hy die Man hoor sê: "Môre proe jy mensvleis. Bietjie te maer, maar jy behoort haar baas te raak."



As daar 'n dier iewers in 'n agtjarige skuil, word hy nou in Gert wakker. Sonder om daaroor te dink hardloop hy op die Man af, stamp hom met bomenslike krag by die buitekamer se deur in en klap die deur toe.
Hy staan met sy rug teen die deur, haal hortend asem en knyp sy oë styf toe.
Hy skrik as sy Ma haar hand op sy skouer sit en sê: "Hardloop, Seun. Hardloop terug Kinderhuis toe. Ek sal sê hy wou die slang voer. Hardloop soos die wind, my Kind."

Die sweet brand sy oë as hy weer deur die gat in die heining glip. Die deur swaai geruisloos oop. Hy kruip tussen die koel lakens in. Niemand het hom gemis nie.


Net voor hy in 'n droomlose slaap wegraak, is hy bly dat sy Ma ook vanaand veilig is.
As sy Pa nog gelewe het, kon hy hom gevra het hoe die slang eet as hy honger is.