Dit voel of daar sand in my oë is toe ek dit teen wil en dank moet
oopbeur as die telefoon my wakker lui.
My stem is hees en dit laat my aan Duiker s’n dink.
Die vorige aand eis nou sy tol. My mond voel of ek ‘n stuk kurk gekou
het en die hoofpyn van die oorbediening aan die draught klop in my slape en
agterkop.
Die ferm stem aan die anderkant van die lyn weergalm in my ore en ek
maak my oë weer toe om die skerp lig so bietjie te doof.
“More Meneer, Suster
Burger van die Tehuis…”
Dit voel vir my sy gee my geleentheid dat haar woorde diep moet insink.
My stem krap terug.
“More Suster Burger” … my
beurt om te wag.
Ek wil haar toesnou om my nie so vroeg te pla nie, maar beteuel myself.
Dit is immers nie haar skuld dat ek gisteraand te veel geskep het nie.
“Meneer jou Mammie het bygekom. Sy roep na jou, maar sy is baie swak.”
Die laaste deel van die sin voeg sy by, so asof sy vir my wil sê om gou
te maak, maar dat ek nie vir Ma moet kom vermoei nie.
Die ironiese verkleinwoord van Ma koggel in my ore;
“Mammie, Ma-mie, Mam-ie”
Vir ‘n onstuitbare oomblik spring selfs die woord ‘Mammietjie’ by my op.
“Bha!” val ek my gedagtes
hardop in die rede in die rede. Sy was skaars vir my ‘n ma! Wat nog te sê
Mammie en allermins Mammietjie!!
Ek sleep myself badkamer toe om darem die tandeborsel deur my kurkmond
te trek en my gesig te was.
Toe ek by die Tehuis instep, merk ek die tyd op die groot staan horlosie
in die voorhuis. Dit is kwart voor nege.
Ek wonder hoekom die tyd so groot indruk op my maak. Is dit dalk omdat
ek nou my tot-sterwens-toe siek ma gaan kasty oor die waarheid.
“En dan kan sy regtig maar doodgaan” dink ek grimmig
en hardvogtig.
Ek draai af in die gang na die Eenheid vir verswakte pasiënte. Loop tot by die verpleegdiensstasie en gaan staan
woordeloos voor die Suster.
Sy kyk op van die verslag wat sy besig is om te skryf. Beloer my oor
haar bril en snerp met ‘n stywe bo-lip;
“Net ‘n oomblik Meneer,
ek is nou by jou”
Dit kom by my op om vir haar gesig te trek en vir haar te sê om met
hartlikheid te gaan doppies blaas.
My uiterlike verraai egter glad nie wat in my binneste woel nie.
Sy maak eers die deur op ‘n skrefie oop om seker te maak die personeel
is nie nog besig met Ma nie.
Dan druk sy die deur wyer oop en waai my met haar militaristiese hand
die vertrek binne.
Ek huiwer ‘n oomblik en stap dan voor haar by die deur in.
Ma se skerp stem uit die verlede kom na my toe aangesweef.
“Jannus, ‘n man stap
nooit voor ‘n dame by die deur in nie.”
Ek was in my tienerstadium. So slim soos die houtjie van die galg en
vinnig met ‘n teen-antwoord:
“Ons het nie ingestap nie
Ma, ons het uitgestap.”
Toe moet ons die in- en uitstap ritueel oefen tot ma se gemoed gesak het
en sy in haar eie oortuig was dat ek geleer het om nooit weer voor enige vrou
by die deur in òf uit te stap nie.
Skrik spring vir die tweede keer in my op toe ek weer die maer
uitgeteerde vrou met hol wange in die bed sien lê.
Die hand wat bo-op die deken lê, lyk deurskynend met blou are wat soos
riviere onder haar vel lê.
Die Suster ondergaan ‘n metamorfose as sy oor ma buk en saggies aan haar
voorkop raak. Haar stem is sag en vertroostend toe sy met Ma praat.
“Tannie Netta, jou seun is
hier. Ek gaan julle alleen los sodat julle kan gesels.”
Dit lyk nie of Ma haar hoor nie. Maar dan fladder haar oë oop en sy kyk
direk na my. Ek besef waar ek vantevore Duiker se blou oë gesien het. Ek het
eintlik maar net weer na jare in Ma se oë gekyk.
Haar oë is egter nou dof en haar kyk flou. Ek is seker dis die dood wat
ek in hulle sien skuil. Ongevraagd kom sit daar bietjie deernis in my borskas
vas.
Ek trek die stoel nader ek gaan sit dig teen die bed met my arms op die
matras langs haar op die bed gestut.
Ma maak weer haar oë toe en ek sit in stilte. Die oomblik is ietwat
ongemaklik. Ek voel soos ‘n vreemdeling by die vrou wat my grootgemaak het. Die
vrou wat ek “Ma” moet noem.
Sonder om haar oë oop te maak voel-voel haar hand oor die beddegoed tot
sy my hand raakvat.
Ek verstar en vou nie dadelik my vingers om hare nie.
Haar mond gaan oop asof sy wil praat en ek merk dat net die een helfte
van haar mond reageer. Die ander helfte bly lam hang.
Sy vorm die woorde mompelend met ‘n ronde tong. Al span ek my ore in kan ek glad nie verstaan
wat sy sê nie.
As sy agterkom ek reageer nie op wat sy sê nie, trek sy my aan my hand.
Haar greep is verbasend sterk en ek staan op en laat my oor naby haar
mond huiwer. Sy fluister weer iets en dit klink vir my asof sy die woord
“dagboek” sê.
Ek sit my mond naby haar oor en sê vraend; “Dagboek, Ma?”
Haar kopknik is skaars waarneembaar.
Ek praat weer sag maar duidelik by haar oor; “Moet ek Ma se dagboek vir Ma bring?”
Haar “Nee” is slegs geluide wat oor haar lippe glip.
Dan druk sy met haar vinger teen my bors. “Eees”
Haar tong weier om die “L” klank te vorm en ek neem aan die “eees”
beteken “Lees”
Ek probeer weer: “Moet ek ma se dagboek lees?”
Weer uiter sy die skor klank wat veronderstel is om “Ja” te wees.
“Dis reg Ma ek sal dit
lees. Rus Ma nou maar net. Die Suster het gesê ek mag Ma nie moeg maak nie.”
Sy sug net diep, maar los nie my hand nie. Ek gaan sit weer op die
stoel.
Nou wat nou?
Ma het nooit my hand vasgehou nie. Sover ek kan onthou was dit maar altyd Pa wat die
vashou gedoen het.
En nou, nou dat dit nie meer vir my saak maak nie, nou hou sy my hand
vas.
Ek weet nie hoe lank ek so gesit het nie toe die Suster weer die kamer
binne kom.
Sy buk by Ma en sit haar hand sag op my skouer:
“Ek is jammer Meneer, sy
is weg.”
Sy maak die nou koue vingers om myne los en trek die laken oor Ma se
gesig.
Ek is seker die prentjie wat die Suster gesien het is ‘n misleidende
beeld van ‘n liefdevolle seun wat sy ma se hand in haar sterwensuur kom vashou
het.
Hoe verkeerd kan beelde voorkom en interpreteer word.
Ek staan onbeholpe in die kamer rond toe daar meer personeel in die
kamer kom om vir Ma vir oulaas te versorg.
Die Suster vat my aan die hand en trek my by die kamer uit tot by die
Diensstasie.
Sy tel ‘n dik boek, met bruin leer oorgetrek, van die tafel af op en sit
dit in my hande.
“Lank voor jou Mammie se
beroerte het sy vir my gemaak belowe dat ek hierdie vir jou sal gee die oomblik
as sy haar laaste asem uitblaas.”
Voor ek nog kan vra oor die res van haar goed, verseker die Suster my
dat ek my tyd kan vat om die kamer te kom ontruim.
Ek bedank haar en trek my skouers terug en regop toe en by die gang
afstap.
No comments:
Post a Comment