Wanneer mens worstel om van God bewus
te raak, sluip Genade in baie gevalle by jou verby.
So het dit dan amper ook met my
gebeur.
Die van julle wat my vorige skryfsel
”God is doof” gelees het, sal weet dat
ek my in ‘n dal van donker dieptes bevind het.
Ek het nie probeer om myself daaruit
te worstel nie. Nee! Op daardie stadium was ek ‘n smartvraat wat alle geseling
wat na my toe gekom het, in enige vorm, verwelkom het.
So sit ek dan ook nou ‘n week gelede
hier in Zym se winkel. Dis weer een van daardie dae wat jy bang is dat as dit
stiller raak in die dorp, ons ook soos Kolmanskop, naby Luderitz in Namibia,
met die seesand gaan toe waai. En dis triestig koud.
Ek sit en staar uit voor my soos ‘n
bobbejaan wat ver weerligte sien en verlang na dae uit my vorige lewe toe ander
mense nog vir my gesorg het.
Uit die hoek van my regteroog gewaar
ek ‘n baie ligte beweging.
Vir duidelikheid van my vrese en
gedagtes, moet ek verduidelik dat my regteroog die beweging aan die verste kant
van die winkel waargeneem het.
Daar waar die deur toe is en geen oop
vensters is nie.
Heel eerste gaan my gedagtes in die
rigting van: “Spoke loop nie helder oordag nie”
“Spoke?” vra jy natuurlik dadelik
wantrouig
“Ja man spoke!” Die winkel is in ‘n gebou
net so oud soos Lambertsbaai en niemand was vir 15 jaar naby die solder nie.
Die beweging is donker van kleur. En
piepklein.
Ek dink nie die Heilige Gees is swart
nie. Ek glo Hy kan
in enige grotes voorkom. Maar nie swart nie. Dis mos nou nie regverdig dat as
mens aan’t stoeie is om kontak met die Vader te maak, dat die Gees nog swart ook
sal wees nie.
Maar EK is nie bang nie! Ek draai my
kop om te kyk hoe die klein spokie lyk. En wragtig, hier sit ‘n klein baba kat.
Swart soos die nag.
Kyk ek was nog nooit ‘n kat ou nie. En
ek hou nie so baie van swart katte nie. Dink maar nou vir jouself watter kleur
is die hekse se katte in die sprokies waarmee ons in ons kleintyd wreedaardig
vermaak is. Rillers!!
En al is ek gemoedsbekakken en hou ek
niks van katte nie, kan
ek mos nou nie hierdie klein dierasie uitsmyt op straat nie.
Wat maak ek? Ek klap die winkel se
deure toe, lank voor toemaaktyd en begin kat vang.
Die spreekwoord: “ ’n katjie wat jy
nie sonder handskoene kan aanpak nie” raak waar vir my toe ek hierdie enetjie
mos in ‘n hoek vaskeer.
Met ‘n geblaas, knor, byt en gekrap
ontsnap sy uit my kloue! So klein as wat sy is, dompel sy hierdie winkel in
chaos. Sy hol oor die rakke soos Ina van Rensburg nie hekkies kon hardloop nie.
Seil onder die rakke deur soos ‘n
wafferse hindernisbaan rekruut.
En ek bly geduldig en veg moedig
voort!
Dis toe sy haarself agter ‘n klomp
opgestapelde rakke in die stoorkant van die winkel bevind, dat ek my kans sien.
Ek gryp een van die klein visnette in
die winkel. Skuif die rakke so dat sy by my moet verby om uit te kom.
Dis moeilik om te sien waar sy is,
maar so met die 3de haak vang ek vir haar vas soos mens ‘n baie skaars vlinder
in ‘n net vang. Vinnig en versigtig.
Toe moet julle haar hoor knor. Jaaaa,
katte kan ook
knor. Gaan gooi jy sout op ‘n leeu se stert dan hoor jy hom knor.
Gewond, doodmoeg, met sweet wat oor my
stroom asof dit reën, het ek haar uiteindelik gevang. Jy moet onthou hierdie
ronde, dik lyfie van my is nie gewoond aan sulke uitmergelende oefening nie.
Ek glo ek het laas so beweeg toe ek ‘n
PTI in die weermag was. En dis bykans honderd jaar gelede.
Maar nou ja – so het ek haar hier in
my arms, fluister en sus en praat om haar net kalm te hou sodat ek weereens op
Paul en Tertia se hulp kan
gaan staat maak.
Die arme ding is so verbouereerd dat
sy haar kake op mekaar klem en weier om self melk te drink.
Met Tersh se vaardige hulp, kry ons
darem vir haar melk in met ‘n spuit.tussen haar geklemde kake ingespuit.
Maar sy is wild! Te wild vir die
willetuin!!
En ek troos en paai en praat mooi en
voer. En sy knor en krap en byt. Tot sy agterkom sy hoef nie te veg vir haar
kos nie.
Wat is die geslag wil almal weet? Ek
besluit om te maak soos baie verwagtende ouers. As dit ‘n meisiekind is, is
haar naam Katjiepiering. Natuurlik as dit ‘n seunskind sal sy naam sterk moet
wees. Katklong.
Een van die plaaslike anties kom tot
my redding en verklaar ewe met opgetrekte wenkbroue: “Dis ‘n meisietjie” En sy
laat my aan die outydse vroedvroue dink in die dae toe pa’s nog nie in die
kraamkamer mog ingaan nie.
Sy dop die arme kat weer sonder
seremonie om en sê vir my: “Kyk, hier is haar hollie en daar haar patrollie.”
Ek besluit om haar nie te hou nie.
Veil haar op aan almal wat heel moontlik, miskien, dalk kans sien vir dertien plus jare se
toewyding.
Ek sien tot kans
om haar uit te voer Pretoria
toe na ‘n vriendin wat gek is oor katte.
Maar teen die derde dag kom die wete,
toe sy weer verwoed vir my blaas maar my darem toelaat om haar op te tel –
Katjiepiering is my stukkie lewende Genade.
Soos sy my al klaende toelaat om haar
op te tel en rond te dra. Haar veilig te hou, so moet ek die Vader toelaat om
my op te tel en veilig te hou.
Hoeveel makliker is dit nie vir Hom as
vir my nie.
Ek begin nou al amper om haar kat-taal
verstaan.
As sy saggies haar voet teen my druk
sonder dat die naels uitkom en miaau, wil sy opgetel wees.
As daar naels sigbaar is wil sy speel.
En as daar geen voete betrokke is nie
en sy kyk my diep in die oë en miaau sag en benoud, is dit sandbak tyd.
Is ek ‘n kat-mens? Ek is besig om een
te raak
Dan bruis die woorde diep uit my uit:
Uit die donker van jou diepe siele
dood
troos ‘n asem klein om aan jou hand te
voed
vir jou om haar te leer ken sonder om
geliefdes in ‘n lewelose stuk papier
te groet
Op ‘n koue lente oggend in Oktober
2013, het ek amper die klein stukkie Genade gemis wat in my lewe kom spook het
met haar wilde teenwoordigheid, terwyl my gedagtes besig was met veraf
beplanning van waar en hoe en wanneer.
Dankie Here vir Katjiepiering!