Tuesday 5 November 2013

Klein asempie van Genade



Wanneer mens worstel om van God bewus te raak, sluip Genade in baie gevalle by jou verby.
So het dit dan amper ook met my gebeur.
Die van julle wat my vorige skryfsel ”God is doof” gelees het, sal  weet dat ek my in ‘n dal van donker dieptes bevind het.

Ek het nie probeer om myself daaruit te worstel nie. Nee! Op daardie stadium was ek ‘n smartvraat wat alle geseling wat na my toe gekom het, in enige vorm, verwelkom het.

So sit ek dan ook nou ‘n week gelede hier in Zym se winkel. Dis weer een van daardie dae wat jy bang is dat as dit stiller raak in die dorp, ons ook soos Kolmanskop, naby Luderitz in Namibia, met die seesand gaan toe waai. En dis triestig koud.
Ek sit en staar uit voor my soos ‘n bobbejaan wat ver weerligte sien en verlang na dae uit my vorige lewe toe ander mense nog vir my gesorg het.

Uit die hoek van my regteroog gewaar ek ‘n baie ligte beweging.
Vir duidelikheid van my vrese en gedagtes, moet ek verduidelik dat my regteroog die beweging aan die verste kant van die winkel waargeneem het.
Daar waar die deur toe is en geen oop vensters is nie.

Heel eerste gaan my gedagtes in die rigting van: “Spoke loop nie helder oordag nie”

“Spoke?” vra jy natuurlik dadelik wantrouig

“Ja man spoke!” Die winkel is in ‘n gebou net so oud soos Lambertsbaai en niemand was vir 15 jaar naby die solder nie.

Die beweging is donker van kleur. En piepklein.
Ek dink nie die Heilige Gees is swart nie. Ek glo Hy kan in enige grotes voorkom. Maar nie swart nie. Dis mos nou nie regverdig dat as mens aan’t stoeie is om kontak met die Vader te maak, dat die Gees nog swart ook sal wees nie.


Maar EK is nie bang nie! Ek draai my kop om te kyk hoe die klein spokie lyk. En wragtig, hier sit ‘n klein baba kat. Swart soos die nag.

Kyk ek was nog nooit ‘n kat ou nie. En ek hou nie so baie van swart katte nie. Dink maar nou vir jouself watter kleur is die hekse se katte in die sprokies waarmee ons in ons kleintyd wreedaardig vermaak is. Rillers!!



En al is ek gemoedsbekakken en hou ek niks van katte nie, kan ek mos nou nie hierdie klein dierasie uitsmyt op straat nie.
Wat maak ek? Ek klap die winkel se deure toe, lank voor toemaaktyd en begin kat vang.
Die spreekwoord: “ ’n katjie wat jy nie sonder handskoene kan aanpak nie” raak waar vir my toe ek hierdie enetjie mos in ‘n hoek vaskeer.



Met ‘n geblaas, knor, byt en gekrap ontsnap sy uit my kloue! So klein as wat sy is, dompel sy hierdie winkel in chaos. Sy hol oor die rakke soos Ina van Rensburg nie hekkies kon hardloop nie.
Seil onder die rakke deur soos ‘n wafferse hindernisbaan rekruut.
En ek bly geduldig en veg moedig voort!


Dis toe sy haarself agter ‘n klomp opgestapelde rakke in die stoorkant van die winkel bevind, dat ek my kans sien.
Ek gryp een van die klein visnette in die winkel. Skuif die rakke so dat sy by my moet verby om uit te kom.
Dis moeilik om te sien waar sy is, maar so met die 3de haak vang ek vir haar vas soos mens ‘n baie skaars vlinder in ‘n net vang. Vinnig en versigtig.



Toe moet julle haar hoor knor. Jaaaa, katte kan ook knor. Gaan gooi jy sout op ‘n leeu se stert dan hoor jy hom knor.

Gewond, doodmoeg, met sweet wat oor my stroom asof dit reën, het ek haar uiteindelik gevang. Jy moet onthou hierdie ronde, dik lyfie van my is nie gewoond aan sulke uitmergelende oefening nie.

Ek glo ek het laas so beweeg toe ek ‘n PTI in die weermag was. En dis bykans honderd jaar gelede.



Maar nou ja – so het ek haar hier in my arms, fluister en sus en praat om haar net kalm te hou sodat ek weereens op Paul en Tertia se hulp kan gaan staat maak.

Die arme ding is so verbouereerd dat sy haar kake op mekaar klem en weier om self melk te drink.
Met Tersh se vaardige hulp, kry ons darem vir haar melk in met ‘n spuit.tussen haar geklemde kake ingespuit.

Maar sy is wild! Te wild vir die willetuin!!
En ek troos en paai en praat mooi en voer. En sy knor en krap en byt. Tot sy agterkom sy hoef nie te veg vir haar kos nie.



Wat is die geslag wil almal weet? Ek besluit om te maak soos baie verwagtende ouers. As dit ‘n meisiekind is, is haar naam Katjiepiering. Natuurlik as dit ‘n seunskind sal sy naam sterk moet wees. Katklong.

Een van die plaaslike anties kom tot my redding en verklaar ewe met opgetrekte wenkbroue: “Dis ‘n meisietjie” En sy laat my aan die outydse vroedvroue dink in die dae toe pa’s nog nie in die kraamkamer mog ingaan nie.
Sy dop die arme kat weer sonder seremonie om en sê vir my: “Kyk, hier is haar hollie en daar haar patrollie.”

Ek besluit om haar nie te hou nie. Veil haar op aan almal wat heel moontlik, miskien, dalk kans sien vir dertien plus jare se toewyding.
Ek sien tot kans om haar uit te voer Pretoria toe na ‘n vriendin wat gek is oor katte. 



Maar teen die derde dag kom die wete, toe sy weer verwoed vir my blaas maar my darem toelaat om haar op te tel – Katjiepiering is my stukkie lewende Genade.



Soos sy my al klaende toelaat om haar op te tel en rond te dra. Haar veilig te hou, so moet ek die Vader toelaat om my op te tel en veilig te hou.

Hoeveel makliker is dit nie vir Hom as vir my nie.

Ek begin nou al amper om haar kat-taal verstaan.
As sy saggies haar voet teen my druk sonder dat die naels uitkom en miaau, wil sy opgetel wees.
As daar naels sigbaar is wil sy speel.
En as daar geen voete betrokke is nie en sy kyk my diep in die oë en miaau sag en benoud, is dit sandbak tyd.

Is ek ‘n kat-mens? Ek is besig om een te raak

Dan bruis die woorde diep uit my uit:

Uit die donker van jou diepe siele dood
troos ‘n asem klein om aan jou hand te voed
vir jou om haar te leer ken sonder om
geliefdes in ‘n lewelose stuk papier te groet

 

Op ‘n koue lente oggend in Oktober 2013, het ek amper die klein stukkie Genade gemis wat in my lewe kom spook het met haar wilde teenwoordigheid, terwyl my gedagtes besig was met veraf beplanning van waar en hoe en wanneer.




Dankie Here vir Katjiepiering!


1 comment:

  1. Hi Christo,
    dis hoendervleis-mooi geskryf...ek sien in my geestesoog hoe jy en sy deur die winkel hardloop! Katjiepiering is pragtig en hoop sy bring vir jou baie vreugde en genade!

    Groetnis
    Marie

    ReplyDelete