Friday 1 November 2013

God is doof!





 Soos dit maar met baie drome in mens se oë gaan, het myne ook vervaag die oomblik toe ek myself midde in die werklikheid bevind.

Die spreekwoord, “Drome het vlerke,” is waar. My drome oor Lambertsbaai en die eiendomsmark het arendsvlerke gekry en die verre verskiet in gevlieg.

Ek is egter nie dankbaar soos Noag van ouds toe die duif nie teruggekeer het ark toe nie. Ek weet daar en dan verseker dat ek, met permissie gese, nou letterlik my gat gaan sien.

Ek betree die Weskus met die wonderlikste atmosfeer. Die vriendelike mense en die pragtige natuur wat my welkom heet. Maar ek en die eiendomme vind mekaar nie.

Die verhouding is van die begin af gedoem en ons besef dat ons nie ‘n langtermyn verbintenis met mekaar gaan hê nie.

Die leerproses is stadig, die geleenthede min en miskien tel my vooropgestelde idees teen my. Maar dit maak nie vir my sin nie. Ek is tog opleibaar. Of so het ek myself wysgemaak. En ek weet dat ek enige ding kan doen waarop ek my toespits.

En so loop die kruik leeg. Daar is later nie eens meer ‘n oortjie oor om vir kollekte in die kerk te gebruik nie.

Ek hoor die prediker oor die draadloos praat en ‘n paar sinne val my op: “Die Here is by jou in alles wat met jou gebeur. Dit wat goed is, maar ook in dit wat verkeerd loop” 




Zym se winkel – Iets van Als, wat as‘n ekstra inkoste moes dien, raak die hoofbron van finansies.
Nou kan ek nie anders as om sonder skroom te sê dat die geld wat in die winkel verdien word, kwalik genoeg is om nuwe voorraad aan te koop.

Wat nou gemaak? “Bid” skree almal! Die wat ‘n persoonlike verhouding met die Vader het. Ook daardie wat venynig wil voorgee dat hulle dit goed bedoel. En hulle laat dit klink of hulle deur harts-inligting weet dat ek nie bid nie.

En ek wil dit nie hoor nie. Want ek bid! Maar God bly doof en sommer nog stom ook!

ALLE planne wat ek maak boemerang. Alles lyk vreeslik belowend. Diep binne glo ek hier gebeur die verandering nou! Net om agter te kom dit verdwyn soos vals beloftes die niet in.

Die prediker se boodskap oor die draadloos gaan oor: “Die Here sal jou nie in iets neersit as Hy jou nie daardeur gaan vat nie”

Eers bid ek vir die finansiele vermoë om die verlies aan inkomste, (wat ek nooit verdien het nie) te vervang. Maar God bly doof.
En die winkel se inkomste bly konstant. Geen verhoogde verkope nie. Geen onverdiende aalmoese nie. Niemand wat dit kan bekostig om vir my die geld skenk, voor te skiet of te leen nie.

Seker ook maar goed, want my oorle Moeder het altyd gese: “Leen is an old maid’s name”

Ek wou ook maar net die geld bekom om Zym se winkel so uit te brei om die omset so te laat verhoog dat ek ten minste my finansiële verpligtinge maandeliks kan by bring. Maar God is doof.

Van al die vonkposse wat ek vir mense skryf, is daar slegs twee wat my antwoord. “Nee jammer. Ek kan dit self nie nou bekostig nie”. Die res vermy my asof ek besig is om ‘n volksmoord te beplan.



Die prediker oor die draadloos se stem gooi die woorde in my ore: “Die Here dwing jou soms tot stilstand sodat jy skoon van voor af kan begin”

Toe begin ek vir al die instansies vonkposse stuur om te verduidelik dat ek nie my verpligtinge kan na kom nie. ‘n Stilte daal neer in die kuberruim. En God bly doof.

Die versekeringsmakelaars is die enigstes wat reageer, Die res spreek nie eens hulle geweldige onsteltenis uit nie. Ek weet nie of hulle die kennisgewing onvang het nie.

Ek stuur ‘n opvolg vonkpos. En ‘n derde vonkpos. Ek bel en probeer met die betrokke persone te praat. Maar hulle is nie beskikbaar nie en sal terugbel. Maar dit gebeur ook nie.

Ek adverteer my dienste as fotograaf. Kry een kwotasie om te doen en toe die arme bruid my tarief hoor, skrik sy haarself uit die huwelik uit. Ek wil darem net sê ek is heelwat goedkoper as die begin pakkette van R12 000 wat ‘n ander plaaslike Weskus fotograaf vra.

Daarna bid ek vir werk. Ek stuur my CV die wêreld in. Die enigste mens wat vreeslik opgewonde is om van my te hoor is die administrateurs van ‘n “Oil rig” Ek werk vinnig uit hulle gaan my nêrens heen stuur nie, want hulle soek ‘n registrasiefooi van R975.00.

So se ek toe vir die Here: “Hier is ek. So kom ek dan ook nou aan die einde van my planne, moed en uithouvermoë”.
Dan hoor ek sag soos die fluister-wind in my ore, met geen herkenbare stem nie; “hoekom bekommer jy jou oor die einde van die maand as jy nog nie vandag ten volle geleef het nie? Vat elke dag oomblik vir oomblik.” Ek frons, want hoekom sal ek nou sulke stroperige goeters dink?

Ek ervaar die Psalm vers: “Na waters waar rus is lei Hy my heen.” En ek begin prentjies maak. Nee nie skilder nie, want dit kan ek nie. Ek maak prentjies. Elke dag leef ek net vir daardie dag.

 
En ek lewe soos Oupa Eli sal sê: “Hoop vir die beste, want die slegte kom vanself.”

Die dae kruip teen slakkepas verby.  Die Chery loop al minder en die einde van die maand spoed voort met die krag en die kleur van ‘n vulkaan wat aan’t uitbars is.

Ek maak my tweede prentjie.

Die prediker oor die draadloos is vol passie as hy vermaan: “Die Here stuur gereeld mense oor ons pad wat ‘n verskil kan maak. Hou net jou oë en ore oop.”

So stig ons ‘n aanlyn winkel met van die handgemaakte voorraad wat ek in Zym se winkel het, met die hoop iemand wil die goed koop. Maar nee!! almal “like” net die verdomde winkel. Niemand bestel die goed nie.

Praat oor Radio Namakwaland oor www.skryfnet.co.za met ‘n gestotter en ‘n gehakkel. Daar is darem dat een siel wat verstaan hy kan daar registreer om gedigte te plak. Maar die res bly stil.
….Ja – En God is doof.

Dan gebeur dit! Vroeg gisteroggend kry ek ‘n telefoonoproep van ‘n vrou waarvan ek nog net gehoor het hier in die dorp, maar ek ken haar nie. Kan sy my kom sien, wil sy weet.
Ek het niks om te verloor nie. Geen geld om iets te koop nie. Maar ek het darem twee ore om mee te luister. Dus, laat kom maar die dinge, dis deel van die dag wat ek sal kan hanteer.
En dit gaan so: Haar seun, wat die plaaslike dvd winkel besit, moet die perseel ontruim omdat dit verkoop is. Stel ek nie belang om dit te koop nie?

Ek glimlag in my brein, besluit daar en dan dat die Here ‘n wrang sin vir humor het. Hy weet dan hoeveel gebede ek al opgesê het. Hy weet dat ek geen geld het om enige iets te koop nie. Hy weet …. Hy weet ….. Hy weet!! Maar Hy is ook doof.



Ek skakel die draadloos af wanneer die prediker teem: “Die Here gee manna wanneer jy honger het. Hy sal jou nie van honger of dors laat omkom nie.”

Ek sê vir haar hy is welkom om die goed hier te kom neersit. En ek sal dit vir hom verhuur. Teen betaling natuurlik. Maar geld om die besigheid te koop? Nee, dit het ek nie. Sy onderneem om met haar seun te praat. Want die perseel moet gisteraand ontruim wees.

Daar wil, wil ‘n opgewondenheid deur my gaan. Maar hierdie keer praat ek sommer hardop met die Here. Miskien kan Hy my lippe lees.
“Here moet my nie nou opgewonde maak oor iets wat weer nie gaan realiseer nie. Laat dit net verby gaan. Kry dit net verby!”

Ek hol darem gou oor die pad na my pelle toe en so in die praat stel hulle voor: “Winsdeling as afbetaling vir die besigheid. As die bedrag bereik word, raak die besigheid en al die voorraad joune”.
Ek bel vir Moeder en stel dit voor.

So los ek dit dan as deel van die dag wat ek NIE kan hanteer nie. Maar toe ek weer my oë uitvee, staan ma en seun voor my.
Dis reg, hulle aanvaar my voorstel van die winsdeling en die afbetaling.
Die rakke en voorraad word afgelaai en die afspraak is gemaak om Zym se winkel te herorganiseer sodat alles kan inpas. Dis nou in die komende week.



Ek is nog besig om die stemme in my ore stil te maak wat my berispe: “Sien, die Here doen Sy ding op Sy tyd” toe kry ek die versoek vir spasie om ‘n kleremaakster / naaldwerkster te akkommodeer.
My kop werk in die hoogste versnelling. Ek het ‘n onbenutte deel vloerspasie. Dit is afgesonderd van die res van die winkel en sy kan help huur betaal.
So kom ek om – so kom ek om.

Ek ervaar weer die Psalm vers. En ek hoor weer die wind fluister. Maar hierdie keer sê die wind vir my: “Die Here is nie doof nie. Jy is.”

Dis eers toe Paul vir my se: “Jou geloof is baie sterker as myne. Ek weet nie hoe jy so rustig bly terwyl jou wêreld rondom jou uitmekaar moer nie,” wat ek weet, so seker as wat ek miskien nog my gat kan sien, so seker is dit dat ek die dowe een is. God is nie doof nie. Hy het my net in perfekte tydsberekening op die regte plek neergesit om met die regte mense pad te kruis……
….. My die pad laat vat wat tot voordeel van myself is.

Ek is besig met my derde prentjie. Dit sal ek vir julle wys as ek weer skryf.
Ek weet nog nie waaroor ek gaan skryf nie.

Vir nou wil ek net eers dit by julle los:

God is verseker nie doof nie!



 “En die eiendomme dan?” hoor ek iemand vra.

Nee daardie verhouding is besig om ‘n stille dood te sterf. Want ek praat eerder die mense UIT die huis uit as IN.

No comments:

Post a Comment