Sunday, 3 August 2014

Moeder ...




Ek verlang soms so intens na jou,
as ek vergeet dat jy eintlik elders lewe.
Hoe wens ek om my arms om jou vas te vou,
as ek van angs en weemoed bewe.

Ek onthou jou vel soos fluweel so sag.
Die kreukels om jou oë as jy hartlik lag.
Ek onthou hoe ons alle gedagtes kon deel
-Humor, erns, hartseer - so veel.

Binne in my is jou wegwees-seer nog skreiend rou –
En ek klou verbete vas aan gedagtes
om jou ewig hier by my te hou.
In my siel kreet die soeke na verligting uit,
as ek sukkel om my hartseer weg te sluit.

Graag wil ek met my vingers aan jou oumensvlekke raak –
Wil ek daar wees om, nou, vir jou teen seerkry op jou pad te waak.
As die son groet om die nag te verwelkom, wil ek jou goeie nag soen.
Saam met jou wanneer die nuwe dag breek, wil ek in die kraakvars môre ons nugter gebed doen.

Sal ek ooit met die wete dat jy aan die Groot Meester se voete sit,
kan berus en uitsien tot ons eendag weer ontmoet?
Sal jy dan 'n engel wees, vlekloos wit,
as jy my - Moeder - by die poort kom groet?

© Christo du Plessis

Thursday, 31 July 2014

Passie van Himeros ...

 
Foto: Christo du Plessis


Hy voer haar met dadels en heuning
en balsem haar son-bruin lyf
met reukolie en nektar

Lê haar neer op die altaar van sy liefde
en laat haar lang donker hare soos
'n sluier oor die klippers van sy hart hang

Hy bedruip haar met die heilige water
uit die stroom van liefde wat hy diep
in die reënwoud gaan skep het


Hy plaas sy hande in seën
oor haar deinende heuwels
laat die soel herfsbries
in haar oor fluister van liefde
en maanligrose en hande
wat haar sal dra, wat haar sal beskerm
en 'n hart wat haar veilig sal hou

Dan salf hy haar met die passie
van Himeros in oorgawe as hulle
die paradys van hulle
eie vergetelheid betree

Hy sing vir haar liefdes-odes
sonder woorde of musiek
en sy hoor die fyn suiwer klanke 
van sy liefdesverklaring as haar
brose lyf saamsmelt met syne

 

Tuesday, 29 July 2014

Die see is kwaad vanaand ...

Foto: Christo du Plessis             
Ek gaan sit vroegaand op die rotse. Dit is hoogwater.

Ek begin lief word vir die see. Ek hou nog nie van die sand nie. Trek selfs nie eens my sokkies en skoene uit as ek op die strand gaan loop nie.

Onwillekeurig dink ek aan my Moeder wat altyd vertel het hoe sy gehuil het toe hulle in 1953 in Tsumeb aangekom het uit die myndorp Blyvooruitzicht (ek hoop ek spel dit reg), in die destydse Duitswes Afrika.

Ek kon wel nie openlik huil toe ek hier aankom nie, want dit was uit eie keuse wat ek die pad Weskus toe aangedurf het.

My oorle Moeder het egter in dieselfde asem vertel dat sy nooit weer uit Duitswes wil trek nie.

Toe ek hier aankom het iemand vir my gesê: "Jy is of baie braaf of vreeslik stupid om hierdie stap te neem."  Ek glo steeds ek is eerder braaf as stupid.

Die see klap kwaad teen 'n rots vas en my gedagtes keer terug na waar ek op die rots sit.

Wit skuim borrel kompeterend die lug in om te kyk wie die hoogste kan reik.

Dit was seker die sewende brander.  Die bewering is mos dat elke sewende brander 'n groot een is.
Maar die een daarna is ewe groot en storm vreesaanjaend op die rots af.  Dit lyk op Neptunes die branders bloots ry.  In plaas daarvan dat hy hulle probeer tem, jaag hy hulle wild en dwing hulle een na die ander teen die rotse vas.

My gedagtes loop wye draaie.  En ek hoor Znip se stem in my ore: "As die see die branders so teen die rotse kan verpletter, dink net wat hy met 'n mens kan doen."

So trek die stelling en die brute krag van die see my gedagtes in tot by Ingrid Jonker.  Stilweg wonder ek oor haar besluit. 
Het die koue water haar nie net vir een vlietende oomblik laat dink om van besluit te verander nie?
Was haar geliefdes voortdurend in haar gedagtes of het sy alle emosies en gedagtes verban sodat haar verstand en hart leeg, haar lyf meedoënloos teen die water ingebeur het?
Was die sand en skulpe grof en snydend skerp, of het dit soos satyn onder haar voete gevoel?
Was die rotse hard en het haar liggaam ongenaakbaar teen hulle wande gestamp?  Of het dit vir haar soos donsveer kussings gevoel?
Was die water asemsnak koud? Of het dit haar snoesig toegevou soos 'n warm kombers?

Die sproeireën van die soveelste sewende brander bring my plotseling terug van my donker gedagtes.  Dit begin koel raak en ek het Oosweer klere aan.

Ek maak my gedagtes en lyf bymekaar.  Kyk verwonderend na nog 'n brander wat sy kantgordyn hoog die lug in laat wapper.

Ek begin lief raak vir die see.  Maar nog op 'n distansie.

Ja die see is kwaad vanaand.