Thursday, 20 November 2014

Die Oom (hoofstuk 2) ... Is onsedelikheid ook rooi?

Gert Venter sit aan die tafel en kyk hoe sy ma die bakke kos voorsit. Terwyl sy so 'n laaste roer in elke bak gee, draai sy maag saam. So 'n lekker honger draai.

"Ek is darem nou baie honger!" laat hy dan ook summier hoor. "Dis seker van al die harde werk wat ek vandag gedoen het!"
Sy ma kyk stil op en glimlag vir hom, sonder om iets te sê. Die Oom, aan die anderkant van die tafel, lyk nors. Dié sê ook niks.
Gert kyk effens benoud na sy kant toe as hy verder praat. "Ek het die garage uitgevee, die bossies uit die roosbedding getrek, die voorste gras gesny . . . "
Hy wil nog voortgaan, maar Die Oom val hom bars in die rede: "As jy nog kan opnoem wat jy gedoen het, het jy nie veel gedoen nie. Het jy die groente natgelei?"
Daar is vir 'n wyle stilte voordat Gert antwoord: "Nee Oom, ek het vergeet."
Die vel span styf oor Die Oom se voorkop en sy stem laat Gert aan ysblokkies dink toe hy sê: "Nou, loop doen dit nou en dan gaan jy kamer toe. Jy moenie dink jy gaan kos kry as jy nie vir die groente kos gee nie." Gert sien sy ma se hande stil word. Hy wens sy wil sê hy kan maar bly, want hy hét darem gesê hy is baie honger. Maar sy ma praat nie; laat net haar ken teen haar bors sak. Hy staan op voordat Die Oom weer kan praat en gaan in die donker by die agterdeur uit om die groente nat te lei.


In die donker kamer laat die seun sy gedagtes dwaal. Hy weet hy moenie aan kos dink nie, want dan gaan sy honger net groter word. Hy weet ook hy sal nie kos in die kombuis kry nie, want Die Oom laat sy ma nie toe om kos te bêre nie.  Dan moet hy maar aan ander dinge dink. Hy wens sy pa het nog gelewe. Dan kon hy vir sy pa gevra het wat onsedelikheid is. Die Juffrou by die skool, wat vir hulle leer van die Bybel, het vanoggend gesê mens mag nie onsedelik leef nie. Toe hy sy hand opsteek en vir haar vra wat onsedelikheid is, het Snip Snyman agter haar hand gegiggel en vermakerig gesê: "Dis soos jou ma en Die Oom, silly!"
Die res van die kinders het ook gelag. Hy het nie lekker gevoel daaroor nie. Hy wou nog vanaand vir Ma vertel wat Snip gesê het. Met dié dat hy nou van die verdekselse groente vergeet het, kon hy dit nie vertel nie.

Sy gedagtes dwaal na die groentetuin toe. Hy het die tuinslang versigtig in die blikkie gesit en die kraan oopgedraai. Met die graaf het hy walletjies gemaak sodat die water nie moet wegloop nie. Dis soos sy pa hom gewys het. Die blikkie keer dat die grond rondom die groente nie wegspoel nie. As hy hard dink kan hy die nat grond ruik. Sy pa het altyd gesê dis die reuk van seën. Sy pa was baie slim. Hy wonder wat sy pa sou gesê het van Onsedelikheid. Hy wonder of hy Onsedelikheid se kop met die graaf kan afsteek, net soos hy nou die dag gemaak het met die slang wat hy by die groente gekry het.
Sy gedagtes dwaal verder na die geluide wat feitlik elke aand uit sy ma se kamer kom. Hy wonder of dit Onsedelikheid is. As hy dink aan die klank van sy ma se stem, weet hy nie so mooi of sy van Onsedelikheid hou nie. Miskien moet hy vanaand, as die geluide weer kom, die graaf gaan haal en sy ma red van Onsedelikheid. Hy dink sy ma sal baie bly wees as hy haar red. Hy weet nou nie van Die Oom nie. Die Oom hou nie van hom nie. Dit het hy agtergekom toe hy eendag vir sy ma van sy pa gevra het. Die Oom was baie kwaad toe hy gesê het hulle moet die dooies hulle eie dooies laat begrawe en dit met rus laat. 

Gert Venter wens hulle was ryk. Dan kon hulle vir Die Oom gesê het hulle het nie meer die losiesgeld nodig nie. Hy en sy ma kon dan weer alleen in die huis bly. Hy sal al sy pa se foto's weer teen die muur in die sitkamer hang. Die Oom het dit afgehaal en in die asblik gegooi. Hy, wat Gert Venter is, het dit gaan uithaal en dit onder in sy kas gebêre. Elke aand as hy die geluide uit sy ma se kamer hoor, sit hy die lig aan en kyk na die foto's. As die geluide ophou, sit hy dit vinnig terug in die kas, sit die lig af en klim in die bed. Dan maak hy maar of hy slaap. Maar partykeer vat die slaap lank om te kom.

Gert se oë begin swaar word toe hy weer, soos baie keer vantevore, sy ma hoor roep. Hy hoor ook Die Oom steun. Hy klim uit die bed en gaan by die agterdeur uit. Die sementstoep is koud onder sy kaal voete. As hy die graaf optel, voel dit swaarder as gewoonlik. Al wat in sy kop vassteek is dat hy gou moet maak. Hy moet sy ma gaan red van Onsedelikheid. Hy sal maar maak of Onsedelikheid die slang is. 

Hy draai die knop van die kamerdeur versigtig oop. Sy oë is al aan die donker gewoond. Sy ma klou aan Die Oom vas en dit lyk of sy hom wil wegdruk. Hy sal eers sy ma red van Die Oom, wat haar vasdruk en met haar stoei. Die geluide is harder en hy word bang. Maar Die Oom sê altyd hy moet 'n man wees en nie 'n muis nie. Hy vat die graaf vas en met al sy krag lig hy dit hoog op en laat die kant van die graaf, met 'n kragtige hou, op die Oom se agterkop neerplof. 


Dis baie stil in sy ma se kamer. Die Oom lê, sonder om te beweeg, nog steeds bo-op sy ma. Dan sien Gert Venter die dun straaltjie bloed wat agter die man se kop uitloop, stadig oorloop en opdam by sy ma se arm.
En Klein Gert Venter wonder of Onsedelikheid ook rooi is.

Monday, 17 November 2014

Die Oom (hoofstuk 1) ...

Dis donker in die kamer, maar Klein Gert Venter is bewus van elke beweging wat die man op die ander bed maak. Hy kan dit egter nie sien nie – hy span sy ander sintuie in om waar te neem.

Klein Gert wens hulle was ook so ryk soos James de Witt-hulle in die bo-dorp. Dan het hy nie nodig gehad om sy kamer met die loseerder te deel nie en hy sou met 'n bloedrooi fiets skool toe ry. Sy broekspyp, aan die ketting se kant, sou hy met 'n wasgoedpennetjie vasknyp sodat dit nie met die olie vuil smeer nie. Hy sou sulke blink, swart, skoene gehad het en dit so gevryf het dat hy homself daarin kon sien. Net soos sy pa se oorlogstewels.

Hy verlang party dae na sy pa. Maar hy sê dit vir niemand nie, want 'n man huil nie as jy na iemand verlang wat dood is nie. Hy hoor soms sy ma huil. Veral as dit baie donker is. Soos wanneer die maan nie skyn nie.
Hy wonder hoekom die maan partykeer skyn en ander kere wegraak? As sy pa nog gelewe het, kon hy hom vra. 

Hy het eenkeer amper vir die Oom wat sy kamer deel, gevra, maar die Oom lyk te kwaai. Sy ma het gesê hy mag nie die Oom met allerhande bog pla nie. Want netnou vererg hy hom en gaan weg. Sy sê die Oom betaal baie goed vir die kamer.
Sy gedagtes keer terug na die kamer toe hy die rook ruik. Die Oom rook baie. Veral in die nag. Die eerste rook van die sigaret ruik altyd vir Klein Gert lekker. Sy ma sê dis omdat dit 'n baie sterk sigaret is. Die Oom rook Gold Dollar filter. Klein Gert het gesien dis 'n blou pakkie met twee goue kolle op wat lyk soos geldstukkies. Wanneer die Oom die rook intrek, kan hy die suig-geluide hoor. 


Elke aand bring die Oom 'n groot bottel koffie kamer toe. Klein Gert mag nie in die kamer ingaan voordat die Oom nie klaar sy nagklere aanhet en in die bed lê nie. Die bottel koffie staan dan al op die tafel langs die enkelbed. Hy sê elke aand vir die Oom nag. Maar die Oom antwoord nie. Noudat hy daaroor dink, hy het nog nooit die Oom hoor praat nie. Miskien praat die Oom met sy ma as hy, wat Klein Gert is, by die skool is.

Aand vir aand luister die Seun hoe die man eers aan die sigaret suig en dan die koffie sluk. Suig, sluk, suig, sluk. Dit klink vir hom só lekker. Hy wonder hoe groot 'n mens moet wees voordat jy Gold Dollar filter mag rook en so baie koffie kan drink? As hy vir koffie vra sê sy ma altyd hy gaan vlooie in sy maag kry en hy moet gaan speel. 

Toe Klein Gert die volgende aand die huis binnestap hoor hy uiteindelik die man praat. Vanaand is anders. Sy ma en die Oom sit in die voorhuis en gesels. Sy ma lag. Maar nie soos wanneer sy bly is as Klein Gert iets sê of doen nie. Sy lag soos die Tannies in die kafee as Martin de Witt, James se grootbroer, met hulle hare speel en in hulle ore fluister. 

Toe hy instap sien hy die Oom langs sy ma op die bank sit. Sy ma laat haar kop skamerig sak en sê: "Nie voor die kind nie. Later."
Klein Gert wonder wat later gaan gebeur. Hy gaan sit op die stoel in die hoek en hou die grootmense dop. Sy ma en die Oom is vir hom vreemd vanaand. Hulle praat, maar gebruik groot woorde wat hy nog nie gehoor het nie. 

Toe hy vir die soveelste keer gaap, stuur sy ma hom bed toe.
"Jy kan maar kamer toe gaan Boeta. Jy sal in elk geval al slaap as ek en die Oom klaar gesels het."
"Ja, ek sal sommer in die badkamer aantrek vanaand," sê die man agter sy ma aan.

Klein Gert rol rond. Hy is vaak maar die slaap wil nie kom nie. Hy mis die suig- en slukgeluide waaraan hy nou al gewoond geraak het. Hy hoor vaagweg gesels-stemme. Sy ma het lanklaas so baie gesels. Dit maak hom bly.

Hy moes ingesluimer het, want hy word wakker van 'n uitroep. Was dit sy ma? Hy lê doodstil. Hy trek sy asem amper bang in en laat dit baie stadig uit. Só stadig dit laat sy longe en kop pyn. Die geluide kom uit sy ma se kamer. Dit klink vir hom soos stemme. Maar nie soos gesels-stemme nie. Dit klink eerder soos harde asems. Sy ma se stem kom partykeer bo die van die Oom uit. Maar dis nie haar praat-stem nie, ook nie haar stem as sy hom roep nie. Hy kan nie woorde uitmaak nie. Die geluide word harder en meer dringend. 
As sy pa nog gelewe het kon hy vir hom gevra het wat gebeur. Miskien moet hy dit vanaand waag om vir die Oom te vra as hy kom slaap. 

Klein Gert raak baie later van die eerste reuk van die Gold Dollar filter bewus. Dan hoor hy die eerste sluk. Hy maak sy mond oop om vir die Oom te vra wat gebeur het. Sy asem skok terug in sy keel nog voor hy 'n woord kan uitkry, as die Oom vir hom sê: "Jy word nou te groot om Klein Gert te wees. 'n Man word nie Klein Gert genoem nie. Van môre af slaap jy weer alleen in jou kamer. Nag Gert."

En Klein Gert, wat met vreemde naggeluide "Gert" geword het, se hart klop soos 'n resiesperd wat hardloop in sy ore.
Hy kan nie hoor of hy hard genoeg praat toe hy vir die Oom nag sê nie.

 

Monday, 10 November 2014

Die herhaling van geskiedenis ...


Daar is 'n spreekwoord wat sê geskiedenis herhaal homself.
Of dit nou met oorloë of geboortes, negatiewe gebeure of positiewe insette is, is seker nie belangrik nie.

Tóg glo ek as jy jou laaste voetspore by die een plek los en 'n nuwe ry spore by die volgende plek begin trap, vat jy altyd iets saam wat moes agter bly.



Daar is mos die kostelike verhaal van die mense wat getrek het omdat dit in die huis gespook het.
Toe die buurman kom groet staan die manne by die wa.
Buurman maak die opmerking: "......so buurman jy trek...."
Voordat die trekkende buurman nog kon antwoord steek die spook sy kop onder die seil uit en sê: "....en ek trek saam..."



So het ek ook gedink ek los die binneland binne en klaar.

Om julle nou net mooi in die prentjie te bring, moet ek nou ongelukkig eers weer terug gaan binneland toe.

Meeste van julle weet ek was 'n kranige biker en het byeenkomste bygewoon soos "The Toy run",  "The blanket run", "The Bible run" en so kan ek hulle opnoem.
Die gedagte was dan dat jy 'n item saamneem op die bike om te gaan ingee by die eindpunt wat dan nou in die titel beskryf word.


So woon ek erg opgewonde my eerste “Toy run” by. Gestewel en gespoor en my arme bike lyk soos die spreekwoordelike pakesel soos die persente om my gepak word.
By die eindpunt gee jy dan jou geskenk in en skryf jou naam en vonkpos adres in 'n boek.
Erg ingedruk en in my skik gaan ek daardie namiddag huis toe. My goeie daad vir die oomblik is gedoen.

'n Paar weke later begin die pos instroom. Die hierdie en daardie klub van Soweto bedank u vir u bydrae.
Die dit en dat se organisasie in Mamelodi bedank u vir u bedrae. Jy het 'n kinderhart verbly.
Die huffel en suffel klub van Thembisa bedank jou vir die bydrae. Jy het gesorg dat 'n arme kind ook 'n kersgeskenk gaan kry.

Nêrens lees ek van die een of ander organisasie van die arm wit woonbuurtes wat enige iets ontvang het nie.

Die bloed in my are word warm en my bloeddruk styg. Maar ek gee hulle - dis nou die organiseerders van die “Toy run” - die voordeel van die twyfel.

Maar toe ek soort gelyke briewe van die organiseerders van die “Blanket run” kry oor ek dan nou sou bygedra het om enige iemand koulik, (behalwe 'n wit kind) warm te hou, neem ek my voor dat ek nie weer sulke byeenkomste gaan bywoon nie.

Ek sal my bepaal tot die “Bible run”.
Tot my teleurstelling!! Want die predikant wat die diens lewer weet te vertel ons is in die weermag geleer om na alles wat swart is te skiet. Selfs al was dit 'n verdagte swartsak.
Hoe absurd kan dit wees?!!.


Daarmee gee hy te kenne dat alle sogenaamde terroriste swart was.
Ekskuus mens mag mos nou nie meer van terroriste praat nie. Dit is nou vryheidsvegters.
Ja en die wit ouens wat deel was van hierdie lot is deesdae vryheids aktiviste.
En hierdie prediker preek alles behalwe die woord van God. Hy preek regime en vryheidsvegters. En almal wat deel was of nie van die oorlog en nie swart was nie, is sondig en verkeerd. Verkondig hy met sy lelieblank vel.
Toe is dit ook maar die einde van die “Bible run” vir my.

Laat ek terugkom tot die hede en my spook wat saamgetrek het Weskus toe.
O ja en die geskiedenis wat homself herhaal.

So gaan woon ek toe onlangs Shoprite Checkers se Pretty Things for Little Things by.
Die atmosfeer is feestelik. Die kunstenaar is pittig en gevat.



Die kunstenaars van die speelgoed, klere, komberse, alles en nog wat, is blink gepoets en feestelik aangetrek en glimlag oor die wye spektrum van die hele nuwe Suid Afrikaanse bevolking.



Dan word die skyfie vertoning gewys van waarheen die vorige jaar se bydraes gegaan het.


En die gesiggies blink van vreugde. Maar glad nie oor die wye spektrum van die  nuwe Suid Afrikaanse bevolking nie. Want die wit gesiggies wat van vreugde straal, ontbreek.


Dit maak my deels kwaad en hartseer. Want wat weet kinders van 1 tot 7 wat in dieselfde jaar gebore is, oor die hele bevolking van die nuwe Suid Afrika, van die geskiedenis wat besig is om homself te herhaal.

Ek glo nie ek sal weer Pretty Things for Little Things bywoon nie.