Thursday, 17 July 2014

My laaste roos vir jou ...

   
Foto: Magical Photo Memories


My laaste roos vir jou

Sien jy die rooi roos op my bors, my Lief?
Het jy die knal deur die lug hoor klief?
Voel jy ook die pyn in my hart, my Skat?
As jy jou vinger op my bors-roos sit – voel jy die koeël ronde gat?

Is die vog van die blom ook klewerig vir jou?
Word die helder lug rondom jou ook grou?
As jy jou hand oor jou oë druk,
Is dit vir jou ook of die donker jou insluk?

Is dit my kop wat jy teen jou bors vashou?
Is dit jóú snikke wat ek vir laas nog hoor – so rou?
Kyk my Lief, die blom het groter gegroei,
Terwyl in in jou hande bloei.

© Christo du Plessis

Monday, 14 July 2014

Vir vanaand sal ek net jou hand vashou ...

Foto: Magical Photo Memories



Toe ek jou vanaand op die koue,
winderige strand raakloop,
sonder skoene en met net 'n dun rok
aan jou lyf, het ek die koue trotseer
en my jas om jou skouers gehang,
sodat jy darem so bietjie van
my liggaamshitte kon vang.

Ek het jou uit die wind na die
kaggelvuur gelei, jy het jou
op die mat voor die vuur neergevly
en die jas van jou skouers afgedruk.

Die sjerrie in die glas wat ek jou
aanbied glinster amber soos jou oë -
en dit weerspieël die glo van onskuld
in die vertroue gevind in die soel somerwind.

Later toe ek terugkom uit die kombuis,
met jou koffie vol suiker gestrooi, lê
jy met die blos op jou wange-mooi vas
aan die slaap - en ek weet jy is iewers
in niemandsland, daar waar die monsters
van die verlede jou in vrede kan laat
omdat jy weet dat ek by die nanag-vuur
by jou waak.

Dan gooi ek weer my jas oor jou
om die koue van jou weg te hou.
Ek laat die laaste stomp uitbrand.
 
Vir vanaand sal ek slegs jou hand vashou...


© Christo du Plessis