Monday, 14 July 2014

Vir vanaand sal ek net jou hand vashou ...

Foto: Magical Photo Memories



Toe ek jou vanaand op die koue,
winderige strand raakloop,
sonder skoene en met net 'n dun rok
aan jou lyf, het ek die koue trotseer
en my jas om jou skouers gehang,
sodat jy darem so bietjie van
my liggaamshitte kon vang.

Ek het jou uit die wind na die
kaggelvuur gelei, jy het jou
op die mat voor die vuur neergevly
en die jas van jou skouers afgedruk.

Die sjerrie in die glas wat ek jou
aanbied glinster amber soos jou oë -
en dit weerspieël die glo van onskuld
in die vertroue gevind in die soel somerwind.

Later toe ek terugkom uit die kombuis,
met jou koffie vol suiker gestrooi, lê
jy met die blos op jou wange-mooi vas
aan die slaap - en ek weet jy is iewers
in niemandsland, daar waar die monsters
van die verlede jou in vrede kan laat
omdat jy weet dat ek by die nanag-vuur
by jou waak.

Dan gooi ek weer my jas oor jou
om die koue van jou weg te hou.
Ek laat die laaste stomp uitbrand.
 
Vir vanaand sal ek slegs jou hand vashou...


© Christo du Plessis

Littekens ...

Foto & Gedagte: Christo du Plessis

Wednesday, 9 July 2014

My bipolêre jaar ...



Vandat ek my voete in Lambertsbaai, letterlik en figuurlik aan wal gesit het, het ‘n volle jaar al verloop.

Foto: Magical Photo Memories

Ja, ja ... ek weet die “half leë” profete gaan nou sê die tyd gaan maar vir almal so vinnig verby en wat maak mý nou so spesiaal?

Dit, my liewe vriende, is reeds waar die knoop vir my ook lê.
Wat maak mý nou só spesiaal?
Die antwoord is ‘n eenvoudige “niks”.

Ek het die afgelope jaar my bipolêre jaar gedoop.
En nee, ek is beslis nie ‘n bipolêre lyer nie. 
Eerder ‘n doodgewone depressie lyer. 
Maar my jaar het gemoedskommelinge beleef.  Van eufories hoog tot swaar, donker, neerdrukkend.

Die afgelope tyd het die winter nie net yskoud posgevat aan die Weskus nie, maar ook in my hart van harte. 
Ek hou nie van die winter nie.  Al weet ek dat die yskoue winter nodig is om die volmaakte mooi lente te kan beleef.  Wat weer vir die baldadige, sonnige somer moet sorg.  Waaruit die ryk herfs voortvloei net om die sirkel te voltooi en weer die winter in my skoot te kom gooi.

Foto: Christo du Plessis

My absurde verlange gaan so:

Vanaand verlang ek na bekende strate
en boererate ongevraagd wat tussen
plooie kom lê sonder om iets
van natuurlike genesing te sê

Vanaand verlang ek na lepellê
in die nag koel met net ‘n liggaam
soel om my droogte te breek

Vanaand verlang ek ...

Vanaand verlang ek na bekende strate
en komberse vol gate wat ‘n honger lyf
probeer bedek waar hy bewend in ‘n hoek
lê en kreun omdat die wolke van ongenade
storms kwetsende woorde oor hom laat uitreën

Vanaand verlang ek na die bekende strate
vol met uitgevrete vrate wat geil die vettigheid
oor mondhoeke laat drup as seerkry honger
die vrede gulsig probeer opslurp

Vanaand verlang ek ...

Vanaand is bekende strate ver en die naglint
word geknip sonder om die bekendheid
saam te bind – stil het bekende strate
net verlate in die vreemde in my hart kom lê

En vanaand verlang ek ...

Sommer so sonder rede

Foto: Christo du Plessis