Sunday, 6 July 2014
Tuesday, 5 November 2013
Klein asempie van Genade
Wanneer mens worstel om van God bewus
te raak, sluip Genade in baie gevalle by jou verby.
So het dit dan amper ook met my
gebeur.
Die van julle wat my vorige skryfsel
”God is doof” gelees het, sal weet dat
ek my in ‘n dal van donker dieptes bevind het.
Ek het nie probeer om myself daaruit
te worstel nie. Nee! Op daardie stadium was ek ‘n smartvraat wat alle geseling
wat na my toe gekom het, in enige vorm, verwelkom het.
So sit ek dan ook nou ‘n week gelede
hier in Zym se winkel. Dis weer een van daardie dae wat jy bang is dat as dit
stiller raak in die dorp, ons ook soos Kolmanskop, naby Luderitz in Namibia,
met die seesand gaan toe waai. En dis triestig koud.
Ek sit en staar uit voor my soos ‘n
bobbejaan wat ver weerligte sien en verlang na dae uit my vorige lewe toe ander
mense nog vir my gesorg het.
Uit die hoek van my regteroog gewaar
ek ‘n baie ligte beweging.
Vir duidelikheid van my vrese en
gedagtes, moet ek verduidelik dat my regteroog die beweging aan die verste kant
van die winkel waargeneem het.
Daar waar die deur toe is en geen oop
vensters is nie.
Heel eerste gaan my gedagtes in die
rigting van: “Spoke loop nie helder oordag nie”
“Spoke?” vra jy natuurlik dadelik
wantrouig
“Ja man spoke!” Die winkel is in ‘n gebou
net so oud soos Lambertsbaai en niemand was vir 15 jaar naby die solder nie.
Die beweging is donker van kleur. En
piepklein.
Ek dink nie die Heilige Gees is swart
nie. Ek glo Hy kan
in enige grotes voorkom. Maar nie swart nie. Dis mos nou nie regverdig dat as
mens aan’t stoeie is om kontak met die Vader te maak, dat die Gees nog swart ook
sal wees nie.
Maar EK is nie bang nie! Ek draai my
kop om te kyk hoe die klein spokie lyk. En wragtig, hier sit ‘n klein baba kat.
Swart soos die nag.
Kyk ek was nog nooit ‘n kat ou nie. En
ek hou nie so baie van swart katte nie. Dink maar nou vir jouself watter kleur
is die hekse se katte in die sprokies waarmee ons in ons kleintyd wreedaardig
vermaak is. Rillers!!
En al is ek gemoedsbekakken en hou ek
niks van katte nie, kan
ek mos nou nie hierdie klein dierasie uitsmyt op straat nie.
Wat maak ek? Ek klap die winkel se
deure toe, lank voor toemaaktyd en begin kat vang.
Die spreekwoord: “ ’n katjie wat jy
nie sonder handskoene kan aanpak nie” raak waar vir my toe ek hierdie enetjie
mos in ‘n hoek vaskeer.
Met ‘n geblaas, knor, byt en gekrap
ontsnap sy uit my kloue! So klein as wat sy is, dompel sy hierdie winkel in
chaos. Sy hol oor die rakke soos Ina van Rensburg nie hekkies kon hardloop nie.
Seil onder die rakke deur soos ‘n
wafferse hindernisbaan rekruut.
En ek bly geduldig en veg moedig
voort!
Dis toe sy haarself agter ‘n klomp
opgestapelde rakke in die stoorkant van die winkel bevind, dat ek my kans sien.
Ek gryp een van die klein visnette in
die winkel. Skuif die rakke so dat sy by my moet verby om uit te kom.
Dis moeilik om te sien waar sy is,
maar so met die 3de haak vang ek vir haar vas soos mens ‘n baie skaars vlinder
in ‘n net vang. Vinnig en versigtig.
Toe moet julle haar hoor knor. Jaaaa,
katte kan ook
knor. Gaan gooi jy sout op ‘n leeu se stert dan hoor jy hom knor.
Gewond, doodmoeg, met sweet wat oor my
stroom asof dit reën, het ek haar uiteindelik gevang. Jy moet onthou hierdie
ronde, dik lyfie van my is nie gewoond aan sulke uitmergelende oefening nie.
Ek glo ek het laas so beweeg toe ek ‘n
PTI in die weermag was. En dis bykans honderd jaar gelede.
Maar nou ja – so het ek haar hier in
my arms, fluister en sus en praat om haar net kalm te hou sodat ek weereens op
Paul en Tertia se hulp kan
gaan staat maak.
Die arme ding is so verbouereerd dat
sy haar kake op mekaar klem en weier om self melk te drink.
Met Tersh se vaardige hulp, kry ons
darem vir haar melk in met ‘n spuit.tussen haar geklemde kake ingespuit.
Maar sy is wild! Te wild vir die
willetuin!!
En ek troos en paai en praat mooi en
voer. En sy knor en krap en byt. Tot sy agterkom sy hoef nie te veg vir haar
kos nie.
Wat is die geslag wil almal weet? Ek
besluit om te maak soos baie verwagtende ouers. As dit ‘n meisiekind is, is
haar naam Katjiepiering. Natuurlik as dit ‘n seunskind sal sy naam sterk moet
wees. Katklong.
Een van die plaaslike anties kom tot
my redding en verklaar ewe met opgetrekte wenkbroue: “Dis ‘n meisietjie” En sy
laat my aan die outydse vroedvroue dink in die dae toe pa’s nog nie in die
kraamkamer mog ingaan nie.
Sy dop die arme kat weer sonder
seremonie om en sê vir my: “Kyk, hier is haar hollie en daar haar patrollie.”
Ek besluit om haar nie te hou nie.
Veil haar op aan almal wat heel moontlik, miskien, dalk kans sien vir dertien plus jare se
toewyding.
Ek sien tot kans
om haar uit te voer Pretoria
toe na ‘n vriendin wat gek is oor katte.
Maar teen die derde dag kom die wete,
toe sy weer verwoed vir my blaas maar my darem toelaat om haar op te tel –
Katjiepiering is my stukkie lewende Genade.
Soos sy my al klaende toelaat om haar
op te tel en rond te dra. Haar veilig te hou, so moet ek die Vader toelaat om
my op te tel en veilig te hou.
Hoeveel makliker is dit nie vir Hom as
vir my nie.
Ek begin nou al amper om haar kat-taal
verstaan.
As sy saggies haar voet teen my druk
sonder dat die naels uitkom en miaau, wil sy opgetel wees.
As daar naels sigbaar is wil sy speel.
En as daar geen voete betrokke is nie
en sy kyk my diep in die oë en miaau sag en benoud, is dit sandbak tyd.
Is ek ‘n kat-mens? Ek is besig om een
te raak
Dan bruis die woorde diep uit my uit:
Uit die donker van jou diepe siele
dood
troos ‘n asem klein om aan jou hand te
voed
vir jou om haar te leer ken sonder om
geliefdes in ‘n lewelose stuk papier
te groet
Op ‘n koue lente oggend in Oktober
2013, het ek amper die klein stukkie Genade gemis wat in my lewe kom spook het
met haar wilde teenwoordigheid, terwyl my gedagtes besig was met veraf
beplanning van waar en hoe en wanneer.
Dankie Here vir Katjiepiering!
Friday, 1 November 2013
God is doof!
Soos dit maar met
baie drome in mens se oë gaan, het myne ook vervaag die oomblik toe ek myself
midde in die werklikheid bevind.
Die spreekwoord,
“Drome het vlerke,” is waar. My drome oor Lambertsbaai en die eiendomsmark het
arendsvlerke gekry en die verre verskiet in gevlieg.
Ek is egter nie
dankbaar soos Noag van ouds toe die duif nie teruggekeer het ark toe nie. Ek
weet daar en dan verseker dat ek, met permissie gese, nou letterlik my gat gaan
sien.
Ek betree die
Weskus met die wonderlikste atmosfeer. Die vriendelike mense en die pragtige
natuur wat my welkom heet. Maar ek en die eiendomme vind mekaar nie.
Die verhouding
is van die begin af gedoem en ons besef dat ons nie ‘n langtermyn verbintenis
met mekaar gaan hê nie.
Die leerproses
is stadig, die geleenthede min en miskien tel my vooropgestelde idees teen my.
Maar dit maak nie vir my sin nie. Ek is tog opleibaar. Of so het ek myself wysgemaak.
En ek weet dat ek enige ding kan
doen waarop ek my toespits.
En so loop die
kruik leeg. Daar is later nie eens meer ‘n oortjie oor om vir kollekte in die
kerk te gebruik nie.
Ek hoor die
prediker oor die draadloos praat en ‘n paar sinne val my op: “Die Here is by
jou in alles wat met jou gebeur. Dit wat goed is, maar ook in dit wat verkeerd
loop”
Zym se winkel –
Iets van Als, wat as‘n ekstra inkoste moes dien, raak die hoofbron van
finansies.
Nou kan ek nie
anders as om sonder skroom te sê dat die geld wat in die winkel verdien word,
kwalik genoeg is om nuwe voorraad aan te koop.
Wat nou gemaak?
“Bid” skree almal! Die wat ‘n persoonlike verhouding met die Vader het. Ook
daardie wat venynig wil voorgee dat hulle dit goed bedoel. En hulle laat dit
klink of hulle deur harts-inligting weet dat ek nie bid nie.
En ek wil dit
nie hoor nie. Want ek bid! Maar God bly doof en sommer nog stom ook!
ALLE planne wat
ek maak boemerang. Alles lyk vreeslik belowend. Diep binne glo ek hier gebeur
die verandering nou! Net om agter te kom dit verdwyn soos vals beloftes die
niet in.
Die prediker se
boodskap oor die draadloos gaan oor: “Die Here sal jou nie in iets neersit as
Hy jou nie daardeur gaan vat nie”
Eers bid ek vir
die finansiele vermoë om die verlies aan inkomste, (wat ek nooit verdien het
nie) te vervang. Maar God bly doof.
En die winkel se
inkomste bly konstant. Geen verhoogde verkope nie. Geen onverdiende aalmoese
nie. Niemand wat dit kan
bekostig om vir my die geld skenk, voor te skiet of te leen nie.
Seker ook maar
goed, want my oorle Moeder het altyd gese: “Leen is an old maid’s name”
Ek wou ook maar
net die geld bekom om Zym se winkel so uit te brei om die omset so te laat
verhoog dat ek ten minste my finansiële verpligtinge maandeliks kan by bring.
Maar God is doof.
Van al die
vonkposse wat ek vir mense skryf, is daar slegs twee wat my antwoord. “Nee
jammer. Ek kan
dit self nie nou bekostig nie”. Die res vermy my asof ek besig is om ‘n volksmoord
te beplan.
Die prediker oor
die draadloos se stem gooi die woorde in my ore: “Die Here dwing jou soms tot
stilstand sodat jy skoon van voor af kan
begin”
Toe begin ek vir
al die instansies vonkposse stuur om te verduidelik dat ek nie my verpligtinge kan na kom nie. ‘n Stilte
daal neer in die kuberruim. En God bly doof.
Die versekeringsmakelaars
is die enigstes wat reageer, Die res spreek nie eens hulle geweldige
onsteltenis uit nie. Ek weet nie of hulle die kennisgewing onvang het nie.
Ek stuur ‘n
opvolg vonkpos. En ‘n derde vonkpos. Ek bel en probeer met die betrokke persone
te praat. Maar hulle is nie beskikbaar nie en sal terugbel. Maar dit gebeur ook
nie.
Ek adverteer my
dienste as fotograaf. Kry een kwotasie om te doen en toe die arme bruid my
tarief hoor, skrik sy haarself uit die huwelik uit. Ek wil darem net sê ek is
heelwat goedkoper as die begin pakkette van R12 000 wat ‘n ander plaaslike
Weskus fotograaf vra.
Daarna bid ek
vir werk. Ek stuur my CV die wêreld in. Die enigste mens wat vreeslik opgewonde
is om van my te hoor is die administrateurs van ‘n “Oil rig” Ek werk vinnig uit
hulle gaan my nêrens heen stuur nie, want hulle soek ‘n registrasiefooi van
R975.00.
So se ek toe vir
die Here: “Hier is ek. So kom ek dan ook nou aan die einde van my planne, moed
en uithouvermoë”.
Dan hoor ek sag
soos die fluister-wind in my ore, met geen herkenbare stem nie; “hoekom
bekommer jy jou oor die einde van die maand as jy nog nie vandag ten volle
geleef het nie? Vat elke dag oomblik vir oomblik.” Ek frons, want hoekom sal ek
nou sulke stroperige goeters dink?
Ek ervaar die
Psalm vers: “Na waters waar rus is lei Hy my heen.” En ek begin prentjies maak.
Nee nie skilder nie, want dit kan
ek nie. Ek maak prentjies. Elke dag leef ek net vir daardie dag.
En ek lewe soos
Oupa Eli sal sê: “Hoop vir die beste, want die slegte kom vanself.”
Die dae kruip
teen slakkepas verby. Die Chery loop al
minder en die einde van die maand spoed voort met die krag en die kleur van ‘n
vulkaan wat aan’t uitbars is.
Ek maak my
tweede prentjie.
Die prediker oor
die draadloos is vol passie as hy vermaan: “Die Here stuur gereeld mense oor
ons pad wat ‘n verskil kan
maak. Hou net jou oë en ore oop.”
So stig ons ‘n
aanlyn winkel met van die handgemaakte voorraad wat ek in Zym se winkel het,
met die hoop iemand wil die goed koop. Maar nee!! almal “like” net die verdomde
winkel. Niemand bestel die goed nie.
Praat oor Radio
Namakwaland oor www.skryfnet.co.za met
‘n gestotter en ‘n gehakkel. Daar is darem dat een siel wat verstaan hy kan daar registreer om
gedigte te plak. Maar die res bly stil.
….Ja – En God is
doof.
Dan gebeur dit!
Vroeg gisteroggend kry ek ‘n telefoonoproep van ‘n vrou waarvan ek nog net
gehoor het hier in die dorp, maar ek ken haar nie. Kan sy my kom sien, wil sy weet.
Ek het niks om
te verloor nie. Geen geld om iets te koop nie. Maar ek het darem twee ore om
mee te luister. Dus, laat kom maar die dinge, dis deel van die dag wat ek sal kan hanteer.
En dit gaan so:
Haar seun, wat die plaaslike dvd winkel besit, moet die perseel ontruim omdat
dit verkoop is. Stel ek nie belang om dit te koop nie?
Ek glimlag in my
brein, besluit daar en dan dat die Here ‘n wrang sin vir humor het. Hy weet dan
hoeveel gebede ek al opgesê het. Hy weet dat ek geen geld het om enige iets te
koop nie. Hy weet …. Hy weet ….. Hy weet!! Maar Hy is ook doof.
Ek skakel die
draadloos af wanneer die prediker teem: “Die Here gee manna wanneer jy honger
het. Hy sal jou nie van honger of dors laat omkom nie.”
Ek sê vir haar
hy is welkom om die goed hier te kom neersit. En ek sal dit vir hom verhuur.
Teen betaling natuurlik. Maar geld om die besigheid te koop? Nee, dit het ek
nie. Sy onderneem om met haar seun te praat. Want die perseel moet gisteraand
ontruim wees.
Daar wil, wil ‘n
opgewondenheid deur my gaan. Maar hierdie keer praat ek sommer hardop met die
Here. Miskien kan
Hy my lippe lees.
“Here moet my
nie nou opgewonde maak oor iets wat weer nie gaan realiseer nie. Laat dit net
verby gaan. Kry dit net verby!”
Ek hol darem gou
oor die pad na my pelle toe en so in die praat stel hulle voor: “Winsdeling as
afbetaling vir die besigheid. As die bedrag bereik word, raak die besigheid en
al die voorraad joune”.
Ek bel vir
Moeder en stel dit voor.
So los ek dit dan
as deel van die dag wat ek NIE kan
hanteer nie. Maar toe ek weer my oë uitvee, staan ma en seun voor my.
Dis reg, hulle
aanvaar my voorstel van die winsdeling en die afbetaling.
Die rakke en
voorraad word afgelaai en die afspraak is gemaak om Zym se winkel te
herorganiseer sodat alles kan inpas. Dis nou in die komende week.
Ek is nog besig
om die stemme in my ore stil te maak wat my berispe: “Sien, die Here doen Sy
ding op Sy tyd” toe kry ek die versoek vir spasie om ‘n kleremaakster /
naaldwerkster te akkommodeer.
My kop werk in
die hoogste versnelling. Ek het ‘n onbenutte deel vloerspasie. Dit is
afgesonderd van die res van die winkel en sy kan help huur betaal.
So kom ek om –
so kom ek om.
Ek ervaar weer
die Psalm vers. En ek hoor weer die wind fluister. Maar hierdie keer sê die
wind vir my: “Die Here is nie doof nie. Jy is.”
Dis eers toe
Paul vir my se: “Jou geloof is baie sterker as myne. Ek weet nie hoe jy so
rustig bly terwyl jou wêreld rondom jou uitmekaar moer nie,” wat ek weet, so
seker as wat ek miskien nog my gat kan sien, so seker is dit dat ek die dowe
een is. God is nie doof nie. Hy het my net in perfekte tydsberekening op die
regte plek neergesit om met die regte mense pad te kruis……
….. My die pad
laat vat wat tot voordeel van myself is.
Ek is besig met
my derde prentjie. Dit sal ek vir julle wys as ek weer skryf.
Ek weet nog nie
waaroor ek gaan skryf nie.
Vir nou wil ek net
eers dit by julle los:
God is verseker
nie doof nie!
“En die
eiendomme dan?” hoor ek iemand vra.
Nee daardie
verhouding is besig om ‘n stille dood te sterf. Want ek praat eerder die mense
UIT die huis uit as IN.
Subscribe to:
Posts (Atom)















