Sunday, 27 September 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 6)



          “Liewe blik ... “ Ek knip die kragwoord kort. Ek is nog nie twee dae in hierdie hardebaarde se teenwoordigheid nie of ek neig ook al om soos ‘n matroos te vloek.

Ek kyk beskuldigend na Duiker; “Moet my nou nie weer stil maak nie. Maar dit lyk my hierdie Babbels-vrou wat klaarblyklik my ma is, was nie net ‘n flerrie nie, sy was … sy was …”
Die woord wat ek wil uiter steek in my keel vas.
Dan moet ek maar ‘n eufemisme inwerk om nie so bar soos hierdie twee seemanne te klink nie:
          “… losbandig, om die minste daarvan te sê” gooi ek dit in Duiker se skoot.

As ek sien sy mond gaan oop om iets te sê, lig ek my wysvinger op en maak hom stil.
          “Jy kan nie stry nie Duiker! Daar staan dit geskrywe,  swart op wit!”

Duiker hou sy glas voor sy mond sonder om ‘n sluk te neem. Dan beduie hy in my rigting met die glas.
          “Man, gisteraand het jy my ge-oom, nou raak jy fokken astrant.”

Daarop kap ek dadelik terug omdat ek in hierdie kort tyd agtergekom het dat hy die oorhand oor jou kry as jy hom ‘n halwe kans gee.
          “Gisteraand het ek aan skok gely. Hier is nog nêrens bewys dat jy enigsins, op enige manier aan my verwant is nie.”

Ek kan sien my woorde tref waar hy dit nie wil hê nie. En as ‘n bok gekwes is, moet jy hom die doodskoot gee.

          “En jy maak vir Ma so sleg. Maar kyk wat vang jou …” die klank in my stem grens aan sarkasme; “… dierbare, jongste sustertjie, Babbels aan.”

Skippie en Sussa is stil. Hulle volg die gesprek tussen ons soos ‘n tenniswedstryd. Heen en weer draai hulle koppe in die rigting van die spreker.

Duiker kyk van my na Sussa. Hy soek ook antwoorde. Dit kan ek sien. Maar hy gaan ook nie toelaat dat enige mens die beeld wat hy al die jare van Babbels ronddra, vernietig of beskadig nie.

Hy steek sy sigaret aan en beduie met die sigaret tussen sy wys- en middelvinger na die boek.
          “Lees Sussa! Lees daardie ou mal koei se boek dat hierdie klein kont sy woorde kan sluk.”

Ek lig my hand op en skud my kop:
          “Nee Sussa asseblief nie. Ek het genoeg drama vir een dag gehad. As jy nie omgee nie, los ek die boek by jou en dan lees jy dit. As daar iets noemenswaardig gebeur het, dan kan jy dit sommer vir my vertel.”
Sy kyk vraend na Duiker en Skippie asof sy ook hulle toestemming nodig het.
Skippie kom tot antwoord vir haar;
          “Ja Sus, ek dink dis ‘n goeie voorstel van die klong. Want ek sien ook nie kans om te hoor hoe ou Suurgat Netta my hart en lewer in die stofpad fyn getrap het nie.”

Vir ‘n tweede keer sak my mond oop vanoggend. Ek is diep in my wese verras. En ek verstaan skielik hoekom Skippie so dwars is oor Ma.
Skippie was of IS dalk nog verlief op Ma en sy het sy hart gebreek.

Ek kyk meer aandagtig na Skippie. Hy is verniel van al die jare op die oopsee.
Hy is bles en groot sproete is op sy bles ingebrand. Die hare wat tussen die bles en grys deur sigbaar is verklap dat hy ‘n rooikop was op sy dag.

          “Skippie …” Ek wag dat hy my antwoord

Hy frons diep en vat eers ‘n moedskep sluk uit die glas voordat hy antwoord;
          “Wat? Wil jy nou met my beginne kak soek?” Sy deurmekaar linker wenkbrou word hoog opgetrek as hy my aangluur.

          “Is jy ook sogenaamd familie van my?” ek vra dit vermakerig. Want soos ek darem die afgelope dag en ‘n bietjie familie bygekry het, is verstommend.

Ek draai na Sussa toe; “En jy Sussa, waar pas jy in die familieverband in?”

Dis egter Duiker wat praat en sy stem is koud:
          “Mens kan sien Netta het jou in jou moer in grootgemaak. Want jy het geen respekte vir grootmense nie. Lyk Skip en Sussa vir jou na jou maat?”

Ek swyg en hy gaan teregwysend voort: “Jy het seker ook jou kinders geleer dis okay om so fokken ongemanierd te wees. En jy like dit seker as ‘n ander man so donners lelik praat met jou vrou.”

Sussa wat tot nou toe net ‘n woord hier en daar geuiter het sit haar hand sag
oor Duiker s’n as sy met my praat;
          “Het jy kinders Jannus?” My naam klink vreemd uit haar mond.

Ek is spyt dat ek so sarkasties was met haar maar wys dit nie reguit nie.

          “Nee Sussa. Of altans nie waarvan ek weet nie. Ek is ook nie getroud nie.”

Die twee manne is nou stil en luister na my en Sussa se gesprek;
          “Was jy nog nooit getroud nie, of …?
Sy laat die ‘of’ in die lug hang. So asof sy nie kan besluit of sy “geskei” of “wewenaar” moet invul nie.

Daar is bietjie meer warmte in my stem as ek sê:
          “Ek was nog nooit getroud nie. Ek was bang ek dra Ma se liefdelose houding na my vrou en kinders toe oor.”

Sy tuit haar lippe en klik haar tong drie kortes na mekaar terwyl sy haar kop skud.
          “Shame jou arme ding! Netta het jou verseker opgebogger. Hoe oud is jy nou Jannus?”

Ek sou reken aangesien hulle so alles van my weet, hulle dit seker ook sou weet en moet myself inhou om dit nie vir haar so te sê nie.

          “Ek is een en veertig.” Ek antwoord vinnig sonder om uit te brei.

Sy glimlag warm met meegevoel; “Toemaar kind, jy sal nog regkom.”

Ek besluit daar en dan om vir Sussa te vra om my met ma se kamer te gaan help.
          “… net vir die vroue goeters wat daar is. Ek sal nie daarvan hou om aan Ma se klein-klere te vat nie.”

Toe sy instem staan ek op.

          “Ek sal jou moreoggend hier kom oplaai Sussa. Hoe laat is reg vir jou?”

Ons maak die tyd op 10:00 vas en ek stap deur toe. Sussa stap saam om die deur weer agter my toe te sluit.

Net voor ek by die deur uitgaan draai ek skielik om en vra vir niemand in die besonder nie;
          “Hoe is Pa oorlede?”

Duiker se rug bly om my gekeer as hy binnensmond antwoord:
          “Hy het vermis geraak op see.”

Ek druk die deur toe en stap weer na die kroeg toonbank toe.
          “Maar jy het gisteraand gesê ma het julle by die begrafnis weggejaag.”

Dis meer ‘n stelling al ‘n vraag.

Hy antwoord byna traak-my-nie-agtig;
          Julle noem dit deesdae ‘n roudiens. Dan is die man ter sprake ook mos nie teenwoordig nie.”

Sonder om iets verder te sê of te groet, verlaat ek die kroeg en ry so vinnig moontlik huistoe.
My kop draai van al die inligting en ek kry die voorgevoel dat ek die helfte nog nie weet nie.
Miskien moet ek die dagboek by Sussa gaan haal en dit self verder lees. Sonder ‘n gehoor.

Die blote gedagte daaraan maak my tot sterwens toe moeg en ek besluit om die saak more weer in heroorweging te neem.

Die personeel by die Tehuis ontvang vir my en Sussa hartlik. Dit is net teetyd en ons word genooi om eers saam met hulle tee te drink.
Sussa wys dit van die hand; “Ons wil maar so gou moontlik klaarmaak.”

Ek trek die laaikas in die een hoek van die vertrek, se linkerkantste boonste laai oop. Dit is netjies en daar is nie ‘n ding uit sy plek nie.

Daar is vier lêers saam met nog ‘n paar pakke dokumente in met toue vasgebind.

Ek haal die lêers uit en lees hardop wat voor opgeskryf is.

          “Huis / Motor Versekering en Medies, Testament van JML du Plessis, Testament van JA du Plessis en op die laaste lêer, Babbels Oosthuizen.”

Sussa ruk tot stilstand waar sy besig is om ma se klere uit die kas te haal. Dit lyk of sy versteen het.

          “Is alles reg met jou Sussa?” wil ek besorgd weet.

Sy draai stokkerig om, kyk nie na my nie, maar na die lêers wat ek vashou.
Sy is ook ietwat kortasem as sy praat:
          “Ek dink nie jy moet daardie lêers te diep bêre nie. Dit kan dalk dokumente bevat wat jy gaan nodig kry vir die begrafnis.”

Ek sit dit eenkant en gaan aan met die inpakkery.

Toe ek weer vir Sussa by die Kraaines gaan aflaai bied sy aan om die lêers vir my veilig te bewaar. Ek wys dit van die hand en herinner haar aan die dagboek wat sy moet lees.

Terug by die huis maak ek vir my koffie en gaan sit voor op die stoep met die pak dokumente.

Omdat ek eerder meer van Pa te wete wil kom maak ek die lêer oop wat aandui dat dit sy testament is.

Die eerste bladsy bevat, soos gewoonlik al die regsaspekte en dinge van minder belang.

Ek blaai om en my oë gly oor die bladsye.

          “Laaste wil en testament … Jannus Adriaan du Plessis … bemaak soos volg … JML du Plessis … slegs vruggebruik van die eiendom te Voortrekkerstraat … moet op my seun Jannus Adriaan … se naam geregistreer word sodra hy 25 is.
… kontantbedrag van R4’250’000.00 aan vrou … moet geld gebruik om haarself en seun te versorg en studies te betaal …

… drie diamant bote … as volg … Perseus …aan my swaer en vriend Andries  (Duiker) Kotzé.
… Pegasus … vriend Sarel (Skippie) Fryer…
… Aquarius … seun …”

Ek frons toe ek die volgende sin lees.
“Die Aquarius moet deur Andries Kotzé namens my seun bedryf word. Geen gelde of inkomste wat met die Aquarius verdien word mag aan my vrou JML du Plessis oorbetaal word of deur haar hanteer word nie.
Alle inkomste moet in die Trustfonds gestig vir hierdie doel oorbetaal word en op ouderdom 30 aan my seun …
… “kontantbedrag van R2’725’000.00 ook in Trustfonds …

… plaas Driedraai aan … Babbels Kotzé…”

Ek hou op lees en kyk op. Waar gaan al hierdie goed heen? Waar is die plaas Driedraai waarvan ek nie bewus is nie?
Bly Babbels nou op die plaas?
Wat het van die diamant bote geword?
Is die huis op my naam geregistreer?
Hoekom is Pa so adamant dat Ma nie die trustgeld mag hanteer nie?

Die vrae maal soos ‘n kolk deur my kop. Miskien kan Duiker-hulle meer lig werp.

Die onderwerp in my gedagtes hou met ‘n vaart voor die huis stil. Duiker se groot lyf vou dubbel as hy homself uit die klein Datsun bakkie wurm.
Hy kom haastig op my afgestap. Die groet en praat is alles in een:
          “Mirrag Boeta kom kroeg toe, Sussa het groot nuus raakgelees.”


Ek kan sy dringendheid aanvoel en mors nie tyd nie. Sluit die deur en met Pa se testament lêer onder die arm, klim ek saam met Duiker in sy springkaan-groen bakkie.

Friday, 25 September 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 5)



Ek ry ingedagte huistoe. Dis amper of die bakkie self die pad huis toe ry.
My oog val kort-kort op die boek wat langs my op die sitplek lê.
Ek het nog nie die moed gehad om dit oop te maak nie. As ek na die dikte van die boek kyk, lyk dit of Ma vir haar lewe lank dagboek gehou het.
Aan die een kant is ek nuuskierig om die inhoud daarvan te weet, maar aan die anderkant is daar so effense vrees vir dit wat tussen die blaaie vir my wag.

As ek in die straat afdraai huis toe, val ‘n ou geroesde groen Datsun 1200 bakkie wat reg voor die huis geparkeer staan, my op.
Waar die roes nie al die verf bruin verkleur het nie, lyk dit of iemand sommer die bakkie met ‘n handkwas geverf het. Grasgroen, oneweredige strepe.

‘n Persoon, kort en fris van postuur, klim uit die bakkie en maak vir my die hek oop. Die frons tussen my groen oë is diep en groot tot ek vir Skippie herken.
Die gedagte waar hulle my adres gekry het, spring deur my kop vir ‘n vlietende oomblik. Maar dan onthou ek dat Pa en Ma al die jare in die huis gebly het. En Duiker sou seker weet waar dit was.

Ek wuif in die deurry van die hek vlugtig vir Skippie. Ek het hulle nie hier verwag nie en ek kan ook nou nie eintlik sê dat ek hulle hier verwelkom nie.
As ek uit die  4 x 4 klim en omdraai, staan nie net Duiker en Skippie daar nie, maar ook Sussa.

Hulle staan in stilte. Groet nie en dit voel vir my die drie pare oë brand gate in die boek onder my arm.
          “Dit lyk my in hierdie geweste groet mens nie as jy ongenooid by ‘n man se huis opdaag nie.” verbreek ek die stilte.
Dan draai my kop van die een na die ander en ek kyk hulle vas in die oë.
          “Môre Sussa, môre Skippie, môre Duiker. Waaraan het ek hierdie besoek te danke?”

Ek raak weer bewus van Duiker se groot lyf. Hy trap ongemaklik rond en kyk na Sussa.
Dié skud net haar kop en beduie met haar oë iets wat net die drie van hulle verstaan.

          “Het jy dop in die huis?” vra Skippie. Seker maar net om iets te sê.
Ek antwoord ontkennend en Duiker vul aan:
          “Dan moet jy die bar gaan oopmaak Sussa.”

As antwoord pomp Sussa vir Duiker met die elmboog in die sy.
          “Dit is my afdag Duiker en jy weet dit. En jy gaan nie weer die kind met jou dronkgat twak gooi nie.”

Duiker snerp verergd terug; “Ek wil niks sê nie, ek wil weet watse donnerse boek hy daar onder sy arm het.”

          “Dit het niks met jou te doen nie Duiker.” Sussa probeer sag praat. Die rookskade aan haar stembande gee dit ‘n lae toon.

Daar daal ‘n kalmte oor my. Dit het eintlik alles met Duiker te doen, dink ek.
Ek is seker hy het net soveel om uit te vind soos ek. Ek het afgelei dat hy nou reeds jare geen kontak met sy familie het nie.
Moontlik is daar inligting in die boek wat hy ook moet kry.

Die rustigheid slaan deur in my stem as ek geduldig met Sussa praat;
          “As jy nie omgee nie Sussa, kan ons maar kroeg toe gaan. Ek sal graag met julle wil deel wat met hierdie boek aangaan.”
Ek verswyg die feit dat Ma dood is. Hoekom kan ek nie sê nie. Ek sal dit vir hulle vertel as ons rustig in die kroeg sit. Dit is nou te sê as die drie rustig kan raak.

          “Een van julle kan saam met my ry. Dan sit julle nie so ongemaklik nie.” stel ek voor en dit is Skippie wat omstap en voor langs my inklim.
Sussa verkies seker om saam met Duiker te ry om hom eers weer die leviete voor te lees.

Nadat Sussa die kroeg se deur weer agter ons toegesluit het, stap sy agter die toonbank in om vir ons elkeen ‘n dop te gooi.
Dan kom maak sy seker die oppervlak van die toonbank voor my is skoon en droog sodat ek die boek kan neersit.
Nou kom sit sy tussen ons met haar glas rooiwyn.

Ek wag dat hulle, hulle gebruiklike sigarette brandmaak. As aldrie afwagtend na my kyk, sê ek sonder omhaal van woorde; “Ma is dood vanoggend”

Daar is geen teken van berou of skok nie. Skippie lig sy glas;
          “Op ou Suurgat Netta.”
Duiker en Sussa volg sy voorbeeld en hulle sluk diep aan die inhoud in elke glas.

Duiker vee, soos dit sy gewoonte is, sy mond met die agterkant van sy hand af. Trek skreef oog aan sy sigaret.

          “Hierdie is Ma se dagboek. Sy het gesê ek moet dit lees. Ek neem aan dat al die leuens wat ons gelewe het, hieruit opgeklaar sal word.”

Ek trek my wenkbroue hoog op. Sug diep voor ek ook my dop inbreek met twee, drie lang slukke.

          “Sussa sal jy vir ons lees wat hier aangaan?” Met onuitgesproke begrip hou Sussa haar hand uit na my toe vir die boek.
Sy blaai die boek oop, byna met respek. As sy begin lees is daar ‘n rustige deernis in haar stem te bespeur.

“Hierdie is die dagboek van Janetta Margareta Louisa Kotzé. My weë en wandel sal hier opgeteken word vir net my eie oë se insae vanaf vandag 19 Augustus 1972.”

Dis Skippie wat ongemanierd deur sy neus snork;
          “Gmpf! Weë en wandel!” grinnik hy sarkasties. “So was sy mos altyd te grênd en opstêrs vir die gewone jongetjies”

Hy sluk sy glas leeg met die groot ongeskikte slukke. Staan op en gaan maak sy eie glas weer vol.

          “Wil een van julle nog iets hê terwyl ek hierdie kant is?” vra hy grimmig.
Duiker stoot sy glas oor. Sussa wag tot hy klaar is voordat sy verder lees.

Sy neem die saak ernstig op. Dit klink of sy haar verbeel sy lees die oggend boekvoorlesing op RSG voor. Met stembuiging, tussenposes en stiltes tussen in.

          “Ek het gisteraand 18 Augustus 1972 die man van my hart se drome ontmoet by die kerk se koffiehuis. Hy laat die sterre in my oë los. Laat my bloed soos riviere in vloed bruis.
Maar … daar is altyd ‘n maar. As ek hom huis toe gaan nooi sal hy nie twee keer weer na my kant toe kyk nie. Want daar is Babbels. Die altoos nimlike een met die dimpel-wang-glimlag as sy haar kop kwansuis onskuldig draai en haar oë guitig vir die mans flikker.”

Duiker se stem is grof van weëmoed as hy Sussa se voorlesing onderbreek;
          “Babbels, my liewe, jongste sustertjie.”

Die besef van wat Duiker sê, ontspring in my soos ‘n fontein in dor aarde. Sy jongste susterjie is my bloedma! Hierdie “Babbels” is dus my bloedma!

Wanneer Sussa weer begin lees, klim my aandag saam met haar die boek in en ek volg elke woord soos ‘n honger kind.

“Ek sal nou maar gereeld na die besigheid toe gaan, al voel ek dit is tydmors. Die jongetjies wat daar uithang hou vir hulle so vroom, en dit kan tog sò vervelig wees.”

Sussa rol haar oë asof sy persoonlik die ervaring het.
Sy lees onverpoosd voort.

“Die pragtige man met sy sterk bene en breë skouers het my verseker hy gaan elke Vrydag daar wees.
Oooee en het hy nie ‘n ewe sterk naam nie! Dirk Bruwer!”

Hierdie keer stap Duiker agter die kroegtoonbank in. Terwyl hy besig is om vir ons almal ‘n volgende rondte te gooi, sê hy verveeld vir Sussa;
          “Agge nee my fok man, Sussa. Moet jy nou al daardie soetsappige kak lees. Ek is seker die klong wil dit nie hoor nie.”

Sussa kan haar man staan teen hierdie harde man met sy ruwe seehart.

          “Wie is jy om vir hom te besluit jou ou droë knol?”

Ek weet as ek nie ingryp nie, gaan hulle nou eers weer vir ‘n halfuur stry.

          “Dis reg Sussa. Lees maar net die stukke waar sy oor Babbels skryf.”

Met verwondering kom ek agter dat ek na “Ma” as “sy” verwys.

Duiker kyk verras na my. So asof hy nie verwag het ek gaan uitwerk dat Babbels my ma is nie.

Terwyl Sussa in stilte lees, wil Duiker by my weet:
          “ Het sy iets gesê voor sy dood is” Ek kan die bitterheid in sy stem hoor deurskemer. Ek hoop dit staan in die dagboek hoekom hy so bitter is teenoor haar.

Sussa is byna opgewonde as sy van die boek af opkyk:
          “Wag, wag hier vat sy nou vir Dirk huis toe om haar ouers te ontmoet.”

Ek skud net my kop om Duiker se vraag te antwoord terwyl Sussa weer in die radiostem begin lees:
          “Sondag 22 Desember 1972 – Ek het vir Dirk plaas toe genooi vir Kersfees en ook om vir Vader en Moeder te ontmoet.
Dit is nou reeds 4 maande dat ons mekaar in die dorp sien.
Groot was my verbasing dat Babbels geen indruk op hom gemaak het nie. Ek het eintlik die indruk gekry dat hy haar as ‘n lastige kind beskou, toe hy vir haar gesê het dat sy nie saam met ons piekniek by die dam kan gaan hou nie.

Hy het nog nie in daardie rigting gepraat nie maar ek kry die gedagte dat hy my om my hand gaan vra.”

Sussa soek na haar sigarette en merk ewe droog op;
          “O shit hier kom ‘n ding.”

Skippie wat tot nou toe stil was sê; “Moet asb net nie vir ons lees hoe hulle vry nie. Ek wil dit not a donner hoor nie”

Sussa trek haar vinger oor die lyne van die netjiese handskrif met ‘n ligte krul in die laaste letter van elke woord. Op soek na die sensasie wat ons almal verwag.

Sussa se “Aha!” onderbreek ons ander drie se gedagtes waar dit in stilte op eie spore geloop het.
          “Wat?” wil ons aldrie gelyk weet.

“ Hulle het nou verloof geraak en Babbels hang aan sy arm terwyl sy hulle gelukwens.’

Onwillekeurig merk ek hardop op:
          “Dit klink my hierdie Babbels was ook maar ‘n ‘n klein flerrie want …”
“Hey, hey, hey … “ val Duiker my in die rede.
“Jy praat nie so van my sustertjie nie. Sy was glad nie terterig nie. Dan eerder die hoogdrawende drama queen, Netta.”

Die bier is bitter in my mond en as ek oor my lippe lek proe ek die rook wat in die vertrek rondhang.

Sussa lees weer in stilte. Die verlowing was nou nie vir ons so groot gebeurtenis as vir haar nie. Maar ek wou mos hoor daar waar sy Babbels se naam raaklees.

So tussen die lees vat Sussa klein ingedagte slukkies van haar wyn.
Hierdie mense se drink kapasiteit verstom my. Dit voel vir my of die liters drank wat hulle verorber geen invloed op hulle het nie.

Maar ek kan nie eintlik iets van hulle sê nie, want hier sit ek buite my aard in die middel van die week in ‘n kroeg en is besig met my derde draught vir die oggend.

Sussa wip regop. Steek ‘n vars sigaret aan. Sluk die laaste wyn in die glas af.

          “Ek het julle gesê hier kom ‘n ding.” vertel sy terwyl sy haar eie glas volmaak en ook vir die res van ons sorg.
Hulle vra nie meer nie. Gooi net.

          “Nou gaan jy ons nou in suspense hou tot kreeftyd toe?” wil Skippie ongeduldig weet.

          “Ek rek net eers bene Skip. Lees self verder as jy dan nie kan wag nie.”

Skippie mompel in sy glas terwyl hy sluk; “… ook maar fokken lekker bedonnerd”

Sussa skud die woorde wat hy oor haar strooi van haar skouers af en maak of sy nie die afwagting agterkom wat sy by ons geskep het met haar opmerking nie.

Eers as sy haar lang sigaret rustig klaar gerook het en haar wynglas opgetop het,begin sy lees:

“26 Mei 1973 – Ek is verpletterd. Die donker in my hart hang soos die dood, lanfer om my heen. O hoe kon hy? Hy het my dan sy ewige liefde belowe toe ons twee maande terug verloof geraak het.
Maar nee! Ek is seker hy was slegs ‘n slagoffer in haar kloue!”

Duiker stamp sy vuis op die toonbank. “Ag bliksem! Die vroumens is langdradig. As ek ou Dirk was het ek nie twee keer na haar gekyk nie.”

Skippie praat tussen die slukke en die rook saam:
          “Ja, as ek hy was het ek lankal ‘n ander goose gespyker. Hy het seker niks by ou Netta gekry nie.”

Sussa lag hardop; “Wag nou julle twee, julle loop die storie vooruit. Ek lees verder.”

“Ek kan nog nie glo wat ek met my eie oë moes aanskou agter die duin tussen die fynbos nie. O die vernedering! Op ons eie piekniek kombers! Daar kom hy die ander vrou by. Albei kaalgat in die oopte! So sonder skaamte!”

          “Ja nee!” is Duiker se enigste reaksie.

Sussa lees voort:

“Ek kon nie wegkyk nie. En dis eers toe hulle klaar was en hy afrol dat ek sien dit is my eie suster – slet Babbels, wat my verloofde verlei het.
Ek moes dit geweet het! Ek moes dit sien kom het. Ek moes raak gesien het hoe sy haar strikke vir hom stel.
Kan die dood my nie maar kom haal nie? Of nee wag! Ek sal haar terug kry. Ek sal alles van haar af wegsteel wat vir haar dierbaar is. En ek sal vir haar teenspoed en skade en skande veroorsaak haar hele lewe lank.”

Dis doodstil in die kroeg. Die sluk- en trekgeluide, glase wat kontak maak met die toonbank, kroegstoele wat kraak, waak gewyd in die oomblik van skokkende openbaring.


Monday, 21 September 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 4)



Dit voel of daar sand in my oë is toe ek dit teen wil en dank moet oopbeur as die telefoon my wakker lui.
My stem is hees en dit laat my aan Duiker s’n dink.
Die vorige aand eis nou sy tol. My mond voel of ek ‘n stuk kurk gekou het en die hoofpyn van die oorbediening aan die draught klop in my slape en agterkop.
Die ferm stem aan die anderkant van die lyn weergalm in my ore en ek maak my oë weer toe om die skerp lig so bietjie te doof.
          “More Meneer, Suster Burger van die Tehuis…”

Dit voel vir my sy gee my geleentheid dat haar woorde diep moet insink.
My stem krap terug.
          “More Suster Burger” … my beurt om te wag.

Ek wil haar toesnou om my nie so vroeg te pla nie, maar beteuel myself. Dit is immers nie haar skuld dat ek gisteraand te veel geskep het nie.

“Meneer jou Mammie het bygekom. Sy roep na jou, maar sy is baie swak.”

Die laaste deel van die sin voeg sy by, so asof sy vir my wil sê om gou te maak, maar dat ek nie vir Ma moet kom vermoei nie.

Die ironiese verkleinwoord van Ma koggel in my ore;
          “Mammie, Ma-mie, Mam-ie”

Vir ‘n onstuitbare oomblik spring selfs die woord ‘Mammietjie’ by my op.
          “Bha!” val ek my gedagtes hardop in die rede in die rede. Sy was skaars vir my ‘n ma! Wat nog te sê Mammie en allermins Mammietjie!!

Ek sleep myself badkamer toe om darem die tandeborsel deur my kurkmond te trek en my gesig te was.

Toe ek by die Tehuis instep, merk ek die tyd op die groot staan horlosie in die voorhuis. Dit is kwart voor nege.
Ek wonder hoekom die tyd so groot indruk op my maak. Is dit dalk omdat ek nou my tot-sterwens-toe siek ma gaan kasty oor die waarheid.
          “En dan kan sy regtig maar doodgaan” dink ek grimmig en hardvogtig.

Ek draai af in die gang na die Eenheid vir verswakte pasiënte. Loop tot by die verpleegdiensstasie en gaan staan woordeloos voor die Suster.

Sy kyk op van die verslag wat sy besig is om te skryf. Beloer my oor haar bril en snerp met ‘n stywe bo-lip;
          “Net ‘n oomblik Meneer, ek is nou by jou”

Dit kom by my op om vir haar gesig te trek en vir haar te sê om met hartlikheid te gaan doppies blaas.
My uiterlike verraai egter glad nie wat in my binneste woel nie.
Sy maak eers die deur op ‘n skrefie oop om seker te maak die personeel is nie nog besig met Ma nie.

Dan druk sy die deur wyer oop en waai my met haar militaristiese hand die vertrek binne.
Ek huiwer ‘n oomblik en stap dan voor haar by die deur in.

Ma se skerp stem uit die verlede kom na my toe aangesweef.
          “Jannus, ‘n man stap nooit voor ‘n dame by die deur in nie.”

Ek was in my tienerstadium. So slim soos die houtjie van die galg en vinnig met ‘n teen-antwoord:
          “Ons het nie ingestap nie Ma, ons het uitgestap.”

Toe moet ons die in- en uitstap ritueel oefen tot ma se gemoed gesak het en sy in haar eie oortuig was dat ek geleer het om nooit weer voor enige vrou by die deur in òf uit te stap nie.

Skrik spring vir die tweede keer in my op toe ek weer die maer uitgeteerde vrou met hol wange in die bed sien lê.
Die hand wat bo-op die deken lê, lyk deurskynend met blou are wat soos riviere onder haar vel lê.

Die Suster ondergaan ‘n metamorfose as sy oor ma buk en saggies aan haar voorkop raak. Haar stem is sag en vertroostend toe sy met Ma praat.
         “Tannie Netta, jou seun is hier. Ek gaan julle alleen los sodat julle kan gesels.”

Dit lyk nie of Ma haar hoor nie. Maar dan fladder haar oë oop en sy kyk direk na my. Ek besef waar ek vantevore Duiker se blou oë gesien het. Ek het eintlik maar net weer na jare in Ma se oë gekyk.
Haar oë is egter nou dof en haar kyk flou. Ek is seker dis die dood wat ek in hulle sien skuil. Ongevraagd kom sit daar bietjie deernis in my borskas vas.

Ek trek die stoel nader ek gaan sit dig teen die bed met my arms op die matras langs haar op die bed gestut.

Ma maak weer haar oë toe en ek sit in stilte. Die oomblik is ietwat ongemaklik. Ek voel soos ‘n vreemdeling by die vrou wat my grootgemaak het. Die vrou wat ek “Ma” moet noem.

Sonder om haar oë oop te maak voel-voel haar hand oor die beddegoed tot sy my hand raakvat.
Ek verstar en vou nie dadelik my vingers om hare nie.

Haar mond gaan oop asof sy wil praat en ek merk dat net die een helfte van haar mond reageer. Die ander helfte bly lam hang.

Sy vorm die woorde mompelend met ‘n ronde tong. Al span ek my ore in kan ek glad nie verstaan wat sy sê nie.

As sy agterkom ek reageer nie op wat sy sê nie, trek sy my aan my hand.
Haar greep is verbasend sterk en ek staan op en laat my oor naby haar mond huiwer. Sy fluister weer iets en dit klink vir my asof sy die woord “dagboek” sê.

Ek sit my mond naby haar oor en sê vraend; “Dagboek, Ma?”

Haar kopknik is skaars waarneembaar.
Ek praat weer sag maar duidelik by haar oor; “Moet ek Ma se dagboek vir Ma bring?”

Haar “Nee” is slegs geluide wat oor haar lippe glip.

Dan druk sy met haar vinger teen my bors. “Eees”

Haar tong weier om die “L” klank te vorm en ek neem aan die “eees” beteken “Lees”

Ek probeer weer: “Moet ek ma se dagboek lees?”

Weer uiter sy die skor klank wat veronderstel is om “Ja” te wees.

          “Dis reg Ma ek sal dit lees. Rus Ma nou maar net. Die Suster het gesê ek mag Ma nie moeg maak nie.”

Sy sug net diep, maar los nie my hand nie. Ek gaan sit weer op die stoel.
Nou wat nou?

Ma het nooit my hand vasgehou nie. Sover ek kan onthou was dit maar altyd Pa wat die vashou gedoen het.
En nou, nou dat dit nie meer vir my saak maak nie, nou hou sy my hand vas.

Ek weet nie hoe lank ek so gesit het nie toe die Suster weer die kamer binne kom.
Sy buk by Ma en sit haar hand sag op my skouer:
          “Ek is jammer Meneer, sy is weg.”

Sy maak die nou koue vingers om myne los en trek die laken oor Ma se gesig.

Ek is seker die prentjie wat die Suster gesien het is ‘n misleidende beeld van ‘n liefdevolle seun wat sy ma se hand in haar sterwensuur kom vashou het.
Hoe verkeerd kan beelde voorkom en interpreteer word.

Ek staan onbeholpe in die kamer rond toe daar meer personeel in die kamer kom om vir Ma vir oulaas te versorg.
Die Suster vat my aan die hand en trek my by die kamer uit tot by die Diensstasie.

Sy tel ‘n dik boek, met bruin leer oorgetrek, van die tafel af op en sit dit in my hande.
          “Lank voor jou Mammie se beroerte het sy vir my gemaak belowe dat ek hierdie vir jou sal gee die oomblik as sy haar laaste asem uitblaas.”

Voor ek nog kan vra oor die res van haar goed, verseker die Suster my dat ek my tyd kan vat om die kamer te kom ontruim.

Ek bedank haar en trek my skouers terug en regop toe en by die gang afstap.

Friday, 18 September 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 3)


Dis Skippie wat opspring van sy stoel af.
          “Gooi ‘n skoon een Sus…” gebied hy terwyl hy na my toe aankom.
Met sy een hand agter my nek en die glas ‘skoon een” voor my mond, maak hy my dit sluk.
My asem slaan weg en ek begin verstikkend hoes.
Duiker is dadelik by en slaat my met ‘n plathand so groot soos ‘n graaf agter op my rug, terwyl hy die glas uit Skippie se hand ruk en op die kroegtoonbank neer plak.

          “Agge nee man Skippie! Is jy bedonnerd?”
Hy klap nog twee harde klappe.
          “Wil jy die klong vermoor voor ons sy sake vir hom reguit trek?”

Skippie wat maklik ‘n kop korter as Duiker is, stoot sy bors uit en druk dit teen Duiker vas. Sit sy hande is sy sye en kap ewe ernstig terug.
          “Dis jy wat die mannetjie amper moertoe praat man. Jy kan mos nou nie kom staan loslip wees en so die klong opfok nie.”

Sussa tree tussen beide.
          “Nou sit julle altwee op julle se gatte en luister vir my!”

As Skippie se mond oopgaan lig sy haar vinger vermanend. Haar stem klap hom terug in sy stoel:
          “Sit!”

Ek vee nog die trane uit my oë. Trek my brandasem diep in. Ek merk nou vir die eerste keer daar is ‘n effense lispel in Sussa se esse.

Die woede bekruip my van diep binne af. Ek voel dit in my agterkop klop.
Ek weet ek moet nou myself beheer want dinge kan lelik raak.
Ek staan op. Trek my klere reg. Vee my hare uit my oë en kyk Sussa direk in haar oë.
Ek kan in die manier waarop sy na my kyk, sien hoe sy in my oë kan lees dat ek nou tot enige iets in staat is.
Sy lig haar hand in ‘n afwerende gebaar voor haar. Maar voordat sy iets kan sê, vra ek met ‘n kil kalmte in my stem:
          “Gee asseblief vir my nog ‘n koue draught.”

Ek bly staan terwyl ek vir die bier wag. In hierdie aand het daar meer met my gebeur as nog ooit in my lewe.
Hulle dolwe my hele bestaan en alles wat ek tot nou toe nog geglo het om en dan behandel hulle my asof ek ‘n kind is wat aan skok ly.

Sussa sit die draught voor my neer op die vuil plekmatjie.
Ek sluk die bier met lang stadige slukke so staan-staan af.

Nadat ek die leë glas weer op die matjie neergesit het, praat ek met Skippie en Duiker. My stem is misleidend kalm en sag.
“Wat en wie dink julle is ek? Julle oorval my met inligting wat soos ‘n vreemde mens s’n klink. Die enigste ding wat vir my bekend klink is my pa se naam!”
Ek voel die frons tussen my oë intrek.

          “Dan behandel julle my soos ‘n kind. As jy ….” Ek wys my vinger na Duiker … “my nie versmoor en my hare deurmekaar krap soos ‘n kind nie, dan forseer jy …” my vinger swaai na Skippie … “skoon drank in my keel af!”

Ek bly vir ‘n oomblik stil. Nie een van die twee sê iets nie. Hulle lyk soos twee verleë skoolseuns.

          “Wie gee jou die reg om my ma so te beledig? Vir my te wil vertel sy is nie my bloedma nie. Jy weet nie eens wie sy is nie.”

Duiker gee my nie kans om verder te praat nie.
          “Ek weet wie sy is. Sy was Netta Kotzé voor sy met jou pa getroud is. En ek weet dit, want ek’s haar broer.”

Duiker se woorde plant weer ‘n steelhou op die krop van my maag. Ek gaan sit sonder bedoeling.

          “Haar broer?” is my verbaasde reaksie. “Hoekom ken ek jou dan nie?”

Hy huiwer ‘n oomblik voordat hy voortgaan; “Want sy het my ontken as familie.
Vir haar was ek die skuim van die aarde omdat ek die see gekies het en nie ‘n graad nie.”

Hy raak doenig met sy sigarette. Skippie beduie vir Sussa om vol te maak.
Sy skink die dop en my bier en gooi vir haarself ‘n glas rooiwyn uit ‘n boks onder die toonbank.
As niemand praat nie vra ek; “As sy nie my ma is nie, wie is dan my ma?”
Skippie en Sussa kyk grootoog na Duiker.
Hy praat asof hy met niemand in besonder praat nie;
          “Die storie van die sewe susters. Sy was die oudste van die sewe Kotzé Susters”

Die beeld van Pa en ek op die tuinbank, opsoek na die Sewe Susters in die sterre, kom dadelik by my op. Ek hoor sy stem asof dit gister was;
          “Sien jy die een wat die duidelikste skyn? Dit is die oudste suster. Kyk of jy die sewende een kan kry.”
Ek kon nooit die sewende een kry nie. Dan het hy geduldig en met ‘n sagte stem gesê:
          “Kyk mooi. Sy kruip so effe agter die ander weg. Sy is die skaam Sustertjie.”

Ek speel met my duim oor die druppels wat op die glas gevorm het. Die bier in die glas vergete.
My oë dwaal oor die ander drie figure in die vertrek. Elkeen op sy eie manier besig om die stilte te gebruik. ‘n Sluk en ‘n trek aan die sigaret tussen die vingers.
Sussa rook sulke lang, dun sigarette en drink haar bokswyn.
Duiker en Skippie teug afwisselend aan hulle dop en sigarette.
Dit voel vir my dit hou ‘n ewigheid aan. Hulle sluk en trek, sluk en trek. Dit laat die rook dik hang teen die dak.

My stem klink vir myself vreemd en onverwags toe ek die stilte verbreek.
          “Wel, gaan iemand my nou vertel wat aangaan?”

Duiker kyk op na my asof hy my vir die eerste keer raaksien. Hy trek sy oë klein teen die rook terwyl hy die soveelste sigaret aansteek.

          “Sy is eintlik jou tante. Jy is haar jongste Sustertjie se kind.”

“Wat het van my eie ma geword en hoekom het Pa ‘n vrou getroud wat nie van ons gehou het nie?” Die vraag hang ontydig in die vertrek rond.

Skippie praat nou vir die eerste keer: “Bliksem man Duiker. Laat staan tog nou jou kak en vertel vir die Klong van A tot Z waar hy en sy pa en sy eie bloedma inpas. En hoekom Loopdop Doep met ou Suurgat Netta getroud is.”

Duiker kyk gesteurd na Skippie, maar vertel dan:
          “Ek en jou pa was saam jongelinge op die see. Skippie se Oukêrel was ons Skipper. Skippie was toe nog net so, in-die-pad-snotneusie.
Ek het nooit plaas toe gegaan nie, want my pa, Ou Grootgert Kotzé, het gesê, tot ek die dag besluit om te kom boer, sit ek nie weer ‘n poot op die plaas nie.”

Ek sluk stadig aan die bier wat teen hierdie tyd al warm is. Hier krioel ‘n blik vol wurms. En ek is een van daardie wurms wat koersloos kruip.

          “Voor jy … Oom … verder gaan, sê my net, is my eie ma dood of wat?” vra ek vinnig.

Duiker vee sigaret-as voor hom van die toonbank af. Kyk vir ‘n ruk na my in stilte. Sy oë lyk blouer as vroeër.
Sy hand maak ‘n skuur geluid as hy oor sy stoppelbaard vryf.
          “Nee Mater, jou ma is nie dood nie. Sy leef. En sy bly in die distrik. Al die jare nog.”

Weer ‘n keer kry Duiker dit reg om my ‘n verrassende skok te gee. Ek kyk dringend na hom. Duisende vrae storm deur my kop, maar nie een vind sy pad oor my lippe nie.

Ek kan verseker vir myself sê dat ek nie vanaand vir Duiker, Skippie of Sussa gaan los voordat ek nie die knope in my hart en op die krop van my maag los getorring het nie.  

Wednesday, 16 September 2015

Loopdop Doep se nasaat ... (hoofstuk 2)

Dit is eers nadat Sussa vir Duiker so half tot kalmte gebring het en hy weer op sy stoel gaan sit, dat ek tot verhaal kom.

Ek is nie heeltemal seker wat nou plaasgevind het nie. Ek sluk die laaste van die bier weg en so in die sluk beduie ek vir Sussa; “Nog een…”
Sy haal die vars glas uit die yskas en skink die glas behendig vol as sy die draught-kraan ooptrek.

Ek kyk na Duiker wat sy kop byna in ongeloof skud. Hy uiter kort-kort ‘n geluid tussen ‘n lag en ‘n snork. Soms klink dit vir my of hy weer in trane gaan uitbars.

Sy growwe stem is byna gelate as hy weer begin praat:
          “Kyk na daardie koperplaatjie voor jou. Lees wat daarop staan.”

Dit klink soos ‘n bevel. En as ek dit nie hardop lees nie bevel hy weer:
          “Lees dit hardop Kêrel!”

Ek is vasgevang in die oomblik. Daarom lees ek hard en duidelik:
          “Loopdop-Doep se hoek ...”
Ek gee hom nie kans om weer iets te sê nie en gaan byna met dieselfde asem voort; “… Wat het dit met my te doen? Wie is hierdie Loopdop-Doep?”
Ek spoeg byna die woorde met minagting uit.

Duiker trek sy skouers terug, laat sak sy kop en kyk na my vanuit sy ruie wenkbroue.
          “Wat was jou pa se naam?”

“Wat maak dit saak?” blaf ek in sy rigting.

          “Ek sal jou sê wat jou pa se naam was! Dit was Jans du Plessis.”

Daar hang ‘n dik wolk atmosfeer tussen ons. Hy steek ‘n sigaret aan en terwyl hy verder praat, vorm die woorde so tussen die rook deur.

          “Jou pa was ‘n man wat hard gewerk het. Bliksems hard sê ek jou. Hy het die see geken soos wat geen mens die land kan ken nie.”

Hy vat lang slukke uit sy glas. Vee sy mond met die agterkant van sy hand af. Trek diep aan sy sigaret en beduie vir Sussa met ‘n kopknik om hom te voorsien.

Ek voel nie om iets te sê nie. Ons het nou heilige grond betree. Hierdie Oubaas weet dinge van Pa wat ek nie weet nie. Wat Ma my nooit toegelaat het om uit te vind nie.

Voor hy verder praat, stap ‘n sonverweerde karakter die kroeg binne en gaan sit aan die anderkant van Duiker.

Hulle groet mekaar met die hand en klop mekaar se skouers in stilte.
Sussa staan nader met die nuwe aankomeling se drankie en wag vir hom om te sit.
Duiker stoot sy sigarette oor na hom toe beduie met sy glas in sy hand na my kant toe.
Hy wag tot die man die rook diep in sy longe intrek en hard uitblaas voordat hy praat;
          “Skippie, dis Loopdop-Doep se klong daardie.”

Skippie ruk regop asof ‘n slang hom pik. Sy woorde spat oor die vertrek tot teen my vas;
          “Not a fok!!”
Hy kyk wantrouig van Duiker na my en dan praat hy met Sussa.
          “Het die ou Knol nou sy kop verloor Sus?”

Ek het al agtergekom Sussa is ‘n vrou van min woorde. Sy skud net haar kop.

Dan staan hy op en stap na waar ek sit. Kom staan dig by my en bekyk my op en af. So asof hy vir Pa in my vel soek.
Hy is nog besig met sy besigtigingstoer oor my lyf toe Duiker praat.
          “Dis hy. Jy kan my maar glo. Ek wou hom nou net van sy pa vertel. Dis goed jy is hier want dan kan jy vir hom sê of ek lieg of waarheid praat.”

Skippie loop in stilte terug tot by sy stoel. Kry sy sit en bekyk my op ‘n afstand net vir ingeval hy iets gemis het.

So asof daar geen onderbreking was nie, praat Duiker weer in my rigting.
          “Soos ek sê, jou pa was ‘n man wat sy gat af gewerk het. Elke oggend uit see toe, elke aand terug.
Hy het gebruik gemaak van elke druppel daglig. Ons wou saans sommer oorlê, maar nie hy nie.
Ons het hom gespot. Gesê hy maak jou as sissie groot. Maar daar sou nie ‘n aand verbygaan dat hy nie seker was jy is versorg nie.”

My maag raak kliphard. Ek voel hoe die spanning my ingewande vasdraai. As jy my nou vra wat se werk Pa gedoen het sal ek tot my skande moet erken dat ek nie regtig seker is nie. Ek weet hy het iets met bote te doen gehad, maar wat weet ek nie.
Ek is amper te bang om asem te haal. Ek wil vrae vra maar vertrou nie my stem genoeg om dit te doen nie.

Sussa bring vir my ‘n bier sonder dat ek een gevra het. Ek wil protesteer maar sy beduie met haar oë na Duiker.

Skippie beaam Duiker se vertelling en Duiker rasper voort;
          “Ons het vir hom gewerk. Hy het drie diamantbote gehad. En hy’t ons vir ordentlike mense behandel.
Elke aand saam met ons ‘n dop kom drink.
Maar net een dop.
Hoe’t hy altyd gesê Skippie?”
‘Net ‘n loopdop vir my Sussa, my klong wag vir sy pa.’

Ek kyk nou openlik na Duiker. Ek wil hom aanmoedig om aan te gaan, maar is bang hy hou op vertel. En daar is so baie wat ek wil weet.
Maar ek is ook bang om te hoor wat ek nie ken nie.
Hoe verwerk mens kleintyd se dinge as jy doelbewus daarvan weggekeer is deur ‘n ongenaakbare, nors vrou wat jy Ma moet noem.

Moederliefde is nie iets waarvan ek kan getuig nie. Ek is nie fisies mishandel of verwaarloos nie. Maar ek ken nie die sagte arms van ‘n ma om my nie.
Ek ken nie ‘n ma wie se oë met vriendelike liefde na my kyk nie.

Die liefde wat ek van Pa gekry het, was sag. Ek kon dit hoor as hy met my praat. Wanneer hy aan my geraak het as hy vir my die “Skaam Sustertjie” van die Sewe Susters in die sterre wys. Dit was egter van korte duur.

So tussen die slukke dop en teue aan sy sigaret, vertel Duiker voort.
          “Toe hy die dag dood is, het sy vrou ons weggejaag. Geskel. Gesê ons suip-gespuis is nie welkom by sy begrafnis nie… Dis toe wat ons daai plaattjie laat maak het. En terwyl sy vrou hartseer geveins het en hom met vreugde begrawe het, het ons almal net een dop hier kom drink. ‘n Loopdop op Doep.”

Sonder om aanstoot te wil gee, probeer ek Ma halfhartig verdedig.
          “My ma het swaargekry met my pa se dood en …”  

Ek word bars in die rede geval deur Duiker; ‘Ma! Jou Ma!! Se fokken gat man!!
Sy is ‘n regte ou p…”

Hierdie keer word hy deur Sussa in die rede geval en die bar woord smelt weg oor sy lippe.”

“Na, na, na, Duiker! Ons gebruik nie daardie woord in die Kraaines nie.”  

Sy druk haar ken in die lug en kyk langs haar neus af na Duiker soos ‘n onderwyseres.
Dan draai sy na my toe en vra verskoning namens Duiker.

Hy laat sak sy kop verleë. Sy oë is onnatuurlik blink toe hy opkyk na my.

          “Ek weet sy is al ma wat jy geken het. Maar ek weet ook dat sy nie van jou pa of van jou gehou het nie. Want sy is nie jou bloedma nie.”

Ek voel hoe duiker se woorde my op die krop van my maag tref. My asem raak weg. Ek voel hoe my oë rek terwyl ek hulpsoekend na Sussa kyk.


                                                                                            Word vervolg ….