Tuesday, 10 September 2013

Die Weskus verwelkom my ...


 Ek lê gisteroggend nog in die bed. Het vroeër as gewoonlik my oë oopgemaak (it is natuurlik glad nie ‘n aanduiding dat ek wakker is nie).

Iets in die boom voor die venster trek my aandag. Eers dink ek dis die wind, maar die res van die boom beweeg nie. Dis toe ek die slaap uit my oë uit vee, dat ek  sien dis die aller kleinste voëltjie. Hy is besig om van takkie tot takkie te wip. Wat se voëltjie dit is weet ek nie. En teen die tyd wat ek wakker genoeg is om aan die kamera te dink, het hy reeds vertrek na iewers anders.

Met die koue, nat weer in gedagte, is die verrassing aangenaam toe ‘n opregte soel lentedag hom voor my voete ooprol. Die see is groen en die branders baljaar tot teen die rotse soos opgewonde kinders. Jakkalsvlei is vol en die rivier vul steeds die water aan. En soos dit hoort, trek dit die watervoëls.

By die kerk hoor ek die mense praat:

“…..die meeste reën in ‘n baie lang tyd…..”

“…..nog nooit so nat winter beleef vandat ons hier ingetrek het nie…..”

“…..is die blomme nie pragtig hierdie jaar nie?.....”

“…..as julle nou wragtig mooi blomme wil sien…..”

 



Grepies uit verskeie gesprekke vind hulle lêplek in my. Die ryk taal en ander Afrikaanse dialek met die aardse tongval word aangevul met beskrywende handgebare.

My oë dwaal oor die mense. Deur die blou-blou lug. Oor die groen gras. Die daisies op die sypaadjie. En die dankbaarheid wat in my kom lê met ‘n rustigheid wat my verstand te bowe gaan, vul my - maak my skatryk.

Dis eers toe ek later in my kar klim en sommer net die pad vat, wat ‘n wete in my nesskop. Ek dink die Weskus het my verwelkom. Of ek dit ooit weer so gaan sien in die seisoene wat kom, weet ek nie. Maar die beelde is vasgelê diep in my. Dit kleur my gedagtes in met nuwe kleure ... nuwe verf ... nuwe herinneringe.

 Die natuur van die Weskus het my waarlik verwelkom.

Thursday, 1 August 2013

Ek is dan 'n BLOUBUL !

Middag Liewe Vrinne.

So is dit dan nou ook dan op hierdie koue wintersdag van 21 Junie 2013 dat my kar se registrasie moet verander na 'n Weskaap se registrasie toe. "Hier is my kans" dink ek so in my stilligheid. "Ek gaan nou vir my Chery 'n grend persoonlike registrasie kies. Iets soos Skyhawk**WP" Ek dink dat die ratte rooi-warm raak. Maar die letters het nog nie eens in my kop posgevat nie dan weet ek dis nie die regte een nie. En skielik......... Weet ek. Bloubul sal dit wees.


 Ewe windgat skryf ek dit vir Antie Sally van die lisensie kantoor neer. Dis toe Antie Sally vir my beduie dit gaan by R3000 kos, dat ek die papier met my eie persoonlike nommer weer aandagtig beskou. BLOUBUL**WP. "Antie Sally, gee my maar die CAR nommer" laat ek dan ook so half kortaf hoor.


Nou wil ek vir julle se dis nie die R3000 wat vir my te erg was nie. Dit was daardie WP aan die einde van die nommer. Ek kan mos nou nie SO deur die lewe gaan nie. ... Ek is dan 'n BLOUBUL !





Groete

Monday, 29 July 2013

My "nuwe" kontrei - Lambertsbaai ...


More Liewe vrinne.

So is dit nou dan ook dat ek my tweede week in Lambertsbaai aan die Weskus deur gebring het. Wat 'n ryk ervaring. En natuurlik is ek die winter nie gespaar nie. Want dit reen en dit is koud (volgens die mense hier is dit koud). Maar ek het nog nie 'n baadjie nodig nie.

Ek het gisteraand sommer deel geraak van die toeriste vereniging. En my heel eerste taak daar is om 'n fietsrit te reel op die ou pad tussen Lambertsbaai en Clanwilliam. Dit is die pad wat die ou boere gebruik het en op die pad is daar tydens die Anglo Boere oorlog 'n linie blokhuise gebou. Nou reken ek die hele ding kan ek dan bemark as die "Lambertsbaai / Clanwilliam blokhuis dikwiel fietsfees".

Vanoggend gaan ek die pad vat en die dorp verken om te sien wat is te koop wat nie op ons boeke is nie.
Hou asb aan om vir my te bid. Ek geniet dit erg hier. Maar daar is twee dinge wat my nog onderkry. Die rustigheid en die mense se vriendelikheid.


Lambertsbaai is vanjaar 100 jaar oud. En ons beplan 'n groot fees vir die 13de Desember. Dit word vooraf gegaan met ander kleiner verrigtinge. So pak die kar en kom vier fees saam met Lambertsbaai.

Nou ja dis my kontrei nuus vir eers. Soos die dinge gebeur sal ek julle vertel

Groetnis