Wednesday, 16 September 2015

Loopdop Doep se nasaat ... (hoofstuk 2)

Dit is eers nadat Sussa vir Duiker so half tot kalmte gebring het en hy weer op sy stoel gaan sit, dat ek tot verhaal kom.

Ek is nie heeltemal seker wat nou plaasgevind het nie. Ek sluk die laaste van die bier weg en so in die sluk beduie ek vir Sussa; “Nog een…”
Sy haal die vars glas uit die yskas en skink die glas behendig vol as sy die draught-kraan ooptrek.

Ek kyk na Duiker wat sy kop byna in ongeloof skud. Hy uiter kort-kort ‘n geluid tussen ‘n lag en ‘n snork. Soms klink dit vir my of hy weer in trane gaan uitbars.

Sy growwe stem is byna gelate as hy weer begin praat:
          “Kyk na daardie koperplaatjie voor jou. Lees wat daarop staan.”

Dit klink soos ‘n bevel. En as ek dit nie hardop lees nie bevel hy weer:
          “Lees dit hardop Kêrel!”

Ek is vasgevang in die oomblik. Daarom lees ek hard en duidelik:
          “Loopdop-Doep se hoek ...”
Ek gee hom nie kans om weer iets te sê nie en gaan byna met dieselfde asem voort; “… Wat het dit met my te doen? Wie is hierdie Loopdop-Doep?”
Ek spoeg byna die woorde met minagting uit.

Duiker trek sy skouers terug, laat sak sy kop en kyk na my vanuit sy ruie wenkbroue.
          “Wat was jou pa se naam?”

“Wat maak dit saak?” blaf ek in sy rigting.

          “Ek sal jou sê wat jou pa se naam was! Dit was Jans du Plessis.”

Daar hang ‘n dik wolk atmosfeer tussen ons. Hy steek ‘n sigaret aan en terwyl hy verder praat, vorm die woorde so tussen die rook deur.

          “Jou pa was ‘n man wat hard gewerk het. Bliksems hard sê ek jou. Hy het die see geken soos wat geen mens die land kan ken nie.”

Hy vat lang slukke uit sy glas. Vee sy mond met die agterkant van sy hand af. Trek diep aan sy sigaret en beduie vir Sussa met ‘n kopknik om hom te voorsien.

Ek voel nie om iets te sê nie. Ons het nou heilige grond betree. Hierdie Oubaas weet dinge van Pa wat ek nie weet nie. Wat Ma my nooit toegelaat het om uit te vind nie.

Voor hy verder praat, stap ‘n sonverweerde karakter die kroeg binne en gaan sit aan die anderkant van Duiker.

Hulle groet mekaar met die hand en klop mekaar se skouers in stilte.
Sussa staan nader met die nuwe aankomeling se drankie en wag vir hom om te sit.
Duiker stoot sy sigarette oor na hom toe beduie met sy glas in sy hand na my kant toe.
Hy wag tot die man die rook diep in sy longe intrek en hard uitblaas voordat hy praat;
          “Skippie, dis Loopdop-Doep se klong daardie.”

Skippie ruk regop asof ‘n slang hom pik. Sy woorde spat oor die vertrek tot teen my vas;
          “Not a fok!!”
Hy kyk wantrouig van Duiker na my en dan praat hy met Sussa.
          “Het die ou Knol nou sy kop verloor Sus?”

Ek het al agtergekom Sussa is ‘n vrou van min woorde. Sy skud net haar kop.

Dan staan hy op en stap na waar ek sit. Kom staan dig by my en bekyk my op en af. So asof hy vir Pa in my vel soek.
Hy is nog besig met sy besigtigingstoer oor my lyf toe Duiker praat.
          “Dis hy. Jy kan my maar glo. Ek wou hom nou net van sy pa vertel. Dis goed jy is hier want dan kan jy vir hom sê of ek lieg of waarheid praat.”

Skippie loop in stilte terug tot by sy stoel. Kry sy sit en bekyk my op ‘n afstand net vir ingeval hy iets gemis het.

So asof daar geen onderbreking was nie, praat Duiker weer in my rigting.
          “Soos ek sê, jou pa was ‘n man wat sy gat af gewerk het. Elke oggend uit see toe, elke aand terug.
Hy het gebruik gemaak van elke druppel daglig. Ons wou saans sommer oorlê, maar nie hy nie.
Ons het hom gespot. Gesê hy maak jou as sissie groot. Maar daar sou nie ‘n aand verbygaan dat hy nie seker was jy is versorg nie.”

My maag raak kliphard. Ek voel hoe die spanning my ingewande vasdraai. As jy my nou vra wat se werk Pa gedoen het sal ek tot my skande moet erken dat ek nie regtig seker is nie. Ek weet hy het iets met bote te doen gehad, maar wat weet ek nie.
Ek is amper te bang om asem te haal. Ek wil vrae vra maar vertrou nie my stem genoeg om dit te doen nie.

Sussa bring vir my ‘n bier sonder dat ek een gevra het. Ek wil protesteer maar sy beduie met haar oë na Duiker.

Skippie beaam Duiker se vertelling en Duiker rasper voort;
          “Ons het vir hom gewerk. Hy het drie diamantbote gehad. En hy’t ons vir ordentlike mense behandel.
Elke aand saam met ons ‘n dop kom drink.
Maar net een dop.
Hoe’t hy altyd gesê Skippie?”
‘Net ‘n loopdop vir my Sussa, my klong wag vir sy pa.’

Ek kyk nou openlik na Duiker. Ek wil hom aanmoedig om aan te gaan, maar is bang hy hou op vertel. En daar is so baie wat ek wil weet.
Maar ek is ook bang om te hoor wat ek nie ken nie.
Hoe verwerk mens kleintyd se dinge as jy doelbewus daarvan weggekeer is deur ‘n ongenaakbare, nors vrou wat jy Ma moet noem.

Moederliefde is nie iets waarvan ek kan getuig nie. Ek is nie fisies mishandel of verwaarloos nie. Maar ek ken nie die sagte arms van ‘n ma om my nie.
Ek ken nie ‘n ma wie se oë met vriendelike liefde na my kyk nie.

Die liefde wat ek van Pa gekry het, was sag. Ek kon dit hoor as hy met my praat. Wanneer hy aan my geraak het as hy vir my die “Skaam Sustertjie” van die Sewe Susters in die sterre wys. Dit was egter van korte duur.

So tussen die slukke dop en teue aan sy sigaret, vertel Duiker voort.
          “Toe hy die dag dood is, het sy vrou ons weggejaag. Geskel. Gesê ons suip-gespuis is nie welkom by sy begrafnis nie… Dis toe wat ons daai plaattjie laat maak het. En terwyl sy vrou hartseer geveins het en hom met vreugde begrawe het, het ons almal net een dop hier kom drink. ‘n Loopdop op Doep.”

Sonder om aanstoot te wil gee, probeer ek Ma halfhartig verdedig.
          “My ma het swaargekry met my pa se dood en …”  

Ek word bars in die rede geval deur Duiker; ‘Ma! Jou Ma!! Se fokken gat man!!
Sy is ‘n regte ou p…”

Hierdie keer word hy deur Sussa in die rede geval en die bar woord smelt weg oor sy lippe.”

“Na, na, na, Duiker! Ons gebruik nie daardie woord in die Kraaines nie.”  

Sy druk haar ken in die lug en kyk langs haar neus af na Duiker soos ‘n onderwyseres.
Dan draai sy na my toe en vra verskoning namens Duiker.

Hy laat sak sy kop verleë. Sy oë is onnatuurlik blink toe hy opkyk na my.

          “Ek weet sy is al ma wat jy geken het. Maar ek weet ook dat sy nie van jou pa of van jou gehou het nie. Want sy is nie jou bloedma nie.”

Ek voel hoe duiker se woorde my op die krop van my maag tref. My asem raak weg. Ek voel hoe my oë rek terwyl ek hulpsoekend na Sussa kyk.


                                                                                            Word vervolg …. 

Monday, 14 September 2015

Loopdop Doep se nasaat ...

Ek het saans baie daarna uitgesien vir Pa om huis toe te kom.

Ma het egter niks daarvan gehou dat hy huis toe kom nie. Hoe nader dit aan sy huis-toe-kom-tyd gekom het, hoe dunner het haar lippe geraak….
Haar oë het onnatuurlik groot gerek en sy het gestaar. Ek glo nie na iets in die besonder nie, maar sy het vêr gestaar.

Pa het altyd vir my iets gebring as hy huis toe kom. Partykeer was dit ‘n lawwe gedraaide strooitjie.
Ander kere ‘n reënboog stokkielekker. Dit was vir my baie lekker om te weet Pa het aan my gedink terwyl hy nie by die huis was nie.
Hy het vir Ma ook goedjies gebring. Partykeer ‘n mooi roos. En daar was die keer wat hy vir ma ‘n klein botteltjie gebring het met die olifant op die etiket.
Dit was dieselfde aand wat hy vir my die gedraaide strooitjie gebring het.
Maar Ma het die klein botteltjie stukkend gegooi teen die muur. Daar het sulke ligbruin room teen die muur afgeloop.
Sy het die strooitjie woedend uit my hand geruk en dit in sy gesig gegooi.
Daarna het sy omgeswaai en ek kon die spaarkamer se deur hoor klap.

Pa het nooit kwaad geword nie. Daar was altyd die sagte glimlag om sy mond.
As Ma so baie kwaad geword het, het hy my hand gevat en dan het ons buite op die tuinbank gaan sit ….. winter en somer.
As dit koud was het hy my styf teen sy lyf vasgetrek en met sy arm oor my skouer beduie:     
      “Kyk, daardie klomp klein sterretjies wat so dig bymekaar sit, is die Sewe Susters. Kyk of jy sewe kan kry.”
Ek het altyd net ses gekry. Maar dan het hy met groot geduld vir my gewys dat daar een ‘Skaam Sustertjie’ was. Sy het so bietjie agter die ander weggekruip.
Daarna het hy vir my die verhaal van die Sewe Susters vertel. Ek het soms gedink hy vertel die storie vir homself en dat ek maar net daar was.

As dit wintertyd gereën het, het hy met my by die voordeur gestaan en vir my geleer van die ‘Dans van die Reën’
So was daar altyd iets in die natuur wat Pa raakgesien het wat ander mense as vanselfsprekend aanvaar het.

Pa se asem het altyd na iets soet geruik. Dit het vir my lekker geruik. Toe ek hom die slag gevra het wat dit is, het hy diep in sy sak gevroetel en ‘n suiglekker uitgehaal.
Met groot omslagtigheid het hy die papiertjie afgedraai en die lekker in twee gebreek. Een helfte het hy in my mond gesit en die ander een in my hand toegevou.
      “Jy moet dit stadig suig. Dan proe jy hoe die smaak verander. En as jy later die ander helfte suig, sal jy agterkom dit verskil al behoort dit aan dieselfde lekker.”

Pa het nooit huistoe gekom terwyl dit nog lig was nie. Altyd eers na donker. In die somer het dit langer gevat omdat dit langer gevat het om donker te word.
Ma se lippe het in die somer ook dunner geword as in die winter.
Ek onthou ook hoe Ma die blomme stukkend getrap het wat Pa vir haar gebring het.

Ek raak bewus van my omgewing toe die jongmense mense in die straat ‘n bal teen die hek vasskop.
My gedagtes was weer daar toe ek nog ‘n klong was wat baie van sy pa gehou het.
Ek was elf toe Pa dood is. Ma het my toe alleen grootgemaak.
“Daar gaan nie weer plek wees in my lewe vir so lamsak nie” het sy bitter gesê toe haar suster, Ant-Milly, ‘n opmerking daaroor gemaak dat Ma nog mooi en jonk genoeg is om weer goed te trou.
Ma het nie gewerk nie, maar ons het beter as net gemiddeld geleef.
As ek haar oor Pa probeer uitvra het, het sy net stilgebly. Ek het die indruk gekry dat sy nie van Pa gehou het nie.
Noudat ek self volwasse is, weet ek dat sy nie van Pa of van my gehou het nie.
Sy het my na Pa se dood maar net verduur en verdra. Maar net sy sal weet hoekom.

Die son is oppad om kop weg te steek in die see. Dié is verbasend klam vandag.
My gedagtes draai soos die seemeeue oor na die Tehuis vir Bejaarde Persone waar Ma lê.
Hulle het my laat kom ... “Beroerte …. Ernstig … weet nie hoe lank nog nie.”
En hier sit ek nou en wag. Wag vir die dood om in te tree en ‘n mens met wie ek geen verhouding kon bou nie, op te raap en wie weet waarheen te vat.

Na my studies het ons min kontak met mekaar gehad. Partykeer slegs driekeer per jaar. Haar verjaardag in Augustus, my verjaardag in Februarie en Kersfees.

Aangesien ek nie vanaand weer na Ma toe gaan nie, kan ek net sowel maar oorstap na die kroeg waar Pa elke aand gaan kuier het.
Ek ken die plek se vooraansig goed. Dis immers ‘n bekende bymekaarkomplek vir manne wat iewers heen wil ontvlug.

Ek klim by die houttrappies op. Steek half sku in die deur vas en kyk na die binnekant van die vertrek. Die toonbank is van hout. Ruim plek vir glase en bottels en ysbakke.

Behalwe vir een ou kêrel wat by die toonbank sit, is die kroeg leeg.
Hy kyk op en die vrou agter die toonbank kry lewe. Sy sit haar sigaret onder die toonbank in ‘n asbak.
Verf ‘n glimlag om haar mond wat nie haar oë bereik nie en nooi gul; “Wat skink ons vir die besoeker aan ons dorp vanaand?”
Haar hare is in ‘n poniestert agter haar kop vas. Dit lyk soos ‘n eekhoring se waaierstert.
Ek kies ‘n plek by die toonbank wat in ‘n kort L aansluit by die res van die spasie. Daar is ‘n koper plaatjie met ‘n inskripsie vasgeskroef. Ek steur my nie daaraan nie en sit so dat ek ook die Oukêrel kan sien.
      “Draught asseblief” brom ek kortaf en skuif die vuil plekmat wat op ‘n stadium een of ander drank adverteer het.
As ek opkyk, kyk ek in die man se fletsblou oë vas. Iewers spring die herinnering aan sulke oë in my geheue in.
Hy trek sy oë op skrefies terwyl hy lank en innig trek aan die sigaret tussen sy vereelte vingers. Blaas die rook die lug in kyk my weer vas in die oë.

Sy stem skuur grof oor die vertrek tot by my. “Jy lyk bekend Jongman….”
Hy laat die sin in die lug hang en wag vir my om te antwoord.
As ek te lank vat om te antwoord terwyl ek ‘n lang teug van die bier vat, rasper hy voort:
      “Ek het jou al gesien. Miskien nie nou kort terug nie. Maar ek ken jou.”

Ek sluk stadig om vir myself tyd te gee. Ek ken daardie oë ook. Maar ek kan nie onthou van waar af nie.

As ek dan nie langer kan tyd wen nie antwoord ek so gemaklik as moontlik;
      “Ek het hier grootgeword Meneer.”

Sy stem bulder soos donderweer oor die toonbank na my. Dit laat die glase op die rak teen mekaar rinkel.
      “Ag nee my fok man! As jy mos hier grootgeraak het dan weet jy ek is g’n ‘n meneer nie! Weet jy wat vir ‘n ding is ‘n meneer?”

Die vrou leun oor die toonbank en vat sy hand rustig vas en sus …; “Stadig Duiker. Die man is ‘n gas by ons. Kom ons gee hom ‘n kans.

Sy vat sy leë glas by hom en haal ‘n vars glas uit die yskas om vir hom sy dop te gooi.
Ek krap verleë in my hare. Vang ‘n string hare op my kroontjie vas en draai dit al in die rondte om en om my vinger.
Blaas my asem in ‘n ligte fluit tussen my tande uit soos wat Pa dit ook gedoen het.

Ek moet vervaard my bierglas vasvat wat kantel toe sy vuis dawerend neerkom op die toonbank.
      “My goedige bliksem man!” die glimlag om sy mond en diep in sy oë weerspreek die weerbarstige buldering van sy stem.
Hy stap met lang treë op my af. Kry my in ‘n greep om die skouer beet. En net toe ek dink die man gaan my soen, spring die trane in sy oë op wat soos waterpoele blink.
Hy druk my versmorend teen sy bors vas en sus my soos wat mens met ‘n kind sal doen. Ek kan sy lyf voel ruk, maar daar kom geen geluid uit nie.

Dan draai hy na die vrou agter die toonbank, sy arm steeds om my skouer; “Kyk net hier Sussa! Weet jy wie is hierdie?”
Sy skud haar kop stom en hou my dop om seker te maak ek is okay.

Hy druk met sy growwe vinger op die koperplaatjie voor my op die toonbank.
      “Dis hy! Dit is niemand anders as hy nie!”

Hy pluk my weer teen hom vas en vryf my hare deurmekaar.
      “Jou klein donner!” en dan lag hy. Dawerend soos die storm-seewind.
Hy gooi sy kop agteroor en hy lag diep en vol vreugde.
Ek kry dieselfde soet reuk wat ek op Pa se asem geruik het.

Word vervolg ...

Sunday, 5 July 2015

Lamberts Bay Sea Cottage FOR SALE ...

FOR SALE  .... 
Lovely 3 bedroomed cottage, 100m from the beach.  Rural feel with breeding owls, partridge and cape robin as well as steenbuck and meerkat. Beautiful surrounds of indigenous fynbos.  Enjoy magnificent sunsets from your patio. 

Price: R990 000














Contact Christo du Plessis - 073 257 9071