Monday, 14 September 2015

Loopdop Doep se nasaat ...

Ek het saans baie daarna uitgesien vir Pa om huis toe te kom.

Ma het egter niks daarvan gehou dat hy huis toe kom nie. Hoe nader dit aan sy huis-toe-kom-tyd gekom het, hoe dunner het haar lippe geraak….
Haar oë het onnatuurlik groot gerek en sy het gestaar. Ek glo nie na iets in die besonder nie, maar sy het vêr gestaar.

Pa het altyd vir my iets gebring as hy huis toe kom. Partykeer was dit ‘n lawwe gedraaide strooitjie.
Ander kere ‘n reënboog stokkielekker. Dit was vir my baie lekker om te weet Pa het aan my gedink terwyl hy nie by die huis was nie.
Hy het vir Ma ook goedjies gebring. Partykeer ‘n mooi roos. En daar was die keer wat hy vir ma ‘n klein botteltjie gebring het met die olifant op die etiket.
Dit was dieselfde aand wat hy vir my die gedraaide strooitjie gebring het.
Maar Ma het die klein botteltjie stukkend gegooi teen die muur. Daar het sulke ligbruin room teen die muur afgeloop.
Sy het die strooitjie woedend uit my hand geruk en dit in sy gesig gegooi.
Daarna het sy omgeswaai en ek kon die spaarkamer se deur hoor klap.

Pa het nooit kwaad geword nie. Daar was altyd die sagte glimlag om sy mond.
As Ma so baie kwaad geword het, het hy my hand gevat en dan het ons buite op die tuinbank gaan sit ….. winter en somer.
As dit koud was het hy my styf teen sy lyf vasgetrek en met sy arm oor my skouer beduie:     
      “Kyk, daardie klomp klein sterretjies wat so dig bymekaar sit, is die Sewe Susters. Kyk of jy sewe kan kry.”
Ek het altyd net ses gekry. Maar dan het hy met groot geduld vir my gewys dat daar een ‘Skaam Sustertjie’ was. Sy het so bietjie agter die ander weggekruip.
Daarna het hy vir my die verhaal van die Sewe Susters vertel. Ek het soms gedink hy vertel die storie vir homself en dat ek maar net daar was.

As dit wintertyd gereën het, het hy met my by die voordeur gestaan en vir my geleer van die ‘Dans van die Reën’
So was daar altyd iets in die natuur wat Pa raakgesien het wat ander mense as vanselfsprekend aanvaar het.

Pa se asem het altyd na iets soet geruik. Dit het vir my lekker geruik. Toe ek hom die slag gevra het wat dit is, het hy diep in sy sak gevroetel en ‘n suiglekker uitgehaal.
Met groot omslagtigheid het hy die papiertjie afgedraai en die lekker in twee gebreek. Een helfte het hy in my mond gesit en die ander een in my hand toegevou.
      “Jy moet dit stadig suig. Dan proe jy hoe die smaak verander. En as jy later die ander helfte suig, sal jy agterkom dit verskil al behoort dit aan dieselfde lekker.”

Pa het nooit huistoe gekom terwyl dit nog lig was nie. Altyd eers na donker. In die somer het dit langer gevat omdat dit langer gevat het om donker te word.
Ma se lippe het in die somer ook dunner geword as in die winter.
Ek onthou ook hoe Ma die blomme stukkend getrap het wat Pa vir haar gebring het.

Ek raak bewus van my omgewing toe die jongmense mense in die straat ‘n bal teen die hek vasskop.
My gedagtes was weer daar toe ek nog ‘n klong was wat baie van sy pa gehou het.
Ek was elf toe Pa dood is. Ma het my toe alleen grootgemaak.
“Daar gaan nie weer plek wees in my lewe vir so lamsak nie” het sy bitter gesê toe haar suster, Ant-Milly, ‘n opmerking daaroor gemaak dat Ma nog mooi en jonk genoeg is om weer goed te trou.
Ma het nie gewerk nie, maar ons het beter as net gemiddeld geleef.
As ek haar oor Pa probeer uitvra het, het sy net stilgebly. Ek het die indruk gekry dat sy nie van Pa gehou het nie.
Noudat ek self volwasse is, weet ek dat sy nie van Pa of van my gehou het nie.
Sy het my na Pa se dood maar net verduur en verdra. Maar net sy sal weet hoekom.

Die son is oppad om kop weg te steek in die see. Dié is verbasend klam vandag.
My gedagtes draai soos die seemeeue oor na die Tehuis vir Bejaarde Persone waar Ma lê.
Hulle het my laat kom ... “Beroerte …. Ernstig … weet nie hoe lank nog nie.”
En hier sit ek nou en wag. Wag vir die dood om in te tree en ‘n mens met wie ek geen verhouding kon bou nie, op te raap en wie weet waarheen te vat.

Na my studies het ons min kontak met mekaar gehad. Partykeer slegs driekeer per jaar. Haar verjaardag in Augustus, my verjaardag in Februarie en Kersfees.

Aangesien ek nie vanaand weer na Ma toe gaan nie, kan ek net sowel maar oorstap na die kroeg waar Pa elke aand gaan kuier het.
Ek ken die plek se vooraansig goed. Dis immers ‘n bekende bymekaarkomplek vir manne wat iewers heen wil ontvlug.

Ek klim by die houttrappies op. Steek half sku in die deur vas en kyk na die binnekant van die vertrek. Die toonbank is van hout. Ruim plek vir glase en bottels en ysbakke.

Behalwe vir een ou kêrel wat by die toonbank sit, is die kroeg leeg.
Hy kyk op en die vrou agter die toonbank kry lewe. Sy sit haar sigaret onder die toonbank in ‘n asbak.
Verf ‘n glimlag om haar mond wat nie haar oë bereik nie en nooi gul; “Wat skink ons vir die besoeker aan ons dorp vanaand?”
Haar hare is in ‘n poniestert agter haar kop vas. Dit lyk soos ‘n eekhoring se waaierstert.
Ek kies ‘n plek by die toonbank wat in ‘n kort L aansluit by die res van die spasie. Daar is ‘n koper plaatjie met ‘n inskripsie vasgeskroef. Ek steur my nie daaraan nie en sit so dat ek ook die Oukêrel kan sien.
      “Draught asseblief” brom ek kortaf en skuif die vuil plekmat wat op ‘n stadium een of ander drank adverteer het.
As ek opkyk, kyk ek in die man se fletsblou oë vas. Iewers spring die herinnering aan sulke oë in my geheue in.
Hy trek sy oë op skrefies terwyl hy lank en innig trek aan die sigaret tussen sy vereelte vingers. Blaas die rook die lug in kyk my weer vas in die oë.

Sy stem skuur grof oor die vertrek tot by my. “Jy lyk bekend Jongman….”
Hy laat die sin in die lug hang en wag vir my om te antwoord.
As ek te lank vat om te antwoord terwyl ek ‘n lang teug van die bier vat, rasper hy voort:
      “Ek het jou al gesien. Miskien nie nou kort terug nie. Maar ek ken jou.”

Ek sluk stadig om vir myself tyd te gee. Ek ken daardie oë ook. Maar ek kan nie onthou van waar af nie.

As ek dan nie langer kan tyd wen nie antwoord ek so gemaklik as moontlik;
      “Ek het hier grootgeword Meneer.”

Sy stem bulder soos donderweer oor die toonbank na my. Dit laat die glase op die rak teen mekaar rinkel.
      “Ag nee my fok man! As jy mos hier grootgeraak het dan weet jy ek is g’n ‘n meneer nie! Weet jy wat vir ‘n ding is ‘n meneer?”

Die vrou leun oor die toonbank en vat sy hand rustig vas en sus …; “Stadig Duiker. Die man is ‘n gas by ons. Kom ons gee hom ‘n kans.

Sy vat sy leë glas by hom en haal ‘n vars glas uit die yskas om vir hom sy dop te gooi.
Ek krap verleë in my hare. Vang ‘n string hare op my kroontjie vas en draai dit al in die rondte om en om my vinger.
Blaas my asem in ‘n ligte fluit tussen my tande uit soos wat Pa dit ook gedoen het.

Ek moet vervaard my bierglas vasvat wat kantel toe sy vuis dawerend neerkom op die toonbank.
      “My goedige bliksem man!” die glimlag om sy mond en diep in sy oë weerspreek die weerbarstige buldering van sy stem.
Hy stap met lang treë op my af. Kry my in ‘n greep om die skouer beet. En net toe ek dink die man gaan my soen, spring die trane in sy oë op wat soos waterpoele blink.
Hy druk my versmorend teen sy bors vas en sus my soos wat mens met ‘n kind sal doen. Ek kan sy lyf voel ruk, maar daar kom geen geluid uit nie.

Dan draai hy na die vrou agter die toonbank, sy arm steeds om my skouer; “Kyk net hier Sussa! Weet jy wie is hierdie?”
Sy skud haar kop stom en hou my dop om seker te maak ek is okay.

Hy druk met sy growwe vinger op die koperplaatjie voor my op die toonbank.
      “Dis hy! Dit is niemand anders as hy nie!”

Hy pluk my weer teen hom vas en vryf my hare deurmekaar.
      “Jou klein donner!” en dan lag hy. Dawerend soos die storm-seewind.
Hy gooi sy kop agteroor en hy lag diep en vol vreugde.
Ek kry dieselfde soet reuk wat ek op Pa se asem geruik het.

Word vervolg ...

Sunday, 5 July 2015

Lamberts Bay Sea Cottage FOR SALE ...

FOR SALE  .... 
Lovely 3 bedroomed cottage, 100m from the beach.  Rural feel with breeding owls, partridge and cape robin as well as steenbuck and meerkat. Beautiful surrounds of indigenous fynbos.  Enjoy magnificent sunsets from your patio. 

Price: R990 000














Contact Christo du Plessis - 073 257 9071




Monday, 8 June 2015

Staptog: Clanwilliam na Lambertsbaai (hoofstuk 5) ...

Dis toe ons by Panorama Park (6 km vanaf Lambertsbaai) se afrit kom, wat ek besluit het om die laaste ruskans te neem voordat ek dan die laaste stuk aanpak.

Kop onderstebo om my spiere te strek met my resiesperd kombers oor my, hoor ek ‘n voetuig stilhou. Dit was Elred en Maryna Ferreira wat besluit het om te kom moed inpraat.
Die ander wat my moed kom inpraat het, was Jack en Dalene Mellet, Aletta Wagener, Sharon van Zyl en klein Ruby van Zyl.

Dankie julle almal. Dit laat ‘n mens goed voel as jy sien dit wat jy doen, word waardeer.
Elred, Dalene en Jack het elkeen ‘n beurt geneem om ‘n ent saam met my te stap.
Jack stap 'n entjie saam
Sharon het die fotos kom neem. Dankie Sharon jy het my poging verewig.

Aletta en klein Ruby van Zyl het my met handeklap aangemoedig.


Ek het gevoel ek is tussen my eie mense.

Toe ek om die hoek kom om die pylvak te vat tot by Somerkoelte, wag daar ‘n heerlike verrassing vir my. Tussen Esna Bester, Dalene Mellet en die Inwoners het hulle vir my ‘n helde-ontvangs gereël. Met vonkelwyn, konfetti en die wonderlikste blink oë en glimlagte.
 
Dalene en Esna
En my voete het vleuels gekry die laaste 100 tree tot by die voordeur waar die Inwoners, Esna en haar twee kinders  (Janie en Abrie) en al die ander wat my langs die pad kom ondersteun het, my ingewag het.

Ek het soos ‘n wafferse BBP gevoel met so ‘n hartlike ontvangs.
Blink konfetti het oor my gereën! Daar is vir my ‘n glas vonkelwyn in die een hand en ‘n bottel in die ander hand gedruk.
“For his a jolly good fellow….” het vir my soos die wonderlikste musiekuitvoering geklink.


Vir ‘n oomblik het daar ‘n knop in my keel kom sit. Die waardering vir my poging was duidelik sigbaar. Almal wou ‘n drukkie of handdruk gee en was bekommerd oor my welstand. Ek het daar besef dit oorskadu al die negatiewe dinge wat my ore vooraf bereik het.


Gaan besoek gerus Somerkoelte Tehuis vir Bejaarde Persone se Facebook blad en volg al die aktiwiteite wat daar aan die gang is.

Die gemiddelde ouderdom in die Huis is 81 jaar. Alhoewel die Inwoners grootmense is in jare, is hulle nog glad nie oud nie.
Die oudste inwoner verjaar in Junie en sal dan 99 wees ... en glo dit of nie, sy draf nog elke dag soos 'n vars seebries deur die Tehuis.
As julle in Lambertsbaai kom kuier, kom maak ‘n draai by Somerkoelte –kom beleef self die warm hartlikheid.

Voor ek die borge bedank, wil ek eers my dank aan die Skepper opdra wat my stil gebede verhoor het en die pad sag gemaak het sodat geen pynlike voet of been of heup my gedwing het om op te hou loop nie.

Ek weet dat as Sy wil nie in die saak was nie, dit glad nie sou realiseer nie.