Sunday, 3 August 2014

Moeder ...




Ek verlang soms so intens na jou,
as ek vergeet dat jy eintlik elders lewe.
Hoe wens ek om my arms om jou vas te vou,
as ek van angs en weemoed bewe.

Ek onthou jou vel soos fluweel so sag.
Die kreukels om jou oë as jy hartlik lag.
Ek onthou hoe ons alle gedagtes kon deel
-Humor, erns, hartseer - so veel.

Binne in my is jou wegwees-seer nog skreiend rou –
En ek klou verbete vas aan gedagtes
om jou ewig hier by my te hou.
In my siel kreet die soeke na verligting uit,
as ek sukkel om my hartseer weg te sluit.

Graag wil ek met my vingers aan jou oumensvlekke raak –
Wil ek daar wees om, nou, vir jou teen seerkry op jou pad te waak.
As die son groet om die nag te verwelkom, wil ek jou goeie nag soen.
Saam met jou wanneer die nuwe dag breek, wil ek in die kraakvars môre ons nugter gebed doen.

Sal ek ooit met die wete dat jy aan die Groot Meester se voete sit,
kan berus en uitsien tot ons eendag weer ontmoet?
Sal jy dan 'n engel wees, vlekloos wit,
as jy my - Moeder - by die poort kom groet?

© Christo du Plessis