Monday, 19 October 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 9)



Ek hou die man dop en sien dat hy in die restaurant gaan sit. Ek maak al die papiere op die tafel bymekaar. Maar seker dat dit in die regte lêers is en verskoon myself terwyl ek vir Sussa sê:

          “Sussa jy moet asseblief maar die dagboek verder lees. Ek glo daar lê nog heelwat dinge wat vasgeknoop kan word.”

Dan stap ek na waar Dirk Bruwer sit. Hy is verdiep in die spyskaart voor hom en kyk gesteurd op toe ek praat:

          “Dag meneer Bruwer.” Sy blik verander na ‘n vraagteken. Hy het nie verwag dat ek hom op sy naam gaan aanspreek nie.

As hy nie terug groet nie praat ek saaklik maar reguit verder;

          “My naam is Jannus du Plessis. Doep en Netta du Plessis se seun.”

Hy kyk na my asof dit wat ek vir hom sê geen nuus is nie. Terwyl ek verder praat maak hy die spyskaart toe en plaas dit op die tafel.

          “My ma is oorlede.” Die onwerklikheid van die gedagte dat Ma dood is tref my eers as ek dit hardop sê.

Sy antwoord is ewe kort en saaklik:

          “Ek weet.” Sy stem is ferm en diep. Die effense donker wat tussen die grys hare deurskyn, verklap dat sy hare baie donker moes wees in vroeër jare.

Ek besef ek sal hier moet praat en klaar praat want hierdie man is nie iemand met wie mens speel nie.

          “Ek weet dit is nou ongeleë, maar ek wil graag ‘n afspraak met u maak.”

Ek gee hom nie kans om te vra wat die rede is nie en verskaf dit.

          “Ek vermoed alles is nie pluis met my ma se testament nie en ek wil dit graag uitklaar met iemand wat by die firma G Goosen en Vennote gewerk het.”

Hy leun terug in die stoel en kyk my vas in my oë. Hy laat my soos ‘n skoolseun voel wat met sy pak papiere voor die hoof staan.

Ek voel ongemaklik oor my lang baard wat ek nog glad nie geskeer het vandat ek hier aangekom het nie.
Mens kan die man voor my deur ‘n ring trek en ek voel soos ‘n bedelaar - onversorgd.

          “Jy is reg dit is uiters ongeleë. Maar ek is net vir vandag in die dorp. So jy moet nou maar vra wat jy wil.”

Hy beduie na die oop stoel oorkant hom en ek gaan sit. Sonder om verder tyd te mors, haal ek eers die testament van Pa uit wat lees die langslewende erf alles.
Oorhandig dit aan hom en vra terselfdertyd;

          “Het my pa sy testament by julle laat opstel?”

Hy kyk vlugtig na die dokument en wat hy daarna sê skok my tot in my wese.

          “Omdat ek en jou ma betrokke was bymekaar, het Giel self jou pa se testament hanteer. Maar ek kan vir jou sê hierdie is ‘n uiters swak vervalsing. Want dit is nie naastenby Giel se handtekening wat op daardie dokument is nie.”

‘n Warboel gedagtes en vrae vermeng in my brein en nie een maak sin om ‘n sinvolle vraag te formuleer nie.
Maar ek wil hê hy moet sy opmerking verklaar. Nie die feit dat die testament vervals is nie, maar dat hy en Ma “betrokke” was!

Hier speel ‘n verhaal af waar ek kennis het van die mense, maar hulle word by die dag vir my meer vreemd soos die storie ontvou.

Ek is seker hy sien die ontsteltenis op my gesig want hy hou my fyn dop.

          “Wat bedoel jy, jy en Ma was betrokke?” Kry ek die vraag uiteindelik uit.

Hy is heel gemaklik in sy klere en antwoord in geen onduidelike woorde:

          “Kort na jou geboorte het ek weer met jou ma kontak gemaak en daar het ‘n verhouding tussen ons ontstaan. Ek kan ook vir jou sê dat dit gehou het tot met haar dood.”

“En … en … my Pa?” stotter ek onbeholpe. “Het hy geweet?” wil ek duidelik ontsteld weet.

Voor hy antwoord wink hy die kelner nader en bestel vir ons elkeen ‘n dubbel whiskey op ys.

          “Ja ek glo hy het geweet. Maar hy was nie bereid om van jou ma te skei nie.” Sy volgende woorde gee my ‘n koue rilling.

          “En aangesien hy sy pad gekies het, het ons besluit om dit vir ons so maklik moontlik te maak en vir hom so moeilik moontlik.”

Woorde wat ek nie hardop kan uitspreek nie kruis my gedagtes. Ek hou die stoel se sitplek vas om myself so te dwing om stil te sit en nie die man te lyf te gaan nie.
Hy gaan voort so asof hy genot daaruit put om my te skok.

          “So jy sien, jou ma was nie so heilig as wat haar familie haar gemaak het nie en jou pa was maar ‘n sucker vir punishment.”

Die kelner bring ons drankies maar ek raak nie daaraan nie.
Hy teug behaaglik aan syne en vra of daar nog iets is wat ek wil weet.

Sonder woorde gee ek vir hom pa se testament wat ek uit sy lêer gekry het.

Hy blaai vinnig daar deur en lyk verveeld as hy dit terug gee.

          “Dit is wel Giel se handtekening. Maar ek verstaan nie waarom jy nou ‘n bohaai wil maak oor hierdie twee testamente as jy jou ma se enigste erfgenaam is en nou meer geld het as wat jy moontlik kan hanteer nie.”

          “Volgens my pa se testament is daar die plaas Driedraai wat klaarblyklik deur jou gekoop is. En ek wil weet of dit waar is.”
Die kilheid in my stem slaan deur.

Hy lag kort en hard.

          “Nee. Ek het nie die plaas gekoop nie. Wie ookal vir jou daardie inligting gegee het, praat twak.”

Hy tel sy glas op gooi die laaste van die vog in sy keel af en praat met ‘n sarkastiese toon in sy stem:

          “Hoekom spoor jy nie vir Cora op en laat sy alles vir jou verklaar nie?
Jou pa was maar te dankbaar dat ek en Netta betrokke was, want toe kon hy sy lê gaan lê by Cora.” As hy die verwarring in my oë lees, gaan hy sinies voort:
          “O ja, ek het vergeet, jy het seker teen hierdie tyd gehoor haar agtertangse familie roep haar Babbels. Die vader weet Netta is ook die enigste een in daardie familie wat nie agterlik was nie.”

Ek staan op, maak my dokumente bymekaar en draai om, om te loop. Die ongevraagde drankie staan onaangeraak op die tafel.

As ek wegstap roep hy agter my aan:

          “Miskien moet jy van daardie onverdiende geld vat en vir jou skeermeslemme koop.”

Ek maak of ek dit nie hoor nie. Stap uit en gaan sit verslae op die stoep waar Duiker en Sussa steeds sit. Skippie het ook intussen weer by hulle aangesluit.

 Ek beduie vir die kelner om vir my ‘n bier te bring. Sit en staar vêr die see in. Die golwe slaan met die geweld wat ek innerlik ervaar teen Splash Rock vas.

Dis eers as Sussa sag aan my hand raak, dat ek bewus raak van die bier wat seker ‘n geruime tyd al voor my staan.

Die driemanskap is vir ‘n slag stil en vra nie onnodige vrae nie.

Ek sit die glas voor my mond en sluk en sluk en hou aan sluk tot die gas in die bier my mond binne seermaak.

So tussen die slukke vra ek die vraag wat ek seker heel eerste moes vra maar ek het nooit daaraan gedink nie.

          “Wat het van Babbels geword? Vertel my meer van Babbels”

Dis Duiker wat antwoord;

          “Sy is die jongste. En toe ou Grootgert my die plaas verbied het, het ons gereeld kontak gehad. Maar na jou pa se dood het sy alle kontak verbreek en verdwyn.”

Dis vreemd om die rasperstem so gelate te hoor sonder om te vloek. Ek maak geen opmerking daaroor nie want dit kan dalk net as aansporing dien om weer te begin.

Die asbak op die tafel is tot boordens toe vol sigaretstompies. Sussa sien hoe ek na die asbak kyk en sy roep die kelner wat verby loop met ‘n bestelling vir mense wat ook op die stoep sit;

          “Kom maak skoon my liefie. Julle weet mos die asbakke moet nooit so vol raak nie.”

Ek besluit dat môre nog ‘n dag is en drink die res van my bier in stilte.

Maar ek moes verwag dat hulle nie die afwagting sou kon uitstaan nie.

Dis Duiker wat eerste grom:

          “Wat het die ou fokker vir homself te sê?”

Ek ignoreer die vraag en vra my eie vraag:

          “Waar is hierdie plaas, Driedraai?”

Aldrie kyk my vraend aan. Ek het al agtergekom dat hulle kan toeklap soos ‘n oester. Dan moet ek maar verder praat:

          “Ek wil daarheen ry. Ek wil gaan kyk aan wie die grond behoort. Wie nou daar bly.”

Skippie reageer eerste:

          “Wanneer ry ons, ek sal vir jou die pad beduie.”

Voor ek kan antwoord, verklaar Duiker en Sussa onomwonde dat hulle ook saamgaan.

Ten spyte van die onstuimigheid in my kry ek so ligweg binnepret en ‘n ligte glimlag raak-raak aan my mondhoeke.
Hulle mag vir my soos vreemdelinge voel, maar ek is deur hulle ingeneem as ‘n eie-mens. En ek gaan verseker nie al hierdie antwoorde alleen soek en hulle kan uitsluit nie.

Vir die eerste keer in my volwasse lewe voel ek geborge. Voel ek, ek behoort aan ‘n familie wat my deur dik en dun sal bystaan.

Hierdie mense wat ru voorkom, maar wel die sout van die aarde is, het hulle oor my ontferm.

         “Vanaand kan julle verder op my rekening eet en drink.” kondig ek joviaal aan.


“Sussa reël daar dat jy môre ‘n aflos het. Ek kom julle vroe-môre oplaai. Môre! kraak ons hierdie neut.”

Thursday, 15 October 2015

Loopdop Doep se nasaat --- (Hoofstuk 8)

Dit wat ek in die testament voor my lees, laat dit stil raak diep binne in my.

Ma was ‘n multi-miljoenêr en sy het altyd daarna verwys hoe pa ons op die rand van bankrotskap gelos het. Ons lewenswyse het egter die teendeel vertel.

Ek het nie geweet wat studieskuld was nie.

My blik dwaal na Duiker se groen bakkie en die onthou spring in my kop op van my bakkie wat Ma vir my gekoop het om klas toe mee te ry.

 

Dit was ook die Datsun 1200 soos Duiker s’n. Myne was net so kapoengeel met ‘n donkerbruin vinyl dak.

Ek glimlag stil in my binnekant aan die herinneringe wat met die einste bakkie gepaard gaan.

 

Ek kan egter nie die testament-ding net so in die lug laat hang nie.

Hier moet iemand op die dorp wees wat vir my klarigheid kan gee en ook verduidelik watter testament die geldige een is.

 

Sussa trek weer Ma se lêer nader. Die vraagteken op haar gesig en die hand wat bokant die lêer huiwer is duidelik. Sy vra toestemming om weer in die lêer te blaai.

Vir ‘n wonder is daar nie ‘n lang sigaret tussen haar vingers nie.

Met die een hand blaai sy deur die papiere en die ander hand soek-soek na die wynglas om ingedagte ‘n sluk te vat.

 

Terwyl sy blaai kan ek maar net sowel alles vra wat in my opkom.

 

          “Wie in hierdie dorp sal vir Ma en Pa hulle testamente opgestel het?”

 

Duiker sit sy elmboë op die tafel en steek ‘n vars sigaret aan. So tussen die rook deur sluk hy eers aan sy dop voor hy antwoord.

 

          “Vir Loopdop sou dit Giel Goosen gewees het. Wie Netta s’n gedoen het weet ek nie. Sy het seker maar uitgewyk stad toe. Want alles in hierdie dorp was mos fokken agterlik volgens haar.”

 

Sussa trek ons aandag;

          “Toe nie. Kyk na die briefhoof van die verskillende testamente. Almal is G Goosen en Vennote.”

 

Ons kyk afwagtend na haar toe terwyl sy verder blaai.

Heel agter in die lêer trek sy ‘n dokument uit. Ook met Goosen se briefhoof.

Sy hou die brief op soos ‘n skild.

          “Hier is Loopdop se testament wat sê, langslewende erf alles”

 

Sy plaas die drie dokumente langs mekaar op die tafel tussen die dopglase wat sy versigtig eenkant toe stoot.

Druk met haar vinger op elke datum.

 

Skippie steek vir haar ‘n sigaret aan en terwyl hy dit tussen haar vingers plaas sê sy ietwat afwesig.

 

          “Hierdie datums kom nie ooreen nie. Duiker volgens jou was Loopdop se testament hierdie een wat praat van die langslewende.”

 

Sy maak eers tyd om haar longe met rook te vul, ‘n sluk rooiwyn te vat en dan praat sy weer.

          “Loopdop is in April 1985 vermis geraak en later as dood aangegee.

Hierdie testament wat uit Netta se lêer kom is volgens die datum opgestel in November 1979.”

 

Sy laat haar woorde hang en Skippie maak van die geleentheid gebruik om sy verveling te kenne te gee:

 

          “As fok Sussa. Waar wil jy nou speuder speel?” Hy spreek die woord ‘speel’ ook uit met ‘n eu-klank – ‘speul’

 

Sussa vererg haar en druk die papiere onder sy neus in;

          “Skippie, ‘n blinde kan met ‘n stok aanvoel hier gaan nonsens aan. Kyk – kyk hier.”

Sy druk op die datum onder aan die testament wat uit Pa se lêer kom.

 

          “Hier is die datum op Loopdop se testament 18 Maart 1985.”

Sy praat nie verder nie en haar stilbly spel “wat sê jy nou ou kêrel?”

 

Skippie se “Tsaag!” gaan gepaard daarmee dat hy opstaan en vir hom sitplek in die kroeg gaan soek.  

 

Ons sit vir ‘n wyle in stilte. Elkeen hou homself besig met sy eie verversings en gedagtes.

 

My gedagtes draai by Babbels en Dirk Bruwer. En hoekom sal Pa die plaas verkoop aan die man wat die oorsaak is van al die ellende wat vir Ma, haar familie … en op ‘n sekere manier ook vir my … getref het?

 

         “Waar is hierdie plaas Driedraai wat ter sprake is in die testament?” uiter ek die vraag in my kop hardop.

 

Ek kan sien die dop doen sy werk as Duiker sy kop stadig na my toe draai. Sy vingers soek sy mond om aan die sigaret te kan trek.

 

Sussa blaas haar sigaret se rook oudergewoonte met die kop skeef gedraai die lug in.

 

Die seemeeus wat in die pad sit, fladder-hop nader met die hoop hulle word gevoer.

 

Alhoewel Duiker se tong swaar is, is sy spraak nog helder.

          “Wat wil jy maak as jy weet.”

 

          “Ek wil daarheen gaan natuurlik. Miskien is daar antwoorde wat ek nie hier in die testamente kry nie.”

 

Hy ruk sy breë skouers, wat al verkrom het met die ouderdom, so regop as moontlik;

          “Is jy nou bedonnerd. Vir wat wil jy syntoe gaan? Die man het nog die bliksemse vermetelheid om jou erfporsie onder jou pa uit te koop en jy wil met hom gaan heul!”

 

Ek vererg my vir hom. Hou my asem vir ‘n oomblik in om hom nie bars terug te antwoord nie.

Die vet weet hierdie mense het ‘n manier om ‘n ding te sê wat my stroop van al my nerwe.

Met ‘n beduiwelde frons tussen die oë antwoord ek hom so kalm as moontlik;

 

          “Die man het dalk die grond wettig gekoop en nie onder Pa uit nie. As ek die testamente so bekyk is niks onder Pa uitverkoop nie.”

 

Ek beduie vir die kelner wat by die deur staan om vir my nog ‘n bier te bring.

Hy doen dit sonder dat daar ‘n woord tussen ons gewissel word. Sussa hou hom met ‘n valkoog dop. Ek kan sien dat sy goed in beheer is van die Kraaines.

 

Nadat ek twee slukke van die bitter, yskoue bier geneem het, praat ek weer;

 

          “En dit is soos Sussa sê, hier is beslis met die testamente geknoei. Dit kan jy aan die datums sien. Hoe Ma dit egter reggekry het om dit te maak werk, is nou in die graf.”

 

My gedagtes raak vlugtig aan Ma se begrafnis. Behalwe vir die klompie mense van die Ouetehuis, was daar niemand anders nie.

Die woord wat spreek; ‘mens sterf soos wat jy geleef het’ is beslis in haar geval die waarheid.

 

Dit voel vir my Duiker en Sussa is klaar gepraat van die dag. Maar ek wil nog vrae vra en hoop maar ek gaan antwoorde kry.

 

          “Waar kan ek die prokureur opspoor wat hierdie testamente opgestel het?” poog ek halfhartig.

 

Sussa verbreek haar stilte met die antwoord.

 

          “Hy’s dood.” Kort, saaklik en duidelik.

 

          “Dood? My hel! Dis nou die toppunt.” bulder ek dit uit. So luid dat die mense in die kroeg uitkyk.

 

Tòg gee ek nie bes nie;

          “Daar moet seker iemand wees wat saam met hom gewerk het wat behoort te weet van die testamente!”

Hierdie keer praat ek sagter, maar dit is duidelik aan die mense in die kroeg se reaksie dat ek nie sag genoeg gepraat het nie.

 

Duiker hou ons woordeloos dop. Skreefoog deur die rookwolke.

 

Sussa trek strepe op die tafel met die water wat van die bierglas afloop terwyl sy my onwillig antwoord;

 

          “Ja, daar het.”

 

          “Ag dammit Sussa. Moet ek nou alles uit jou trek?” snerp ek.

 

Haar donker oë kyk diep in my eie blou oë. Sy soek sekerheid of ek nog ‘n skok kan hanteer, voel dit vir my.

Terwyl sy my vas in die oë kyk antwoord sy sonder omhaal;

 

          “Dirk Bruwer was sy vennoot.”

 

Haar woorde pers byna my longe plat. My antwoord is so sag dat ek dink sy het nie gehoor nie;

 

          “Dirk Bruwer? Die man duik ook oral op. Hoekom sou Ma ‘n testament by hom laat opstel?”

 

Sy neem ‘n rukkie voordat sy my antwoord;

 

          “Sy het nooit opgehou om lief te wees vir hom nie. Hy wou niks met haar te doen gehad het nie en dit is hoekom Giel die testamente hanteer het.

Wat jou pa se testament aanbetref. Nie een van ons was bewus van so testament nie. Moontlik sal Dirk weet wat aangaan.”

 

Sussa het my ook nou stil gepraat.

 

Asof Duiker my volgende gedagtes kan lees praat hy onverwags;

 

          “En dit help nie jy wil by hom gaan neuk vir ‘n antwoord nie. Hy het lankal die fokken pad gevat.”

 

Sussa help hom reg:

          “Ag komaan Duiker, dis maar nou drie maande wat hy uit die dorp is.”

 

Duiker gluur haar aan. En ek kan aanvoel hier is iets aan die gang wat sekerlik ook met onderstrominge gepaard gaan.

Sy volgende woorde bevestig dit.

 

          “Jy sal weet ja, want jy lê mos al jare agter sy donnerse lyf aan al is hy oud genoeg om jou pa te wees en al het hy ons soos die skuim van die aarde behandel met sy hoogmoedigheid.”

 

Sussa se stem klap en sy beduie met haar vinger feitlik in Duiker se gesig:

 

          “Bly stil jou verbitterde ouman. Jy kon lankal met jou familie vrede gemaak het. Maar jy het verkies om kwaad te bly vir die wêreld. Selfs toe Oupa met jou wou regmaak.

Jy het nie net Ouma se hart in die proses gebreek nie …”

 

Duiker val haar aggresief in die rede:

 

          “Nou bly jy stil jou klein snotkop. Onthou bietjie met wie jy praat.”

 

Sussa staan nie terug nie en haar antwoord neem die wind uit my seile;

 

         “Ja ek weet, net wanneer dit jou pas moet ek onthou dat jy my pa is. Jy moet net onthou ek …”

 

Sy bly onverwags stil en trek verwoed aan haar sigaret.

Sluk die glas leeg met een teug en hou dit uit na die kelner vir ‘n hervul.

 

My mond hang letterlik oop. Sussa, Duiker se dogter?! Waarheen gaan hierdie hele ding? Watter verrassings wag nòg vir my?

 

Ek het nog nie van my verdwasing herstel nie toe ek Duiker hoor uitroep;

 

          “Agge nee my fok! Praat van die satan …!

 

Ek volg die rigting waarin hy kyk en sien ‘n lang regop man oor die straat aangestap kom. Hy is netjies aangetrek. Glad geskeer met grys hare wat hy agteroor kam. Hy maak beslis indruk.

 

Die gevoel in my binnekant sê vir my; “Hier kom die onderwerp van die struweling – Dirk Bruwer.”


 

Friday, 9 October 2015

Loopdop Doep se Nasaat ... (Hoofstuk 7)


Skippie en Sussa sit reeds op die Kraaines se stoep toe ons voor voor die gebou stop. Toe die bakkie doodruk voor die kroeg, staan Sussa op om vir ons iets te drinke te gaan haal.
Ek en Duiker skuif langs mekaar op die witgeverfde houtbankie, wat aan die tafel vas is, in. Die hout slaan al plek-plek deur. Die plek kos regtig opknapping, dink ek so in die stilligheid.
Ek sluk stadige lang teue uit die bierglas. Kyk van Skippie na Sussa  wat oorkant ons sit.
            “Wil julle iets uit die kombuis hê?” wil Sussa weet terwyl sy aan haar lang sigaret trek.
“Ja dit sal lekker wees.” koor Skippie en Duiker feitlik in een stem tussen die rookwolke deur.
Sussa skuif uit tussen die bank en tafel.  Loop kombuis toe sonder om te praat. Klaarblyklik weet sy wat die manne eet.

Terwyl ons vir Sussa wag, sit ons drie in stilte en drink. Die stilte is ongemaklik. Die gedagte dat die man langs my moontlik my oom is, wil nog nie vrede in my kop maak nie. Ek sit en kyk na die see, nie vêr anderkant die pad nie. Die branders kook en bruis soos in ‘n groot kookpot.
Die wit skuimbranders slaan geweldadig teen die rots wat soos ‘n waterdruppel lyk wat op sy sy lê.
Dan vorm dit ‘n wit gordyn wat in stadige aksie terugval tot oor die rots net om weer terug te vloei in die massa water.

Ek het nie agtergekom dat Duiker my sit en dophou nie. Sy volgende woorde ruk my terug na die stoep.
            “Sussa noem dit sommer Splash Rock.” Sy stem skuur skurf in my ore.

            “Gepaste naam.” is al reaksie wat hy van my kry.

Sussa keer terug met ‘n kelner kort op haar hakke. Dié plaas ‘n groot bord in die middel van die tafel met goudgebraaide chips, calamari, prawns, mossels, krapstokkies en nog ander versnaperings daarop. Die witsous wat daarmee saamgaan, lyk ryk en romerig en ek kan die knoffel daarin ruik. Onwillikeurig begin my mond water.

Dis eers as almal met ‘n bord vol eetgoed en ‘n vars dop voor hulle sit, wat Sussa begin praat:
            “Jy moet nou goed luister Seuna. Ek weet nie of ons met ‘n riller of ‘n drama te doen het nie”

Skippie snork deur sy neus: “Waar Netta betrokke is, sal dit ‘n drama wees wat in ‘n riller ontaard.”
Hy eet verder met sy vingers. Lek hulle af as hy dit diep in sy mond in druk en met ‘n smak afsuig.

Ek kyk tussen die kou deur met ‘n frons na Skippie. Hy verstaan die boodskap om stil te bly en eet in stilte voort.

Sussa gaan aan asof sy nooit onderbreek was nie. Sy druk gereeld iets in haar mond en bêre die kousel in haar kies as sy haar storie hervat.

            “Netta het haar verlowing met Dirk verbreek en hom weggejaag. Wat sy nie geweet het nie, is dat jou ma, Babbels, vir ‘n geruime tyd al ‘n verhouding met Jannus du Plessis gehad het.
Toe Babbels agterkom sy is swanger, het sy dit vir Jannus vertel en hy wou met haar trou en verantwoordelikheid aanvaar en die kind as sy eie aanneem.”

Sussa onderbreek haar vertelling. Sy stoot die leë bord oor die tafel en wink vir die kelner om die tafel te kom skoonmaak.

Duiker en Skippie maak gebruik van die geleentheid om ‘n dop te bestel om die ete mee af te sluk.
Die drie van hulle maak hulle sigarette brand en ek sit terug om die laaste van my bier te sluk.

Ek roep agter die kelner aan. Onseker of sy my gehoor het; “Bring maar vir my ook ‘n hervul.”
En ter nagedagtenis; “Asseblief”

Nou wend ek my tot Sussa:
            “Sussa, ek is nie seker ek hoor wat ek hoor nie. Pa wou met haar, Babbels, my … ma trou. Hoekom het hulle nie? Het jy sover gevorder met die boek?”
Ongeduld slaan deur in my stem.

Sussa tik liggies op my hand: “Ek kom daarby” antwoord sy rustig.

Sy trek die wynglas nader. Draai haar kop skeef en druk haar ken in die lug terwyl sy lank aan haar sigaret trek. Haar donker oë kyk af na my. Die poniestert agter haar kop waaier weerskante van haar kop verby.
Sy blaas die rook in die lug op en kyk my dan vas in die oë.

            “Die naweek wat Jannus en Babbels wou ouers vra, het die toeval dit ook so gesorg dat dit die naweek was wat Netta die nuus wou kom breek van die verlowing wat verbreek is. Maar voor Jannus die groot vraag kon vra, het Netta vir Babbels beetgekry en haar met afpersing gedwing om vir Oupa te sê Dirk het haar ‘onteer’ soos dit in daardie tyd genoem is en dat sy nie die baba wil hê nie.
Verder moes Babbels vir Jannus afsê en dan sou Netta vir Jannus troos.”

            “Afpers, met wat?” vra ek en kyk Sussa skepties aan.

“Sy het gedreig om vir Oupa te vertel dat Babbels ‘n verhouding met met ‘n getroude man gehad het en dat sy vrou hom gelos het omdat Babbels sy kind verwag het.”
Sussa trek behaaglik aan haar sigaret en gaan voort:

            Dan wou sy wat Netta is, vir Oupa vertel het dat sy haar verhouding met Dirk verbreek het omdat hy getroud is en sy het ook uitgevind dat Dirk ‘n verhouding met Babbels het.
Babbels het natuurlik teëgekap en gesê sy sal alles net ontken. Maar Netta was slinks genoeg om ‘n brief te fabriseer wat lyk of dit van Dirk se vrou af kom waarin dié alles openbaar het en Babbels se naam beslis aan die sogenaamde ‘getroude’ Dirk gekoppel word.

Ons luister in stilte na hierdie storie wat in my ore weerklink as die grootste klomp bog wat ek nog gehoor het. Duiker verwoord my gedagtes op sy bar manier;

            “Man dis nou ‘n pot stront! Loopdop-Doep was g’n so slapgat nie.”

Sussa maak vir Duiker stil met haar volgende woorde:
            “Duiker sy het slinks te werk gegaan. Ek is jammer dis jou suster, maar ek dink die duiwel was versigtig vir haar. Volgens haar eie woorde in haar dagboek, was sy daarop uit om Babbels se kind en man te steel. Sy het vir Jannus verlei en vir hom vertel sy is swanger terwyl sy nie was nie.”
Skippie wat tot nou toe stil was, slaat op die tafel dat die glase hop. Trek verwoed aan sy dooie sigaret. Skiet dit verergd oor die stoepreëling en gooi sy woorde soos dolosse oor die tafel;
            “Die ou teef! En as ek net ‘n vingertjie wou inkry was ek sedeloos en sy is glad nie so sonder standaarde nie!
Hy staan driftig op en stap die kroeg in. Maar voordat Sussa die res van hierdie gru-verhaal kon voortsit is hy terug met ‘n skinkbord met ‘n dop vir elkeen van ons.
Sy sigaret hang on die hoek van sy mond.

Hy klink aanvallend as hy met Sussa praat;
            “En jy wil vir my sê ou Loopdop laat hom wragtig so vang? En het die kleintjie in die fokken lug in verdwyn? Ek is doof vir al hierdie kak wat ek nou hoor.”

Sussa soek hulp in die rooiwyn in haar glas wat gereeld deur die kelner volgehou word sonder sukkel.
Ek is bly my longe behoort nie aan een van hulle nie. Hulle is verseker kettingrokers. Alhoewel ek dankbaar is dat ons nie binne in die kroeg sit nie, voel dit vir my of ek in ‘n massiewe rookwolk sit en deur die newels probeer sin maak van al die onbekende goed wat ek van my veronderstelde ouers hoor.

            “Wel ek het nuus vir julle wat ek verklaar wil hê.” stuur ek die gesprek in ‘n nuwe rigting.
Ek het onmiddellik al drie se aandag. As antwoord sit ek die lêer met Pa se testament op die tafel.
            “Volgens hierdie testament moes julle twee …” ek beduie met my oë tussen Duiker en Skippie … “elkeen ‘n diamantboot erf.”
Ek laat die sin in die lug hang en hou hulle reaksie dop.
Dit lyk of Duiker ‘n asma aanval kry soos hy na lug sit en hap. Skippie vryf sy bles blink met die palm van sy hand met die sigaret tussen die vingers.

Duiker kry sy asem oor sy stembande. Skor dog hoorbaar.
            “Neeee, dis kak. Jou pa se testament het gelees langslewende erf alles.”
Ek skuif die lêer onder sy hande in. Sy hande is groot en bruin gebrand. Ten spyte daarvan dat sy hande sigbare eelte op het, lyk dit goedversorgd en sterk.

Sussa buk saam met hulle vooroor om die inligting op te slurp. Duiker se bril sit op die punt van sy neus. Dit lyk uit plek en ongemaklik.

Terwyl hulle die testament lees en bespreek hou ek die branders dop wat nog steeds poog om Splash Rock stukkend  te slaan.
Ek kan steeds nie glo dat my lewe binne ‘n week so deur mekaar gebrou kon word nie. Dit smaak vir my of ek in ‘n ander wêreld wakker geword het. Ek kry nie my skape in die regte kraal nie. En hoe meer ek sukkel hoe meer krap die noodlot my kole deurmekaar.

Dis Sussa wat wil weet; “Boeta het jy jou ma se pampiere ook hier? Laat ons kyk wat daarin staan?”

Ek gee vir haar die lêer sonder om iets te sê.
Sy lees in stilte die dokumente en sit ‘n ruk kop onderste bo voordat sy kopskuddend sê:
            “Boeta jy is so ryk jy kan hierdie hele dorp van ons koop en dan kan jy nog change ook kry om my pozzy te koop.” Sy beduie met haar duim oor haar skouer na die oop voordeur van die kroeg waaruit die gedruis van stemme stroom soos ‘n swerm bye. Elke nou en dan styg ‘n stem bo die ander uit en word dit afgewissel deur ‘n skril lag.

Ek staar Sussa aan asof sy van ‘n ander planeet is. Trek die papiere nader en lees die asembenemende bedrag van R225 miljoen.