Monday 8 June 2015

Staptog: Clanwilliam na Lambertsbaai (hoofstuk 5) ...

Dis toe ons by Panorama Park (6 km vanaf Lambertsbaai) se afrit kom, wat ek besluit het om die laaste ruskans te neem voordat ek dan die laaste stuk aanpak.

Kop onderstebo om my spiere te strek met my resiesperd kombers oor my, hoor ek ‘n voetuig stilhou. Dit was Elred en Maryna Ferreira wat besluit het om te kom moed inpraat.
Die ander wat my moed kom inpraat het, was Jack en Dalene Mellet, Aletta Wagener, Sharon van Zyl en klein Ruby van Zyl.

Dankie julle almal. Dit laat ‘n mens goed voel as jy sien dit wat jy doen, word waardeer.
Elred, Dalene en Jack het elkeen ‘n beurt geneem om ‘n ent saam met my te stap.
Jack stap 'n entjie saam
Sharon het die fotos kom neem. Dankie Sharon jy het my poging verewig.

Aletta en klein Ruby van Zyl het my met handeklap aangemoedig.


Ek het gevoel ek is tussen my eie mense.

Toe ek om die hoek kom om die pylvak te vat tot by Somerkoelte, wag daar ‘n heerlike verrassing vir my. Tussen Esna Bester, Dalene Mellet en die Inwoners het hulle vir my ‘n helde-ontvangs gereël. Met vonkelwyn, konfetti en die wonderlikste blink oë en glimlagte.
 
Dalene en Esna
En my voete het vleuels gekry die laaste 100 tree tot by die voordeur waar die Inwoners, Esna en haar twee kinders  (Janie en Abrie) en al die ander wat my langs die pad kom ondersteun het, my ingewag het.

Ek het soos ‘n wafferse BBP gevoel met so ‘n hartlike ontvangs.
Blink konfetti het oor my gereën! Daar is vir my ‘n glas vonkelwyn in die een hand en ‘n bottel in die ander hand gedruk.
“For his a jolly good fellow….” het vir my soos die wonderlikste musiekuitvoering geklink.


Vir ‘n oomblik het daar ‘n knop in my keel kom sit. Die waardering vir my poging was duidelik sigbaar. Almal wou ‘n drukkie of handdruk gee en was bekommerd oor my welstand. Ek het daar besef dit oorskadu al die negatiewe dinge wat my ore vooraf bereik het.


Gaan besoek gerus Somerkoelte Tehuis vir Bejaarde Persone se Facebook blad en volg al die aktiwiteite wat daar aan die gang is.

Die gemiddelde ouderdom in die Huis is 81 jaar. Alhoewel die Inwoners grootmense is in jare, is hulle nog glad nie oud nie.
Die oudste inwoner verjaar in Junie en sal dan 99 wees ... en glo dit of nie, sy draf nog elke dag soos 'n vars seebries deur die Tehuis.
As julle in Lambertsbaai kom kuier, kom maak ‘n draai by Somerkoelte –kom beleef self die warm hartlikheid.

Voor ek die borge bedank, wil ek eers my dank aan die Skepper opdra wat my stil gebede verhoor het en die pad sag gemaak het sodat geen pynlike voet of been of heup my gedwing het om op te hou loop nie.

Ek weet dat as Sy wil nie in die saak was nie, dit glad nie sou realiseer nie.

Friday 5 June 2015

Staptog: Clanwilliam na Lambertsbaai (hoofstuk 4) ...

So los ons toe vir Graafwater, die halfpadmerk, kwart-voor-elf agter nadat ek my verversings en versterkings van my span ontvang het en ek dit met so ‘n vinnige ruskans verorber het.
Ek het gereken ons trek al by halfdrie. Dit was die heeltyd toegetrek en natuurlik het dit ook nog gereën tot kort voor Graafwater. Ek was dus hopeloos met die skat van die tyd. Ek het ook nie gedink dat ek so vinnig geloop het nie.

Toe ek vir Rita sê ek wil nie meer Magnesium gebruik nie want dit lol met my konstitusie, maak sy seker ek kry gesoute aartappels in my lyf. Want sy gaan my nie oorgee aan krampe en seer spiere nie.


Dis wanneer mens met ‘n moeilike fisiese aktiwiteit besig is en jy sien hier uit die kar wat voor jou kom stilhou, klim Jack en Dalene Mellet met ‘n breë glimlag en ‘n tjoklit uit, dat jy besef mens het mense nodig wat omgee.
Dankie Jack en Dalene. Daardie tjoklit het gesorg vir ekstra energie.
Die landskap begin vir my soos huis voel. Want die plase waar ek verbyloop het ‘n ryk geskiedenis. En die wonderlike daarvan is dat die stories oorvertel kan word, want van die inwoners van Somerkoelte het in hierdie geweste grootgeraak.
Maar daar is ook dié mense wat my langs die pad herken het. Wat toeter gedruk en gewaai het, al het hulle meer as eenkeer by my verbygery. Dit het die pad huis toe help gelyk vee.

Ek sal nie ontken nie, hoe nader ek aan Lambertsbaai gekom het, hoe moeiliker het die pad geraak. Maar as ek aan die rede gedink het waarom ek dit doen, my ondersteuning span wat moed ingepraat het en my Beterhelfte wat volle vertroue in my vermoë gehad het, het dit my sterker gemaak.

My volgende baken was die afdraai Leipoldtville toe. Dan is ek nog so ongeveer 22 km van die huis af. Dit wat voor wag was korter as dit wat reeds agter lê.
 
Leipoldtville
Wat ek tog ook moet noem is dat my Span my elke tien kilometer laat rus het om spiere te strek en te eet.



By die 15 km merk Lambertsbaai toe het ek vir hulle gesê ek wil nou vir elke 5 km rus. En ek gaan dit nou stadiger vat. So bietjie rem aandraai.
Ag maar as ek my weer kom kry hol ek soos ‘n lorrie sonder remme. Toe het ek besluit dis tyd om klaar te kry.

Die seer-oog van Lambertsbaai is die vullishoop wat net buite die dorp lê. So asof dit ons eerste toeriste aantreklikheid is.
Ek weet nie wat kuiergaste dink as dit die eerste besienswaardigheid is wat hulle sien nie. Maar wat ek gedink het toe ek dit Saterdag 30 Mei 2015, laatmiddag sien…

Ek was nog nooit SO bly om daardie vuilgoedgat te sien nie.

Thursday 4 June 2015

Staptog: Clanwilliam na Lambertsbaai (hoofstuk 3)

Toe ons Graafwater bereik, was ek verras om te verneem my spoed was in die omgewing van 7 km per uur.
Daar besluit ek toe om bietjie die leisels in te trek en stadiger te stap.

Dis snaaks wat mens alles doen om jouself te motiveer om verder te loop.

Ek het opgehou om karre te tel. Maar ek het aan ‘n verskeidenheid onderwerpe begin dink.

Ek het onder andere gedink aan my stapdae. Dit was lekker en ek was fiks. Daar was nie ‘n pad waarvoor die span waarvan ek deel was, nie kans gesien het nie.

Dan het ek ek vir myself lofprysingsliedjies gesing. Nee, ek kan nie vir julle noem wat ek gesing het nie, want dis woorde en wysies wat ek vir myself in my kop opgemaak het.

Toe die pad moeiliker begin raak, het ek dit sterk oorweeg om op my hande te loop omdat dit vir my gevoel het of my voete ge-amputeer was.
Nou moet julle onthou al hierdie liedjies en rympies en dinge word op ritme van my voetval en asemhaling gedoen.

So onthou ek toe die Afrikaanse fliek “Dirkie”. Die fliek is gemaak toe ek seker so twee stene en ‘n tiekie hoog was.
In die fliek gaan kuier die klong saam met sy oom iewers. Hulle vlieg met ‘n ligte vliegtuig na hierdie Iewers toe.  Oppad kry die Oom ‘n hartaanval of ‘n ding en die vliegtuig val. Met Oom dood moes Dirkie, wat self nie veel groter as ek (toe) was nie, self in die woestyn oorleef.
Nou in die proses loop hy is sirkels en sê ritmies met elke tree, oor en oor: “My pa het my lief en hy sal my kry – My pa het my lief en hy sal my kry…”

So neem ek toe die rympie oor en sê vir myself – ritmies met elke tree oor en oor – net soos Dirkie van desjare: “My Vrou het my lief en sy glo in my – My Vrou het my lief en sy glo in my.”

So gee my vrou my onwetend nuwe moed om my nie te steur aan my seer voete nie. En natuurlik om eerder nie op my hande te loop nie. Maar ek weet ook verseker die Inwoners van Somerkoelte waardeer wat ek vir hulle doen.

My ondersteuning span verdien spesiale vermelding. Behalwe dat hulle my veilig gehou het, het hulle gesorg dat ek genoeg brandstof inneem vir energie en krampe en sommer vir morele ondersteuning ook.
Hulle het my gevoer van piesangs en neute tot aartappels en grondboontjiebotter. Magnesium en sout, water en Coke, solank my kragte hou moes ek versterk word.
  

Dankie Willem en Rita Pieterse  – Woorde om julle lof te besing skiet te kort. Weet net ek waardeer elke tree wat julle by my was.
Willem en Rita het gesorg dat ek genoeg vastigheid en vog inkry. En as ek die slag gerus het, het hulle my toegegooi met ‘n kombers. Dit het my so laat dink aan die perderuiters wat hulle perde toegooi. Dit het my krag gegee om weer te begin.

Dan was daar Johnnie du Preez – Terwyl hy die agterhoede gedek het, het hy ook die tyd gebruik om blikkies en dinge langs die pad op te tel wat ander ouens net neergegooi het.
Hy het ook my telefone beman om verslag te doen aan almal wat navrae gehad het.



Dankie Johnnie vir al die boodskappe wat jy oorgedra het. Dit het my voete ligter gemaak. Jy en jou bystand word ook opreg waardeer. 

Wednesday 3 June 2015

Staptog: Clanwilliam na Lambertsbaai (hoofstuk 2) ...

So breek D-dag toe aan 30 Mei 2015.

Om 04:00 gaan kry ek vir Johnnie du Preez by sy huis. (Nee, ek het nie sy naam verkeerd gespel nie. Hy sê hy is mos nie Engels nie.)
Hy het die een ondersteuningsvoertuig beman.
By Somerkoelte het Willem en Rita Pieterse, van die ander ondersteuningsvoertuig, ons gekry en so het ons saam Clanwilliam toe vertrek.

Ek het my gedagtes doelbewus in ander rigtings gestuur om nie ag te slaan op die pad nie. Gelukkig was dit ook nog nagdonker en het dit gereën.

Toe hulle my aflaai op die hoek van die inkomende hoofpad en die hoofstraat, het my kop gespin. Dis of die werklikheid ver verwyderd was.

Ek het gedagtes soos duisende, verskietende sterre in my kop gehad. In retrospek kan ek nie onthou wat ek gedink het nie. Ek weet nie eens of my hart behoorlik geklop het nie.

Enige een wat die pad tussen Clanwilliam en Lambertsbaai ken, weet dat Bak-se-rug nie ‘n man se maat is nie.
Dit is ‘n lang en aanhoudende klim vir byna 10 km. Daarna is die afdraande net daar om jou bly te maak, dan begin jy weer klim.
Genadiglik was dit donker, so ek kon nie die pad ver vooruit sien nie. En dit het gereën, dus was my sig so bietjie aangetas.

Ek het probeer om met ‘n reënjas te loop, maar nie 100 jaar nie toe sweet ek meer as wat ek natreën. Nodeloos om te sê ek het verkies om nat te reën eerder as om nat te sweet.

Ek het besluit om die voertuie op die pad te tel wat by my verby ry terwyl ek stap. Dit het gehelp om my gedagtes te okkupeer sodat ek nie die roete vooruit kon dink nie.
So elke nou en dan as dit neig om te gebeur, hoor ek my Geliefde se stem wat vir my sê: “Jy hou van stap. Jy kan dit doen en jy gaan klaar stap. Dink daaraan dat jy iewers heen stap om foto’s te gaan neem.”
Met die gevolg ek het vir my ‘n gemaklike spoed gekies om te stap. En ek kon dit volhou sonder om myself te moor.

Daar is altyd negatiewe aspekte aan alles. Op die donker-nat-pad was dit die voertuie van vooraf wat my genoop het om van die teer af te klim en op die gruis te stap.
Ten spyte van Willem en Rita wat ‘n ent voor my uitgery het met waarskuwings ligte aan, het veral die manne in die groot lorries hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle het nie eens probeer om net hulle voete van die brandstofpedaal af te lig nie.
Eerstens ruk die wind van die lorrie my dan van balans af en tweedens gooi hulle die water, wat opskiet van die pad af, oor my. Ek het maar gaan stilstaan as ek gewaar dat daar ‘n lorrie aankom.
In sulke gevalle het ek maar op my betroubare kierie geleun. Ek moet darem noem dat my kierie sekerlik gesout is in stap-ondervinding. Die kierie het aan Tannie Ann Loubscher (nou 91) se skoonpa behoort. Sy het dit goedgunstiglik aan my geskenk.
 
Tannie Ann

Maar ek het besluit om die beste van die pad te maak en my ritme en spoed goed gehou ten spyte van onlekker goeters.

Tuesday 2 June 2015

Staptog: Clanwilliam na Lambertsbaai (hoofstuk 1) ...

Aangesien hierdie storie vir langasems is, gaan ek dit in hoofstukke oor die verloop van ‘n paar dae plaas.

Ek het so paar maande gelede besluit ek wil vir Somerkoelte Tehuis vir Bejaarde Persone in Lambertsbaai help om fondse in te samel om hulle eetkamer op te knap.


 Maar in mens se kop kan jy mos die hoogste berge oor, die diepste seë oorwin en is jy so sterk dat jy vir Herkules in ‘n Ysterman-kompetisie ore kan aansit.

Ek wou egter glad nie iets so groot en buitengewoon doen nie. Ek wou eenvoudig die afstand tussen Clanwilliam en Lambertsbaai (63 km) te voet aflê.




 Nou kyk, dis nie die eerste keer wat ek sou stap nie. Nee! Ek het darem die Kaap-mars (in die dae toe die Weermag dit nog aangebied het) ‘n keer of twee-drie gestap. Of was dit nou nader aan 7?
Dan het ek seker 40-plus voetslaan roetes, van verskillende moeilikheids grade, op my kerfstok.
Maar nou moet julle ook onthou, al hierdie stappery het ongeveer 20 jaar gelede gebeur.

Toe ek die gedagte uitspreek en Somerkoelte se Beheerraad keur die fondsinsameling goed, toe weet ek die vet is in die vuur. Nou is daar nie omdraai kans nie.

Ek het borge per km begin vra en wonderlike reaksie gekry. Maar later meer daaroor.

Alles was gereël en reg. Die ondersteunings voertuie. Die verversings vir energie en krag. Die medisyne vir seer spiere en stukkende plekke.

Maar natuurlik was daar die doemprofete ook, wat vir my lyste so lank soos my voorarm gegee het van wat alles kan verkeerd gaan.

En dan die ouens wat my nie regtig ken nie, wat summier die uitspraak gemaak het dat ek dit nie gaan maak nie.
Ek dink as hulle weddenskappe gevat het op my vermoë om die roete te voltooi, het die hoogste bieër my seker met veiligheid 15 km gelyk gegee.

Die ergste van alles is dat die manne nie gedink het die stories bereik my ore nie. Ek het dit maar in stilte aangehoor. Want ek ken mos my eie vermoë.
En ek weet mos dat die Here saam met my stap en daar waar ek met seer voete en ander dinge sou sukkel, sal Hy dit vir my draaglik maak om te voltooi wat ek aangepak het.
Omdat die mense nie my geskiedenis van stap geken het nie, wou almal raadgee. Van wat ek moet aantrek tot hoe ek moet asemhaal. En natuurlik alles tussen-in.


So breek D-dag toe aan op 30 Mei 2015.

                                                                ... word vervolg ...